Begin van ‘n kultuurbotsing

Image

Willem Stephanus van Ryneveld … het gou die Engelse lewenshouding aanvaar

Die meerderheid Kapenaars was in 1795 afsydig van die Engelse. Een van die Britse gesagvoerders, J.H. Craig, skryf op 22 September 1795 dat, behalwe 'n halfdosyn of wat van die handelaars en hoë amptenare van die kolonie, byna elkeen die vyand van die Britte is. Hy het gesê dat, as daar 'n vyandelike mag na die Kaap sou kom, niemand die Engelse sou help nie. Dit was in elk geval waar van die Graaff-Reinetters, wat hulp van Batavia ontbied het. Maar die skip wat die hulp sou bring, Het Haasje, is in Saldanhabaai deur die Engelse gevang en die troepe moes hulle oorgee.

Die mislukte poging om die Kaap te herower het demoraliserend op die meeste Afrikaners ingewerk. Die meerderheid het hulle rustig gedra. Macartney het op 28 Mei 1797 bepaal dat elke burger 'n eed van getrouheid aan Brittanje moes aflê. Soveel burgers het die eed nie afgelê nie, dat hy op 28 Junie 'n tweede proklamasie uitgevaardig het: dié wat dit voor 10 Julie nie doen nie, sou uit die kolonie verban word. Die meeste het daarna die eed onwillig afgelê, maar sommige weieraars is verban.

Die owerheid het 'n beleid van versoening nagestreef wat deur 'n aansienlike groep Hollandse koloniste aanvaar is. Dié faktor was alreeds werksaam onder party van die hoë amptenare uit die Hollandse tyd wat hul betrekkings teruggekry het. Hulle het daagliks met die Engelse amptenare saamgewerk en hulle so gou as moontlik by die nuwe omstandighede aangepas. Sommige van hulle was van die begin af simpatiek teenoor die Engelse, en het gou hul lewensbeskouing aanvaar en die Engelse lewenswyse aangeneem. Onder hulle was die fiskaal, Willem S. van Ryneveld.

Die sosiale afstand tussen Afrikaans- en Engelssprekendes het kleiner geword deur die omgang wat vermaak meegebring het. Die Engelse het in 1796 perdewedrenne ingevoer. Die Afrikaners het dit ondersteun, omdat sommige van hulle perdetelers was. Lady Anne Barnard het deur haar innemendheid mense gewin deur hulle saam te neem na die perdewedrenne asook na die danspartye wat sy gereeld gehou het. "En so onder die bekoorlike musiek van die dansbaan en die opgewondenheid van die renbaan is van meer as een Kaapse Afrikaner waarskynlik 'n oortuigde Angloman gemaak", skryf G.D. Scholtz. Onder die invloed van lady Anne Barnard het die sosiale lewe van die Afrikaner, wat voorheen sterk onder Franse invloed gestaan het, veral op die dorp en in die stad 'n Engelse karakter gekry wat dit tot vandag behou het. Lady Anne het in 1798 met genoegdoening geskryf dat die Engelse offisiere "at a great rate" trou met die "Dutch vrows". Tog was daar ook ander Engelse wat die "Dutch" met minagting behandel het, meld sy in 'n brief in 1797.

Volgens 'n memorandum wat in 1801 opgestel is, was daar vier groepe Afrikaners. Hulle was die Britsgesindes of "Anglomanne", ten tweede die aanhangers van die Huis van Oranje, wat met die Britsgesindes saamgewerk het, maar nie hul landgenote vervolg het nie, in die derde plek die "gemodereerde partij" wat aan Nederland getrou wou bly en ongetwyfeld die meerderheid Afrikaners omvat het, en ten slotte 'n groep wat onder die invloed van die heersende Frans-revolusionêre denkbeelde was.

fruit shopФильчаков Александр Васильевич

‘n Uitsonderlike vrouegalery

Image

By die uitgang van die Hooggeregshof gaan staan sy ʼn oomblik lank stil. Sy lyk verlate en hartseer, asof sy verdwaal het. Of die jare hier, die groot bitter kol êrens diep binne-in haar, so versteen het, dat sy enige oomblik gaan verbrokkel. Die pilare van die hek weerskante van haar omraam haar soos die raam van ʼn portret. Net soos die ander vroue betrokke in hof GD – waar die Boermagsaak homself afspeel – hang haar teenwoordigheid soos ʼn kunswerk, as deel van ʼn galery, aan die houtbeklede mure van die hof agter haar.

