praag.co.za

?Zimbabwe-grens skuif suid?

Written by

in

Maggie Sotyu, die voorsitster van die parlementêre eenheid oor vrede en stabiliteit, het vandeesweek die Beitbruggrenspos tesame met lede van haar komitee besoek. Sy het die onwettige immigrasie as “ongelooflik” bestempel.

“Grensdrade word platgetrap en daar is ’n ernstige tekort aan personeel om onwettige immigrasie te bekamp, veral in die weermag en polisie,” het sy gesê.

Die meeste geweldsmisdaad in die omgewing word aan die Magumaguma-bendes gekoppel wat dikwels teen die onwettiges draai wat hulle veronderstel is om te help. In die proses word vroue verkrag en beroof en soms vermoor.

Net enkele jare gelede het die ANC-regering die kommandostelsel in die provinsie afgeskaf wat destyds nog die grens gepatrolleer het. Boere beweer dat drosters uit die Zimbabwiese Nasionale Weermag by die Magumaguma aansluit en wapens soos AK-47’s die land in smokkel. Sommige plase en natuurreservate is al aangeval en van wapens, voertuie en selfs swaar toerusting soos pompe en enjins beroof.

Volgens mnr. Gideon Meiring, voorsitter van die Soutpansbergdistrikslandbou-unie, behoort boere in die omgewing nou ’n gevaartoelaag van die staat te ontvang.

“Onwettige immigrante uit Zimbabwe beweeg vrylik oor die grens. Dit voel of die Zimbabwe-grens deesdae 50 km suid geskuif het,” het hy gister gesê.

Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA-noord het gister gemeen dat die situasie op die Limpopogrens ’n “tydbom” is wat ernstige gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou.

Meiring het voorts gesê dat hy briewe van toeroperateurs ontvang het wat beweer dat hul kliënte nie langer in die omgewing veilig voel nie.

’n Navorser van die Universiteit van die Witwatersrand, prof. Loren Landau, beweer dat Suid-Afrika nie oor die nodige fasiliteite of organisasie beskik om honderdduisende mense van die nodige gesondheidsorg, voedsel en ander dienste te voorsien nie.

’n Tipiese Afrikavlugtelingkrisis is dus besig om op Suid-Afrika se noordelike grens te ontwikkel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het intussen gevra dat die Suid-Afrikaanse regering die Zimbabwekrisis “beter hanteer”. Volgens die organisasie maak berigte wat daarop dui dat Zimbabwe nou op ’n ekonomiese ineenstorting met ook verreikende gevolge vir buurlande afstuur, dit dringend noodsaaklik dat die Suid-Afrikaanse regering sy beleid jeens Zimbabwe hersien.

Die Suid-Afrikaanse regering se kondonering van die laaste twee ongeldige verkiesings in Zimbabwe en sy versuim om vroeër ’n sterker standpunt oor Zimbabwe in te neem het tot die huidige krisis bygedra.

Die Suid-Afrikaanse regering behoort hulle stilswyende hantering van president Mugabe onmiddellik te staak en ´n strategie saam met alle demokratiese rolspelers in Zimbabwe en die internasionale wêreld in werking te stel om ´n vrye en regverdige verkiesing op basis van ’n nuwe, demokratiese Grondwet vir Zimbabwe te hou. Gegewe die onwilligheid van die Zanu-PF om aan die huidige bemiddelingsproses deel te neem, is die kans goed dat hierdie proses op ´n mislukking afstuur.

Volgens die FAK, “behoort die Suid-Afrikaanse regering ook veel duideliker met sy eie burgers oor hierdie proses en moontlike beleidsalternatiewe te kommunikeer, aangesien hierdie krisis Suid-Afrikaanse burgers ten nouste raak.”

PRAAG is tans besig om ’n standpunt oor die krisis voor te berei wat binnekort op dié webwerf geplaas sal word.

саун иданильченко юрій Харків

Comments

Leave a Reply