Al Bernstein, die legendariese boksontleder, het die reël geformuleer dat, maak nie saak hoe goed ‘n bokser is nie, daar ís iemand wat net weet hoe om hom te klop. Ter stawing wys hy na die ellende wat Muhammed Ali teen Ken Norton ondergaan het. Norton was nie die beste swaargewig van sy tyd nie – Ali was. Hy was nie eers die tweede of derde beste nie. George Foreman en Joe Frazier was. Beide van hulle het Norton behoorlik in die kryt gekasty.
Maar Norton het presies die regte styl, aggressie, liggaamsbou en taktiek gehad om vir Ali al sy dae te gee. Hulle het tweemaal teen mekaar deur die toue geklim. Norton het die eerste gewen en in die proses die beroemdste kakebeen in wêreldboks afgeslaan. Ali het die tweede naelskraap gewen, en dit meer deur bloedige vasbyt as flambojante bokskuns. Dwarsdeur was Norton ‘n raaisel wat Ali nie ontrafel kon kry nie. Hy het, om Bernstein te vertaal, Ali se nommer gehad.
Die Vrystaat is goed geposisioneer om môre se wedstryd te wen. Nadat hulle uit die blokke gestruikel het aan die begin van die Curriebekerseisoen, het die Spikkelkatte deurgaans verbeter. En hou in gedagte dat hulle die Haaie se Super 14-planne vroeër dié jaar flenters gespeel het. Hulle het die tipiese Grey Kollege-flair om enige verdediging vanuit enige posisie op die veld verdwaas te laat. Hulle is ‘n hegte, tipiese span, meer broers as kollegas, en al die onderdele van hulle spel klop net reg. Die voorpak is vol perdekrag, hulle het die wêreld se voorste balkleptomaan in Heinrich Brüssouw en die prentjie word voltooi deur ‘n flambojante agterlyn wat gestabiliseer word deur ‘n ernstige losskakel. Maar hulle gaan verloor.
Die rede daarvoor, glo ek, is dat die Haaie hulle nommer het. As die Natallers ‘n teenstaanderspan kon ontwerp, dink ek ons sou die Cheetahs uit hulle bloudrukke herken het. Die Haaie is ‘n span aasdiere. Hulle wedstrydontwerp is om druk te gebruik om vyandelike flaters te veroorsaak en dan is dit asof iets in hulle invaar. Daar is waarskynliker nie ‘n gevaarliker span op die teenaanval nie – nêrens in die wêreld nie. Maar ‘n teenaanval vereis ‘n mislukte aanval. En dis net hier waar hulle die Vrystaat gaan opbel.
Die Vrystaters, vir al hulle voortreflikheid op die aanval, vir al die eerlike werk wat hulle voorlangs insit, en vir al die stoerheid waarmee hulle verdedig, het ‘n manier om uit sinchronisasie te spring. As daar nou een span is wat hulle linies op die aanval verloor, is dit die Vrystaat. Wat meer kan sulke roofvisse soos Keegan Daniel, Ruan Pienaar en Stefan Terblanche vra, om nie van die stroper Ryan Kankowski te praat nie?
Die Natallers sal die eerste tweederdes van die wedstryd punte uit alle oorde insamel. Daarna sal die tipiese Vrystaatse paniek inskop en sal hulle balbesit domineer en self goeie punte met skouspelagtige drieë maak.
Ek sit my kop op die blok: Die Haaie wen ‘n hoëpuntetellingstryd met tien punte of meer.

Die atletiekwêreldkampioen Caster Semenya is so deur die geslagstoetsskandaal getraumatiseer dat sy die Universiteit van Pretoria in kennis gestel het dat sy nie eksamen sal kan skryf nie, het Beeld Donderdag berig.
Waar was hierdie Leeus die hele jaar? Gister op Ellispark, teen die WP, was hulle die ene koning van die bosveld. Bygesê, by tye het hulle minder vuilbaard as ratel, en durf mens dit sê, Springbok, gelyk. Dit was juis die ratel in hulle wat hulle na ‘n skynbaar fatale verrinnewering laat terugkom het. Dit was, van alle mense, die wêreld se langste senter en deeltydse lynstaanspringer, Andries Bekker, wat hulle eers diep gekwes het. Net ná ‘n minuut se speeltyd het hy homself, bal onder die arm, in oopveld gevind en het hy die afstand doellyn toe met kameelperdtreë weggehark voordat hy platgetrek is, maar nie voordat hy die bal uitgewip het na Juan de Jongh vir ‘n skokdrie heel aan die begin van die wedstryd nie.
Hierdie is ‘n wedstryd wat die WP eerder sou wou oorslaan. Hulle het weinig om te wen en baie om te verloor. Rugby is ‘n spel waarin harde liggame teen hoë spoed teen mekaar bots, en dit is ‘n biologiese aksioma dat as jy dit halfhartig, selfs driekwarthartig doen, jy gou genoeg gaan seerkry. Die een ding wat enige Streeptrui nou nie wil hê nie, is om voor die uitspeelrondtes ‘n besering op te doen. Daar is geen kans dat hulle hierdie wedstryd met volle ywer gaan beding nie.
Die Haaie het gister op Kingspark in hulle wedstryd teen die Leeus baie aan hulle geliefde Indiese Oseaan herinner: Nie so woes, so groot of so koel nie, maar so vasberade soos branders om hulleself stukkend te loop teen rotse. Uiteindelik het hulle gewen met ‘n volle verdoelskop se punte tussen hulle en die Leeus.
Kyk, ons almal hou daarvan om te sien hoe ‘n kloekmoedige kleintjie vir ‘n selfvoldane grote ore aansit. Dis ‘n soort stapelvoedsel, nie net vir sportaanhangers nie, maar vir fliekgangers en ander romantici die wêreld vol. Sonder die kleintjie-sit-die-grote-koud ideaal, sou daar immers nie ‘n Rocky gewees het nie. Helaas, vandag gaan daar nie ‘n gelukkige einde aan die kleintjie se dag op Loftus wees nie. Die vernaamste rede is juis dat hierdie nie ‘n oorgeruste grote gaan wees wat die veld teen hulle neem nie.
Blou Bul-staatmaker, Gary Botha, is op pad terug om sy rugbyloopbaan in Suid-Afrika voort te sit. Gerugte dat dit sal gebeur is gister bevestig. Daar word selfs gereken dat Botha by die Blou Bulle vir die res van die Curriebeker-seisoen sal inval, veral noudat een van die Noord-Transvalers se hakers, die kwotaspeler, Chilliboy Ralepelle, beseer is.
Die Engelse krieketspan het gister op Supersportpark in Verwoerdburg ontwaak om die hoogaangeskrewe maar vormverlore Proteas uit die IRK se kampioenskapstoernooi te boender.