Reaksie op Henry Jeffreys

My reaksie op die redakteur van Die Burger, Henry Jeffreys, se rubriek oor die aksies van die Belastingbetalersverenigings. Ek wou dit as kommentaar by sy rubriek op die internet plaas, maar kon dit nie regkry nie, en so ook nie by sy blog nie.

Die howe moet nog finaal uitsluitsel gee oor waar die reg sy grense oor die “weerhouding” van munisipale belasting gaan trek. Prof. Marinus Wiechers is bekend daarvoor dat hy nie besonder simpatiek teenoor ‘n uitleg staan dat die Belastingbetalersverenigings se regsprosedure, soos die verklaar van ‘n dispuut en die betaal van die fondse in ‘n trustrekening, regmatig is nie. Tog het die verenigings al verskeie hofsake gewen, oa ook in die Vrystaat, waar munisipaliteite gedwing is om hierdie “wanbetalers” se kragtoevoer (wat volledig betaal is) te herstel.

In die grondwethofsaak van Walker versus City Council of Pretoria is, eenvoudig gestel, in die meerderheidsuitspraak beslis dat die burger nie bloot die wet kan verbreek as die staat die grondwet oortree nie. Die burger moet eers ‘n regsoptrede volg soos om die howe te nader om die staat te dwing om die grondwet nie te skend nie. (In die omgewing wat natuurlike geregtigheid klink dit vreemd dat ‘n hofsaak nodig is om te keer dat die staat nie die grondwet skend nie, maar daar was ‘n rits soos SA-burgers e belange in Zimabbawe. Vrystaat landbou is nou op pad hof toe met die regering oor veral versuim om die Lesothogrens behoorlik teen oorgrens-misdaad te verskans).

Die Pretoria-saak se belangrikste bevinding was egter ook dat ‘n munisipaliteit ook nie op grond van ras mag diskrimineer nie.

Nie almal het egter die fondse om hulle op die howe te beroep nie. Prof Herman Gilliomee het onlangs in ‘n artikel ook gewys op die vertolking wat die ANC aan die sg Hoofstuk 9-liggame heg, wat in effek neerkom om as verlengstukke van die ANC te dien. Ek tel onder diegene wat ruim meer as ‘n dekade op die Openbare Beskermer wag om ‘n finale verslag oor ‘n onreg uit te bring. In kort, min mense het nog geloof in hierdie instellings.

In die howe is die stryd gewoonlik baie ongelyk, met die staat wat kan aanjaag en die belastingbetalers wat moet opdok. Daar was enkele gevalle, maar hopeloos te min, waar die besluitnemers aan staatskant aangesê is om self die regkostes te dra. ‘n Veel regverdiger speelveld sal ontstaan as staatsaanspreeklikheid vir regskostes heeltemal onttrek word, en besluitnemers verplig word om regsaanspreeklikheidsversekering uit te neem. As die staat gedagvaar word, en die besluitnemer besluit om teen die advies van sy versekeraars die saak teen te staan, moet hy gewoon self sy regskostes dra as hy verloor.

Dit is agter te midde van hierdie ongelykheid dat getroue belastingbetalers in magteloosheid moet toesien hoe hul munisipale dienste ten gronde gaan, en geld vermors word. Terwyl ek gou ‘n bietjie navorsing vir hierdie antwoord gedoen het, het my oog geval op R100 000 wat ‘n erg sukkelende munisipaliteit (Ngwathe wat Parys en Heilbron insluit) op die begrafnis van ‘n raadslid gespandeer het. Ek kan by my voordeur uitkyk op ‘n mangat oorkant die straat waarvan die deksel weg is. As lid van ‘n munisipale wykskomitee (ek is nie lid van ‘n belastingbetalersvereniging nie) rapporteer ek dit al meer as twee jaar. Daar was al ‘n foto daarvan in die koerant, en die munisipaliteit moes al aan verskeie mense wat in onbedekte mangate geval het skadevergoeding betaal.

In die Karoo het minstens een Belanstingbetalersvereniging sy ding begin doen toe nog ‘n munisipale afvaardiging kort na voriges op pad oorsee was.

In verskeie dorpe is al munisipale dienste wat hoegenaamd gelewer word, dit wat die belastingbetalersvereniging uit die trustrekenings lewer.

Kort voor die algemene verkiesing het die aangewese, en nou Vrystaatse Premier by ‘n SALGA-kongres aangekondig dat korrupte en onbekwame burgemeesters en munisipale bestuurders afgedank gaan word. Hy is toe uitgelag. Sedertdien het die vreemdste goed gebeur, soos ‘n geskorste munisipale bestuurder wat elders as administrateur aangestel is waar die betrokke munisipaliteit onder administrasie geplaas is.

Berigte is volop waar belastingbetalersverenigings voor en na hulle dispuut verklaar het vrugteloos probeer afsprake maak het met die rade.

Uit briewe en berigte blyk dit dat die Nasionale Belastingbetalersvereniging ook van g’n sout of water weet van ‘n afspraak wat die minister sê hy met hulle het nie. Trouens, dit blyk eerder dat die minister hul pogings vir ‘n afspraak  ontduik, en selfs blykbaar ‘n kluitjie gebak het oor die rede waarom ‘n afspraak op baie kort kennis afgestel is (om ‘n Zuma-saamtrek te gaan bywoon).

Die hartseerste is dat die minister dit wys ag om ras by die kwessie in te sleep. Dit het onmiddellik die deur oopgelaat vir teenreaksies met rasse-ondertone, soos dat die (wit) belastingbetalersverenigings darem steeds hul belasting bly betaal, terwyl (swart) ontevredenes heeltemal nie betaal nie (wat blykbaar talle raadslede insluit want by Dihlabeng (Bethlehem en omgewing) sal die raad volgens die ANC self nie ‘n kworum hê as wanbetalende raadslede van vergaderings uitgesluit word nie). Die rasspeletjie kan ‘n entjie verder getrek word soos verskeie voorvalle van oproer, en waar daar deesdae weer taamlik lustig met rubberkoeëls geskiet word, al word nie met rubberklippe gegooi nie.

Die hartseer is dat ‘n moeder van hofsake soos die minister dreig, sake net sal vererger eerder as verbeter. Die oplossing is taamlik eenvoudig. Die ANC moet woord hou en van korrupte en onbekwame burgemeesters, raadslede en amptenare ontslae raak. Trouens, onlangs nog het Zuma en kie nukkerige burgemeesters weer mooi soos eendjies in die lojale ry gekry deur te dreig om van die stelsel van uitspattige burgemeesters ontslae te raak.

Dis nie altyd rade wat in ANC-beheer is wat sleg vaar nie. Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

Intussen is dit ongelukkig dat trotse, lojale Suid-Afrikaners wat desperaat probeer keer dat die land ‘n volledige piesangrepubliek word, as verraaiers en misdadigers afgemaak word. ‘n Hofsaak (en mag die nodigheid daarvan deur gesonde verstand oorbodig raak) is nou al wat kan beslis of die trusfondsrekeningshouers werklik misdadigers is, en of hulle eintlik helde is wat deur gemeenskapspolitiek probeer beredder wat nog beredder kan word.

 

 

потолочные светильникиФильчаков прокурор харькова

Mentaliteit van die familievuurtjie

In verskeie dele van die land is daar gemeenskappe wat betreklik gewelddadig raak oor diensleweringsbeloftes wat na dié beloftes gemaak is, soos mis voor die son verdwyn. Dié ongemak met owerheidsuitsprake word versterk deurdat mense via die media verneem van opmerkings en beloftes wat politici vir gehore maak wat baie duidelik net vir daardie gehore se ore bedoel is.

