Kameraad Blade
Blade Nzimande is pas herkies as sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP). Diegene wat uit sy pos wil aflei dat hy ’n beskeie lewe lei, slaan die bal egter ver mis. Nzimande is op dieselfde salarisvlak as ’n adjunkminister, wat tussen R700 000 en R800 000 per jaar verdien. Nzimande bly in ’n groot huis in Emmarentia en besit vier luukse voertuie. Hy verkies gewoonlik om met sy swart Jeep Cherokee te ry, wat deur ’n chauffeur bestuur word.
Terwyl die SAKP-leier na Port Elizabeth gevlieg het en ’n Mercedes by sy aankoms op die lughawe gehuur het, moes meeste van die afgevaardigdes na die SAKP-kongres per trein reis.
Daar is verskeie SAKP-lede wat glo dat daar ’n persoonlikheidskultus rondom Nzimande ontstaan het en dat hy summier klaarspeel met diegene wat kritiek teen hom uitspreek. So is die SAKP-tesourier, Philip Dexter, onlangs deur Nzimande uit die party geskors omdat hy na die “kwasi-Stalinistiese tendens“ in die party verwys het om mag in die hande van die sekretaris-generaal te konsentreer. Hy is een van vele individue wat die afgelope tyd uit die party geskors is.
Dit is bekend dat Nzimande en sy binnekring entoesiastiese ondersteuners van Jacob Zuma is en dat hulle reeds bespiegel oor die soort poste wat hulle in sy regering kan beklee.
Charles Nqakula is gister as nasionale voorsitter vervang deur Gwede Mantashe, voormalige hoof van die National Union of Mineworkers (NUM). Later vandag word die 25 lede van die sentrale komitee verkies. Minister Sydney Mufamadi het reeds laat blyk dat hy nie beskikbaar is om weer op die komitee te dien nie. Dit kan meebring dat minister Ronnie Kasrils die enigste kabinetsminister is wat steeds op die SAKP-komitee sal dien. Daar word nou egter druk uitgeoefen op Jeff Radebe om homself beskikbaar te stel. Ministers Geraldine Fraser-Moleketi en Alec Erwin woon nie die kongres by nie.
Afgevaardigdes het besluit om deel te bly van die alliansie met Cosatu en die ANC en dus nie die volgende verkiesing op hul eie aan te pak nie. ’n Voorstel is wel gister voorgelê dat die SAKP (wat tans sowat 50 000 lede het) tydens die volgende algemene verkiesing hulle eie kandidate in die veld stoot, maar die sentrale komitee het die voorstel gou laat verdwyn en Nzimande het gesê dat die idee deur die besigheidselite in die land voorgestaan word, omdat hulle graag die invloed van die SAKP en vakbonde binne die Suid-Afrikaanse ekonomie wil sien verdwyn.
купить детскую кухнюЛобановский