Terwyl ‘n storm losbars oor die verskynsel van tenderpreneurs, met die hooffokus op die luidrugtige Julius Malema, word ‘n groot politieke wedstryd langsaan op die B-veld gespeel. Op hierdie veld sê gemeenskapspolitiek die vrot viskop van Suid-Afrikaanse politiek die stryd aan.
Solidariteit voer die veldtog teen misdaad verder en maak nog meer briewe bymekaar nadat die presidensie geweier het om die duisende briewe van beswaar teen misdaad na afloop van die staatsrede in ontvangs te neem. Vanuit die Vrystaat brei ‘n aksie oor die land se swak padtoestande nou landswyd uit.
Met laasgenoemde aksie is dit opvallend dat ‘n politieke party, die DA, hom nou op hierdie skaal tot gemeenskapspolitiek wend. Tipies, en verkieslik, sou ‘n mens burgerlike organisasies aan die spits hiervan wou sien, terwyl politieke partye fokus op hul statutêre rol.
Dat selfs die amptelike opposisie hom tot gemeenskapspolitiek wend, dui in ‘n mate die magteloosheid aan waarin die ANC se magsposisie die land in ‘n beergreep beet het. Dié magteloosheid word verder onderstreep deur die naatlose kritiekloosheid waarmee die ANC Jeugliga hom agter Malema skaar – tot uiterste verleentheid van die land, maar ook die ondermyning van die land as beleggersland.
Op dieselfde dag het ontevredenes by Orange Farm en daar naby by Sebokeng oproerig geraak in nog ‘n manifestasie van gemeenskapspolitiek. Behalwe dat laasgenoemde aksies elemente van geweld bevat, verskil dit van die ander gemeeskapspolitieke aksies in dié sin dat hierdie mense ANC-ondersteuners is, en juis vir die ANC gestem het om via die milde verkiesingsbeloftes hul lewensomstandighede verbeter te sien. Ook hulle, en mense in soortgelyke posisies elders in die land, ervaar ‘n gevoel van magteloosheid.
Hierdie situasies skep ‘n nagmerrie vir instansies en mense wat baie hoop op buitelandse toerisme geplaas het om die wêreldbeker-sokkertoernooi positief te benut. Die toernooi moet as enjinkamer dien om die land oor die langer termyn as toerismebestemming te bemark.
In plaas daarvan dat die groter fokus op die land positiewe nuusdekking tot gevolg het, kom die gebreke aan die lig: diefstal uit lughawegebruikers se bagasie, die wreedheid van plaasmoorde, ‘n president wat – soos die buitelandse pers mildelik berig het, sy lyf ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Henry die 8ste in een hou, en dan is daar Julius, en nogmaals Julius met sy onwelkome nasionaliseringspraatjies. Pas het die Britse pers die Engelse sokkerspan se tuisbasis tydens die toernooi naby Rustenburg as ‘n vullisterrein beskryf.
In die geskiedenisboeke sal eendag van ons eie Julius opgeteken staan: “Ek het gekom, ek het gesien en ek het die allerverskriklikste klomp bollie kwytgeraak.”
Ongelukkig gee Zuma self aan Julius die gesaghebbendheid wat hy so in oordaad nie verdien nie. Die media word gereeld gemaan om Julius te ignoreer want dit is al wat hy verdien. Diegene wat hierdie stelling maak, onderskat egter die onverdiende gesag wat Zuma en die kalkligdief se ondersteuners aan hom verleen. Dit wat Julius verteenwoordig, en waarvoor hy steun by jong mense geniet, voorspel niks goeds vir die land nie.
Die drywers van gemeenskapspolitiek is ook van die kalklig afhanklik om ‘n impak te kan hê, en ongelukkig moet hulle vir hierdie kalklig meeding teen iemand wat die meester daarvan is.
