Voormalige ANK-woordvoerder Carl Niehaus het nie 'n doktersgraad soos hy beweer het nie, en het 'n R100 000 se vakansie in Mauritius gratis gekry, het twee koerante Dinsdag gesê.
Volgens Beeld het Niehaus nie 'n doktersgraad in teologie gekry by die universiteit van Utrecht in Nederland soos wat hy beweer het nie. Dit was gedurende sy tydperk as Suid-Afrika se ambassadeur in Den Haag.
"Ek kan julle inlig dat mnr. Carl Niehaus nie 'n doktersgraad behaal het in Teologie by die universiteit van Utrecht nie," het 'n universiteitsverteenwoordiger aan Beeld gesê.
Niehaus se CV op die Litnet webwerf verklaar dat hy sy "doktersgraad" in teologie met hoogste lof verwerf het toe hy ambassadeur was.
Beeld berig dat 'n joernalis van die susterblad, Die Burger, verlede jaar aan Niehaus gevra het om duidelik te maak of hy aangespreek moet word as dokter of meneer, waarop hy geantwoord het: "Dit maak nie eintlik saak nie, maar dit is wel dokter."
Volgens 'n ander koerant op Dinsdag het Niehaus na bewering die eienaar van 'n Oos Londense reisagentskap sover gekry om vooruit te betaal vir 'n R100 000 se vakansie vir homself en sy familie in Mauritius, en toe nooit self betaal nie.
"Hy het 'n gratis vakansie gekry en ek het my kersbonus verloor," het die eienaar van Let's Travel, Cheryl Clur aan The Star gesê.
Niehaus het haar klaarblyklik 6 jaar terug genader en op haar gevoel gespeel deur te sê hy het kanker.
"Hy het aan my gesê hy is siek aan leukemie, het chemoterapie gehad en het 'n vakansie gesoek saam met sy vrou en twee kinders. Hy het met my emosies gespeel met sy siekte."
