Twee gholfers wat op baan oorval is, weer terug

Twee Bloemfonteinse vriende het Maandag weer ‘n potjie gholf gespeel en afgeslaan by die bof van die sewende putjie op die Bloemfontein-gholfklubbaan, waar hulle meer as ‘n week gelede beroof is.

Byron Wegger en Francois Faasen is op 8 Januarie deur ‘n man genader en met ‘n vuurwapen gedreig. Wegger sê die booswig het geld geëis en sy hemp opgelig en ‘n vuurwapen, vermoedelik ‘n 9mm, aan hom gewys. Faasen, wat reggestaan het om af te slaan het eers later besef wat aangaan.

Hulle het al hul geld aan die man gegee. Die swart booswig het ook Wegger se selfoon geëis maar dit later aan hom teruggegee, nadat Wegger hom oortuig het dit is nie baie werd nie. Die rower het Wegger se hand geskud en rustig weggestap na waar twee van sy makkers onder ‘n boom gewag het.

Beamptes van die Parkweg-polisiekantoor was vinnig op die toneel, maar die booswigte het weggekom. Wegger sê dit was vir hom ietwat van ‘n traumatiese ervaring. Hy is bly hy het ‘n kundige se raad gevolg om gou weer op dieselfde baan te speel.

“ ‘n Mens kan nie in ‘n boksie leef nie. Jy kan nie wegkruip vir sulke goed in die land nie, jy moet maar net aangaan.”

Faasen sê hy het ook besluit dit sal goed wees om die baan weer te besoek.

Albei slagoffers is ook vol lof vir die Bloemfontein-gholfklub se bestuur wat die voorval as ernstig beskou en veiligheidswagte gaan aanstel om die baan voortaan te patrolleer.

Daar is nie ‘n veiligheidsheining om die baan nie. Hoewel Wegger en Faasen ‘n klag van diefstal kon indien het hulle besluit om nie ‘n saak by die polisie aanhangig te maak nie.

Bron: OFM Nuus

Huisaanval in Pretoria eis die lewe van pa

‘n Man wat sy gesin teen swart aanvallers wou beskerm, is Donderdagaand voor sy gesin doodgeskiet.

Die 47-jarige is in Pretoria-oos noodlottig gewond nadat vier swartes die huis binnegedring het en die oorledene se vrou in die sitkamer oorweldig het.

Die man was glo op die boonste verdieping van die woonhuis en het na benede gestorm, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

Die aanvallers het twee skote op die man afgevuur voordat hulle gevlug het. Nooddienste het probeer om die gewonde pa se lewe te red, maar dit was tevergeefs.

Niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie. Niks is gedurende die aanval geroof nie.

Drie skole in PE in een week besteel

Drie skole in Port Elizabeth is dié week besteel. Kontant en ander duur bates is weggedra.

‘n Woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie het Donderdag bevestig dat daar Woensdagaand ‘n inbraak by ‘n laerskool in Humewood was waar ‘n aansienlike bedrag in kontant verdwyn het.

By die Victoria Park Grey Primary School is ook skootrekernaars gesteel benewens die kontant.

Vroeër vandeesweek het booswigte ‘n kluis by ‘n ander skool, Theodore Herzl Primary, oopgebreek en kontant gesteel.

Harvest Christian School se personeel is Woensdag oorval in ‘n gewapende roof deur rowers wat hulself as ouers voorgedoen het wat skoolgeld wil betaal.

Die polisie het skole gemaan om nie groot bedrae kontant op die perseel aan te hou nie en dit liewer te deponeer aangesien die aanvallers blykbaar ook weet hoe om die alarmstelsels te omseil.

Eskom skakel weer die ligte aan

Eskom het die kragonderbrekings na munisipaliteite wat die kragvoorsiener geld skuld, tydelik gestaak. Die kragverskaffer het Maandag met die kragonderbrekings begin en dit Donderdag laat vaar.

Die munisipaliteite skuld al byna R12 miljard. Die ANC is bekommerd dat Eskom se yslike skuldlas Suid-Afrika se kredietgradering negatief kan raak.

Nadat die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, ingegryp het, brand die ligte weer na ‘n duur, nuttelose hofsaak wat haar wou oorreed tot dié stap maar misluk het.

