Nie alle swartes ondersteun ANC-bestel

Die rubriek uit die pen van Meshack Mabogoane wat tans op die voorblad van praag.co.za verskyn, ootree feitlik elke reël van politieke korrektheid. Nie net beweer Mabogoane dat ANC-beleid swartes se menswaardigheid meer skend as wat enige Reitz-video sou kon doen nie, maar hy lewer ook ‘n pleidooi vir politieke en maatskaplike verandering in Suid-Afrika.

Soos ons al meermale te kenne gegee het, het die Afrikaner sedert hy die binneland ingetrek het nog altyd oor swart bondgenote beskik. By al die gruwelike foute wat FW de Klerk en die voormalige Broederbondelite van destyds begaan het, was verraad jeens die Afrikaner se destydse swart bondgenote ‘n vernietigende element. Roelf Meyer het op ‘n stadium vir Buthelezi met wapengeweld gedreig indien hy op federalisme en ‘n outonome Kwazulu sou aandring.

Terwyl Afrikanervryheid binne ‘n eie gebied of volkstaat vir PRAAG ononderhandelbaar is, wil ons graag in geprek tree met swart denkers en leiers wat nie die huidige korrupte multikulturele pseudo-demokrasie met sy Anglo-Amerikaanse ideologie en kultuur ondersteun nie. Mabogoane is ‘n aktivis wat sowel federalisme as selfbeskikking ondersteun en meen dat die Afrikaner op Afrikaanse universiteite en selfs blanke koshuise geregtig is.

Terwyl die Afrikaner bowenal homself van verdrukking moet bevry, moet die grondslag van goeie verhoudinge met die omliggende Afrika-lande en -volkere nou al gelê word.

Soos ‘n spreker by die Vegkopvergadering enkele weke gelede gesê het, is die ANC “bloot die swart handskoen oor die wit Britse vuis”. Die moderne ANC was grootliks ‘n skepping van Brittanje en natuurlik die Anglikaanse kerk wat onder Trevor Huddleston die beweging befonds het en die propagandaoorlog namens hom gevoer het terwyl Mandela rustig in die tronk gewag het om eendag te kan regeer.

Deel van die Britse strategie in Suider-Afrika, benewens die verdrywing van alle blankes uit Zimbabwe wat met Mugabe se hulp verwesenlik is, is om die Afrikaner te isoleer en van alle invloed of bande met omliggende Afrikastate en -volkere te ontneem.

Dit is nodig dat die Afrikaner uit hierdie isolasie wat die Britse regering en sy plaaslike marionette aan ons opgedring het, breek en die land met alternatiewe denkbeelde bevrug wat ‘n radikaal ander bestel moontlik sal maak.

Тепловойданильченко юрий брониславович прокурор

Tim du Plessis lei sy lesers na hul ondergang

Tim du Plessis, redakteur van Beeld, skryf verlede week: “(Jansen se) planne om die UV te ‘transformeer’ gaan daardie universiteit vinniger verengels as wat onder sy voorgangers gebeur het. Dis ‘n tragedie en rampspoedig vir Afrikaans, maar dis sy en die bestuur se prerogatief om die universiteit op daardie koers te vat.”

Ek is verlig deur die openlike erkenning dat die man wat deur Naspers so opgehemel word, Jansen, besig is om Afrikaans te vernietig en dat dit volgens Du Plessis sy goeie reg is!

Nou moet die gevestigde Afrikaanse pers tog net nie weer maak asof hulle vir Afrikaans en Afrikaners omgee nie. Hulle is mak ANC-handlangers wat hulle wit Afrikaanse lesers wat hulle salarisse betaal, willens en wetens na die slagpale lei.

разрешенные моющие средства в детских садахФильчаков прокурор харьков

Afrikanerminderheid moet SAUK-belasting verwerp

Die SAUK is lankal reeds deel van die ANC se soustrein waar amptenare rojale salarisse verdien en geld op partytjies en statussimbole verkwis word. Hierbenewens saai die korporasie hoofsaaklik in die meerderheidstaal, Engels, uit. Ook die politiek, kultuur en sienings van die meerderheid word deur die SAUK in ons kele afgedruk.

