Tien vas oor hondegeveg

Tien mense is in Dobsonville in Soweto in hegtenis geneem nadat hulle by ‘n hondegeveg betrokke was, het Netwerk24 berig.

Volgens die DBV se Spesiale Ondersoekeenheid is nege beseerde Amerikaanse veghonde tydens die klopjag gered.

Die diere se eienaars het van die toneel van die hondegeveg gevlug, maar is later deur polisie in hegtenis geneem.

Die DBV moes dadelik noodbehandeling op die beseerde diere toepas.

Kriminele aanklagte kragtens die Dierebeskermingswet is teen al die betrokkenes gelê. Daar word vermoed dat sommige van die honde gesteel is.

Moordsaak teen ANC-kandidaat uitgestel

Die saak teen die ANC-wykskandidaat wat teregstaan op die moorde op DA-raadslid Johannes Baaitjies van die Kgatelopele Munisipaliteit en sy kollega, is Maandag in die Postmasburg landdroshof tot 22 September uitgestel.

Die Valke se Philani Nkwalase, sê Zoniselo Magawu sal dan in die Daniëlskuil-landdroshof amptelik om borgtog aansoek doen.

Baaitjies en sy sakevennoot, Shuping Nosi, is sowat twee weke gelede op die hoofpad tussen Postmasburg en Daniëlskuil in die Noordkaap aangeval.

Baaitjies is op die toneel dood, terwyl Nosi verlede Dinsdag in ‘n Kimberley-hospitaal beswyk het.

Magawu bly in aanhouding.

Volgens die Mercury-koerant, was die totale aantal politieke sluipmoorde net in KwaZulu-Natal voor die munisipale verkiesing in Augustus reeds 12, met vier in Pietermaritzburg, twee in Newcastle en die res uit ander dele van die provinsie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê 18 gevalle van polities-verwante moorde is aangemeld tussen 1 Februarie en 5 Augustus 2016.

Die oortreding wat die meeste aangemeld is, is intimidasie, maar het slegs gelei tot 29 formele klagtes. ‘n Yslike 110 gevalle van opsetlike saakbeskadiging aangemeld.

Onder die slagoffers van politieke geweld was Thembi Mbongo, 35, ‘n kandidaat vir Wyk 6, buite Osizweni naby Newcastle. Sy is voor haar man en kinders doodgeskiet op 2 Julie.

Haar moordenaars het aan die deur van haar huis geklop en gevra om met haar te praat. Hulle verkeer steeds op vrye voet.

Politieke moorde is nie nuut in Suid-Afrika nie, maar met die aandag wat iemand soos Janusz Walus geniet, bly die openbare mening onder die indruk dat dit seldsaam is en slegs deur wittes gepleeg word wat gekant is teen die nuwe swart regering.

Walus het Chris Hani, terroris en Kommunisteleier om die lewe gebring, maar ten spyte daarvan dat Walus parool moet ontvang, weier die ANC om hom tegemoet te kom.

In KwaZulu-Natal alleen is daar reeds 450 politieke moorde aangeteken tussen 1994 en 2013. Minder as een uit tien van hierdie moordondersoeke het gelei tot suksesvolle veroordelings.

Die polisie het 56 gebiede in Limpopo, 40 in KwaZulu-Natal, 36 in Gauteng, 30 in Noordwes, 25 in die Wes-Kaap, 23 in die Oos-Kaap, 12 in Mpumalanga, sewe in die Noord-Kaap en drie in die Vrystaat geïdentifiseer waar sulke politieke moorde voorkom.

Dept. van wetenskap en tegnologie bekyk Afrikahare en ‘verslappers’

Met die jongste rasseherrie rondom haarreëls by Pretoria Girls High wat teen swartes sou diskrimineer, het Suid-Afrika se departement van wetenskap en tegnologie gister ‘n hele konferensie oor Afrikahare en sogenaamde “haarverslappers” aangebied. Dit is middels waarmee swart vroue hul hare behandel om dit reguit soos Westerse hare te maak.

