20 beseer, winkelsentrum beskadig toe tornado Tembisa tref (met video)

Volgens die jongste syfers is 20 mense beseer toe ‘n tornado die swart lokasie Tembisa, noordoos van Johannesburg, getref het (sien foto’s en video hier onder). Die Oos-Randse metro, Ekurhuleni, het ‘n hele noodoperasie aangekondig en daar gaan aan minstens 400 dakloses hulp verskaf word.

Sommige beserings is veroorsaak toe die dak van ‘n winkelsentrum, die Phumulani Mall, ineengestort het. Reddingswerkers moes 11 mense uit die puin red.

Ook die plaaslike hospitaal, die enigste openbare hospitaal in die hele omgewing, is deur die werwelstorm beskadig. ‘n Deel van die dak het meegegee en bome is ontwortel, volgens ‘n woordvoerder van die hospitaal, Steve Mabona.

Hael na afloop van die werwelstorm.
Hael na afloop van die werwelstorm.

Die 20 beseerdes is vanaf die winkelsentrum na die hospitaal gebring, waar die werwelstorm ook die heining, motorafdakke en 20 voertuie beskadig het.

“Gelukkig is geen pasiënt of werknemer beseer as gevolg daarvan nie,” sê Mabona. “Die hospitaal kyk reeds na die mense wat beseer is toe die Phumlani Mall in Tembisa verwoes is, en omtrent 20 mense is na die hospitaal oorgeplaas.”

‘n Hewige haelstorm het ook tydens die tornado gewoed.

Wenke vir nat paaie en vloedwaters

‘n Paar wenke om Praag-bestuurders veilig te hou as ‘n swaar bui uitsak:

Verminder spoed! Pas spoed en volgafstand aan. Dit moet minstens ses sekondes van die motor voor wees. Maak seker die volgafstand is groot genoeg om gemaklik tot stilstand te kom.

Skakel altyd die hoofligte van jou voertuig aan in nat weer asook helderder misligte agter vir beter sigbaarheid.

Bewolkte weer en reën beteken swak sig. Wees veral versigtig wanneer jy verbysteek, en onthou nie alle bestuurders gaan onthou om hul hoofligte aan te skakel nie.

Maak seker dat jou ruitveërs in ‘n goeie toestand is en behoorlik skoonvee.

Moenie dat die binnekant van die vensters van jou motor opwasem nie. Dit belemmer veral sigbaarheid. Skakel die vensterverhitter aan en sommer die lugversorging ook sodat die lug binne uitdroog. In hardnekkige gevalle kan ‘n venster op ‘n skrefie oopgedaai word.

Gaan die loopvlak van jou bande na. Die wetlike minimum is 1mm maar ter wille van veiligheid maak seker dis meer.

Verslete skok-absorbeerders hou nie die rubber op die padoppervlak nie. Geen kontak = geen ABS = geen greep = beperkte remkrag.

Vermy skielike versnelling, gerem en stuurbewegings wat kan lei tot ‘n gegly en verlies van beheer.

Moenie deur baie diep water ry nie. Dit kan jou motor beskadig en moontlik jou jou lewe kos.

As jy het geen ander keuse het as om deur dieperige water te ry nie, ry dan stadig in ‘n lae rat, en hou die stuurwiel bestendig.

‘n Rit in swaar reën beteken jy moet jou remme toelaat om droog te word, veral as jou voertuig dromremme het.

Indien jou ryding onklaar raak, skakel die noodligte aan en probeer om heeltemal van die pad af te beweeg. As dit moontlik is, gebruik ‘n reflektiewe waarskuwingsdriehoek ‘n entjie agter jou voertuig.

Honderde, behalwe SAKP daag op in koue vir Zuma

Honderde ANC-ondersteuners het die gure weer getrotseer om President Jacob Zuma Dinsdag te hoor praat in Inchanga.

Terwyl dit gereën het, het Zuma en die laggende ondersteuners afgesluit met sy kenmerkende “Umshini Wami” liedjie, ‘n herinnering aan die terreurveldtog waarmee die ANC aan bewind gekom het.