Hierdie uitstalling is beslis ʼn besoek, in die geestesoog, werd. Die tema daarvan is politieke gevangenskap. Elke vrou het hier haar eie unieke voorstelling. Daar is egter ook verskeie kombinasies van die uitbeeldings – verweef as goeie hoedanig-ede en verweer teen die lewe – in elke vrou afsonderlik te vind.

Die galery kan in afdelings verdeel word. Ten eerste is daar die hoofuitstalling: diegene, wat, so gereeld as wat hulle verpligtinge en finansies dit toelaat, hier kom besoek aflê.

Reg in die middel is ʼn standbeeld – van middelmatige grootte – van ʼn Voortrekkervrou. Haar gesig is half verberg deur die kappie op haar kop. In haar hand klem sy die Bybel stewig vas. Niks keer egter die trane wat oor haar wange stroom nie – in kil graniet is hul verewig op haar gesig. Sy staan roerloos stil en daar is ʼn vasberade trek om haar mond.

Teen die langste muur is ʼn groot skildery wat mens sterk herinner aan Picasso se Guernica. Die gesig in die middel lyk asof dit een is wat baie lag en gedurig praat, maar as mens verder kyk, sal jy merk dat die omringende gesigte heel verwronge is. In somber skakerings van  grys en swart skreeu die ‘viktimisering van die onskuldiges’ (wat net so duidelik te siene is, as wat ʼn kritikus dit in die oorspronklike werk beskrywe het) teen die dakpanele vas.   

ʼn Dagdroom soos dié van Rosetti, is ʼn pragtig versorgde vrou – wat jy ook daar sal vind – met haar boek oop op haar skoot. Haar drome bring sy sonder vermoeienis in die vorm van berading aan haar medemens. Sy kan met vrymoedigheid aanbeveel word, want haar raad en begrip is uit persoonlike ervaring gebore.

Langsaan staan daar ʼn prent nageteken van G.F. Watts se Hoop, ʼn vrou alleen op die aardbol, geblinddoek, met die strewe om die laaste soet musieknote uit die gebroke lier in haar hande te haal.

ʼn Groot helderkleurige natuurtoneel, vol van Namakwaland se blommeprag, soos die werk van Pieter Hugo Naudé, hang langsaan. Vars, soos ná ʼn lentereën. Daar is aardse vrolikheid en opwinding wat wag, want eendag sal alles hier tot ʼn einde kom.

Volgende is ʼn sagte skildery wat na die Waterlelies van Manet trek. Broos en teer, met soveel kalmte en rustigheid. In dieselfde kleurskema, hang daar ʼn dromerige figuur van ʼn jong vrou, wat sterk herinner aan die skildery Lente van Renoir. Sy is vol afwagting op die lente – ten spyte van die winter waarin sy haar tans bevind.

In die hoek is ʼn raam met oudtydse swier, die prent daar binne-in so klassiek soos Da Vinci se Mona Lisa. Die komposisie, hoewel effe afsydig, is sterk gebalanseerd en tydloos.

In skerp kontras daarmee is daar ʼn werk soos van Salvador Dalí se Persistence of Memory. Net ʼn kenner, met ʼn fyn oog, sal dit na waarde kan skat. Tog sal die lag om jou mondhoeke pluk, selfs al staan jy verstom oor jou eie onbegrip van die kompleksiteit van hierdie werklikheid.

As hul pa’s-se-jammer-liefdes kan mens die dogters van die beskuldigdes almal as temas op Sir Joshua Reynolds se Age of Innocence teen die mure hang. Selfs al het hulle soveel groter geword sedert die saak se begin en al het sommige van hulle hul kinderskoene ontgroei.

As onderafdeling van die hoofuitstalling is daar ʼn Moeder-en-Ouma-deel:

Die Seun in blou soos van Thomas Gainsborough trek dadelik mens se aandag. Met soveel moederliefde en deernis sal sy hom graag klein wou hou. Hy is egter so selfstandig en vol lewenskrag, dat jy verwag om haar bo hom in goedkeuring te sien glimlag.

