Dhlomo het onlangs uit die VSA teruggekeer. Sy sal aan die hoof staan van die nuwe publikasie. Sy was voorheen tien jaar lank redakteur van die tydskrif True Love. In 2003 is sy aangewys as een van die invloedrykste vroue in die plaaslike media. In 2003 het Dhlomo na Parys vertrek, waar sy ’n ruk lank aan die hoof gestaan het van die Suid-Afrikaanse Toerismekantoor. Daarna is sy na die VSA, waar sy haar MBA aan die Universiteit van Harvard voltooi het.
Daar is ’n paar jaar gelede gespekuleer dat Dhlomo vir Koos Bekker by Naspers kon opvolg en dat die groep besig was om haar met verdere opleiding vir ’n belangrike posisie in die groep voor te berei. Bekker het haar as “buitengewoon slim” bestempel.
Sowat agt jaar gelede het Naspers 51% van City Press aan Oscar Dhlomo (voormalige sekretaris-generaal van Inkatha en vader van Khanyi) se beleggingsmaatskappye verkoop. Nie lank daarna nie het hy die aandele egter terugverkoop aan Naspers. Sedert September verlede jaar is ’n nuwe swartekonomiesebemagtigingskema in werking, ingevolge waarvan Naspers aandele aan swart Suid-Afrikaners verkoop. Die skema word saam met Welkom Yizani-beleggings bedryf.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.