Die Kapoenskoenprys: PRAAG kondig nuwe maandelikse prys aan

Jare gelede was daar in Suid-Afrika ‘n mode vir grys skoene. Dit het by joernaliste vasgehaak en vandag nog beskuldig hulle hul teenstanders links en regs van onaanskoulike skoeisel. Maar intussen het die koms van die sogenaamde reënboognasie daarvoor gesorg dat Suid-Afrika nou met afskuwelike skoene in al die kleure van die spreekwoordelike reënboog kan spog. Trouens, daar is min lande op aarde waar ‘n mens daagliks soveel afskuwelike skoene kan gadeslaan. Onder heerskappy van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en sy handperd, die ANC, oortref Suid-Afrika die legendariese gebrek aan skoenesmaak van hul heimat, die voormalige Sowjetunie!

Vandaar die nuwe maandelikse prys wat deur PRAAG uitgeloof word: die Kapoenskoenprys. Indien u nie weet watter kleur “kapoen” is nie, vra ‘n bietjie rond. Enigeen in u omgewing met ‘n kuns- of ontwerpopleiding – gebiede waar kwotas blykbaar nog nie geld nie – sal u kan sê. Die kleur is ‘n versnit, so in die spektrum van bruin en oranje, die ou Broederbond se gunstelingskakerings.

Daar is net een beoordelaar vir die prys: ons satiriese rubriekskrywer Skoppensboer. Hy ontvang graag inskrywings by die volgende e-pos: skoppensboer[by]praag.org. Alle foto’s van openbare persoonlikhede of selfs lede van die publiek wat die Kapoenskoenprys verdien, is welkom.

Om mee af te skop, loof ons vandeesmaand se Kapoenskoenprys aan die anglofiele sanger, Arno Carstens, van ‘n sanggroep genaamd Springbok Nude Girls, uit. Arme Springbok. Arme kaal meisies. Maar die man beskik oor ‘n paar kapoenskoene wat sy hele musikale œuvre oortref (foto hier bo).

Skoppensboer se commendatio

Ja, die genre van die skoen is duister. Is dit ‘n tekkie? Is dit ‘n hardloop- of bergklimskoen? Kleurgewys sluit dit volmaak by die kapoentema aan. Enigeen kan seker so ‘n lelike paar skoene gaan koop, maar dit verg ‘n ware kapoenkunstenaar om so ‘n paar trappers by ‘n modieuse broek en baadjie aan te trek. Hy wil vir ons sê: Hierdie skoene is my semiformele drag en as dít julle nie genoeg laat skrik nie, wag totdat ek regtig loslit raak, dan skiet julle almal katte by julle motorvensters uit! Interessant is ook dat sy hele uitrusting so in die rigting van ‘n kapoenkleur neig, so half seun-van-die-Broederbond-ontmoet-Joe-Slovo, wat dalk insgelyks iets oor sy politieke korrektheid en anglofilie wil sê.

Daarom ken ek sonder huiwering vandeesmaand, Oktober 2015, die historiese eerste Kapoenskoenprys aan die heer Carstens toe. Indien mnr. Carstens sy adres aan my wil stuur, sal hy ‘n gratis blikkie Nugget wat van suiwer petroliumprodukte gemaak is, in die kleur van sy keuse ontvang wat hy elke dag vir inspirasie kan snuif.

Veels geluk aan Arno Carstens, ons kapoenhaan van die maand!

Betogings oor fooie kring uit

Rhodes Universiteit in Grahamstad het gesluit nadat studente oor klasgeldverhogings vir volgende jaar begin betoog het.

Betogings het verder uitgekring oor die hele land by tersiëre instellings oor verhoogde fooie.

Rhodes se SR-voorsitter Zikisa Maqubela het gesê: “Studente betoog (oor die) minimum aanvanklike betaling, wat beteken studente moet 50 persent van die koste betaal. Dit beteken dat indien studente in die koshuis woon, sal van hulle verwag word om tot R45,000 te betaal.

“Ons kan nie so baie betaal nie, ons het net nie die geld nie,” sê Maqubela.

Maqubela het gesê studente het met senior bestuur van die universiteit Vrydag vergader, maar was ongelukkig met die uitslag.

Hulle het middernag op Sondag by die universiteit begin betoog.