Langsaan is ʼn Madonna  – soos dié een met die angelier van Leonardo Da Vinci – met haar hand koesterend na haar kind gehou.

Na Vryheid wat die volk lei van Delacroix kan ʼn mens maar net in verwondering bly staar. Om haar vlag te laat sak, sal meer verg as hierdie Vervolgingsgesag.

In opregte ouwêreldse vertroue en ewige moederliefde is daar een in ʼn houtraam. Aan die bokant is blomme helder gekleur in die glas en onder in  ʼn halfmaan loer die teksvers in blink papiertjies deur: De Heere is mijn licht en mijn Heil. Ps. 27:1  

Stil in haar gryse ouderdom, skynbaar verwese, sit ʼn ouer dame, soos Whistler se Arrangement in grey and black,  'n portret van die kunstenaar se moeder. ʼn Vaas van fyn porselein is kunstig vasgevang op die stillewe in die volgende skildery. Die patrone op die doek is met ʼn veerdun kwassie ingelas. Tekeninge wat lyk soos die  Vrou wat ‘n brief opskeur van Dirck Hals, met ʼn leë stoel agter haar, pas by die twee moeders wat weduweeskap moes aanvaar.

Daar is skoonmoeders van die gevangenes, wat hulle deur die jare – soos die Gleaners van Millet – ontferm het oor die versorging van die fyner detail in hul dogters se lewens. Met dieselfde "epiese grandeur" waarmee kritici die oorspronklike skildery beskrywe het…

Sprekend van ʼn ouma se liefde: soos in Oppasser en kind  (die portret van Catharina Hooft van Frans Hals) sal jy op die kindergesiggies die lag kan sien van die sorg wat die volgende vrou gebring het. Ook hoe sy haar kleinkinders onder die omstandighede, in die fynste kant geklee het.

In die gang hang daar een soos die Kleinboere se dans van Breughel, vol vrolikheid. Een wat haarself, met watter geleentheid ook al, uitbundig kom voeg by dié wat gereeld daar pryk.

ʼn Kalm en rustige natuurtoneel, asof deur die meester John Constable op die doek vasgelê, beklee ʼn ereplek vir die vrou wat tot die dood haar kant gebring het.

Dan is daar die vaag uitgestalde groep. Diegene wat net halfpad deel is van die verrigtinge, wie se betrokkenheid vir eers die tronk gespaar is.

Laastens is daar die geslote deel van die galery. Die groep van wie nog net die illusie oorgebly het – diegene wat gekies om hul plekkies leeg te laat raak: Tretchikoff se Orgidee wat verspil op die kliptrappe lê.  ʼn Naïewe kinderprent wat jou aan die hart ruk. Een soos ʼn hersenskim – tot die naam het onleesbaar geword. ʼn Ander minder onduidelik maar tog ook wasig dof – geteken met oogwater uit ʼn egskeidingsbevel. Daar is ook die gesofistikeerde, realistiese een, wat gou-gou op haar eie weg gegaan het. Daar is die impressionistiese een – wat gedink het sy kon probeer. Dan is daar die leë plek, wat mens jou net kan verbeel dat die naamplaatjie nog die spasie teen die muur in bewaring hou.

Die plakkaat wat die uitstalling adverteer, lyk soos van Gogh se Gevangekamp. Dit is ook die hoofskildery. Die bindkrag – of dit nou bloot ʼn moontlikheid of reeds ʼn jarelange werklikheid is – wat die vroue hier vasgevang hou soos olie op ʼn doek.

Die versameling is so uiteenlopend van aard, dat geen kunshandelaar dit sou waag om daarmee te koop te loop nie. Ten spyte daarvan is die galery al jare lank reeds oop en die sluiting daarvan nog in die toekoms versluier.

Die musiek en klanke van hierdie uitstalling is ook uniek. Daar is gereelde gelag – soms vol vreugde en soms net skel – maar meestal, stille onbegrip. Soms ʼn asem-snak van verbystering oor wat werklik gebeur. Met geleentheid, rou snikke van intense seer. Tog, in weerwil daarvan ruis deur die brose leegheid, ʼn teer melodie van hoop… dat eendag wel sal kom!

