Motorfietshelms wat nie die ore van die gebruiker toemaak nie, voldoen nie aan basiese veiligheidsvereistes nie, het die Nasionale beheerliggaam vir verpligte spesifikasies (NRCS) Dinsdag gesê.
Die NRCS-woordvoerder Mirriam Moswaane het gesê die "pispotstylhelms (waarna normaalweg verwys word as Chips, German, Beanie of Cruiser) voldoen nie aan die verpligte spesifikasies – spesifiek seksie 5.1a wat stel dat alle helms die ore van die gebruiker behoort toe te maak vir veiligheidsredes nie".
Die helms word verkoop onder name soos Lafe, Stinga en Lynx en dra "misleidende" etikette soos "perdry, nie vir snelweg gebruik en nie vir padgebruik nie".
"Alhoewel die helms gemerk word vir 'n ander gebruik of doel, word dit steeds aan winkels vir motorfietsbybehore verkoop," het Moswaane gesê.
"Om dinge erger te maak, het party van die helms valslik die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde- (SABS-)plakker op," het Moswaane gesê.
Die Nasionale beheerliggaam vir verpligte spesifikasies was voorheen die SABS-beheerafdeling.

Voormalige ANK-woordvoerder Carl Niehaus het nie 'n doktersgraad soos hy beweer het nie, en het 'n R100 000 se vakansie in Mauritius gratis gekry, het twee koerante Dinsdag gesê.
Minister van onderwys, Naledi Pandor en die ANK-jeugliga leier, Julius Malema, sal na verwagting Dinsdagmiddag vergader om probleme by tersiêre instellings te bespreek, het die liga gesê.
Twee kernduikbote, een Frans en een Brits, het vroeër die maand in die mid-Atlantiese oseaan gebots, het berigte in die Franse en Britse media gesê. Bronne in die twee ministeries van verdediging word aangehaal.