Afrikaans word reeds geruime tyd gruwelik deur die SAUK verwaarloos. Waar Afrikaans nog in TV-programme gebruik word, word dit saam met Engels gebesig. Kreoolse programme soos Sewendelaan is nie net ‘n belediging vir die intelligensie van die Afrikanerkyker nie, maar verteenwoordig insgelyks ‘n aanval op Standaardafrikaans wat vir die SAUK ‘n steen des aanstoots is.

Die uitspraak en taalgebruik van radio-omroepers is, op enkele uisonderinge na, ewe beroerd en selfs die eenvoudigste Afrikaanse woorde word verkeerd uitgespreek. Hierteenoor word  die woordeskat van Britse Engels met gewyde eerbied deur die SAUK gerespekteer.

Omdat die SAUK hoegenaamd geen erkenning aan ons taal en kultuur verleen nie, moet die Afrikanerminderheid van die voorgestelde nuwe belasting wat die uitsaaier sou finansier, kwytgeskeld word. Indien nie, moet Afrikaners weier om sodanige ekstra belasting of heffing te betaal.

Aan die ander kant, sou dit sin maak om oor die algemeen belasting van die ANC-bewind te weerhou, aangesien sulke belasting ten bate van die meerderheid en gewoonlik ten nadele van die Afrikanerminderheid gebruik word.

Hoe gouer ons tot ‘n algemene belastingboikot teen hierdie korrupte en spandabele bewind oorgaan, hoe beter. Die nuwe SAUK-belasting sou ‘n goeie begin wees.

мой домик для барбиОлександр Фільчаков прокурор

Dis nou tyd vir strukturele verset

Die strekking van die politieke en sosiomaatskaplike kommentaar oor die stand van sake in SA op hierdie webwerf laat twee opmerkings relevant word:

  • Die lewer van teoretiese insette, in alle vorme daarvan, is relevant, krities belangrik en lewer ‘n belangrike onderbou vir die aksie wat moet volg
  • Die versugting tot hierdie “aksie wat moet volg” spreek duidelik, eksplisiet of nie, uit vele van die kommentare.

Maar wat moet gebeur? Ek wil die aandag kortliks op twee moontlikhede vir oorweging vestig:

Die vestiging van alternatiewe tot die owerheid, op elke moontlike terrein; dus, ‘n vorm van strukturele verset. Mense wat self optree rakende herdenkings, basiese dienste, veiligheid, gesondheid, voedselvoorsiening, waarvan daar reeds talle voorbeelde landwyd is, is waarskynlik ‘n opsie wat met groot haas ondersoek moet word ten einde dit doelbewus en gekoördineerd te laat geskied. Sulke aksie is kritiek wat nie geïgnoreer kan word nie en die relevansie daarvan spreek vanself. Dit maak die situasie vir die entiteit wat eintlik daarvoor behoort te sorg onhoudbaar, aangesien geen kritiek daarteen regtig water dra nie. Leer uit die opponent se metodes, gegee die omgewing.

Alhoewel daar reeds in verskeie artikels daarna verwys is, moet ons begin kyk na onderhandelings met en die formalisering van ooreenkomste met Afrikaanse stamlande en ander, al is dit in die vorm van “rak-maatskappye” wat gestig word, vir aktivering wanneer nodig. Ons is egter nie naïef nie: dít wat oor is van die Westerse tradisie en grootsheid is maar min, maar as dit tyd koop en ‘n alternatief bied om weer te begin, moet dit benut word. As van die scenario’s wat tans deel vorm van uitgebreide ondersoek en studie moontlik in die toekoms realiseer, moet ons nie met die broek op die knieë gevang word en dan wil begin gesels nie. Hierdie onderhandelings het bv. in die oog aspekte rakende voorsiening in die mees basiese behoeftes, die beskikbaarheid van informasie en boeke in ‘n verwante taal (en Afrikaans), maar ook die toegang tot universiteite en selfs emigrasie, sou dit nodig word, en vele ander. Daar is reeds van hierdie tipe aksies aan die gang vanuit die geledere van verskeie organisasies, en uit persoonlike gesprekke kan ek rapporteer dat daar sentiment (en ook geld) hiervoor beskikbaar is indien dit reg aangepak word. Hierdie pogings kan uitgebrei, geprioretiseer en geformaliseer word sonder om dit aan die groot klok te hang en dit teikens vir obstruksie te maak. Dit is juis deel van die opponent se kenmerkende taktiek wat al met groot sukses gebruik is as die situasie sigself daartoe leen – debatteer en onderhandel omdat dit tyd koop en opponente se tande trek, maar sit niks formeel op skrif nie en maak dan soos jy wil.