Die raarste van die galery is dat die uitstallers letterlik self betaal – duur, met trane, smart en alleenbestaan.  Tog hang hul trou en trots teen die galery se muur – met hul enigste beloning – die hoop dat hul opoffering bewaar sal bly, as iets wat waarde had.

slots playДанильченко Юрий прокурор

Afrikaans kan in die nuwe RSA bestaan, mits…

Dit is opmerklik dat die debat rondom die posisie van die Afrikaner, sy taal en ander grondwetlike regte al meer aandag geniet. So begin die afgelope jare se debat oor die behoud van Afrikaans op alle vlakke polariseer rondom twee standpunte naamlik:

  • Die mees populistiese, aan die een kant, as die proses van onderhandel, deel en leef saam. Dit het al die elemente vir mededeelsaamheid en vreedsame naasbestaan terwyl jy jou eie behou. Dit maak voorsiening vir 'n breë algemene stelsel. Dit is ook 'n argument wat maklik verdedigbaar en sonder potensiële konflik is. Hierdie siening lê klem op die argument dat Afrikaans lewendig is en van krag tot krag gaan. As voorbeeld word die geweldige gewildheid van nuwe Afrikaanse sangnommers, konserte, gedigte en literêre werke vooropgestel. Hierdie siening is gemaklik met die deel van alle opvoedkundige instellings met 'n tweede taal binne parallel- of dubbelmediuminstellings.
  • Die tweede siening is die moeiliker een om te verdedig. Dit het dieselfde potensiaal vir vreedsame naasbestaan met veel wyer beskerming. Dit moet egter bereik word deur wedersydse respek vir die taal, kultuur en godsdienstige verskille tussen etniese, taal-, kulturele en godsdienstige minderhede. Minderhede is die werklike realiteit binne die RSA en dit stel minderheidsregte aan die orde. Alhoewel dit nie in omvang binne die RSA-grondwet beskrywe word nie, is daar genoegsame artikels wat juis hierdie uitgangspunt ondersteun. Hierdie omskrywings dui op die begrip minderheidsregte en kan daar gerus na artikels 6, 9(3), 18, 29(2) (3) en (4), 31(1), 235 en enkele ander binne die RSA-grondwet gekyk word.

Artikel 39(1)b van die RSA-grondwet maak voorsiening daarvoor dat die volkereg in ag geneem moet word by die vertolking van die grondwet. Hierdie bepaling maak die internasionale reg en internasionale resolusies soos "Declaration on the Rights of Persons belonging to National or Ethnic Religious and Linguistic minorities adopted by the General assembly Resolution 47/135 of 18 December 1992" asook die bepalings van konvensies soos "The Provision of Article 27 of the International Convenant on Civil and Political Rights concerning the rights of persons belonging to ethnic, religious and linguistic minorities", van toepassing. Resolusies kan nie, maar konvensionele bepalings kan wel internasionaal binne die internasionale regstelsel afgedwing word. Beide die vorige NP-regering sowel as die huidige ANC regering, het hierdie bepalings onderteken.

Hierdie regte is reeds verskeie kere in die internasionale howe in Genève getoets en is daar reeds 'n verskeidenheid uitsprake hieroor. So het die Rehoboth Bastergemeenskap hulle onlangs op hierdie bepalings, ter beskerming van hulle kulturele regte en skole, teen die Namibiese regering in die internasionale howe beroep.

So lê die populistiese benadering groot klem op die deel van onderwysgeriewe wat net op Afrikaanse skole deur die onderwysdepartement afgedwing word. Dit word amalgamasie of transformasie genoem. Hierdie transformasieproses op Afrikaanse skole het die Afrikaanse enkelmediumskole van meer as ±1,600 in 1993 na net sowat 640 in 2009 verminder, waarvan daar waarskynlik minder as 300 vir Afrikanerstudente oor is. Met die huidige amalgamasieprosesse in die Limpopo- en Noordwesprovinsies in volle swang, sal die Afrikaanse skole binne die volgende jaar heelwat verminder en behoort 2015 die doodsklok vir die laaste van die Afrikaanse enkelmediumskole vir Afrikaners te lui.