Brown het in ‘n verklaring gesê Eskom, die department van Openbare Ondernemings en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het ‘n ooreenkoms bereik om munisipaliteite nog tot die einde van die maand te gun om hul agterstallige rekeninge te betaal.

Sy sê die kragonderbrekings het ‘n moontlike rampspoedige uitwerking op sakeondernemings, wat ook tot werkverliese kan lei. Sy het ook onverwags haar simpatie ontdek vir diegene wat wel betaal.

Drie munisipaliteite in Noordwes – Naledi, Lekwa-Teemane en Kgetlengrivier – en twee in die Noord-Kaap – Ubuntu en Renosterberg – is Donderdag nog aan daaglikse kragonderbrekings van vier ure lank onderwerp weens skuld van miljoene rande aan Eskom.

Nóg 10 munisipaliteite in sentraal-Suid-Afrika, wat ook agterstallige rekeninge het, het voor Maandag se spertyd betalingsooreenkomste met Eskom aangegaan.

Trump sê hy gaan aanhou twiet

Die gebruik van Twitter is die enigste manier om oneerlike media teen te werk, het die nuwe Amerikaanse president Donald Trump gesê tydens ‘n Fox News-onderhoud wat Woensdag uitgesaai is.

“Ek hou nie van twiet nie, ek het ander dinge wat ek kan doen,” het hy opgemerk.

“Maar ek kry baie oneerlike media, baie oneerlike pers. En dit is my enigste manier waarop ek dit kan teenwerk. Wanneer mense wanvoorstellings oor my maak, is ek in staat om dit te sê en dit uit te wys,” het die Amerikaanse verkose president verduidelik en bygevoeg dat “As die pers eerlik, wat dit nie is nie, sou ek absoluut nie Twitter gebruik het nie.”

Daar is historiese voorbeelde van direkte kommunikasie. Iemand soos Franklin D. Roosevelt, het sy kaggel-geselsies baie effektief gebruik om sy kritici by te kom en die pers te omseil.

Ronald Reagan het met openbare ongefiltreerde radio-onderhoude elke Saterdag direk met die bevolking gepraat.

“Tussen Facebook en Twitter, dink ek het ek meer as 40 miljoen mense en dit is ‘n moderne vorm van kommunikasie,” het hy gesê tydens ‘n 7 Desember-onderhoud met NBC. “Ek kry dit baie vinniger uit as ‘n persverklaring. Ek kry dit veel meer eerlik uit as deur oneerlike verslaggewers.”

Die Nederlanders verwys na valse nuus as “nep-nieuws”. Miskien kan Afrikaners by hulle gaan kersopsteek vir die neologisme nepnuus, soos in nepotistiese nuus.

Trump het ‘n punt beet oor betaalde betogers

Donald Trump het ‘n punt beet oor betaalde betogers: Advertensies in meer as 20 Amerikaanse stede bied $2500 per maand aan vir opstokers om hierdie week by die presidensiële inhuldiging te gaan amok maak.

Demand Protest, ‘n San Francisco maatskappy wat homself as die “grootste private voetsoolvlaksteunorganisasie in die Verenigde State van Amerika,” voorhou, het identiese advertensies op 12 Januarie in verskeie stede op Backpage.com geplaas om betogers te werf.

“Kry betaling om te gaan veg teen Trump!” lui die advertensie.

“Ons betaal mense wat reeds polities gemotiveer is om te veg vir die dinge waarin hulle glo. Jy gaan in elk geval tot aksie oor, waarom nie dit doen met ons nie!” Die advertensie lui voorts: “Ons is tans op soek na agente om te help om ‘n sterk boodskap van protes aan die opkomende inhuldiging te stuur.”

Die werk bied ‘n maandelikse fooi van $2500 plus “ons standaard per gebeurtenis betaling van $50/uur, so lank as wat jy deelneem aan ten minste 6 gebeure in ‘n jaar,” sowel as gesondheids-, oog- en tandheelkundige versekering vir voltydse agente.

Kolleges kom landwyd tot stilstand

Die Suid-Afrikaanse studentevereniging vir verdere onderwys en opleiding het vroeër gedreig dat bedrywighede Donderdag by alle TBOO-kolleges landwyd tot ‘n stilstand gedwing moet word.

Die Departement van Hoër Onderwys het ‘n beroep gedoen dat gesprekke met verteenwoordigers van kolleges vir verdere opleiding voortgesit moet word.