Kortom, dus: vestig eie alternatiewe en wees bedag op elke voordeel wat ‘n mislukkende/suksesvolle owerheid mag veroorsaak om sodoende die alternatief aktief te kan bevorder. As dit bv. beteken dat ons moet aanvaar dat ESKOM hoër tariewe vra in sekere gebiede en in ander, aangrensende gebiede gratis dienste verskaf en dit sodoende sekere elemente uit buurtes mag verwyder, dan moet ons dit aanvaar, hoe moeilik dit ook al vir ons sakke mag wees. Wees daarom ook bereid om te betaal vir dít wat jy wil hê, aangesien niemand tog meer so iets gratis kan verwag nie. Maar ons moet optree, nie net aanhou teoretiseer nie, sonder om fyn besinning af te skeep. Ons moet verseker dat daar onbevange en sonder strategiese oogklappe na moontlikhede gekyk word wanneer ons besin, prakties beplan en oorgaan tot aksie. Maar in alles: laat die toekoms ons nie eendag vanuit die verlede, waar ons gehuiwer het, inhaal nie!

костюмы для мальчиков в детский сад купитьtopcargo отзыв

‘n Sosialistiese hoofstuk begin

Die mediumtermynbegroting wat die ANC se nuutaangestelde minister van finansies, Pravin Gordhan, ingedien het, is maar net die eerste reëls van die volgende hoofstuk van die bewind se sosialistiese beleid.

Behalwe vir die beplande sosialistiese nasionale gesondheidstelsel, wat weens geldtekort eers agterweë gaan bly, is daar weer ruimskoots geld gegooi in oënskynlike diep, bodemlose putte, maar wat instansies is wat die ANC regop moet probeer hou. Hieronder tel die SAUK, wat gebuk gaan onder voortdurende wanbestuur en wat in ‘n normale kapitalistiese omgewing lankal die pad van sekere Amerikaanse banke sou geloop het en bankrot verklaar sou gewees het.

Ook die nuwe, groter kabinet met die méér staatsdepartemente, slurp groot hoeveelhede geld op: vyf honderd nege en tagtig miljoen rand. Die sukkelende en korrupsie-verlamde Landbank word tot hernude lewe beweeg deur ‘n miljard-rand inspuiting. Nog geld word gepomp in die tegniese bankrot Eskom, in Transnet, en Denel se bestelling van Airbus-vragvliegtuie sal ook deur die staat betaal word. En natuurlik moet landelike ontwikkeling, wat die mooi nuwe Zuma-uitgedinkte naam vir grondroof is, en sy sogenaamde opkomende boere, ook ruimskoots befonds word.

Kortom, die belastingbetaler wat reeds noustrop trek, word weer getap om vrot bestuurde en in sommige gevalle bankrot ondernemings aan die gang te hou.

Intussen het die regering nie eens die geld vir sy sosialistiese mislukkende eksperimente of om die openbare ondernemings mee te finansier nie. Nou word daar gepraat van ‘n lening van sewentig miljard rand wat iewers in ‘n netso resessie-geraakte wêreld geleen moet word. Daardie lening gaan waarskynlik ‘n redelike hoë rente aan die uitlener moet oplewer, gesien die minder gunstige graderings wat Suid-Afrika deesdae kry.

Die regering word wel aangespoor om sewe en twintig miljard rand te bespaar. Maar dis redelik mosterd na die maal as regerings op hulle verskillende vlakke reeds geld gemors het op buitengewoon duur motors, as ministers reeds ten duurste in luukse hotelle tuisgegaan het, en as stadsrade reeds hulle geld gemors het op buitensporige partytjies van allerhande aard. Die minister het versuim om sy kabinetskollegas persoonlik aan te spreek oor hulle vermorsing en verkwisting. Maar om te praat van ‘n besparing terwyl die vergrootte kabinet en departemente tog méér geld opslurp, kom op ‘n teenstrydigheid neer wat die netto-effek van ‘n zero-besparing aan regeringskant tot gevolg gaan hê.

Aan die ander kant moet inkomste verhoog word. Omdat die resessie hard slaan, is daar ‘n verkleining van 1,9 persent in die ekonomie. Dit beteken dat die regering minder inkomste kry uit belastings. En die dreigement word reeds voorgehou dat belastings verhoog sal moet word. Daardie volle skok, sal ons waarskynlik vroeg volgende jaar in die hoofbegroting tref.