Umshini Wam’, mshini wam Ek wil my masjiengeweer hê
Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer
Umshini Wam’ we baba My masjiengeweer my vader
Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer
Umshini Wam’ we baba My masjiengeweer my vader

Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer
Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer

Wen’uyangibambezela Jy mors jou tyd
Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer
Khawuleth’umshini wam Bring my masjiengeweer

Zuma het oudlede van ANC wat ​​as onafhanklike kandidate in die komende plaaslike verkiesings staan, skerp gekritiseer.

Die president se optrede by die sportveld in Fredville is gekenmerk deur die afwesigheid van senior lede van die SA Kommunistiese Party (SAKP).

Fredville is dieselfde gebied waar SAKP-lid Philip Dlamini in Januarie doodgeskiet is.

Vier mense is in hegtenis geneem in verband met die moord, twee van wie wat na bewering met die uittredende raadslid Dennis Shozi verbind kan word.

In die gebied is SAKP- en ANC-lede verdeel oor watter kandidaat in die wyk moet staan.

Petros Nxumalo staan ​​as ‘n onafhanklike kandidaat in opposisie tot die voorkeurkandidaat, die ANC se Nokukhanya Gumede.

Zuma het ook uitgevaar teen die Demokratiese Alliansie wat hy as ‘n verlenging van die eertydse Nasionale Party beskou.

Zuma sal na verwagting sy veldtog in Pietermaritzburg Woensdag voortsit, terwyl sy voormalige vrou en uitgaande Afrika-unie-voorsitter Nkosozana Dlamini-Zuma saam met die minister van sport, Fikile Mbalula in Durban sal optree.

‘SAUK-4’ deur Arbeidshof heraangestel

Die vier joernaliste wat summier deur die SAUK afgedank is omdat hulle beswaar gemaak het teen Hlaudi Motsoeneng se beleid om nie meer oor onluste te berig nie, is vanoggend enkele minute gelede deur die Arbeidshof in hul poste heraangestel. Regter André van Niekerk het beslis dat Foeta Krige, Jacques Steenkamp, Suna Venter en Krivani Pillay heraangestel word en dat alle tugmaatreëls teen hulle gestaak word.

Van die joernaliste het reeds via Twitter hul blydskap te kenne gegee, asook wit ballonne buite die hof vertoon (foto vanaf Twitter hier bo).

Jacques Steenkamp het getwiet:

‘n Joernaliste van KykNET, Lourensa Eckard, het ook die nuus via ‘n twiet oorgedra:

Zuma stuur kommunistiese onteieningswet terug weens ‘foutiewe prosedure’

Terwyl die kommunistiese leier en minister van openbare werke, Jeremy Cronin (foto hier bo), druk toepas dat die ANC se radikale onteieningswet so gou moontlik gepromulgeer word, het president Jacob Zuma dit weer terug na die parlement verwys. Die wet, waarmee enige eiendom feitlik na willekeur onteien mag word, sal Suid-Afrika op die pad van onverdunde marxisme-leninisme soos in Zimbabwe plaas.

Zuma is bekommerd dat die prosedure wat met die wet gevolg is dalk ongrondwetlik mag wees.

Die wet maak voorsiening vir die onteiening van enige soort eiendom, roerend of onroerend, in “die openbare belang of vir ‘n openbare doel”, wat mag beteken dat plase en selfs voorstedelike huise op ‘n groot skaal onteien mag word om aan die kommunistiese ideaal vir Suid-Afrika gestalte te gee.

Die minister van openbare werke, Jeremy Cronin, asook ‘n leidende figuur in die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het deurentyd die wetsontwerp teen kritiek verdedig. Volgens hom strook dit heeltemal met die grondwet waarin eiendomsreg en vergoeding vir onteiening gewaarborg word.

Die presidensie het gister in ‘n verklaring gesê dat “Zuma die speaker van die nasionale vergadering en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies versoek het om hom in te lig betreffende die proses wat deur die parlement gevolg is toe die Onteiningswet aanvaar is”.

Die wetsontwerp is deur die parlement goedgekeur en na die president verwys wat veronderstel was om dit reeds in Mei te onderteken het.