Die liggaam eis inligting oor kwessies soos befondsing, infrastruktuur en uitslae en sertifikate wat nog nie uitgereik is nie.

Honderde voormalige studente is werkloos omdat van hulle na bewering tot sewe jaar vir hul sertifikate wag. ‘n Woordvoerder van die departement, Madikwe Mabotha sê die departement is vasbeslote om met alle rolspelers saam te werk om ‘n oplossing te vind.

Safetsa sê die landwye staking sal die opleiding by 265 tegniese, professionele en opleiding (TVET) kolleges raak.

Die vereniging het gesê die regering het sy kommer geïgnoreer, en kolleges sluit dus onbepaald.

Safetsa se Yonke Twani sê onopgeloste kwessies sluit in die vertraging van resultate en hangende sertifikate sedert 2012, onvoldoende befondsing en vertraging van akkommodasie en vervoertoelaes, swak infrastruktuur, ongekwalifiseerde dosente en studenteviktimisasie.

Twani sê hulle praat al jare met die Departement van Hoër Onderwys daaroor.

Hulpagentskappe smokkel glo migrante na Europa

Volgens die organisasie Gefira, het ‘n aantal hulpagentskappe byna 40 000 migrante binne twee maande na Europa gesmokkel.

Amptelik, maak hulle asof hulle migrante in nood red op see. Maar die bewegings van skepe wat aan die hulpagentskappe behoort, het Gefira tot die gevolgtrekking gekom dat hulle eintlik net buite die Libiese kus migrante aan boord te neem.

Die amptelike beskrywing van die daaglikse aktiwiteite van hulpagentskappe is teenstrydig met inligting oor die bewegings van die skip Golfo Azuro, byvoorbeeld. Die vaartuig word gebruik deur die Nederlandse hulpagentskap Stichting Bootvluchting.

‘n Video wys hoe die skip, saam met drie ander skepe van hulpagentskappe, na ‘n punt 8.3 seemyl van die Libiese kus beweeg. Op sy webwerf beweer die hulpagentskap dis na ‘n oproep van die Italiaanse kuswag, maar die twee liggings verskil drasties. Tien uur na die oproep, beweeg ‘n boot van ‘n Libiese hawe reguit in die rigting van die hulpflotilla. Twee seemyl weg van hulle kom dit tot stilstand.

Die volgende dag, word berig op die webwerf van die hulpagentskap, dat hulle ‘n reddingsoperasie uitgevoer het in die Siciliaanse Straat, dit wil sê in die Middellandse See tussen Sicilië en Tunisië, baie verder noord van werklike posisie van die skepe. Met die sogenaamde reddingspoging, het ‘n drie-jarige Nigeriese seun en 17 ander mense glo verdwyn. Die 113 mense wat “gered” is, is nie aan die naaste veilige hawe in Tunisië besorg nie, maar na Sicilië geneem.

Gefira bevraagteken die sogenaamde reddingsoperasies, wat al hoe meer na mensehandel begin lyk. Gefira beweer ook dat die bedrywighede nie moontlik sou wees sonder die toestemming van owerhede nie en noem die volgende organisasies wat daarvan verdink word dat hulle met mense smokkel: MOAS, Jugend Rettet, Stichting Bootvluchting, MsF (Dokters Sonder Grense), Save the Children, Proactiva Open Arms, Sea-Watch.org, See-Eye en Life Boat.

MOAS lyk na ‘n sleutelspeler in hierdie aktiwiteit. Dit is in 2013 gestig deur ‘n Amerikaanse sakeman Chris Catrambone in Malta. Hy het sy loopbaan as ‘n werknemer van die Amerikaanse Kongres begin. Sy maatskappy, Tanger Groep, het sedert 2006 gegroei van ‘n maatskappy met drie werknemers wat betrokke is in Irak, tot vandag, met bedrywighede in 110 lande en ‘n onbekende aantal werknemers. Gefira bevraagteken die manier waarop hierdie sake-onderneming in staat was om soveel inkomste te genereer sodat Catrambone met sy eie geld ‘n skip kon betaal vir MOAS. Een moontlike verklaring kan wees dat die maatskappy ‘n groot inkomste uit “reddingsoperasies” verkry.