Tradisioneel is dit as goeie hoofmanskap beskou as die hoofman saans van familievuurtjie na familievuurtjie loop en by elk aan die uitgebreide familie vertel wat hulle wil hoor. Dit het ook nie saak gemaak dat dié aandpraatjies erg teenstrydig met mekaar kon wees nie.

Vandag maak dit wel deeglik saak. ‘n Hoë politikus kan verwag dat die media hom gaan volg en rapporteer wat hy te sê het. ‘n Boodskap by Julius Malema se tuisdorp dat Malema ‘n aangewese president van die land is, word met afsku in baie ander dele van die land aangehoor. Hierdie mentaliteit maak dit ook moeiliker om nasionalaiseringspraatjies wat in sekere kringe gevoed word, behoorlik in landsbelang dood te slaan en klaar te kry.

Omdat tribalism in hierdie selfde geledere ‘n vloekwoord bly en steeds as deel van die politieke inkorrekte spektrum bly kleef, is dit moeiliker om hierdie praktyk verkoop te kry aan gehore vir wie ‘n man se woord sy woord is en bedoel is om in dade neerslag te vind.

Met gemiddeld twee plaasmoorde per week pleit die landbougemeenskap deurlopend by die regering om dié verskynsel te veroordeel. Dit is immers nie gewone moord nie, omdat die moordkoers onder boere volgens die Vryheidsfront Plus se syfers byna tien keer hoër as die land se reeds hemelhoë moordkoers is. Die regering het egter taamlik konsekwent dawerend in al elf amptelike tale geswyg.

Tot by die regte familievuurtjie aangeland is. By Agri SA se kongres verklaar die minister van Veiligheid en Sekuriteit dat die regering plaasaanvalle ten sterkste veroordeel.

Die onvermydelike vraag is nou: Is dit weer ‘n geval van woorde wat vir ‘n sekere gehoor bedoel is? Daar is ongelukkig verskeie aanduidings dat dit wel die geval is.

–          Die minister het selfs te midde van die veroordeling hiervan plaasmoorde tot niks buitengewoon vir die land probeer reduseer nie. Dit beteken die minister is oningelig oor die statistiese moordkoerse, of hy kyk dit moedswillig mis.

–          Daar was ‘n dawerende swye binne regeringsgeldere toe minister Tokyo Sexwale die afgesaagde kulkunsie opdiep om die blaam vir plaasaanvalle op die boere te pak. Terwyl niemand stry dat daar vrot appels is nie, is die werklikheid, anders as die politici se persepsies van die werklikheid, dat hierdie kwessie al verskeie kere ten duurste deur die regering self ondersoek is, en steeds sonder bewyse vir hul opvattings sit. Die resultate van hul eie ondersoeke het die stroom kritiek op boere, en om hulle sodoende in baie se oë eintlik voëlvry te verklaar, nie beïnvloed nie. Die uitsprake op die nasionale grondberaad enkele jare gelede het byvoorbeeld gevolg op ‘n Wes-Kaapse ondersoek van meer as tagtig beweerde voorvalle in ses maande, waarvan almal vals bewys is. Wes-Kaapse afgevaardigdes by die beraad het eenvoudig hierdie feit geïgnoreer. ‘n Soortgelyke ondersoek in die Vrystaat se bevindings is eenvoudig nooit bekend gemaak toe dit dadels opgelewer het nie.

–          Die minister van samewerkende regering het pas weer die rassekaart teenoor wit belastingbetalers gespeel.

–          Die Wêreldbekersokkerstadion in Polokwane is na die voormalige ANC-jeugleier vernoem wat bekend geword het vir sy slagspreuk, Kill the Boer, kil the farmer. Enige verantwoordelike regering wat sy grondwetlike plig tot nasionale versoening ernstig opneem sou met afsku vervul gewees het.

–          Vrystaat Landbou het aangekondig dat hy met sy hofsaak teen die regering voort te gaan omdat die weermag nie, soos onderneem is, op 1 April die grensbeveiliging met Lesotho oorneem nie. Trouens, dit is nog nie moontlik om vas te stel of die SAPD tot die nuwe ontplooiingsdatum oor drie of vier jaar aan die grens gaan aanbly nie.

Minister Nathi Mthethwa kan niemand verkwalik wat sy beloftes van ‘n omvattende landelike beveiligingsplan wat op hande is, met ‘n knippie sout neem nie. Dat dié plan nou nog nie gefinaliseer is nie, terwyl plaasmoorde al in 1994 hande begin uitruk het, is doodgewoon skandalig. Boonop het van ander beloofde strukture, soos dit wat in plek sou wees voor die kommando’s uitgefaseer sou wees, dadels gekom.

Of hierdie plan soos die water in steeds droë krane gaan realiseer hang ongelukkig nie van regeringspraatjies af nie. Veel meer sal die hofsaak van Vrystaat Landbou rigtinggewend wees, soos verskeie ander onlangse hofsake waarin die regering die kous oor die kop gekry het omdat versuim is om sy grondwetlike verpligtinge jeens sy burgers na te kom.

комбинированные печи для баниФильчаков Александр Васильевич

Die skuldige is dus….

Sedert dit bekend geword het dat Suid-Afrika vanjaar die gasheer vir die wêreldsokkerbekertoernooi gaan wees, is Suid-Afrikaners wat bekommerd was oor moontlike eier in die gesig dikwels beskuldig van dislojaliteit teenoor die land.

Terwyl die oorgrote meerderheid hul kommer op werklikhede soos paaie en dienste wat die kreeftegang gaan, gebaseer het, is dié skeptisisme gewoonlik afgemaak as ‘n vorm van rassisme gebaseer op skeptisisme dat swart mense nie in staat is om ‘n toernooi suksesvol aan te bied wat volgens komm. André Pruis 70 keer so groot is soos die wêreldbeker-rugby en kriekettoernooie saam wat Suid-Afrika reeds aangebied het.

Suid-Afrikaners is grootliks nog in die duister oor presies wat veral die gasheerstede alles moet doen om aan al die vereistes van die gasheerstad-ooreenkomste te voldoen. Almal weet van die stadions en dat dit op koers is. Min of meer almal weet van vervoer-meesterplanne wat moet geld, en baie mense is ook bewus van handelsaktiwiteite wat nie binne ‘n sekere radius van die stadion af mag plaasvind nie. Onlangs het die SABC-TV berig dat dit ook aspekte insluit soos vullisherwinningsprogramme en die plant van bome.

Terwyl die gemiddelde Suid-Afrikaner in die duister gehou word oor die voorvereistes, sal daar skeptisisme wees oor of aan die vereistes voldoen word.

Pas is berig dat die tweede buitelandse burger binne enkele dae in ‘n plaasaanval in Limpopo vermoor is. Daar is geen aanduiding dat Suid-Afrika ‘n diplomatieke nota van simpatie met die Kanadese en Belgiese bevolkings gelewer het nie. Dit is moeilik om skaam vir jou regering se doen en late te wees, en met ‘n euforie vol te hou dat alles klop disselboom verloop. Trouens, dit is irrasioneel en onverantwoordelik.

Intussen is dit swart joernaliste in koerante met hoofsaaklik swart lesers wat nou die skerpste kritiek begin uitspreek. Gister het The Sunday Independent ‘n artikel geplaas, geskryf deur Prince Mashele, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Politiek. Die opskrif som die krisis mooi op: “The President who has killed his nation’s pride.”

Ja, die president en sy eietydse Mandaryne en kornuite maak gereeld beloftes van hoe korrupsie uitgeroei gaan word. Ongeveer ‘n jaar gelede, kort voor die algemene verkiesing, het een hiervan, Ace Magashule, by ‘n SALGA-kongres gesê daar gaan van onbevoegde en korrupte burgemeesters en munisipale bestuurders ontslae geraak word. Heel profeties is hy uitgelag.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, is volgens waarnemers erg in die spervuur omdat hy dit waag om daad by die woord te voeg oor ANC-beloftes om korrupsie vas te vat.

