Plaasmoorde steeds in volle swang

Gedurende Februarie vanjaar is vyf mense op plase in Limpopo vermoor. Hieronder tel ‘n Belgiese burger wat vasgebind en met ‘n knipmes keelaf gesny is. Dit was nie die enigste plaasmoorde in Februarie in die land nie, en van die begin van die jaar af is verskeie wrede plaasmoorde landswyd gepleeg.

Trouens, so algemeen word plaasmoorde nou dat die nuuswaardigheid daarvan dikwels net tot die plaaslike media in die omgewing van die moorde strek. Die gewone publiek is dus salig onbewus van hierdie slagting van plaasmense teen ‘n persentasie-tempo veel hoër as die land se reeds hemelhoë moordsyfer.

Steeds swyg die regering soos die graf.

Steeds weier die regering om briewe van protes teen misdaad in ontvangs te neem, wat nie goed voorspel vir die petisie teen plaasmoorde wat Landbouweekblad nou dryf nie.

Op 1 April neem die SANW weer die beveiliging van landsgrense by die SAPD oor, maar die slegte nuus is dat dit met verminderde mannekrag en fondse is. Boonop gaan die SANW voorlopig ook net die grense met Zimbabwe en Mosambiek beveilig, met grense soos dié van Lesotho en Botswana wat eers oor ‘n paar jaar aan die beurt gaan kom.

Dit is baie slegte nuus vir die landbougemeenskappe van Limpopo, Noordwes en die Vrystaat.

Trouens, die moorde en ander misdaad soos veediefstal en weidingdiefstal aan die grens met Lesotho is so problematies dat Vrystaat Landbou met die voorbereidings van ‘n hofsaak teen die regering begin het. Dié proses is min of meer op die ys geplaas nadat beloftes van onder meer die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, ontvang is.

Nou lê 1 April om die draai, en is heelwat nader as die Fifa-sokkertoernooi.

Regeringsblapse in die aanloop tot die sokker het nou reeds verskeie kere die verhoogde aandag op Suid-Afrika soos ‘n boemerang laat werk met onder meer ‘n baie negatiewe artikel in die Nederlandse koerant Trouw oor plaasmoorde. Gegewe die nuusdekking in Europa as een van daardie lande se burgers in die buiteland iets oorkom, kan ‘n mens by voorbaat die negatiewe beriggewing in veral België indink as die nuus die media daar haal dat een van hul burgers in Suid-Afrika soos ‘n skaap ter slagting keelaf gesny is.

Die beste manier om die negatiewe impak van nuusdekking oor misdaad te bestuur, is om die misdaad self hok te slaan.

Om in al elf amptelike tale oor plaasmoorde te swyg, is nie die regte manier nie.

Die regering gaan dit nou weer op ‘n harde manier leer.

МордвиновФильчаков прокурор харькова