Die presidensie het bekendgemaak dat Zuma petisies teen die ondertekening van die wet van individue en verskeie organisasies ontvang het. Die petisies het ‘n aantal proseduriële kwessies geopper wat die prosedures wat deur die NRVP en sekere provinsiale wetgewers by die aanvaarding van die wet gevolg is, insluit. Volgens die petisies sou die wet nie met die grondwet versoen kon word nie.

Die presidensie sê dat die NRVP in gebreke gebly het om voldoende raadpleging met die publiek te fasiliteer alvorens die wet aanvaar is, en dat die wet nie na die nasionale huis van tradisionele leiers verwys is soos wat deur die Raamwerkwet op tradisionele leierskap en regering vereis word nie.

“Dienooreenkomstig het die president die parlement versoek om hom in te lig aangaan die proses wat gevolg is toe die wet aanvaar is,” lui die verklaring.

Die Suid-Afrikaanse instituut vir rasseaangeleenthede het ook sy teenkanting teen die wet uitgespreek en het ‘n petisie aan Zuma gerig om nie die wet te onderteken en te bekragtig nie. Volgens dr. Anthea Jeffery van die instituut sou dit enige staatsdepartement, munisipaliteit of selfs openbare ondernemings in staat stel om eiendom te onteien.

Kaapse rampbestuur op hoë gereedheidsgrondslag

Rampbestuurspanne in Kaapstad is op hoë gereedheidsgrondslag te midde van gure weer wat van vandag af verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dit is die eerste van ‘n reeks kouefronte wat die week oor die Skiereiland sal beweeg.

Swaar reën, sterk wind en snerpende koue is Kapenaars se voorland. Tot dusver is geen berigte van oorstromings in Kaapstad ontvang nie.

Die Kaapse metropool sê die watervlakke van belangrike damme in die Wes-Kaap het sedert verlede week met vyf persent gestyg.

Volgens die stad se departement van water en sanitasie is die damme is tans sowat 48% vol.

Die Weerdiens waarsku dat die gure weerstoestande wat met reën gepaard gaan nog tot Donderdag toe oor die binneland sal voortduur.

Die kwik sal in Pretoria en Johannesburg tot net bo tien grade styg, terwyl reën en koue weerstoestande ook oor KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap verwag word.

Verskeie weerwaarskuwings, wat die moontlikheid van hael oor Pretoria insluit, is reeds uitgereik. Die reën behoort teen Vrydag op te klaar, maar dit sal steeds baie koud bly.

Intussen is verskeie paaie in die Oos-Kaap weens die sneeu gesluit. Die R58 tussen Elliot en Barkley-Oos asook die R61 tussen Graaff-Reinet en Cradock bly gesluit.

In ander dele van die provinsie is die paaie glyerig en rotsstortings kom ook voor. Die Oos-Kaapse verkeersdienste het motoriste gemaan om versigtig te bestuur.

Groot dele van Durban en die omliggende gebiede is na swaar reën oorstroom, en reddingspanne moes bontstaan.

Verskeie motors is in stormwater vasgekeer. Drie mense moes uit twee voertuie in die stad gered word nadat hulle deur vloedwater vasgekeer is.

‘n Woordvoerder van ER24, Russel Meiring sê twee vroue moes in Amanzintoti gered word nadat water deur ‘n gebou gestroom het.

Twee motors is van ‘n brug by Reddy’s Corner in Chatsworth deur stormwater afgespoel en die vroue-bestuurder van een van die voertuie word vermis.

Kinderpornograaf se saak uitgestel

‘n Drie-en-veertig-jarige man wat teregstaan op 935 aanklagte – wat verkragting van minderjariges, kinderpornografie en seksuele aanranding insluit – se saak is in die Bloemfonteinse Hooggeregshof uitgestel.

Die Vrystaatse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phaladi Shuping, sê die saak is uitgestel tot 1 Augustus.

Die verdagte, ‘n man van Johannesburg wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, se verhoor sou na bewering die week begin. Die verhoor vind in kamera plaas.

Die man is in 2014 in hegtenis geneem vir die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie. Tydens verdere ondersoek is 19 beweerde slagoffers tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar geïdentifiseer.

Die verdagte se bedrywighede is oorspronklik deur die owerhede in Australië en Kanada oopgevlek. Die Suid-Afrikaanse polisie is hiervan in kennis gestel.