Van die naïwelinge, soos Max du Preez en Jakes Gerwel stoei steeds met wat hulle die verregsing van die samelewing noem as krisis, en sukkel om dit te onderskei en ontrafel van ‘n diepsinnige kommer dat die land eier in die gesig gaan kry. Dit het niks met dislojaliteit te make soos wat so graag gesê of gesinspeel word nie.

Al hoe meer stemme gaan op dat die skrif aan die muur is van Zuma se dae as president. In hierdie stadium is dit, die duidelike spanning binne die ANC-alliansie ten spyt, waarskynlik meer wensdenkery as iets anders. Dit raak egter by die dag duideliker dat Suid-Afrika nie die luukse van ‘n president en jeugpresident kan bekostig wat van verleentheid tot verleentheid strompel terwyl die Titanic besig is om te sink nie.

Net so min kan die land bekostig dat diegene wat die werklikheid in die oë kyk, as pessimiste of rassiste afgemaak word.

тамбов лежакиАлександр Фильчаков прокурор

Kompleksiteit en leemtes van liberale waardes

Die uitspraak in ‘n arbitrasieverhoor van ‘n Bloemfonteinse staatsdokter met gewetensbesware teen aborsies onderstreep opnuut hoe kompleks ‘n liberale uitleg oor menseregte is. Dit lei dikwels daartoe dat liberalisme in stryd met sy aansprake, juis tirannieke karaktertrekke openbaar.

Hierdie verskynsel speel hom op die oomblik ook in die VSA af, waar pres. Barak Obama pas in selfs die mees simpatieke meningspeiling nie die 50 % gewildheidsperk kon behaal nie. In hoofstroomkoerante word nou al ‘n geruime tyd na die “embattled president” verwys. Sy omvattende gesondheidsversekeringsplan kry om verskeie redes teenspoed, maar een van die hoofredes waarom groot en invloedryke Christen-organisasies hom hieroor met oorgawe opponeer is omdat dit glo aborsies op aanvraag op staatskoste sal moontlik maak, en dat dokters met gewetensbesware daarteen gedwing sal word om daaraan mee te doen.

Van die ander besware is dat beplan word om wetgewing so te verander dat minderjariges aborsies kan ondergaan sonder hul ouers se medewete, iets wat in Suid-Afrika ingevoer is.

Dit bly een van die grootste teenstrydighede dat die liberalisme, wat gewoonlik so sterk oor die reg op lewe voel, gekant is teen die doodstraf vir selfs die wreedste, hardvogtige moordenaar, maar nie ‘n probleem het nie dat daar teen dié tyd reeds amper ‘n miljoen aborsies op aanvraag in Suid-Afrika gedoen is sedert dit gewettig is.

Die skynbare teenstrydighede is pas in Suid-Afrika opnuut onderstreep toe die jong DA-LP ‘n omvattende verklaring uitreik waarin sy beswaar maak teen pres. Jacob Zuma se beplande moraliteitsherlewing. Anders as die meeste ander besware dat Zuma en sy “interfaith”-organisasie nie die toepaslike mense is om dit te dryf nie, was haar beswaar in hoofsaak dat die staat hom nie hierop kan begeef nie omdat dit buite die staat se bevoegdheid val en die reg van individue op spraakvryheid aantas. Sy slaan die bal mis, soos die Christen-Demokratiese Party uitgewys het omdat die staat onder meer die beskermer is van die openbare moraliteitsbeginsels, bekend as contra bones mores, wat in die onder meer kontraktereg en die erfreg geld.

Uit liberale geledere is daar dikwels uitsprake wat spraakvryheid effektief wil vrywaar van die gewone beperkings wat op menseregte geplaas is. ‘n Voorbeeld van hoe geen mensereg onbeperk kan wees nie omdat dit ‘n ander reg iewers ontmoet, was die twis oor veiligheidstoegang tot sekere Pretoriase woongebiede. Die ANC in die Tshwane-raad het dit geopponeer omdat dit glo bewegingsvryheid sou inperk, terwyl die inwoners geargumenteer het hulle het die reg op lewe en op veiligheid.

Verskeie liberale drukgroepe het ook die aansoek en appèl om die slagspreuk “Kill the Boer, kill the farmer” tot haatspraak verklaar te kry, verbete teengestaan omdat dit spraakvryheid sou ondergrawe.

Pas het nog ‘n DA-LP, Annelie Lotriet, onder die minister van Kuns- en Kultuur ingeseil en op haar ontslag aangedring. Die minister het sewe maande gelede by ‘n kunsuitstalling met ‘n gay tema uitgestap waar materiaal uitbeeld hoe kaal swart vroue mekaar omhels. Boonop het die minister toe haar mond uitgespoel en dit as onaanvaarbaar beskryf. Skielik beteken die minister se reg op spraakvryheid niks.

Die norm, so wil dit voorkom, is dat spraakvryheid onbeperk is solank liberale waardes nie gekritiseer word nie. Die sleutel lê daarin om sekere sake, weer volgens liberale norme, tot haatspraak te verklaar.

Dit lei onvermydelik tot teenstrydighede. Die moordenaar en verkragter het ‘n reg op lewe selfs na ‘n behoorlike hofprosedure en appèlle, maar die ongebore baba nie, bloot omdat hy dit gewaag het om sy ma se reg op privaatheid te skend – die grondslag waarop aborsies op aanvraag gewettig word. Hier word nie verwys na die tradisionele gronde soos verkragting, bloedskande en die lewensbedreiging van die moeder wat gewoonlik as wettige gronde vir aborsies geld nie.

Mnr. Roelf Meyer, die NP se hoofonderhandelaar vir die huidige grondwet, verduidelik gereeld dat besluit is die beste beskerming van groepsbelange is die kollektief van individuele belange. Soos dit in die praktyk problematies blyk te wees, is die benadering dat sekere individuele regte op grond van hul ideologie-vriendelikheid hoër regte as ander is, ook problematies. Die staatsreg erken wel verskillende orde menseregte. Die reg op gelykheid is gewoonlik ‘n eerste orde reg, terwyl die reg op onderrig ‘n derde orde reg is omdat die staat dit moet kan bekostig om afgedwing te word.

Hierdie grense is nie altyd ewe duidelik nie. ‘n Voorbeeld is die besluit om die dialisemasjien van ‘n persoon af te skakel omdat die staat dit nie meer kon bekostig nie. Die pasiënt is kort hierna dood, ongeag sy grondwetlike reg op lewe. Dié week het die uitgetrede president van Vrystaat Landbou aangekondig dat Vrystaat Landbou nou finaal voortgaan met sy hofsaak teen die regering om die regering te dwing om sy lede, en Vrystaatse inwoners in die algemeen, se reg op veiligheid te beskerm.

Die regering het pas ook in ‘n reeks sake die kous oor die kop gekry weens sy versuim om burgers teen Mugabe se grondroof te beskerm.

Hoewel die lyne soms vaag is, behoort die gemiddelde mens ‘n goeie oordeel te hê mits hy die basiese grondslag van die Suid-Afrikaanse reg toepas, naamlik natuurlike geregtigheid. Ongelukkig word die insig oor natuurlike geregtigheid deur godsdiens en ideologie beïnvloed, en daarom sal uitgangspunte verskil.

Minstens het ‘n arbiter in Bloemfontein nou weer ‘n lansie vir individue se reg op godsdiens gebreek. Dit onderstreep dat, anders as wat liberalisme leer, die impak wat iemand se godsdiens op sy lewensopvattings het, nie binne die individu se kerklike lewe vasgepen kan word nie.

