Woordvoerders het aangedui dat die ooreenkoms met Lesotho oor vyf jaar sal strek om watertoevoer vir huishoudelike en industriële gebruik te verbeter, swak gesondheidsorg vir pasgeborenes, Vigs- en tuberkulosepasiënte op te knap en om die faktore wat internasionale beleggers afskrik uit die weg te ruim.
Of demokrasie werklik Lesotho se erns is, is sterk te betwyfel. Politieke onrus het onlangs ernstig toegeneem in die land met wegbreekfaksies uit die weermag wat aanvalle op regeringsministers loods.
Volgens die leier van die opposisie, die All Basotho Convention (ABC), Thomas Thabane, dra die aanvallers wapens waartoe net weermaglede toegang het. Ketumile Masire van Botswana moes inderhaas ‘n byeenkoms reël om die oplaaiende geskille tussen opposisiepartye en die regering by te lê.
Thabo Thakalekoala, ’n joernalis wat van hoogverraad aangekla is omdat hy die regering tydens ‘n uitsending van die Harvest FM-radiostasie vir onder meer korrupsie gekritiseer het, se aanklag is blykbaar ondertussen na "ondermyning" verander. Ondersteuners, sowat 4000, het by die hof saamgetrek met sy verskyning om teen die aanvanklike aanklag beswaar te maak.
