Naas waarde vir geld, is veiligheid die tweede belangrikste kriterium vir Suid-Afrika se potensiële toeristemark. Dit is vasgestel in die studie wat SA Toerisme in 2005 oor hierdie onderwerp laat doen het. Volgens Van Schalkwyk voer sy departement tans samesprekings met die departement van veiligheid en sekuriteit met die doel om een polisiebeampte per stasie beskikbaar te stel vir toerismeverwante misdade. Die polisie se begroting is verder vermeerder en teen 2010 behoort daar sowat 190 000 polisiebeamptes op straat te wees.
Van Schalkwyk meen ook dat dit nie net die polisie en justisie is wat misdaad moet beveg nie. In hierdie verband het hy verwys na wanpraktyke in die plaaslike toerismebedryf, soos die gebruik van onwettige toeriste-kredietkaarte en ongelisensieerde toeroperateurs.
Na aanleiding van Sapa se beriggewing oor die minister se toespraak, het sy kantoor ’n verklaring uitgereik om hom van Sapa se berig te distansieer, aangesien die verslaggewer nie genoeg klem gelê het op die aksies wat die regering beplan om misdaad te bekamp nie.