Dit het dalk belangrik geword om te kyk waarna ons verwys wanneer ons oor die behoud van ons taal praat.

Afrikaans kan as bloot 'n kommunikasiemiddel gebruik word en dan is die populistiese benadering reg en aanvaarbaar want Afrikaans sal waarskynlik met spesiale maatreëls binne die parallel- en dubbelmediumstelsel tot 'n mate behoue kan bly.

Naas kommunikasiemiddel is daar egter 'n tweede vlak naamlik dat Afrikaans, as taal, ook as die goue draad binne 'n bepaalde etos bestaande uit taal, kultuur en godsdienstige waardes dien. Dit gaan dus oor baie meer as net die behoud van ons pragtige taal as kommunikasiemiddel en word hier 'n vlak van digkuns, sang, literêre werke binne die skatkamer van kultuur betree en bedryf. Dit gee aanleiding tot 'n bepaalde woordeskat en taalgebruik wat Afrikaans meer as net 'n kommunikasiemiddel maak. Beide die Afrikaner en die kleurling het elk 'n besondere etos wat deur Afrikaans as taal aanmekaar geweef is. Binne skole en tersiêre instellings gaan dit juis oor die volhoubare oordra van hierdie totale etos aan die nageslagte van beide groepe.

Derdens het Afrikaans die hoogste vlak van ontwikkeling bereik toe dit uitgebou is tot 'n wetenskaps- en akademiese taal. Die eerste hart is spreekwoordelik in Afrikaans oorgeplant. Ses atoombomme is in Afrikaans gemaak. Sasols is in Afrikaans gebou. Wêrelderkende ontwikkelings van allerlei soorte is in Afrikaans geskep. Afrikaans is uitgebou tot 'n wetenskapstaal met 'n eie omvangryke woordeskat wat in doktorale proefskrifte en gepubliseerde navorsing gebruik is. Grade se voorgeskrewe literatuur en eksamens is op skole en tersiêre vlak in Afrikaans afgelê en op die hoogste vlak gebesig.

Die populistiese benadering doen juis aan die hand dat die wetenskapstaalfase van Afrikaans in totaal bedreig word. In die howe word Afrikaans as spreektaal en vir verslaggewing deur Engels vervang. Februarie 2009 se register vir Hofverwysings het slegs een Afrikaanse gerapporteerde uitspraak bevat wat in die Hoërhof van Appèl gelewer is. Dertien jaar terug was dit meer as 75%. Dieselfde gebeure herhaal hom op al meer terreine en in die besonder in skole en spesifiek binne universiteite waar Engels as wetenskapstaal besig is om Afrikaans vervang.

Navorsing deur dr Bertie du Plessis oor die toestand in skole wat hierdie transformasie ondergaan, toon uitdruklik dat die etos van die bestaande taal-, kultuur- en godsdienstige waardes van sodanige skool binne enkele jare deur die meerderheid se taalgebruik en kultuur verdring word. Te meer as die nuwe taal 'n wêreldtaal is en die uiteindelike meerderheid binne die skool dit besig en aandring op onderrig daarin. By C R Swart-hoërskool het dit 8 jaar geduur en by Laerskool Doringfontein slegs ses weke.

Dr Bertie du Plessis het met onlangse studies en ander navorsing juis die gevolgtrekking gemaak dat terwyl almal die afgelope jare geglo het dat die wit Afrikaanse studente te veel skole en universiteite gehad het vanuit die ou bedeling, die teenoorgestelde juis waar is. Die Afrikaanse skole het sowat 9% van alle skole in 1993 uitgemaak en dit was ook die persentasie van Afrikaanse leerders. In 2008 het die Afrikaanse enkelmediumskole verminder na slegs 5,9% van die aantal skole in die land terwyl die Afrikaanse leerders steeds die sowat 9% peil handhaaf. Hierteenoor het ander bevolkingsgroepe ruim genoeg skole in hulle tale wat proporsioneel vir hulle beskikbaar is.