By die Universiteit van Kaapstad het studente ook betoog oor fooie.

Dogter van Zim minister dood aangetref

Die Suid-Afrikaanse polisie ondersoek die moord op die dogter van Zimbabwe se minister en Mugabe-vertroueling, Jonathan Moyo.

Moyo se dogter is dood aangetref Saterdagoggend in haar woonstel. Sy was ‘n student aan die Universiteit van Kaapstad.

Zanele Naledi Ntombizodwa Moyo, wat 20 was, is dood aangetref in haar woonstel in Rosebank, naby die universiteit.

Sy het studeer vir ‘n graad in politieke wetenskap, internasionale betrekkinge en genderstudies.

Minister Moyo het die nuus op Twitter bekendgemaak en haar beskryf as ‘n “engel”. Hy het geskryf: “God se mense, my engel dogter Zanele is nie meer nie.”

Hy is in kennis gestel deur sy volgelinge tydens ‘n lesing by die Nasionale Universiteit van Wetenskap en Tegnologie in Bulawayo.

Simiso Mlevu, woordvoerder van die gesin, het gesê ‘n nadoodse ondersoek en ondersoeke is tans aan die gang om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Bloed het uit haar neus geloop en sy het glo ‘n kopwond gehad, volgens polisiebronne.

Moyo, wat aangekla is van bedrog in 1993, is daarvan beskuldig dat hy $88 000 gesteel het toe hy die programdirekteur van die Ford Foundation in Kenia was.

In 1998, terwyl hy in Suid-Afrika by die Universiteit van die Witwatersrand was, waar hy besig was met ‘n projek geborg deur die Amerikaanse WK Kellogg-stigting, het die universiteit beweer dat hy weggeloop het met deel van die R100 miljoen se navorsingstoekenning.

Hy ontken beide bewerings.

Sy deelname aan beweerde korrupsie het weer opgeduik in 2011 toe hy die Daily News gedagvaar het oor twee berigte uit WikiLeaks waarin hy genoem word.

Die koerant het berig hoe Moyo glo die Verenigde State aangeraai het om “positiewe seine” te stuur aan Zanu-PF voor die 2008-verkiesing.

Staatsveiligheid slaan toe op buitelandse agente in parlement

Die Staatsveiligheidsagentskap het toegeslaan op buitelandse agente wat hulself voordoen as joernaliste asook nie-regeringsorgansiasies se verteenwoordigers in die parlement.

Die Sunday Times berig dat ‘n reeks vergaderings verlede week met intelligensiebeamptes gehou is om parlementêre personeel in te lig oor buitelandse agendas.

Tydens voorleggings aan parlementêre personeel, is joernaliste as een van die veiligheidsbedreigings vir Suid-Afrika uitgewys.

Die vergaderings is byeengeroep deur intelligensie-offisiere en intelligensie-amptenare het gesê hulle sal nie huiwer om kommunikasie soos Whatsapp, SMS’e en e-posse te keur nie.

Senuweeagtige personeel het verneem dat twee joernaliste, lede van die parlementêre persgalery, vir die Franse en Amerikaanse regerings spioeneer.

Lede van die personeel met dubbele burgerskap se sekerheidsklarings sal voortaan negatief daardeur beïnvloed word.

Personeel is gewaarsku dat indien hulle nie afsien van ‘n buitelandse paspoort nie, hulle die risiko loop om hul sekerheidsklarings te verloor.

Die opskerping van veiligheidsmaatreëls in die parlement kon nadat die EFF vroeër probeer het om verrigtinge te ontwrig.

“Die media word gesien as ‘n vyand. Hulle [intelligensie-amptenare] sê sommige media werk vir buitelandse regerings. Hulle voel ook dat sommige lede van die ANC in die parlement bestuurders gebruik om teen die ANC te werk,” het ‘n amptenaar wat ‘n sessie bygewoon het, aan die Times gesê.

Een aanbieder het ook spesifiek die Right2Know-veldtog gekoppel aan spioenasie vir ‘n buitelandse moondheid,” het ‘n amptenaar gesê.

Right2Know se Murray Hunter het gesê die organisasie bestaan ​​uit “gewone Suid-Afrikaners” wat in diens van “vryheid van uitdrukking en toegang tot inligting optree om hul grondwetlike regte te beskerm”.