Verdere ondersoek het die polisie na ‘n woonadres in Sasolburg in die Vrystaat gelei. Die verdagte is in aanhouding.

Grondwetlike krisis dreig in Limpopo

‘n Grondwetlike krisis dreig in Limpopo nadat Vuwani-inwoners beloof het om die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) te verhoed om die 2016 munisipale verkiesings in die geweldgeteisterde gebied te hou.

Eindelose geheime vergaderings, wat daarop gemik was om ‘n oplossing vir die voortdurende krisis te vind, het in duie gestort met geen ooreenkoms wat nog bereik is nie.

Die regering het voorgestel dat Vuwani-inwoners die dreigemente moet staak en toelaat dat die verkiesingsproses plaasvind in geaffekteerde wyke.

Maar Vrydag het inwoners gewaarsku dat indien hul tradisionele leiers die ooreenkoms onderteken, hulle nie verteenwoordigend van die gemeenskappe optree nie.

Vuwani en omliggende gebiede is gesluit en regeringsaktiwiteite, insluitend skoling is sedert April ontwrig nadat hulle ‘n hoërhofaansoek om onder die Makhado-munisipaliteit te bly, verloor het.

Hulle het die hooggeregshof genader om die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad om Malamulele by die nuwe Limpopo-distrik in te sluit, om te keer.

Meer as 24 skole is afgebrand en regeringseiendom beskadig tydens die protes.

Gemeenskapsleier Nsovo Sambo het gesê dit bly gemeenskap se besluit om nie deel te neem aan die komende verkiesing nie.

“Ons staan ​​steeds by ons besluit, ons is nie van plan om te stem nie,” het Sambo gesê.

Die OVK se provinsiale voorsitter Nkaro Mateta het gesê die dreigement deur inwoners van Vuwani het potensiaal om ‘n grondwetlike krisis te veroorsaak en sal die vestiging van plaaslike distrikte beïnvloed.

“As hulle nie stem nie, dit sal beteken dat die nuwe entiteit nie vasgelê kon word nie as gevolg van uitstaande wyke,” het Mateta gesê.

Na 90 dae vir ‘n tussenverkiesing kan die parlement genader word vir grondwetlike wysiging, en dit kan ‘n grondwetlike krisis en vertraging veroorsaak.

Die nuwe entiteit het 27 wyke en 14 is deel van gebiede wat betwis word en nie wil deelneem aan die verkiesing nie.

Sommige bronne sê die ANC het dringend stemme nodig in al 14 wyke wat geraak word deur gewelddadige protes.

“Dit is ‘n dilemma want as die mense nie stem nie, kan ons dit nuwe entiteit verloor aan opposisiepartye,” het ‘n ANC-binnekringlid aan ANA gesê.

Solidariteit gebruik anti-Steve, anti-Afrikaanse advokaat in ‘SAUK-4’-saak

Solidariteit en Afriforum, wat tans die hofsaak namens die sogenaamde “SAUK-4” hanteer, maak gebruik van die advokaat Steven Budlender, wat voorheen deel van die veldtog was om Steve Hofmeyr te keer om “Die Stem” te sing en sy hele loopbaan te ruïneer. Budlender het pro bono teen Steve Hofmeyr opgetree namens Conrad Koch, die hatige buikspreker wat gedurig op Afrikaners vloek en skel (sien foto van Budlender hier bo).

Budlender is die seun van Geoff Budlender, SC, wat in die verlede terroriste van die ANC en SAKP verdedig het en ‘n uitgesproke linkse revolusionêr was.

‘n Woordvoerder van ‘n Afrikaanse organisasie wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan PRAAG gesê: “Dis ‘n uiters vreemde keuse van advokaat in dié saak rondom die SAUK. Terwyl Solidariteit en Afriforum voorgee om ‘vir Afrikaans’ te veg, voer hulle vir seker nie hul sake in die hof in Afrikaans aan nie, aangesien Steven Budlender nie Afrikaans magtig is nie. Boonop staan hy en Conrad Koch uiters vyandig teenoor Afrikaans en ‘n sanger soos Steve Hofmeyr.”