Du Plessis se bevindige word op onstellende wyse deur dr Kathleen Heugh, voorheen van die RGN, in haar navorsing " Implications of the Stocktaking of Mother tongue and Billingual education in Sub-Sharan Africa" bevestig. Benewens die bevestiging, bevind sy dat sodanige transformasie, binne kulturele verband, 'n totaal negatiewe inslag het met gepaardgaande daling in prestasie en uitkomste. Dit geld vir die hele skoolloopbaan sowel as tersiêr daarna. Hierdie tendens is juis deel van die basis van die nuwe kurrikulum van die onderwysdepartement, wat daartoe bydra dat standaarde in duie stort.

Voeg daarby dat die totale aantal skole in die RSA van ± 28 000 in 1994 na minder as 25 000 in 2008 gedaal het, terwyl die bevolkingsgroei en invloei van vreemdelinge waarskynlik ten minste 1 500 addisionele skole teenoor 1994 se getal nodig maak. Ons het dus maklik met 4 500 skole in totaal agteruit geboer en was die grootste slagoffer hiervan die Afrikaanse enkelmediumskole en universiteite wat die oorwig van getalle moes help absorbeer. Dit is benewens die beleid van verdringing van Afrikaans binne onderwysinstellings wat klaarblyklik deur die onderwysdepartement voorgestaan word, hetsy doelbewus, hetsy dalk verskonend sonder bybedoelings. Hoe sal ons dit weet? Wanneer word Engelse skole verplig om Afrikaanse leerders by hulle in te skakel binne 'n parallel- en/of dubbelmediumstelsel? Of word Indiërskole ook aan transformasie onderwerp? Dit is kwelvrae wat dringende antwoorde soek.

Een van die wesentlike vrae wat egter gevra moet word, is: Mag etniese, kulturele, taal- en godsdienstige minderheidsgroepe binne die nuwe RSA wel aanspraak maak op hierdie minderheidsregte soos 'n eie onderwysministerie met eie onderwysinstellings en wie moet daarvoor betaal? Mag die Afrikaner, die kleurling en Indiërs, as sodanige minderheidsgroepe, hierdie reg binne 'n eie struktuur opeis?

Dit is belangrik om daarop te let dat die hoofmannestelsel wat as die tradisionele leiers binne CONTRALESA bedryf word, juis 'n erkenning van minderheidsregte vir die swart bevolkings verteenwoodig. Hierdie begrip, wat aanvanklik deur die NP-regering ingestel is, word tans deur die politieke partye onderhou terwille van stemme in die verkiesing en politieke beheer oor die landelike swart bevolkings.

Daar is ook ander swart minderheidsgroepe wat vrylik binne die nuwe grondwet erken word en minderheidsregte beoefen. Van hulle is die Black Accountants; die Black Officers Forum in SAPD; die Black Layers Association; die Black Schools Sport Association en vele meer.

Mnr Jacob Zuma se onlangse uitspraak dat die Afrikaner Afrika se wit stam is, word heelhartig ondersteun want die Afrikaner het oor 350 jaar gegroei tot 'n eie etnies-kulturele, taale en godsdienstige minderheid wat, ook as 'n volk, op hierdie minderheidsregte binne die nuwe RSA mag aanspraak maak. Die verdere vraag is of die Afrikaner dit op eie koste, dus uit sy eie sak, moet herbou of was sy bydrae as een van die boupilare van die RSA genoegsaam dat hy hierop binne die erfreg mag aanspraak maak?

Minderheidsregte sluit naas eie onderwysinstellings ook gesondheidsorg, sosiale, kulturele, sport- sowel as godsdienstige strukture in.

Dit het dringend tyd geword dat ons eerlik na die verskeidenheid van ander moontlike oplossings binne die grondwet begin kyk, eerder as om polities korrekte en populistiese uitsprake na te jaag. Uitsprake wat tot praktyke lei wat die etos van die Afrikaner se eie taal-, kultuur- en godsdienstige waardes bedreig.

Die Afrikaner is geregtig op sy eie strukture binne die nuwe RSA en dit hang slegs van die Afrikaner self as groep af of hy dit gaan behou of afskryf. Niemand anders kan dit namens die Afrikaner opeis nie of so het die Afrikaner ook niemand se toestemming nodig nie. Een groep kan dit ook nie namens 'n ander groep opeis nie en die samevoeging van groepe kompliseer die omskrywing en betekenis van die begrip "etniese, kulturele, taal- en godsdienstige minderhede", soos dit in die internasionale reg verwoord word, sowel as die betekenis van die begrip minderheidsregte.