Ander middels wat by die konferensie in die Sheratonhotel in Pretoria bespreek is, was velbleikmiddels waarmee swart vroue hul velle probeer ligter maak.

‘n Swart aktrise, Florence Masebe, het gesê: “Ek behoort met rus gelaat te word om die pragtige persoon te wees wat ek wil wees.”

Volgens Masebe het sy as aktrise “probleme in die vermaaklikheidsbedryf ervaar”, vanweë haar donker vel en tipiese Afrikakroes.

“As jy in die grimeerkamer beland, laat hulle jou voel asof daar iets fout is met die vel wat God jou gegee het,” sê sy. Dieselfde “paniekerige kyk” kan waargeneem word wanneer haar “natuurlike hare” in ‘n kapsel gevorm moet word.

Masebe beweer ook dat “die werklikheid in die vermaaklikheidsbedryf” is dat swart vroue met ligte velle vir rolle verkies word omdat ‘n donker vel nie by die “skoonheidsbomvoorkoms” pas nie.

Toe Masebe ‘n fotosessie vir een van haar televisieprogramme bywoon, is sy gevra om ‘n pruik te dra aangesien dit ‘n “glansfotosessie” was- met die implikasie dat haar swart kroes nie “glansryk” was nie.

Ander sprekers by die konferensie het dokters en wetenskaplikes ingesluit wat al navorsing oor die verskynsels van velbleikmiddels en haarverslappers gedoen het.

Professor Ncoza Dlova, hoof van die die departement dermatologie aan die Universiteit van Kwazulu-Natal, beweer dat swart vroue al bleikmiddels gebruik sedert die 1960’s.

“Deesdae gebruik hulle dié rome oral op hul lywe, anders as vantevore, toe dit slegs op die gesig en die nek gebruik is,” het Dlova gesê.

Een van die uitwerkings van die rome is okronose (skade aan die vel), wat onherroepelik is.Professor Nonhlanhla Khumalo van die Universiteit van Kaapstad het gevallestudies en kliniese navorsing oor die risiko’s van haarverslappers onderneem.Volgens haar is haarverslappers in die vroeë 1900’s deur ‘n swart Amerikaner, Garrett Augustus Morgan, uitgevind. Die produk het natriumhidroksied bevat, en tans bevat verslappers steeds dié middel.

Khumalo het gesê: “Natriumhidroksied verhoog die pH-vlakke van jou vel. ‘n Gesonde pH is 6, of laer as 7, maar die verslappers (wat natriumhidroksied bevat) verhoog jou pH-vlakke na 14.

“‘n pH-vlak van 14 word as verwerend beskou. Dan sit jy ‘n neutraliseerder (gewoonlik in sjampoevorm) in om die pH-vlak af te bring en jy kry jou hare permanent reguit.

“Maar alopesie (haarverlies) verhoog met 30 persent as ‘n vrou haarverslappers gebruik.”

Khumalo het ook gewaarsku dat verslappers vir kinders presies dieselfde uitwerking as dié vir volwassenes het.

Warm, droë weer is terug!

Sonskynweer met geen vooruitsigte op reën nie word vandeesweek in die sentrale deel van Suid-Afrika voorspel.

Hoë dagtemperature in die grootste deel van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes voor, met maksimum dagtemperature in die hoë twintigs.

In dele van die Noord-Kaap en Noordwes sal die kwik selfs styg tot in die lae dertigs wat besonder warm is vir dié tyd van die jaar.

Alhoewel ‘n frontale stelsel teen Woensdag deur die Wes-Kaap sal beweeg, sal afkoeling beperk wees tot kusgebiede en die aangrensende binneland .

Dié stelsel kan verligting bring in dele van die Noord-Kaap se weskus en die westelike deel van dié provinsie waar baie warm toestande tans voorkom.

Dié weerstoestande sal waarskynlik voortduur in die eerste deel van September.