Budlender jr is lid van die “Victoria Mxenge-groep van advokate”, wat vernoem is na ‘n marxistiese Xhosa-regsgeleerde wat voorheen ook deel van die terreuraanslag op Suid-Afrika was. Haar man Grifiths Mxenge, wat ‘n ANC-lid was en ook ‘n tydperk gevangenisstraf op Robbeneiland uitgedien het, is vermoedelik deur die Vlakplaas-eenheid gedood, waarvoor Dirk Coetzee, Almond Nofemela en David Tshikalanga kwytskelding van die Waarheids- en versoeningskommissie ontvang het.

Solidariteit werk ook nou saam met die FW de Klerk-stigting, wat mag verklaar waarom die vakbond deesdae linkse, anti-Afrikaanse advokate verkies om namens hom en sy lede te litigeer.

Uitspraak in die saak is voorbehou en word blykbaar môre tienuur in die Arbeidshof in Kaapstad gelewer. Die vier afgedankte SAUK-joernaliste wat poog om deur die hof heraangestel te raak, is: Jacques Steenkamp, Foeta Krige, Suna Venter en Krivani Pillay. Foeta Krige was tot onlangse uitvoerende regisseur van RSG-Monitor terwyl Jacques Steenkamp en Suna Venter as joernaliste by RSG werksaam was.

Die groot ironie: Max Price kanselleer meningsvryheid-lesing by UK

Die ironie kan nie groter wees nie. ‘n Spreker wat uitgenooi is om die jaarlikse akademiese meningsvryheidlesing aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te lewer, is verhinder deur die Universiteit se Uitvoerende Raad.

In Maart 2015 het die die Universiteit van Kaapstad se komitee besluit om Flemming Rose (foto hierbo), ‘n prominente aktivis vir die vryheid van uitdrukking, uit te nooi om die 2016 T.B. Davie-gedenklesing op 11 Augustus aan te bied.

As die kultuurredakteur van die Deense koerant, die Jyllands-Posten, het Rose in September 2005 ‘n paar tekeninge en spotprente gepubliseer wat die profeet Mohammed uitbeeld. Die doel van hierdie oefening was om die mate waarin kunstenaars self-sensuur toepas, te belig.

Max Price, die “progressiewe” visekanselier, verbete multikulturalis en nou sensor, het sy besluit verdedig en gesê Rose se teenwoordigheid sal die kampus “verdeel” en “geweld” veroorsaak.

Die kampus is reeds verdeel, oor allerlei kwessies, veral oor ras en meningsvryheid. Maar Price kan sulke sensuur met gemak toepas omdat die mense wat nie saamstem met hom oor hierdie aangeleentheid nie, onwaarskynlik ‘n verwoestende brand sal veroorsaak.

Die tweede rede wat Price aanvoer, naamlik “sekuriteit”, is sy eie maaksel.

Indien geweld uitbreek op die kampus van UK oor Rose se besoek, is dit Max Price wat self daarvoor verantwoordelik sal wees want hy het al die elemente ingenooi en aangemoedig om onverdraagsaam op te tree.

Maar dit het almal reeds geweet.

Universiteite gaan eersdaag tewens verplig wees om personeel af te dank en begrotings in te kort indien daar nie teen die einde van die jaar ‘n volhoubare oplossing is vir studente se eise vir gratis onderwys nie.

Universiteite Suid-Afrika, ‘n organisasie wat al 26 universiteite in die land verteenwoordig, sê al die instellings is onder geweldige finansiële druk.

Die uitvoerende hoof, Ahmed Bawa, het gewaarsku dat universiteite nie nog ‘n jaar só sal kan voortbestaan sonder om fooie te verhoog nie.

Hy het verwys na die Universiteit van Kaapstad wat sy personeelbegroting met 100 miljoen rand wil probeer besnoei, omdat hy wyses moet vind om volhoubaar te bly.

Die regering het geen verhoging vir vanjaar ingestel nie ná wydverspreide studentebetogings verlede jaar.

Universiteite SA sê die Universiteit van Rhodes, wat onlangs in die nuus was oor sy finansiële probleme, is nie die enigste universiteit nie.

‘n Polemiek woed intussen, aangesien die hoof van die Dept. Filosofie aan die UK, David Benatar, intussen skerp kritiek teen Price se besluit op Politicsweb uitgespreek het.