купить комплект верхней одежды для мальчикаАлександр Фильчаков Васильевич

Die hoender of die eier oor dienslewering

Wanneer blaam vir brouwerk uitgedeel word, word die skuld dikwels op vreemde plekke gepak.

Die regering se jongste juweeltjie is om die skuld vir gebrekkige dienslewering op die sowat 180 belastingbetalersverenigings landswyd te pak. Omdat hierdie verenigings se lede hul dienstegeld in trustrekenings inbetaal, argumenteer die minister van samewerkende regering, is daar nie geld om dienslewering mee te verrig nie.

Minister Sicelo Shiceka speel oudergewoonte die rassekaart deur wit landsburgers uit te sonder.

Nie lank gelede nie het Shiceka se regering aangekondig dat beoog word om van die stelsel van uitvoerende burgemeesters ontslae te raak omdat misbruike in hierdie stelsel tot die probleme lei wat nou op die belastingbetalersverenigings gepak word.

Die minister versuim om te meld dat die dorpe waar belastingbetalersverenigings aktief is, voor die trustrekeningsstelsel ook weens geldtekorte min of geen dienste gelewer het nie. ‘n Deel van die probleem was dat selfs piepklein munisipaliteite in die Karoo nie geld vir dienslewering gehad het nie, maar dat raadslede op strepe amptelike besoeke oorsee gaan bring het.

‘n Ellelange lys van vreemdhede wat tot geldtekorte gelei het, kan opgestel word. Die Sol Plaatjie-munisipalietit wat jaar op jaar teenspoed by die Ouditeur-generaal gekry het, het byvoorbeeld ‘n afgedankte amptenaar van die Ontvanger as finansiële hoof aangestel. Talle munisipale bestuurders wat vir ongerymdhede ondersoek is, is voor die afhandeling van die verhore by ander munisipaliteite aangestel. Die oorspronklike munisipaliteit skort dan die ondersoek op. Wanneer die aanstelling bevraagteken word, word skynheilig genoem daar is geen ondersoek nie, sonder om te vermeld hoekom en wanneer daardie ondersoek opgeskort is.

Onder die vuurwaens wat aangeskaf is, tel talle wat ingeboude drankkabinette het, maar ander lawwighede soos ‘n satelliet-navigasiestelsel en selfs koeëlvaste motors. In minstens een geval is ‘n ampsmotor vir ‘n onderburgemeester gehuur terwyl hy steeds sy vervoertoelaag gekry het, en dit is nie eens ‘n ANC-beheerde munisipaliteit nie.

Boonop word die trustrekening eers ingespan wanneer samesprekings misluk het, en ‘n dispuut behoorlik verklaar is. In verskeie gevalle is die dispute verklaar nadat die munisipale rade volstrek geweier het om samesprekings met die belastingbetalersverenigings te voer.

In verskeie dorpe was daar voor die dispuutverlaring geen munisipale dienste nie, maar daarna wel deurdat die belastingbetalersverenigings die fondse doeltreffend vir dienslewering aanwend.

Die minister hoef bloot na die OG se verslae te gaan kyk, en hy sal gou merk dat die oorgrote aantal munisipaliteite, met of sonder aktiewe belastingbetalersverenigings, onverbiddelik die kreeftegang gaan. Selfs sommige provinsiale hoofstede is erg in die knyp, en in die geval van Mangaung wat Bloemfontein bestuur, is daar geen belastingbetalersvereniging wat die blaam kan kry nie.

Deur die skuld te verplaas na waar dit nie is nie, los niks op nie. Voor die algemene verkiesing het mnr. Ace Magashule, toe aangewese Vrystaatse premier, by ‘n SALGA-kongres gesê onbekwame en korrupte burgemeesters en raadslede gaan afgedank word. Hy is toe uitgelag.

Dié gelag, so klink dit, duur voort.

купить роликовые конькиданильченко юрій броніславович компромат

Politici se boemerangspel duur voort

Tot voor die naweek was Etienne Cammaerts ‘n 61-jarige Belg wat doodgelukkig op ‘n plaas in Limpopo gewoon het. Die enkele Google-verwysings na hom was jagpakkette wat hy wêreldwyd bemark het.

Vanoggend, enkele dae later en ‘n dag na daar landswyd groot makietie gehou is om die 100ste afteldag na die Sokkerwêreldbekertoernooi te vier, is daar sowat 200 Google-verwysings na Cammaerts, veral as ‘n foutiewe spelling van sy van wat in die Suid-Afrikaanse media ingesluip het bygewerk word. Hieronder tel verskeie trefslae van Belgiese koerante.

Want Etienne Cammaerts het die naweek deel van Suid-Afrika se omvangryke plaasmoord-statistiek geword. So omvangryk is plaasmoorde nou in Suid-Afrika dat nuwe gevalle nie meer landswyd nuus is nie, en hoofsaaklik die plaaslike media haal.

Commaerts se geval vestig nie net landswyd weer die oog op hierdie euwel nie. Statisties gesproke is om ‘n boer in Suid-Afrika te wees, by tye die gevaarlikste beroep ter wêreld. Tradisioneel word Chinese steenkoolmynwerkers se ongevalle van sowat 133 per 100 000 per jaar as die gevaarlikste beroep ter wêreld beskou, maar op syfers wat periodiek 130 per 100 000 per jaar vir plaasmoorde op boere-egpare bereik, word in die nek geblaas. Voeg hierby die gewone werksverwante ongevalle, en boere in Suid-Afrika beklee die gevaarlikste beroep ter wêreld. Voeg hierby ander misdaad soos verkragting wat met plaasaanvalle gepaard gaan, en die gewone misdaad waaraan boere onderwerp word wat die lonendheid van hul boerdery bepaal, soos vee- en gewasdiefstal, die diefstal van gereedskap en implemente, weidingdiefstal en brandstigting, en ‘n somber prentjie word geskets.

Die regering neig om in al elf amptelike tale te swyg hieroor. In die reël word dit aan opposisiepartye oorgelaat om te veroordeel, met naasbestaandes te simpatiseer, en die probleme uit te wys. Boonop doen alle opposisiepartye nie hieraan mee nie.

Die regering se volstruispolitiek hou vermoedelik verband met ‘n desperate poging om potensiële buitelandse sokkerbesoekers die kous oor die kop te trek. Die regering se mees prominente reaksie op die misdaadsituasie was om Solidariteit te verkwalik oor ‘n verskerpe misdaadbewusmakingsaksie om die regering uit sy sluimerende houding te skud. Baie Suid-Afrikaners het ewe flink aan die doofpot-politiek meegedoen en oormatige verwagtinge gekoester oor die aantal buitelandse besoekers wat tydens die toernooi behoorlik gemelk sou word. Intussen word die aantal buitelanders wat vir die toernooi verwag word deurgaans afgeskaal. Mammon het sy base aan die hakskene kom byt.

Die wêreld is egter nou danksy moderne tegnologie ‘n neutedop, en Suid-Afrika se status as verkragting- en moordhoofsetel van die wêreld staan soos ‘n seer duim uit. Dit lyk nie of die regering rekening gehou het met die beeldskade wat misdadigers aan die land aanrig nie.

Die wrede moord op Cammaerts is die laaste ding wat Suid-Afrika nodig gehad het.

Net omdat die Suid-Afrikaanse regering deur hofsake gedwing moet word om sy eie burgers se belange in die buiteland te beskerm, beteken dit nie dat alle regerings so ongevoelig oor die wel en weë van hul burgers is nie. Om te verneem dat een van jou burgers oorsee vasgebind en keelaf gesny is, is traumaties, veral in Wes-Europa, waar die moordkoers sowat 1 per 100 000 per jaar is teenoor die wêreldgemiddeld, en Suid-Afrika se jongste koers van bykans 40 per 100 000 per jaar. Om dan te bemerk dat die gasheerland skynbaar onaangeraak is daardeur, is skokkend.