MOAS word gelei deur die voormalige Maltese opperbevelvoerder Martin Xuereb en ‘n paar ander personeellede met óf militêre agtergronde in Malta of in private sekuriteit. Sedert MOAS se bedrywighede eindig die immigrante aan wal in Italië en vreemd genoeg nie in die tuishawe van Malta nie.

Gefira is ‘n Nederlandse stigting gefokus op die ontleding van die huidige geopolitieke en finansiële onstabiliteit.

 

Sal Tajani in die voetspore volg van groot verkwister Martin Schulz?

Martin Schulz was óf ‘n Bollinger Bolsjewistiese of ‘n Foie Gras Federalis. Wat sal die nuwe baas van die EU Antonia Tajani wees?

Tajani het pas sy landgenoot verslaan om die pos oor te neem na ‘n lang stemproses gister in Straatsburg.

EU-grootkop Martin Schulz, en sikofant van oorlede Britse Marxistiese historikus Eric Hobsbawn, is vervang deur Tajani.

Schulz het twee limousines, twee chauffeurs en 33 assistente aangehou, almal betaal deur die belastingbetaler.

Schulz se span het bestaan uit ‘n woordvoerder, vyf persbeamptes en twee dagboek-assistente. Die voormalige alkoholis het ook twee bodes geklee in swart aandpakke aangehou om gaste te groet.

Die voormalige hoof van die EU-Parlement is dikwels daarvan beskuldig deur die kollegas dat hy openbare geld mors, terwyl Schulz geen probleem daarmee gehad het om vir groter bydraes te bedel nie.

‘n EU-verslag van 2015 het aan die lig gebring hoe Duitsland se groot verkwister min agting vir ander mense se geld het.

Die Sosialis het ‘n so ‘n yslike en duur span van personeel aangehou, dat die EU Parlement se begrotingsbeheerkomitee “met kommer kennis geneem het van die groot aantal personeel wat in die kantoor van die president van die Europese Parlement dien, ‘n hoogs twyfelagtige bestuursbesluit”.

“Dit skep ‘n slegte voorbeeld vir kostevermindering en fiskale verantwoordelikheid in die Parlement,” het hulle bygevoeg. Die lede ook sy behoefte aan twee baie duur motors bevraagteken.

Voormalige UKIP-leier Nigel Farage het opgemerk: “Die Koningin van Skeba het waarskynlik minder personeel gehad, beslis minder chauffeurs. Ek kan nie besluit of Martin Schulz ‘n Bollinger Bolsjewis of ‘n Foie Gras Federalis is nie. Wat hierdie verslag toon is dat die president van die Europese Parlement agter EU-sous aan is. Hy is lief vir die EU, want dit baat hom persoonlik.”

Hy is ook beskuldig van politieke baantjies vir boeties na die uitdeel van top administratiewe poste in die Parlement aan lede van sy persoonlike personeel, het The Daily Mail berig.

SABC grom vir Multichoice

Die ad hoc-komitee oor die SABC beveel in ‘n werksdokument aan dat die transaksie met die betaaltelevisiemaatskappy Multichoice aan ‘n forensiese oudit onderwerp word, het RSG berig.

Dit is een van die aanbevelings wat vervat is in ‘n dokument wat in die besit van SABC-nuus is. Die werksdokument is aan die lede van die komitee versprei.

Luidens die verslag was die transaksie van meet af aan omstrede en word dit in die verslag as ‘n verdagte transaksie aangedui.

Die transaksie het onder meer daartoe gelei dat groot hoeveelhede argiefmateriaal aan Multichoice oorgedra is. Die komitee beveel aan dat die forensiese ondersoek die moontlikheid moet insluit dat die transaksie nietig verklaar kan word indien bewyse van ongerymdhede gevind word.

Die ad hoc-komitee het ook aanbeveel dat die ontbinding van die Raad dringend gefinaliseer word. Die komitee wil voorts hê die tussentydse raad moet alle onregmatige besteding en verkwisting by die uitsaaier ondersoek.

Die tussentydse raad moet ook stappe doen om geld wat verkwis of wanbestee is, terug te kry.

Die komitee beveel aan dat die rekenpligtige amptenaar moet toesien dat alle kritieke vakante poste in die finansiële departement en in menslike hulpbonne gevul moet word.

Meer as 40 aanbevelings word gemaak in die dokument van 38 bladsye.