“Ons is woedend, maar nie verbaas nie, deur die paranoia en minagting wat die sekurokrate vir gewone mense en hul organisasies toon,” sê Hunter.

Die voormalige minister van intelligensie, Siyabonga Cwele, het reeds vakbonde soos Numsa en Amcu, Abahlali baseMjondolo en die Treatment Action Campaign, die Anti-Privatiseringsforum, die Anti-Eviction Campaign en die Landless People’s Beweging, asook Hunter se organisasie as buitelandse agente uitgesonder.

Lesings by Wits opgeskort

Lesings sal nie Maandag by die Universiteit van die Witwatersrand voortgaan nie, nadat betogings oor hoër klasgelde en bestuursonvermoë die instelling verlede week lamgelê het.

Wits se woordvoerder Shirona Patel het bevestig dat alle akademiese aktiwiteite opgeskort bly om die universiteit se raadsverslag by ‘n vergadering voor te lê en oor die aangeleentheid oorleg te pleeg.

Patel het gesê die raad het Sondag onderneem om die 10,5%-verhoging in fooie te laat vaar en hulle sal Maandagmiddag met studente-leiers vergader om terug te rapporteer oor die vergadering.

Meer as 100 Witsstudente was Sondag in Senate House saamgetrek om hul agenda vir die Maandagvergadering te bespreek, het die SR-voorsitter Nompendulo Mkatshwa gesê.

In ‘n verklaring het Wits ook gesê geen dissiplinêre stappe sal geneem word teen studente of werkers wat deelgeneem het aan die protes nie.

Wêreldbank weier om Hitachi-tender te ondersoek

Die Wêreldbank het Dinsdag verklaar dat daar geen verdere ondersoek sal wees na die omstrede­ Hitachi-tender nie.

Die Japannese maatskappy Hitachi Power Europe het glo geld aan Chancellor House betaal in ruil vir politieke invloed in die toekenning van staatskontrakte.

Chancellor House is ‘n frontmaatskappy van die ANC.

Die DA het die klag ingedien omdat die bank in 2010 lenings aan Suid-Afrika toegestaan het vir die bou van die kragstasies.­

Maar Guang Zhe Chen, Wêreldbank-direkteur vir Suid-Afrika, het in ’n verklaring gesê volgens die bank se Integriteit-eenheid was geen Wêreldbank-geld betrokke nie.

“Omdat geen Wêreldbank-geld by die Hitachi-kontrak betrokke was nie, is ’n ondersoek na die kontrak nie nodig nie.”

Adv. Leonard McCarthy, voormalige hoof van die Skerpioene is tans visepresident van die Bank se Integriteit-eenheid. Sy kantoor het die klag van die hand gewys.

Die eenheid ondersoek bewerings van bedrog en korrupsie met Wêreldbank-projekte.

Katolieke kla oor Valke-korrupsie

Die hoof van die Valke, Mthandazo Ntlemeza, het Donderdag onderneem om eers in sy eie organisasie korrupsie uit te roei voor die publiek aan die beurt kom.

Hy het nogtans gewaarsku dat die Valke misdadigers dophou.

Ntlemeza het verwys na twee lede van die Valke in Welkom wat onlangs in hegtenis geneem is nadat gesteelde geld in hul besit gevind is.

Hy sê hulle kan nie net op die breë samelewing fokus nie, maar moet ook misdaad binne-in hul organisasie hokslaan.

Ntlemeza was Donderdag in Bloemfontein om met sy provinsiale span te vergader en die pad vorentoe te bespreek.

In Mei vanjaar, het die minister van polisie Nkosinathi Nhleko ‘n taakspan aangestel ter bevordering van die onafhanklikheid van die Valke.

Die taakspan is tot April 2016 gegee vir die voltooiing van institusionele hervorming van die Valke.

Die uitvoering van ‘n besluit van die Konstitusionele Hof vir doeltreffende maatreëls om die onafhanklikheid van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) te verbeter, is intussen deur die Katolieke Kerk gekritiseer.

Die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie (SACBC) het reeds optogte teen korrupsie in Kaapstad en Pretoria gehou, en die regering se erns om korrupsie te bekamp, bevraagteken.