светотехническая продукцияАлександр Фильчаков прокурор

Plaasmoorde steeds in volle swang

Gedurende Februarie vanjaar is vyf mense op plase in Limpopo vermoor. Hieronder tel ‘n Belgiese burger wat vasgebind en met ‘n knipmes keelaf gesny is. Dit was nie die enigste plaasmoorde in Februarie in die land nie, en van die begin van die jaar af is verskeie wrede plaasmoorde landswyd gepleeg.

Trouens, so algemeen word plaasmoorde nou dat die nuuswaardigheid daarvan dikwels net tot die plaaslike media in die omgewing van die moorde strek. Die gewone publiek is dus salig onbewus van hierdie slagting van plaasmense teen ‘n persentasie-tempo veel hoër as die land se reeds hemelhoë moordsyfer.

Steeds swyg die regering soos die graf.

Steeds weier die regering om briewe van protes teen misdaad in ontvangs te neem, wat nie goed voorspel vir die petisie teen plaasmoorde wat Landbouweekblad nou dryf nie.

Op 1 April neem die SANW weer die beveiliging van landsgrense by die SAPD oor, maar die slegte nuus is dat dit met verminderde mannekrag en fondse is. Boonop gaan die SANW voorlopig ook net die grense met Zimbabwe en Mosambiek beveilig, met grense soos dié van Lesotho en Botswana wat eers oor ‘n paar jaar aan die beurt gaan kom.

Dit is baie slegte nuus vir die landbougemeenskappe van Limpopo, Noordwes en die Vrystaat.

Trouens, die moorde en ander misdaad soos veediefstal en weidingdiefstal aan die grens met Lesotho is so problematies dat Vrystaat Landbou met die voorbereidings van ‘n hofsaak teen die regering begin het. Dié proses is min of meer op die ys geplaas nadat beloftes van onder meer die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, ontvang is.

Nou lê 1 April om die draai, en is heelwat nader as die Fifa-sokkertoernooi.

Regeringsblapse in die aanloop tot die sokker het nou reeds verskeie kere die verhoogde aandag op Suid-Afrika soos ‘n boemerang laat werk met onder meer ‘n baie negatiewe artikel in die Nederlandse koerant Trouw oor plaasmoorde. Gegewe die nuusdekking in Europa as een van daardie lande se burgers in die buiteland iets oorkom, kan ‘n mens by voorbaat die negatiewe beriggewing in veral België indink as die nuus die media daar haal dat een van hul burgers in Suid-Afrika soos ‘n skaap ter slagting keelaf gesny is.

Die beste manier om die negatiewe impak van nuusdekking oor misdaad te bestuur, is om die misdaad self hok te slaan.

Om in al elf amptelike tale oor plaasmoorde te swyg, is nie die regte manier nie.

Die regering gaan dit nou weer op ‘n harde manier leer.

МордвиновФильчаков прокурор харькова

Volstruispolitiek, gemeenskapspolitiek en die media

Hoe harder die media en die gemeenskapsorganisasies swoeg om die regering uit sy koers van volstruispolitiek te dwing, hoe bitsiger word die teenreaksie.

Pas het die minister van Polisie die vakbond Solidariteit verkwalik oor die jongste inisiatief om die misdaadprobleem onder die regering se aandag te bring. Die minister verkwalik die vakbond oor ‘n dokumentêr wat op die internet, onder meer op YouTube, gelaai is wat landsburgers se misdaadtrauma uitlig, eerder as om met die regering daaroor te praat. Dat dit die gevolg van die polisie en die regering se optrede was, word misgekyk.

Nie alleen het die presidensie geweier om bykans 30 000 briewe teen misdaad in ontvangs te neem nie, maar die nasionale polisiekommissaris het stil-stil die teikens vir die afbring van ernstige misdaad soos moord en verkragting, verlaag.

Selfs die parlement, wat bykomende geld vir hierdie doelwit bewillig het, moes agterna uitvind dat die teikens reeds verlaag is.

Intussen weet die parlement steeds nie wat die groot sosiale polisiesaamtrek in Bloemfontein die belastingbetalers uit die sak gejaag het nie; ‘n saamtrek wat duidelik in ‘n morsige dronknesorgie ontaard het en waaroor die polisiebase steeds volstruispolitiek speel.

Ook die media word nou gereeld skyf. Pas het die regering teen die openbare gevoel in Nersa se aangekondigde Eskom-verhogings in, die verhogings geloof.

Toe die media hieroor vrae vra, is die media in ‘n tirade hel toe gestuur, in die woorde van tesourier-generaal Matthews Phosa. Dié reaksie van die regering gee ‘n slegte reuk af in die lig van die saketransaksies tussen Eskom en die ANC se beleggingsarm, Chancellor House.

‘n Media wat nie sou delf in hierdie gebeure wat oënskynlik dui daarop dat partybelange bo landsbelang gestel word nie, is die naam media nie werd nie.

Internasionaal word die media as die nie-amptelike vierde been van die demokrasie erken weens onder meer die waghondfunksie wat dit speel.

Voeg hierby dat president Jacob Zuma die indruk van ‘n sg “lame duck”-president skep ten opsigte van ooglopende ongerymdhede – in der mate dat groot koerante reeds die skrif aan die muur sien van ‘n magstryd wat sy kop kan eis, en dit is klokhelder waarom gemeenskapsorganisasies deur gemeenskapspolitiek en die media se rolle onontbeerlik word.

Onder die jongste voorbeelde tel die rol van Afriforum om Suid-Afrikaanse boere se belange in Zimbabwe teen Robert Mugabe se grondroof te beskerm. Volgens die grondwet, gestaaf deur die presendentereg, is dit in die eerste plek die regering se plig om sy burgers te beskerm. Die jongste hofuitspraak kom egter nie danksy die regering se grondwetlike pligsbesef nie, maar ten spyte daarvan.

Ten midde hiervan klink pres. Jacob Zuma se oproep vir die herlewing van die morele herlewingsaksie met homself aan die spits hol en eerder na ‘n publisiteitsfoefie om sy tanende beeld te beredder.

слесарь ремонтник насосное оборудованиеЛобановский

Wie is die mees suksesvolle waghond?

As deel van die grondwetlike wigte en teenwigte het die Menseregtekommissie tot stand gekom. Tog kon dié kommissie selde oortuig, en veral die Bloemfonteinse kantoor is voortdurend in die spervuur. Nou is die Kommissie ook daarvan beskuldig dat dit die skikkingsproses rondom die Reitz-vier doelbewus laat skipbreuk ly het, en dit is moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom dat daar ‘n mate van nydigheid betrokke is.

Die Menseregtekommissie se beeld is vroeg reeds geknou toe dit halsstarrig geweier het om die slagspreuk, Kill the Boer, kill the farmer, tot haatspraak te verklaar. Eers na ‘n appèlproses waaraan eksterne kundiges deelgeneem het, is dié standpunt gewysig.

In vandag se Volksblad meen die bekende prof. Herman Giliomee dat die reputasie van die kommissie bygedra het daartoe dat die skikking waarop die grondwet bebou is, sy aansien verloor het. Hy skryf die ANC het hierdie kommissie en die ander sg. Hoofstuk 9 liggame gebruik as instellings om die aandag van die regering weg te trek, of met die fokus op rassisme, die spervuur op die minderhede te hou.

Boonop het die regering die vorige Openbare Beskermer as voorsitter van die Menseregtekommissie herontplooi. As Openbare Beskermer het hy na twee hofsake wat verloor is, waaronder die Petro-SA- saak, nie ‘n wafferse reputasie van sukses gehad nie. Sake by die OB is tot 15 jaar nog uitstaande.