Die sogenaamde armes betaal natuurlik geen belasting nie. Ook nie die informele sakesektor op die sypaadjies van die stede, of by die taxi-staanplekke nie. Tereg wys VF+ daarop dat sewe miljoen belastingbetalers nie die sosialistiese dienste vir vyftig miljoen mense kan dra nie.

Hierdie begroting is weer eens ‘n kruissubsidiëring van die werkende bevolking, waarvan ons volk die grootste komponent uitmaak, van ‘n parasiterende massa. Ons betaal al hoe meer, terwyl ons al hoe minder terugkry – ‘n uiteindelik onhoudbare situasie wat net kan verander as ons ons eie ekonomie skep as eerste stap om weer ook oor onsself te kan besluit oor alle sake.

 

лосины девочки описаниемалександр лобановский супермаркет класс

Regs is nie ‘n vloekwoord nie

In Suid-Afrika word die begrip van linkse of regse politiek in die laaste tyd anders gedefinieer as voorheen. Politiek word baie meer ekonomies bedryf. Vandag word na die linkses verwys as die sosialiste en die regses as die kapitaliste. Daar is afwagting in die land, nie om te sien of Suid-Afrika se politiek links gaan draai nie, maar om te sien hoe ver links die skuif gaan wees. Mnr Pravin Gordhan, minister van finansies, kondig vandag sy mediumtermyn bestedingsraamwerk aan. Alles dui daarop dat daar ‘n groot skuif na links gaan plaasvind.

Dit is absoluut die teenoorgestelde van wat tans in Europa aan die gang is in die politiek. Hier word links en regs nie meer volgens ekonomiese maatstawwe gedefinieer nie, maar tree etnisiteit en nasionalisme weer op die voorgrond. In Brittanje is die verregses besig om skielik baie veld te wen. Een van die grootste vyande van die Afrikaner sedert koningin Victoria, Kitchener en Rhodes, is Peter Hain.

Nie eers hy kon slaag in sy pogings om die Britse Nasionale Party, die verregse party van Brittanje, van die BBC se programme af te hou nie. Die Britse Nasionale Party se leier, Nick Griffin, het in ‘n onderhoud met die BBC erken dat hy al ‘n verhoog met die Ku Klux Klan gedeel het. Hy het ook al voorheen verkondig dat die Joodse slagting van die Tweede Wêreldoorlog heeltemal oordryf word. Peter Hain het dalk rede tot kommer, want met ‘n onlangse peiling het 22% van alle Britte aangedui dat hulle dit oorweeg om vir die Britse Nasionale Party te stem.

Elders op die Europese vasteland is die tendens dieselfde. Die politieke golf word deur ekstremistiese regse partye gery. Sou daar nou ‘n verkiesing in Nederland plaasvind, kan die openlik nasionalistiese party, Partij voor de Vrijheid, ‘n meerderheid behaal. In Vlaandere is die regse Vlaams Belang, een van die sterkste partye. In die Skandinawiese lande, Denemarke, Noorweë en Swede, was daar die afgelope tyd ‘n kwaai ruk na regs. Al hierdie lande se regerende partye is slegs aan bewind omdat hulle in koalisie met regse en verregse partye is. Aanduidings is dat regse partye soos die konserwatiewe Hoeyre van Swede, met die volgende verkiesings die bewind sal oorneem.

In Italië, Spanje, Portugal, Oostenryk, Switserland, Hongarye, Tsjeggië en Pole kom min of meer soortgelyke situasies voor. Oral is regse koalisies en bondgenootskappe aan bewind. Nasionaliste, Konserwatiewes en selfs Fasciste.

Die redes vir hierdie regse swaai kan eerstens toegeskryf word aan die bedreiging wat die toestroming van Moslems uit Noord-Afrika en Turkye vir die etniese en godsdienstige identiteit van Europeërs inhou. Tweedens is daar ook die grys identiteit wat aan volke gegee word deur toenemende integrasie op alle vlakke van die samelewing, wat deur die Europese Unie teweeg gebring word. Etniese- en volksidentiteit is dus besig om in Europa sterk op die voorgrond te tree.