Louis Smuts is direkteur van TABOK en bogaande is op GRA-dag, 14 Augustus 2009, as 'n toespraak gelewer in 'n debat oor die voortbestaan van Afrikaans, aldan nie.

каталог строительных товаровФильчаков прокурор харькова

Lady Anne Barnard se waarnemings

Image

Lady Anne Barnard

John Barrow se tydgenoot, lady Anne Barnard, het heelwat in Suid-Afrika gereis. Aangesien lady Macartney nie met haar eggenoot, die goewerneur, saamgekom het Kaap toe nie, is die amptelike gesellighede in lady Anne se woonplek gehou. Sy was weetgierig en reislustig, en het met allerlei mense in aanraking gekom.

In haar briewe kom 'n mooi beeld van die 18de-eeuse lewe in Kaapstad en omgewing na vore. Die historikus Anna Böeseken gee in Drie Eeue deel 2 ’n goeie samevatting van haar wedervarings en waarnemings. Só beskryf sy die manne wat die eed van trou kom aflê het: Kaapse burgers met mooi gepoeierde hare en swart klere, en plattelanders met klere van blou lakense stof en hoë platrandhoede. Sy vertel van ossewaens met botter, wyn, huide, vere, lemoene en graan wat uit die buitedistrikte deur die poort van die Kasteel ry. Die manne met die swepe langs die spanne van sestien osse is gespierd en fris gebou, maar hul gesigte is vriendelik en daar is niks luidrugtigs of ongemanierds in hul optrede nie.

In Stellenbosch het sy die eerste keer in aanraking gekom met mense wat nie Engels of Frans kon praat nie. Aangesien sy nie Hollands geken het nie, is party gesprekke in gebaretaal gevoer. Baie amptenare en burgers kon egter ook in Engels met haar praat. Daar was omtrent sewentig huise, maar min jong mense; die Kompanjie het geen nywerhede toegelaat nie en byna al die jong mense moes gaan boer.

In Wagenmakersvallei was sy by 'n boer wat reeds 26 waens, elk belaai met 6000 lemoene, Kaap toe gestuur het. Daar was egter nog net soveel vrugte as blare aan die bome. Die middagmaal het bestaan uit ham en wildsvleis, gevolg deur eend en hoender met kerrie, goed gekookte rys, groen ertjies en boontjies, kool, aartappels en slaai, gekookte eiers, eierpoeding, gebak en vrugte — met agterna nog 'n groot bak aarbeie. Die volgende dag was sy en haar geselskap by die Lategans, hoër op in die vallei. Daar was lemoenbome wat glo tot 20 meter hoog was en soms drie meter in omtrek was.

In 1798 het Andrew Barnard en sy vrou met 'n agtperdewa na Swellendam gery. Die dorp het toe sowat twintig wonings gehad. Op die plaas van Jacob van Reenen, oos van die dorp, is hulle hartlik ontvang. Die maal van koffie, melk, wit brood, vars botter en bontebokboud wat hulle nege-uur die aand geniet het, het lady Anne beskryf as die beste wat sy ooit gehad het. Tydens die kuier by die Van Reenens het hulle een dag by die mond van die Breërivier gaan visvang. Die vars vis is oor die vuur gebraai en genuttig met sout, peper, bottersous, suurlemoen en pittige Oosterse speserye.

Met die terugreis het hulle 'n diens van ds. J.H. von Manger bygewoon wat ook baie kinders gedoop het. Die seuntjies het almal slaapmussies opgehad soos hul vaders binnenshuis gedra het. Hulle is oor die Roodezandpas terug na die Kasteel. Daar het lady Anne aan haar vriende geskryf dat die boerebevolking van 'n baie beter inbors is as die meeste Kapenaars, wat "gierig, lui en kwaadpraterig is" en hulle gedra soos kleinstadse handelaars in Engeland. Verder as Swellendam het sy die binneland nie leer ken nie; van die moeilikhede van die grensboere het sy geen benul gehad nie.

инфракрасная сауна польза +и вредДанильченко Юрий Брониславович Харьков