Onder die vreemdhede by die Bloemfonteinse kantoor van die MRK tel die netelige kwessie van die FS-nommerplate. Nadat Pansat jare gelede bevind het die gebruik van VS moet naas FS gemagtig word, het die destydse LUR vir Vervoer die saak op sogenaamde appèl na die Mensregtekommissie geneem. Toe daar na ‘n ruim tydsverloop niks verneem is nie, het die media die saak opgeneem, en vasgestel dat die saak na die Bloemfonteinse kantoor verwys is. Dié kantoor het bewusteloosheid oor die aangeleentheid gepleit.

Die media het dié saak periodiek opgeneem, en selfs die verwysingsnommer gekry waaronder die MRK die saak na sy Bloemfonteinse kantoor verwys het. Die Bloemfonteinse kantoor bly hieroor egter steeds so in die duister soos die Vrystaatstadion.

Hierteenoor het die kantoor baie gou die destydse Vrystaatse hoof van Veiligheid en Sekuriteit onskuldig bevind nadat Vrystaat Landbou hom vir haatspraak verkla het.

Twee sake wat die Vryheidsfront Plus in 2008 verwys het, kry nie aandag nie. In een geval kon die verklaagde glo nie opgespoor word nie, maar dit het Volksblad presies vyf minute geneem om haar telefonies op te spoor. In die ander geval het dokumentasie by herhaling uit die MRK se kantoor weggeraak.

Indien daar erns is dat die MRK sy rol as deel van die wigte en teenwigte voortspruitend uit die Rubicon-skikking wil speel, moet ernstig besin word en minstens ‘n behoorlike ondersoek na die werking van die Bloemfontein-kantoor gedoen word.

Tot tyd en wyl die Kommissie nie tot die teendeel oortuig nie, is die media en deesdae die internet waarskynlik die belangrikste wigte en teenwigte om die regering op sy tone te hou, en instansies soos Afriforum wat onder andere die howe inspan, die belangrikste instrumente wat sorg dat iets aan magsvergryp en die sabotasie van ewewigtige belange gedoen word.

камины в стиле лофтФильчаков прокурор

Howe moet regmaak wat krom is

Terwyl die koppe nog gestamp word oor hoe goed of sleg die grondwet is, het ‘n paar belangrike hofsake weer laat blyk hoe belangrik dit is dat howe hul politieke onafhanklikheid en juridiese suiwerheid moet behou.

Waarskynlik die ingrypendste hofbeslissing het in die Grondeisehof gekom toe ‘n gemeenskap se eis op die plase van agt grondeienaars by Koster in Noordwes van die hand gewys is.

Van die belangrikste bevindings is dat die eisers wél kompensasie gekry het toe hulle oorspronklik hervestig is, en dat nie hulle of die staat die vermoë het om kosproduksie vol te hou op die grond wat hulle nou geëis het nie.

Omdat alle voormalige grondbesitters ‘n vorm van kompensasie ontvang het toe hulle hervestig het – ‘n feit wat dikwels deur die politici verswyg word – sal hierdie saak ‘n bepaalde impak hê. Die toets is dus nou of die kompensasie billik en redelik was, en nie dat hulle verskuif is nie.

Hierdie uitspraak volg kort op nog ‘n saak, dié keer uit KwaZulu-Natal, waar die huidige eienaars ‘n navorser aangestel het om te bewys dat die aanspraakmakers op hul grond geen historiese aanspraak daarop het nie. Dié feite is aan die Grondeisekommissaris oorgedra, wat egter halsstarrig ‘n hofsaak afgedwing en met koste verloor het.

Nog ‘n rigtinggewende uitspraak is ‘n hofsaak wat die DA teen die Matjhabeng by Welkom met koste gewen het. Dié hofsaak spruit uit ‘n mosie van wantroue, waarvoor die ANC ‘n stemming met die wys van hande afgedwing het, in plaas van ‘n geheime stemming soos die DA op geregtig was. Nou gaan die DA sy sin kry.

Die uitvoerende burgemeester, Mathabo Leeto, was al verskeie kere weens omstredenhede in die nuus. Sommer gou na haar aanstelling het ‘n herrie losgebars nadat haar dogter van die skool huis toe geneem is in ‘n brandweerwa.

Hierna is verbeterings van R1,5 miljoen aan haar huis van R70 000 aangebring, en kort hierna het sy aan die minister gesê sy was onbewus van die stad se rioolprobleme. Dit, terwyl Mathabeng waarskynlik die enigste munisipaliteit in die land is waar amptenare krimineel tereg staan weens versuim met rioolwerke.

Ten slotte het die Grondwethof beslis slagoffers van misdade wat uit die politieke geweldpleging spruit waaroor die Waarheids- en Versoeningskommissie beheer gehad het, inspraak moet hê by beslissings oor presidensiële kwytskelding.

Hierdie uitspraak kan op verskeie maniere vertolk word, veral in die lig daarvan dat talle weens hul politieke verbintenisse nooit vervolg is nie, al het hulle ook nie om vrywaring aansoek gedoen nie.

Weens die kategorie-beperking sal dit ook nie verhinder dat misdadigers steeds potensieel kwytskelding in ruil vir gunsies of politieke lojaliteite kan kry nie. Inspraak deur die slagoffers sou so iets in ‘n mate kon rem.

Teen hierdie agtergrond maak dit sin dat Afriforum ‘n regsfonds op die been bring, die burgerregtefonds, om die regering oor onregte in die howe te kan pak. Dit is veral verblydend dat die fonds in ‘n japtrap reeds ‘n halfmiljoen rand kon bymekaar maak. Boonop het Afriforum reeds die reputasie verwerf dat dit sake met koste wen, en so sal verseker dat die fonds ook nie sommer uitgeput sal word nie.

Maar, dan moet die onafhanklikheid van die regbank ten ale koste beskerm word.

Ongelukkig blyk dit dat die ander wigte en teenwigte, soos die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie, veel te wense oorlaat. Die howe is die laaste linie teen meerderheidsdiktatuur en om te verseker dat die regering in algemene belang regeer soos wat demokratiese beginsels vereis. Ongelukkig beteken dit dat die uitvoerende gesag se jagseisoen op die howe se onafhanklikheid oop is.

Book of FortuneДанильченко Юрий Брониславович компромат

Gemeenskapspolitiek en Malema se stryd om die kalklig

Terwyl ‘n storm losbars oor die verskynsel van tenderpreneurs, met die hooffokus op die luidrugtige Julius Malema, word ‘n groot politieke wedstryd langsaan op die B-veld gespeel. Op hierdie veld sê gemeenskapspolitiek die vrot viskop van Suid-Afrikaanse politiek die stryd aan.

Solidariteit voer die veldtog teen misdaad verder en maak nog meer briewe bymekaar nadat die presidensie geweier het om die duisende briewe van beswaar teen misdaad na afloop van die staatsrede in ontvangs te neem. Vanuit die Vrystaat brei ‘n aksie oor die land se swak padtoestande nou landswyd uit.

Met laasgenoemde aksie is dit opvallend dat ‘n politieke party, die DA, hom nou op hierdie skaal tot gemeenskapspolitiek wend. Tipies, en verkieslik, sou ‘n mens burgerlike organisasies aan die spits hiervan wou sien, terwyl politieke partye fokus op hul statutêre rol.

Dat selfs die amptelike opposisie hom tot gemeenskapspolitiek wend, dui in ‘n mate die magteloosheid aan waarin die ANC se magsposisie die land in ‘n beergreep beet het. Dié magteloosheid word verder onderstreep deur die naatlose kritiekloosheid waarmee die ANC Jeugliga hom agter Malema skaar – tot uiterste verleentheid van die land, maar ook die ondermyning van die land as beleggersland.