Vrystaatse onderwys gee miljarde onregmatig uit

Die Vrystaatse onderwysdepartement het meer as R2,3 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan en die meeste daarvan hou verband met die toekenning van tenders.

Dit is volgens die ouditeur-generaal se verslag vir die 2014/2015 boekjaar wat vandag tydens ‘n sitting van die staande komitee vir openbare rekeninge in die provinsiale wetgewer bespreek word.

Die verslag het bevind dat tenders toegeken is aan kontrakteurs wat nie aan die nodige vereistes voldoen nie. Kennisgewings vir die tenderproses is ook in baie gevalle nie betyds geadverteer nie.

Amptenare van die departement het nie persoonlike belang of die van nabye familie of vennote by ondernemings wat tenders gekry het, verklaar nie.

Ernstige kommer is uitgespreek oor dié departement se finansiële gesondheid.

Komiteevoorsitter, Neels van Rooyen, sê hy is bly dat die departement nou met die provinsiale tesourie en die ouditeur-generaal se kantoor saamwerk om die probleem aan te spreek.

Wits-betogers dreig met geweld oor klasgeld

Studente by die Universiteit van die Witwatersrand het Woensdagaand gewelddadig geraak tydens ‘n betoging oor klasgelde.

Die bestuur van die universiteit het gedreig om die polisie in te roep as orde nie herstel word nie.

Prof. Adam Habib, vise-kanselier het voorheen gepleit vir groter staatsubsidies om die verhoging in klasgelde te verhoed.

Maar Mcebo Dlamini, geskorste SR-voorsitter, het gesê hulle sal Wits onregeerbaar maak totdat Habib toegee.

Klasse en toetse is Woensdagoggend opgeskort toe nadat betogers alle uitgange versper het en geweier het om studente en personeellede deur te laat.

Studente het Woensdag handgemeen geraak en mekaar vulgariteite toegesnou. ‘n Paar betogers is beseer toe ‘n ongeduldige student in hulle vasgery het met sy motorfiets omdat hulle hom nie wou deurlaat nie.

Die studenteraad sê die universiteitsbestuur is deel van die “onderdrukkende stelsel en ons gaan nie toekyk hoe die finan­siële uitsluiting van studente wat moontlik kan slaag, uitgesluit word nie”.

Wits se uitvoerende komitee het vroeër Woensdag in ’n verklaring gesê dit is onaanvaarbaar ‘n klein groep betogers die res as gyselaar aanhou.

Brug stort in duie oor besige Johannesburgse snelweg

Ten minste drie mense is dood en 17 beseer as ‘n gevolg van ‘n brug oor een van Johannesburg se besigste snelweë wat in duie gestort het.

Duisende motoriste is in verkeersknope van kilometers lank opgehou deur die ineenstorting.

“Ons is baie bekommerd oor die beseerdes. Dit is ‘n baie besige snelweg en dit was ‘n aktiewe konstruksie-terrein,” het ‘n woordvoerder van Murray & Roberts gesê.

Ed Jardim het gesê hy is nie bewus op hierdie stadium van enige konstruksiewerkers wat beseer is nie.

Murray & Roberts het bevestig dat ‘n ondersteuningstruktuur wat opgerig is om ‘n voetgangerbrug oor die M1 te bou, in duie gestort het.

Verdere inligting sal vrygestel word wanneer sulke inligting beskikbaar is, het die maatskappy gesê.

Die maatskappy is verantwoordelik vir die bou van die tydelike brug wat die lokasie Alexandra aan die welvarende Sandton sal verbind.

Die brug is ontwerp as ‘n voetganger en fietsrybrug.

Die projek kos R130 miljoen en word beskou as ‘n vinniger en veiliger roete vir die beraamde 10.000 voetgangers wat daagliks tussen die twee gebiede beweeg.

Dit sou teen Oktober 2016 voltooi word.

Intussen het M&R se aandeelprys drasties gedaal.

Motoriste is gevra om die M1-hoofweg naby Grayston-rylaan in Sandton te vermy omdat die pad steeds gesluit is vir verkeer terwyl opruimingswerk voortduur.

Die Johannesburgse metropolisie is ontplooi en herlei tans verkeer tussen Johannesburg en Pretoria na die Grayston-afrit.