[…]
Die Fellinger-egpaar se nagmerrie-ervaring het begin skaars 24 uur nadat hulle uit Kanada in die land aangekom het op ‘n fotosafari wat bykans ‘n maand sou duur.
Mnr. Fellinger, wat die foto-ateljee, Kunst-Photografie & Design, in Mittelahreweg, Niederahr, besit, het met sy aankoms in Windhoek ‘n vierwieltrek dubbelkajuitbakkie gehuur en besluit om deur die Khomas Hochland na Swakopmund te reis waar hy en sy vrou reeds Sondagaand moes oornag.
[…]
Daarna is die egpaar na die klein monument op die plaas waar mnr. Fellinger op ‘n trop bobbejane afgekom het. Me. Fellinger het in die motor agtergebly terwyl haar man die trop wou gaan afneem. Twee gewapende mans het egter uit die niet verskyn en haar na die agtersitplek van die bakkie gedwing.
Met haar man se terugkoms, is hy ook agter in die bakkie gedwing en een van die twee rowers het die voertuig omgedraai en weer in Windhoek se rigting begin ry.
Mnr. Fellinger het hom blykbaar verset teen die wyse waarop hulle behandel is en die tweede rower in die passasiersitplek het omgedraai, ‘n 7,62 mm Tokarev-pistool teen sy kop gedruk en die sneller getrek. Hy het op sy vrou se skoot inmekaar gesak.
Die rowers het daarna in die omgewing begin rondry en van die een plaaspad na die ander beweeg voordat hulle na sowat vyf ure mnr. Fellinger se liggaam teen ‘n steil helling in ‘n rivierloop afgerol het.
Omdat albei die rowers met mnr. Fellinger se bloed besmeer was, het hulle hul klere, blykbaar kamoefleerdrag, uitgetrek, dit aan die brand gesteek en van mnr. Fellinger se klere uit sy tas gehaal en dit aangetrek.
Die twee rowers en me. Fellinger het hulle daarna met die gekaapte voertuig op die plaaspad, P-1985, op pad na Otjimbingwe bevind en kort voor sononder het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor voordat dit begin rol het.
Die passasier is erg beseer in dié ongeluk en hy is deur sy makker uit die bakkie gehelp, op sy rug getel en albei het in ‘n westelike rigting in die bosse vedwyn.
[…]
Op die ongelukstoneel was dit gister duidelik dat die Fellinger-egpaar lank reeds aan hul Namibiese uitstappie beplan het.
Mnr. Fellinger se laaste inskrywings in sy fotoregister was die taxi-fooi wat hy in Kanada moes betaal om na die lughawe vervoer te word en ‘n kort opsomming van die foto’s wat hy geneem het voordat hulle in Namibië aangekom het.