Reënvaltoestande lyk egter nie gunstig nie weens min beweging in die atmosfeer in die vorm van koue fronte of afsnylae.

Boer wat homself wou verdedig van moord aangekla

Vier swart verdagtes tussen die ouderdomme van 26 en 40 is in hegtenis geneem nadat ‘n 70-jarige boer Maandag aangeval is in Brandfort.

Maar die boer gaan ook van moord aangekla word omdat hy een van die aanvallers gedood het.

Polisiewoordvoerder Ikobeng Hlubi, sê die boer is deur vyf verdagtes voorgekeer omstreeks 07:00 toe hy van sy Palmietfontein-plaas wou vertrek het.

Sy sê een van die verdagtes het aan die boer se venster geklop met ‘n vuurwapen. Die verdagtes het toe begin skote vuur op die boer, waarna hy dit reggekry het om te ontsnap deur die passasiersdeur.

Sy sê die boer het teruggeskiet, en een van die verdagtes gewond. Die boer het sonder enige beserings weggekom.

Hlubi sê die 31-jarige swart verdagte wat raakgeskiet is, is later onderweg na die hospitaal dood.

“Die vier verdagtes sal na verwagting in die Brandfort-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en roof met ‘n vuurwapen,” sê Hlubi.

Die polisie gaan ook het ‘n klag van moord teen die boer wat homself wou verdedig, ondersoek.

Lesufi se nuwe rasperd: Skoolmeisieshare by Pretoria Girls

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, wat laas ‘n kleuterskool in Centurion geïntimideer en verguis het omdat ‘n swart kind vir oomblikke alleen by ‘n tafeltjie gesit het, het nou sy mes in vir Pretoria Girls High, ‘n Engelstalige openbare skool in Pretoria. Blykbaar het van die swart leerlinge teen die haarreëls betoog (foto hier bo) wat vereis dat hul hare netjies gedra moet word. Dit word as “rassisme” beskou en Lesufi gaan vanoggend by die skool besoek aflê om “ondersoek in te stel”.

Een van sy volgelinge op Twitter het “kameraad” Lesufi gevra dat “vlamme vir die Pretoriase narre moet wys”, waarna hy geantwoord het dat hy nie sal teleurstel nie:

Die skool het blykbaar te staan gekom voor ‘n dissiplineprobleem sover dit swart hare betref wat op allerlei maniere gedra word wat nie noodwendig netjies is nie. Daarom het die skool ‘n stel haarreëls uitgevaardig wat vir aller rasse geld, maar ook melding maak van “koringrye” wat op swart hare van toepasssing sou wees.

pretoria_girlsBogaande reëls is luidkeels deur Radio 702 en ander links-liberale media as “rassisme” veroordeel. Daar word ook beweer dat die skool leerlinge aangesê het om “net Engels te praat”, maar dat dieselfde reël nie op Afrikaanssprekende meisies toegepas word nie.

 

Mugabe blameer VSA, Brittanje vir Vrydag se oproer

Die geweld wat Vrydag in Harare uitgebreek het, is die Weste se skuld, sê pres. Robert Mugabe. Hy het ook gewaar­sku het dat hy nie ‘n “Arabiese Lente” in Zimbabwe sal duld nie.

Die polisie het opposisie-ondersteuners by Freedom Square in die middestad met knuppels, traangas en waterkanonne uiteengejaag nadat oproeriges die naamborde vir Robert Mugabeweg afgeruk het.

Morgan Tsvangirai en Joice Mujuru, voormalige visepresident en leier van die opposisiegroep Zim-PF, het ook onder traangas deurgeloop.

Die Amerikaanse en Britse ambassades in Zimbabwe het hul “ernstige kommer” uitgespreek oor gebrek aan “vryheid van spraak”.

Mugabe het die Angelsaksers daarvan beskuldig dat hulle die oproeriges aanhits.

Valke oorhandig Gordhan-dossier aan NGV

Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat ‘n dossier van die Valke ontvang is oor Pravin Gordhan, minister van finansies, se moontlike vervolging.

