Ope brief: Hoe my kleuterskool deur die EFF en hoofstroommedia aangeval is

Deel op

Anéll Engelbrecht, hoof van die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Centurion, verduidelik in hierdie ope brief hoe haar lewe permanent verander is deur ongegronde aantygings van rassisme deur die hoofstroommedia en die EFF.

My beskermende, bevoorregte wit Suid-Afrikaanse lewe het binne 48 uur radikaal verander en sal nooit weer dieselfde wees nie…

Rassisme… Ons hoor dit daagliks, lees daarvan orals, maar die laaste twee dae het dit my gedagtes oorheers en my persoonlik geraak.

Ek deel my lewe elke dag met soveel swart mense wat ek finansieel, emosioneel, liggaamlik en geestelik versorg. Ek eet, huil, lag, werk en bid saam met hulle en hulle bel my enige tyd dag of nag as daar krisis is. ‘Jy is ons ma.’ Hulle is soos al my wit vriende, my dierbares…

Ek ken Thabo en Nishani omtrent ʼn jaar. Sy het Nishani by my skool in Irene ingeskryf, maar ons het eers ongeveer drie maande gelede vriende geraak toe sy haar na my kleuterskool in Heritage Hill geskuif het. Sy is ʼn enkelma en omdat ek self vir ‘n lang tyd ʼn enkelma was, het my hart onmiddellik uitgereik na haar. Haar familie is in Botswana en haar helpers laat haar keer op keer in die steek. Haar grootste krisis was vervoer omdat sy lang ure werk en ek het aangebied om haar kind elke dag by die voordeur op te tel, skool toe te vat en in die middag weer huis toe te vat.

Ek doen hierdie vir geen ander kind by die skool nie. My man moes later begin help, want ek het ‘n kleuterskool om te bestuur. My dogter smeek dat ek Nishani in haar klas moet indeel, want sy is so ʼn cute dogtertjie.

Ons het nie swart kinders in ons skool nie. Behalwe Nishani, het ons net vir Emma, wat ek ook finansieel help en soms ook met vervoer help. Hoekom net twee swart kinders? Swart ouers stel nie belang om hulle kinders Afrikaans te leer nie. Het ek al ooit swart kinders weggewys by my skool? Nooit!

Nishani begin binne ‘n paar weke woordjies sê en my man is baie in sy skik want een van die eerste woorde is “uncle William”. Hy stap soggens soos ʼn trotse pappa met haar in sy arms by die skool in. My dogters kry raas want Nishani kry nie kans om te loop nie, sy is heeltyd in hul arms.

Sy is mal oor haar juffrou en roep heeltyd “Ané!” Ons word uitgenooi na haar doop, kry foto’s van hul naweke, ek praat Thabo moed in as sy huil op my skouers oor uitdagings by die werk, ek verseker haar die agterstallige skoolfooie is nie ʼn probleem nie, ens.

Ons is saam bekommerd oor Nishani se “nappy rash” wat toe al die tyd ʼn infeksie was. Ons is vriende…

22 Junie, 11:00 verander hierdie vriendskap in rassisme…

Thabo se optrede stel ons skool se voortbestaan in gevaar. My lewe en my gesin word gedreig. Ek kry rassistiese oproepe wat dreig om my skool af te brand en my te kom “uitsort”. Ek kry e-posse wat my ʼn barbaar, rassis, evil en verleentheid vir Christene noem!

My kinders verstaan nie. “Mamma hoekom doen Nishani se ma dit?” “Gaan ons nooit weer Nishani sien nie?” “Hoekom dink die tannie ons was lelik met Nishani?”

Vir die eerste keer moet ek rassisme aan my kinders verduidelik…

My dogter is gebreek. Sy wil opskop en nie meer onderwys studeer nie. Sy wil nie meer ʼn juffrou wees nie. Nishani was elke dag in haar klas en sy is nog nooit anders behandel as ander maats nie. Nooit!

Nadat die stof gaan lê met mediaonderhoude, EFF-betogings en honderde oproepe waarin ek heeltyd omstandighede rondom die foto moet verduidelik, besef ek drie dinge:

  1. Gebede van gelowiges is AL wat mens dra in krisistye
  2. Wanneer daar rassisme in jou hart is, sal jy dit in alles sien. Die teenoorgestelde maak dat jy ʼn foto stuur sonder om te dink en te kyk, want jy glo daar is verhouding…
  3. Ons moet ERNSTIG bid vir ons land!

Mev. EFF wat my nie in die oë kan kyk wanneer jy vir my vertel my mense het jou mense se land gesteel nie, terwyl jou mense op en af spring en “voertsek en f***f” sing, hoeveel rassisme is in jou hart?

Thabo, jammer vir jou pyn. Jammer vir die rassisme in jou hart. Ons mis Nisha!

Of my skool toegemaak gaan word of geforseer gaan word om in Engels te onderrig, weet ek nie.

Maar elkeen moet self bepaal hoeveel rassisme in jou hart is.

Dit sal jou lewe en optrede teenoor ander bepaal en net dit sal ons land kan red!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.