Vooruitgang word gemaak om dit vir reisigers makliker te maak om buitelandse geldeenhede in SAOG-lande om te ruil, het die Suider-Afrikaanse posdiensoperateursassosiasie (Sapoa) Dinsdag gesê.
"Die proses is nou in die implementeringsfase," het Sapoa se uitvoerende direkteur Kaynet Moyo gesê.
Dit volg na 'n kwartaallikse vergadering in Februarie van Sapoa-beamptes. Die vergadering is 'n opvolg van 'n besluit van verlede Mei om aan SAOG-posdiensoperateurs die geleentheid te gee om valutahandelstoonbanke te bedryf.
"Dit beteken dat wanneer die poskantoor die regsformaliteite gefinaliseer het met die relevante reserwebanke, kliënte in staat sal wees om in enige poskantoor in te loop en valuta sal kan omruil, soos wat die geval in Zambië en Zimbabwe is," het Moyo gesê.
Dit sal 'n "een-stop-winkel" skep wat verbeterde toegang tot geldoordraging en leweringsnetwerke gee.
Sapoa het gesê hulle sal ook 'n kliëntehandves publiseer, wat diensvlakke uiteensit wat verwag kan word binne die SAOG-streek.