Die saak teen Gordhan is dus in die hande van adv. Shaun Abrahams, die nasionale vervolgingshoof, nadat die dossier Vrydag aan hom oorhandig is.

Die NVG het gesê dat staatsaanklaers nog besig is om deur dokumente te sif om vas te stel of hul bewyse sterk genoeg is, het ‘n woordvoerder, Luvuyo Mfaku gesê.

Maar ingeligte bronne binne die NVG, die Valke en die SAID sê die minister gaan beslis aangekla word. Dagvaardings of lasbriewe sal glo binne die volgende twee weke uitgereik word.

Gordhan staan onder verdenking dat hy ‘n sogenaamde geheime spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op die been gebring het wat met die buiteland geskakel het.

Die Valke het Gordhan verlede week ontbied, maar die voormalige minister het die versoek geïgnoreer. Na wat berig word was lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, die Valke se hoof, glo woedend omdat Gordhan geweier het om ook by die kantoor aan te meld.

Daar heers groot kommer by Zuma se vyande dat ‘n groep binne die ANC wat hom simpatiek gesind is, beheer oor die Nasionale Tesourie sal verkry as hulle van Gordhan ontslae raak.

Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Blade Nzimande het vir Gordhan in die bres getree en gesê dit is duidelik dat die bewerings rondom die minister van finansies “polities gemotiveerd” is.

Nzimande het tydens ‘n nuuskonferensie in Kempton Park aan die Oos-Rand gepraat. Nzimande sê dit waaraan Pravin Gordhan tans onderwerp word, grens aan “teistering”.

Wat Blade versuim het om te noem is dat die daling van die Rand eweneens polities gemotiveerd is om Gordhan se posisie te probeer red.

Met meer as 30 getuies wat gereed staan om teen Gordhan te getuig, asook drie voormalige amptenare van die Inkomstediens (SAID), sal die Suid-Afrikaanse geldeenheid wipplank ry.

Hulle het almal reeds beëdigde verklarings afgelê wat in die dossier vervat is.

Die amptenare is Ivan Pillay, gewese adjunkkommissaris van die SAID, Oupa Magashula, kommissaris van die SAID, en Johann van Loggerenberg, gewese uitvoerende groephoof vir ondersoeke.

Nog ‘n amptenaar, Helgard Lombaard, wat meeluisteringstoerusting by die NVG-hoofkantoor geïnstalleer het, is nou ‘n staatsgetuie in ruil vir vrywaring teen vervolging.

Die getuies sluit ondermeer ook die Chinese ANC-skenker Jen-Chih Huang in. Jen-Chih se bates is twee jaar gelede bevries gedurende ‘n saak oor belasting waar ten minste R541 miljoen ter sprake is.

Adv. Gerrie Nel van die NVG het Lombaard na bewering destyds R1,1 miljoen betaal om die toerusting in die NVG se kantore te installeer.

Indien Gordhan aangekla word, waarsku sy ondersteuners dat Suid-Afrika se kredietgradering spoedig tot rommelstatus verlaag sal word omdat sukkelende staatsondernemings nie meer toepaslik is binne die ontwikkelingsagenda nie.

Dit is die mening van ‘n aantal ekonome wat deur Reuters genader is oor Gordhan se toekoms.

Ontleders het toegee dat dit nie alleen langtermyn ekonomiese oorwegings is wat ‘n rol sal speel by die land se kredietgradering nie. Die inmenging deur die staatshoof “kan tot disinvestering van kapitaal lei” meen hulle.

Die rand het die afgelope week met byna 6% teenoor die dollar verswak. Engelse koerantopskrifte vanoggend het ‘n verdere skerp daling voorspel om druk op Zuma te plaas, maar die geldeenheid was vanoggend bestendig.