Op dieselfde dag het ontevredenes by Orange Farm en daar naby by Sebokeng oproerig geraak in nog ‘n manifestasie van gemeenskapspolitiek. Behalwe dat laasgenoemde aksies elemente van geweld bevat, verskil dit van die ander gemeeskapspolitieke aksies in dié sin dat hierdie mense ANC-ondersteuners is, en juis vir die ANC gestem het om via die milde verkiesingsbeloftes hul lewensomstandighede verbeter te sien. Ook hulle, en mense in soortgelyke posisies elders in die land, ervaar ‘n gevoel van magteloosheid.

Hierdie situasies skep ‘n nagmerrie vir instansies en mense wat baie hoop op buitelandse toerisme geplaas het om die wêreldbeker-sokkertoernooi positief te benut. Die toernooi moet as enjinkamer dien om die land oor die langer termyn as toerismebestemming te bemark.

In plaas daarvan dat die groter fokus op die land positiewe nuusdekking tot gevolg het, kom die gebreke aan die lig: diefstal uit lughawegebruikers se bagasie, die wreedheid van plaasmoorde, ‘n president wat – soos die buitelandse pers mildelik berig het, sy lyf ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Henry die 8ste in een hou, en dan is daar Julius, en nogmaals Julius met sy onwelkome nasionaliseringspraatjies. Pas het die Britse pers die Engelse sokkerspan se tuisbasis tydens die toernooi naby Rustenburg as ‘n vullisterrein beskryf.

In die geskiedenisboeke sal eendag van ons eie Julius opgeteken staan: “Ek het gekom, ek het gesien en ek het die allerverskriklikste klomp bollie kwytgeraak.”

Ongelukkig gee Zuma self aan Julius die gesaghebbendheid wat hy so in oordaad nie verdien nie. Die media word gereeld gemaan om Julius te ignoreer want dit is al wat hy verdien. Diegene wat hierdie stelling maak, onderskat egter die onverdiende gesag wat Zuma en die kalkligdief se ondersteuners aan hom verleen. Dit wat Julius verteenwoordig, en waarvoor hy steun by jong mense geniet, voorspel niks goeds vir die land nie.

Die drywers van gemeenskapspolitiek is ook van die kalklig afhanklik om ‘n impak te kan hê, en ongelukkig moet hulle vir hierdie kalklig meeding teen iemand wat die meester daarvan is. 

online casino noлобановский обыск

Oog op die bal

Met bykans 100 dae oor voor die groot Fifa-toernooi in Suid-Afrika afskop, word nog meer kaartjies aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel, en boonop teen verlaagde pryse.

Dit haal die media oorsee, soos ook berigte oor die wreedheid van plaasaanvalle, pres. Jacob Zuma se poligamie en buite-egtelike kinders, Julius Malema se nasionaliseringspraatjies, en misdaad in die algemeen.

Voeg hierby dat talle Suid-Afrikaanse entrepreneurs waarskuwings vooraf in die wind geslaan het en blatant probeer het om die verwagte getal buitelandse besoekers met hemelhoë pryse te melk.

Berigte oor korrupsie en misdaad wil maar nie gaan lê nie. Die regering se antwoord op die misdaadprobleem was skynbaar om dit min prominensie te gee, maar met ongekende lompheid is juis gesorg dat in die oë van die wêreld weerlig trek – en boonop lyk dit nou of die regering hieroor volstruispolitiek speel. Die weiering om die duisende briewe teen misdaad in ontvangs te neem gaan nog lank hard by die regering spook.

Volgens sommige syfers word nou net die helfte van die getal buitelandse besoekers verwag as wat aanvanklik verwag is, hoewel sommiges steeds volhou dat die volledige kontingent te wagte kan wees.

Entrepreneurs wat duidelik nie ‘n afskaling verwag nie, is die koppelaarbedryf. Volgens koerantberigte uit Bloemfontein lyk dit of die koppelaars, dikwels Nigeriërs, vir niks stuit nie en selfs ontvoering inspan om meisies van so jonk as 13 jaar vir die groot geleentheid gereed te kry.

Intussen is ‘n nuwe woord ook gebore: Tenderpreneur. Die jongste tenderpreneur wat aan die kaak gestel is, is Julius Malema, maar dit is klaarblyklik net die oortjies van die seekoei. In die Vrystaat is alle provinsiale tenders vir padbou en padherstel op die oomblik deur ‘n hofbevel op ys geplaas nadat onsuksesvolle tenderaars lont geruik het. Een van Mangaung se vernaamste straatherstelprogramme met die oog op die Wêreldbekertoernooi het ook in die howe beland, ook weens vermoedens oor tenderbedrog.

In provinsies soos Noordwes gaan dit klaarblyklik nie beter nie.

‘n Gevolg van ‘n geknoeiery met tenders is dat te veel aan paaie per kilometer spandeer word en dat die bou- en herstelwerk dan ook dikwels veel te wense oorlaat. Uiteindelik is die begrote bedrae te min, en word agterstande opgebou, met die kenmerkende slaggate die gevolg.

Uiteindelik lei die land se beeld en ekonomie daaronder.

Dit word algaande duideliker hoekom die wêreldbank korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms beskou.

Die gevaartekens dat die toernooi ‘n verdere wig in rassepolarisasie sou dryf was toe blankes in die algemeen die skuld by heethoofde gekry het dat hulle minder entoesiasties oor die toernooi sou wees, of selfs deur foutvindery dit aktief probeer saboteer.

Intussen is ruim belastingbetalersgeld in die toernooi belê, sodat elkeen ‘n belang by die sukses sal hê. Maar, so lyk dit nou, die fout is by die verkeerde adres gesoek. Die groot sondaars is die regeringslui wat foute deur ‘n boemerangspel probeer verdoesel het.

Pas het dit byvoorbeeld aan die lig gekom dat die SANW, wat veronderstel is om die grensbeveiliging eersdaags by die SAPD oor te neem, beoog om minder soldate te ontplooi en minder geld vir dié doel aan te wend as wat die SAPD gedoen het. Die funksie is juis weer na die SANW terugverskuif omdat die SAPD nie werklik die mas opgekom het nie. Trouens, Vrystaat Landbou het met ‘n ambisieuse regsaksie teen die regering begin oor die ontoereikende beveiliging van die grens met Lesotho, en dit word op die ys gehou na aanleiding van beloftes vir beterskap deur die regering.

Nou blyk dit dat die weermag glad nie beplan om die grens met Lesotho te beveilig nie, en so ook nie die grens met Namibië en met Botswana nie.

Niemand kan die kieser verkwalik as hy die indruk kry dat die regterhand van die regering nie net dikwels nie weet wat die linkerhand doen nie, maar dat die linkerhand dikwels ook nie weet wat die linkerhand verbrou nie.

Met ‘n effektief-onbewaakte Lesothogrens kan die regering hom maar by voorbaat vetsmeer dat berigte oor vee- en weidingdiefstal en selfs plaasmoorde volop kan wees terwyl die Fifa-toenooi aan die gang, en die oë van die wêreld op die land gerig sal wees. Die regering kan hom by voorbaat oor die Lesothogrens vir nog ‘n vernederende hofsaak regmaak om sy grondwetlike pligte na te kom.

кладка печиДанильченко Юрий Брониславович

Nie nou tyd vir Uhurugedagtes

“Ontvang hiermee julle politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.”

Dit, min of meer was die woorde wat Kwame Nkruhma tydens Ghana se onafhanklikheidsvieringe gesê het, en het die oormatige verwagtinge wat Uhuru sou bring netjies onderstreep.

