UK-studente verbrand ‘koloniale’ skilderye

Swart studente van die universiteit van Kaapstad het “koloniale” skilderye van wit mans en vroue uit die Fuller- en Smutskoshuise Dinsdagaand aan die brand gesteek.

Polisievoertuie en ‘n brandweerwa was op die perseel om die vuur te blus.

Die polisie is ingeroep en het die betogers probeer verwilder wat gelei het tot geweld. Dit was nie onmiddellik duidelik of die betrokkene vandale almal studente was nie.

Die swart studente het die kunswerke uit die twee koshuise op die boonste kampus van die mure gaan afruk en aan die brand gesteek omdat die bestuur hulle gevra het om plakkershutte te skuif wat hulle uit protes opgerig het.

Hulle protesteer teen wit studente wat hulle sê voorkeur kry bó swartes vir behuising.

Volgens ‘n video opgelaai op Twitter, is ‘n aantal mense in hegtenis geneem op die toneel van die brand nadat die polisie skokgranate moes gebruik om die skare uiteen te jaag.

Hulle het rubberkoeëls ook gebruik.

Die betogers het ook die gereg met klippe bestook waarna veiligheidswagte twee oproeriges in hegtenis geneem het.

‘n Veiligheidsvoertuig se vensters is stukkend geslaan en kort daarna is ‘n UK-voertuig aan die brand gesteek.

Betogings oor fooie kring uit

Rhodes Universiteit in Grahamstad het gesluit nadat studente oor klasgeldverhogings vir volgende jaar begin betoog het.

Betogings het verder uitgekring oor die hele land by tersiëre instellings oor verhoogde fooie.

Rhodes se SR-voorsitter Zikisa Maqubela het gesê: “Studente betoog (oor die) minimum aanvanklike betaling, wat beteken studente moet 50 persent van die koste betaal. Dit beteken dat indien studente in die koshuis woon, sal van hulle verwag word om tot R45,000 te betaal.

“Ons kan nie so baie betaal nie, ons het net nie die geld nie,” sê Maqubela.

Maqubela het gesê studente het met senior bestuur van die universiteit Vrydag vergader, maar was ongelukkig met die uitslag.

Hulle het middernag op Sondag by die universiteit begin betoog.

By die Universiteit van Kaapstad het studente ook betoog oor fooie.