Die daling in die Rand kan ook wees omdat Janet Yellen, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad gesê het dat rentekoerse in die VSA binnekort sal begin styg.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal daardeur dalk genoop word die plaaslike rentekoers ook op te skuif omdat die wisselkoers ‘n risiko vir inflasie inhou.

Die Rand het vroeër herstel van die vorige skerp daling toe Zuma sy minister van finansies, Nhlanhla Nene, met Des van Rooyen vervang het.

Gordhan se heraanstelling in Van Rooyen se plek, het egter tot die versterking in die Rand gelei.

Steve Hofmeyr sing ‘Die Stem’ by stampvol Kaboem-fees op Nylstroom

Steve Hofmeyr het ‘n verdere uitdaging aan die linkse hoofstroommedia gerig deur Saterdagaand net ná nege-uur “Die Stem” aan die einde van sy vertoning by die Kaboem-fees net buite Nylstroom te sing. Die skare van sowat 7 000 mense (sommige het dit op 10 000 geskat) het spontaan op aandag gestaan en saamgesing in ‘n viering van Afrikanersamesyn en -protes teen kulturele en taalverdrukking. Ook Bok van Blerk (foto hier bo), wat ‘n dekade gelede bekendheid met sy De la Rey-lied verwerf het, het ‘n vurige vertoning van “Sing, Afrikaner, sing” gelewer. Dit bevat sinspelings op die sensuur waaronder Afrikaans en Afrikaners tans gebuk gaan, met die woord:

Jy mag niks meer sê
Jy is klaar gepraat
Dis ‘n hartseer saak
Wat ons almal raak
Want die groot verraad
Kom vanuit ons eie mense…

Sing, Afrikaner sing
Laat jou stem gehoor word
Laat jy nooit verdwyn
O, sing, Afrikaner sing

Die Kaboemfees (Kranskop- Boerekos- en Musiekfees) is juis deur Steve Hofmeyr en sy aanhangers gereël omdat hy weens sy sing van “Die Stem” en ander volksliedere by Innibos en elders verbied is om op te tree. Tydens sy geselsies met die gehoor tussen liedjies het Hofmeyr insgelyks geen doekies omgedraai nie en gesê dat die Kaboemfees “ware kulturele vryheid” moontlik maak en dat kunstenaars daar “kan sing wat hulle wil”.

Hofmeyr, wat vandag verjaar, het gister getwiet:

Die fees is vooraf en agterna deur die hoofstroommedia en veral Naspers en Netwerk24 doodgeswyg, maar kennelik het die sosiale media soos Twitter en Facebook gesorg dat almal daarvan bewus gemaak is. Die Kaboemfees het op ‘n plaas sowat 3 km buite Nylstroom plaasgevind, en sal hoogs waarskynlik aanstaande jaar weer gehou word. Benewens ‘n groot tydelike verhoog, biertent en ander geriewe, was daar dosyne kosstalletjies, asook ander stalletjies waar T-hemde, hoedens en allerlei snuisterye te koop aangebied is. Die fees het ook Afrikaanse skole in die omgewing, waaronder CVO-skole, toegelaat om stalletjies ter fondsinsameling op die feesterrein te bedryf.

'n Deel van die skare by die Kaboemfees Saterdagaand
‘n Deel van die skare by die Kaboemfees Saterdagaand

Kaartjies vir die fees het R195 gekos, of R150 vir pensioenarisse, heelwat goedkoper as die R800 wat onlangs vir Oppikoppi gevra is. Na raming het die loketgeld anderhalf miljoen rand beloop, wat ‘n belowende debuut vir ‘n “alternatiewe” fees is.

Bok van Blerk het ook sy bekende lied oor die Angola-oorlog, “Die kaplyn” gesing, waarin die opofferinge wat jong blanke mans destyds gemaak het, geloof word.

Terwyl die hoofstroommedia gedurig poog om Afrikaneridentiteit en -patriotisme af te breek, asook sangers soos Arno Carstens of Karen Zoid bemark wat minagtend teenoor Afrikaans staan, is dit helder dat kunstenaars soos Hofmeyr en Van Blerk se aanhang net groei, soos wat die anti-Afrikaanse beweging in felheid toeneem.