Die misplaaste Uhuru-verwagtings het in Afrika al geleidelik soveel klappe van die werklikheid weg dat daar al stewige tekens van hande in die moue steek is, maar in Suid-Afrika leef die gees van absurditeit in ‘n groot mate voort. Die gevolg is dat einste Ghana ‘n hoër plek as Suid-Afrika op die persvryheidsindeks beleef, en verskeie Afrikalande suid van die Sahara se onderwysstelsel beter standaarde en resultate as dié van Suid-Afrika oplewer.

Die Suid-Afrikaanse grondwet is onlangs soos selde onder die vergrootglas geplaas. Dit het uit talle oorde onder kritiek deurgeloop, en dikwels is die vinger – darem nie die middelvinger nie – na die opstellers verwys.

Die debat het ook ‘n laertrekkery tot gevolg, maar niemand kan dié keer die vinger wys na die konserwatiewer bevolkingsegment nie. Dit is die liberale ondersteuners van die grondwet wat geledere gesluit het en die ore probeer toedruk het vir die kritiek.

Vanoggend, in Volksblad, laat Beeld se redakteur Tim du Plessis hom opnuut uit oor die deugde van die grondwet, en plaas die blaam vir die skending van die grondwet op die regering. Hiermee argumenteer hy dat Suid-Afrikaners nie deur die grondwet uitverkoop word nie, maar deur die regering. Hy argumenteer dat die grondwet nog méér geskend sou gewees het as dit sterker klem op sekere regte sou plaas.

In ‘n onlangse artikel het prof. Koos Malan egter ook ‘n ander perspektief hierop gewerp. Volgens hom is die grondwet mildelik besaai met regte, maar gaan mank aan gesag om hierdie regte te verskans. Malan het min ooghare vir die Artikel 9-instellings wat deel van die wigte en teenwigte moet uitmaak, en is selfs krities oor die howe se vermoëns. Afgesien daarvan dat kostes die hofroete buite gewone Suid-Afrikaners se bereik plaas om hul regte te laat afdwing, word die regters uiteindelik ook deur die uitvoerende gesag aangestel, soos nou uit die omstrede aanstelling van adv. Moketedi Mpshe as waarnemende regter.

Was die grondwet so goed soos voorgegee is, sou so iets nie kon plaasvind nie.

Ongelukkig gaan die argument dat die grondwet ‘n gegewe is en dat water wat onderdeur die brug is, te ene male gedane sake is ook nie volkome op nie.

Die grondwet is, anders as die oorgangsgrondwet wat boonop deur onderhandelde grondwetlike beginsels gerig is, baie vaag geskryf. Regsgeleerdes gebruik die uitdrukking dat ‘n wa en span osse daarbinne sal kan draai.

Die verklaarde doel hiervan is dat die detail gevorm moet word. Dit behels dat verskeie wette, soos die taalwet, nog geskryf moet word, dat internasionale konvensie deur presedentereg en gewoontereg neerslag moet vind en die leë kamers uiteindelik so volledig en toepaslik gemeubileer moet word.

Die voorvereistes hiervoor is dat die regbank volledig onafhanklik moet wees van binnelandse politiek, en slegs deur internasionaal aanvaarde regsbeginsels ondervang sal wees.

SEB-wetgewing druis egter reeds volledig in teen die grondwetlike doelstelling van nie-rassigheid, regstellende aksie word as diskriminerende wetgewing toegepas onder die vaandel van ‘n grondwet wat gelykheid waarborg, onteieningswetgewing was al stewig op koers, lynreg in stryd met internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertekenaar was en vele meer wat op, soos Volksblad dit in sy hoofartikel stel, die wys van die middelvinger vir die grondwet neerkom.

Die kamers kan eenvoudig nie gemeubileer word terwyl instansies soos die Black Lawyers’ Forum en soortgelyk nie net nog bestaan nie, maar openlik ras as norm vir standpuntinname ook gebruik.

Uiteindelik – as genoeg mense saamstem dat die grondwet wel nie die wonderwerk is wat voorgehou word nie, kan daar met erns aan die werk gespring word om die leemtes aan te spreek. Dit sou onder meer behels die opbou van ‘n fonds wat sterk genoeg is om die regering konsekwent deur hofaksies te stuit solank hierdie weg nog moontlik is.

Wanneer dit weens strategiese aanstellings onmoontlik word, moet die internasionale howe en tribunale gebruik word.

Terselfdertyd sal binne-gesprekvoering nodig wees en bly.

пескоструй купить ценаОлександр Васильович Фільчаков

Demokrasie in aksie en verkiesingsbeloftes

In die praktyk is die nakom van verkiesingsbeloftes nie altyd so maklik nie. Selfs die Amerikaanse president, Barack Obama wat op ‘n golf van euforie die Wit Huis ingeseil het, voel die hamerhoue van realiteit, en op die oomblik kom daar in die praktyk dadels van ondernemings oor die terugroep van Amerikaanse soldate uit konflikgebiede. Trouens, in Afganistan moet die soldate eers vermeerder word om te kan verminder.

Die VSA is egter nie die enigste Navo-land wat met hierdie taai toffie en verkiesingsbeloftes opgesaal sit nie. In Nederland dreig die koalisieregering om hieroor uitmekaar te spat.

Die Nederlandse kontingent is in die Afgaanse provinsie Uruzgan ontplooi. Die afgelope aantal jare het Uruzgan in Nederland so ‘n huishoudelike naam soos Friesland geword, en die pers vind dit baie selde nodig om by te voeg dat dié plek in Afganistan is.

Juis noudat ‘n fase aanbreek waar konvensionele militêre stratege meen die oorlog kan konvensioneel beëindig en die situasie bestendig word, sit verskeie lande met verkiesingsbeloftes opgeskeep dat hul magte onttrek sal word. Hierdie beloftes is ook mildelik in Nederland aan die kiesers gemaak, en nou breek die oomblik van waarheid aan.

Die Nederlandse koalisie bestaan uit drie partye – die Christen-Demokratiese Appèl wat die grootste is, die Partij van de Arbeid (PvdA), wat met die Britse Arbeidersparty eerder as tradisionele Europese Sosialistepartye vergelyk kan word, en die kleiner ChristenUnie. Die PvdA skop nou vas teen planne om die onttrekking uit Uruzgan met ‘n jaar uit te stel – iets wat nodig is om die huidige militêre suksesse teen die Taliban te bestendig, maar ook onontbeerlik vir die heropbou van Afganistan.

Die PvdA se besluit is nie noodwendig gewild nie. Die militêre vakbond daag die PvdA uit om aan naasbestaandes van gevalle soldate en aan soldate wat in Afganistan gewond is te kom verduidelik dat dié opofferings vrugteloos was.

Die PvdA, onder die vaandel van die nakom van verkiesingsbeloftes, spreek sy verbasing uit oor sy koalisievennote se verbasing dat hy by sy verkiesingsbeloftes wil bly. Die koalisievennote is op hul beurt weer verbaas dat die PvdA nie die realiteit in die praktyk kan beoordeel en daarop reageer nie.

Deur die Taliban nou te laat ontsnap, gaan eenvoudig beteken dat die Weste binnekort weer die wrang vrugte gaan pluk.

Aan die ander kant, ‘n oorlog met diep ideologiese en religieuse wortels, word ook selde op die slagveld beslis. Juis daarom, beoordeel die stryders, is die heropbou van Afganistan nodig om die harte van die mense te wen. Hierdie opsie is ook nie die produk van teoretici agter hul lessenaars duisende kilometer van die toneel af nie, maar van bevelvoerders wat al jare lank aan die realiteite op die Afgaanse voetsoolvlak blootgestel is.  

куплю бралобановский харьков