Met bykans 100 dae oor voor die groot Fifa-toernooi in Suid-Afrika afskop, word nog meer kaartjies aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel, en boonop teen verlaagde pryse.
Dit haal die media oorsee, soos ook berigte oor die wreedheid van plaasaanvalle, pres. Jacob Zuma se poligamie en buite-egtelike kinders, Julius Malema se nasionaliseringspraatjies, en misdaad in die algemeen.
Voeg hierby dat talle Suid-Afrikaanse entrepreneurs waarskuwings vooraf in die wind geslaan het en blatant probeer het om die verwagte getal buitelandse besoekers met hemelhoë pryse te melk.
Berigte oor korrupsie en misdaad wil maar nie gaan lê nie. Die regering se antwoord op die misdaadprobleem was skynbaar om dit min prominensie te gee, maar met ongekende lompheid is juis gesorg dat in die oë van die wêreld weerlig trek – en boonop lyk dit nou of die regering hieroor volstruispolitiek speel. Die weiering om die duisende briewe teen misdaad in ontvangs te neem gaan nog lank hard by die regering spook.
Volgens sommige syfers word nou net die helfte van die getal buitelandse besoekers verwag as wat aanvanklik verwag is, hoewel sommiges steeds volhou dat die volledige kontingent te wagte kan wees.
Entrepreneurs wat duidelik nie ‘n afskaling verwag nie, is die koppelaarbedryf. Volgens koerantberigte uit Bloemfontein lyk dit of die koppelaars, dikwels Nigeriërs, vir niks stuit nie en selfs ontvoering inspan om meisies van so jonk as 13 jaar vir die groot geleentheid gereed te kry.
Intussen is ‘n nuwe woord ook gebore: Tenderpreneur. Die jongste tenderpreneur wat aan die kaak gestel is, is Julius Malema, maar dit is klaarblyklik net die oortjies van die seekoei. In die Vrystaat is alle provinsiale tenders vir padbou en padherstel op die oomblik deur ‘n hofbevel op ys geplaas nadat onsuksesvolle tenderaars lont geruik het. Een van Mangaung se vernaamste straatherstelprogramme met die oog op die Wêreldbekertoernooi het ook in die howe beland, ook weens vermoedens oor tenderbedrog.
In provinsies soos Noordwes gaan dit klaarblyklik nie beter nie.
‘n Gevolg van ‘n geknoeiery met tenders is dat te veel aan paaie per kilometer spandeer word en dat die bou- en herstelwerk dan ook dikwels veel te wense oorlaat. Uiteindelik is die begrote bedrae te min, en word agterstande opgebou, met die kenmerkende slaggate die gevolg.
Uiteindelik lei die land se beeld en ekonomie daaronder.
Dit word algaande duideliker hoekom die wêreldbank korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms beskou.
Die gevaartekens dat die toernooi ‘n verdere wig in rassepolarisasie sou dryf was toe blankes in die algemeen die skuld by heethoofde gekry het dat hulle minder entoesiasties oor die toernooi sou wees, of selfs deur foutvindery dit aktief probeer saboteer.
Intussen is ruim belastingbetalersgeld in die toernooi belê, sodat elkeen ‘n belang by die sukses sal hê. Maar, so lyk dit nou, die fout is by die verkeerde adres gesoek. Die groot sondaars is die regeringslui wat foute deur ‘n boemerangspel probeer verdoesel het.
Pas het dit byvoorbeeld aan die lig gekom dat die SANW, wat veronderstel is om die grensbeveiliging eersdaags by die SAPD oor te neem, beoog om minder soldate te ontplooi en minder geld vir dié doel aan te wend as wat die SAPD gedoen het. Die funksie is juis weer na die SANW terugverskuif omdat die SAPD nie werklik die mas opgekom het nie. Trouens, Vrystaat Landbou het met ‘n ambisieuse regsaksie teen die regering begin oor die ontoereikende beveiliging van die grens met Lesotho, en dit word op die ys gehou na aanleiding van beloftes vir beterskap deur die regering.
Nou blyk dit dat die weermag glad nie beplan om die grens met Lesotho te beveilig nie, en so ook nie die grens met Namibië en met Botswana nie.
Niemand kan die kieser verkwalik as hy die indruk kry dat die regterhand van die regering nie net dikwels nie weet wat die linkerhand doen nie, maar dat die linkerhand dikwels ook nie weet wat die linkerhand verbrou nie.
Met ‘n effektief-onbewaakte Lesothogrens kan die regering hom maar by voorbaat vetsmeer dat berigte oor vee- en weidingdiefstal en selfs plaasmoorde volop kan wees terwyl die Fifa-toenooi aan die gang, en die oë van die wêreld op die land gerig sal wees. Die regering kan hom by voorbaat oor die Lesothogrens vir nog ‘n vernederende hofsaak regmaak om sy grondwetlike pligte na te kom.