Het Valke Indiese tendernes van Gordhan oopgekrap?

In November 2003, toe Pravin Gordhan hoof van die Inkomstediens was, het Harry Chakala verskeie tenderooreenkomste met die Inkomstediens gehad om dokumente te skandeer as deel van ‘n moderniseringsproses.

Hy het reeds ‘n gedeelte van die werk afgehandel toe hy oor ‘n radionuusbulletin hoor dat een van die tenders hertoegeken is aan ‘n maatskappy in Indië, het RSG berig.

Chakala het onmiddellik navraag by die Inkomstediens hieroor gedoen omdat die hertoegekende tender vir miljoene meer was as waarvoor hy die werk gedoen het.

Hy het ook navraag gedoen oor die sekuriteitsrisiko om Suid-Afrikaanse dokumente Indië toe te verskeep. Drie dae later op 6 November 2003 is sy huis en besigheid HR Computek deurgesoek en hy is in hegtenis geneem.

Daar is beslag gelê op al sy dokumente, rekenaars en van sy persoonlike besittings. Volgens sy eedsverklaring is hy kaal voor sy vrou en kinders uitgetrek en is hy in hegtenis geneem terwyl amptenare van die Inkomstediens toegekyk het.

Maar wie is die eienaars van die Indiese maatskappy? Kennelik bedreig die Valke-ondersoek ‘n buitelandse tendernes.

Die UDM het intussen ‘n beroep op Gordhan gedoen om sy volle samewerking aan die Valke te gee.

Gordhan het tot Donderdagoggend half tien tyd gehad om hom by die Valke aan te meld. Dit hou verband met ‘n die beweerde spioenasie-eenheid in die die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Gordhan word daarvan aangekla dat hy die voormalige senior werknemer van die SAID, Ivan Pillay se vroeë aftrede goedgekeur het en hom weer in 2010 aangestel het.

Die leier van die UDM, Bantu Holomisa sê Gordhan moet nie die geskil tussen hom en die Valke verpolitiseer nie. Hy sê Gordhan is besig om die minister van polisie te ondermyn nadat hy geweier het om by die Valke aan te meld.

Die Valke het Maandag aan Gordhan ‘n brief gestuur wat hom aansê om by die Valke aan te meld in verband met die ondersoek.

Die voormalige SAID-amptenare, Ivan Pillay en Johan van Loggerenberg gaan na verwagting wel by die Valke aanmeld.

Die Boerehater Mark Heywood van Section 27 is een van Gordhan se groot ondersteuners.

Hy het gesê hulle gaan die Valke se kantore monitor om “terugvoering te gee aan Suid-Afrikaners” uit “solidariteit met diegene wat deur die Valke geteister word”.

Die Sunday Times het reeds in Mei voor die verkiesing berig dat Gordhan in hegtenis geneem gaan word op aanklagte van spioenasie, wat gekoppel is aan die aktiwiteite van die sogenaamde Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat hy opgerig het terwyl hy SAID-kommissaris was.

Dit is destyds ontken deur die presidensie en die Nasionale Vervolgingsgesag het toe gesê dat die dossier terugverwys is na die Valke.

Gordhan het glo daarna ‘n oorsese toer onderneem om die Zuma-administrasie te gaan verdag maak by internasionale kredietgraderingsmaatskappye wat die rand se waarde laat verswak het.

Die Finansiële en Fiskale Kommissie sê hy is bekommerd dat die voortgesette spanning tussen Gordhan en die Valke die begrotingsproses in die wiele kan ry.

Die kommissie is ‘n Hoofstuk 9-instelling wat die Nasionale Tesourie van raad voorsien oor die verdeling van inkomste tussen die onderskeie vlakke van regering.

Die kommissie sê die spanning kom op ‘n “kritieke tyd” in die begrotingsproses.