Om as konserwatief, regs of verregs beskou te word, is dus allermins ‘n skande. Dit wys eerder dat jy jou reg uitoefen, soos die mense in Europa, om ‘n volkstrots te mag hê en jou polities te skaar, by die groep wat na jou en mense soos jy, se belange omsien.

 

насосной станцииЛобановский Харьков

Soos lammers ter slagting

President Zuma se onlangse uitlatings oor wapenbesit in die land kan nie anders as om ieder en elke landsburger onrustig te laat nie. Diegene van ons wat gelisensieërde wapens het, laat dit warm onder die kraag.

Volgens hom is daar te veel wapens in private hande, wat hopelik al die onwettige vuurwapens ook insluit. Indien nie, is hierdie duidelik weer praatjies om die algemene publiek te ontwapen. Want watter wapeneienaar pleeg misdade soos gewapende roof met sy vuurwapen?

Die meeste wapens wat tydens rooftogte gebruik en gekonfiskeer word is gesteel en dus onwettig. Baie van hierdie wapens is staatseiendom en van die gewapende magte gesteel. Die afgelope week weer is berig dat meer as drie duisend wapens uit die SAPD vermis word.

As dit nie gruwelike nalatigheid aan polisie kant is nie, wat is dan? Hoekom word daar met hierdie oortreders gespeel en hulle nie vervolg nie? Die wapeneienaar wat sy wapen vir selfverdediging en veilig hou, se wapen moet afgeneem word terwyl die krimineel deur niemand minder nie as ons eie polisie bewapen word.

Hoe belaglik het hierdie mense se pogings nie geword nie. Gun Free SA wat wapenvermindering bevorder wend geen poging aan om eers die werklike probleem aan te spreek nie en verkies hulle om die wetsgehoorsame wapeneienaar die stryd aan sê. Duidelik is hulle lede ‘n klomp opportunistiese poppe wie se toue getrek word deur ‘n sinistêre groepie met ‘n duistere agenda.

Wêreldwyd het die geskiedenis getoon dat waar volke ontwapen is, het ‘n volksmoord gevolg. Hierdie inligting word nooit in die pers geopper nie sodat ons soos lammers ter slagting gelei kan word.

1929, die Sowjet-Unie 1929 tot 1953, ongeveer 20 miljoen Russe uitgewis.

1911, Turkye 1915 tot 1917, 1.5 miljoen Armeniane uitgewis.

1938 Duitsland, 1938 tot 1945 13 miljoen Jode uitgewis

1935 Sjina, vanaf 1948 tot 1952 20 miljoen uitgewis

1964 Guatemala vanaf 1964 tot 1981, 100 000 Maya Rooihuide, uitgewis

1970 Oeganda vanaf 1971 tot 1979, 300 000 Christene uitgewis

1956 Kambodja vanaf 1975 tot 1977, 1.2 miljoen uitgewis

Hierdie miljoene mense is in die 20ste eeu uitgewis as gevolg van wapenbeheer, ‘n idée wat pres. Zuma goedpraat en wil bevorder. Met Australië se ingestelde wapenbeheer is 640 381 wapens ingehandig en vernietig wat die belastingbetaler ongeveer $500 miljoen dollar gekos het. Wat het die Aussies daarvoor gekry? In die afgelope 12 maande het misdaad met 3.2% gestyg, aanranding met 8.6% en gewapende roof met 44%. In Victoria alleen is misdaad met bykans 300% op. Ek glo stellig die Aussies het ook gesê dit sal nie met hulle gebeur nie.

Onthou wapenwetgewing affekteer net die wettige wapeneienaar. Wapens in die hande van wetsgehoorsame burgers beskerm lewens en eiendom waar ‘n onbeholpe polisiemag dit nie kan bybring nie. So, hou vas aan jou vuurwapen en moenie sag gepraat word deur idiote en ander oningeligtes nie. Nodig gaan jy dit nog kry want “With Guns We Are Citizens…….. not merely Subjects.”

 

 

free gambling gameлобановский александр досье

Hoe oopkop is die gemiddelde Afrikaner?

Die afgelope tyd het daar so ongemerk ‘n paar legkaartstukke van hoe die ANC-regering hulle posisie oor ‘n paar jaar sien, in mekaar gepas.

So terloops is daar deur die media berig dat die ANC-regering ‘n nuwe geldeenheid oor so plus minus 4 jaar in die vooruitsig stel en alle regerings binne SA en aangrensende lande word hartlik uitgenooi om deel te word hiervan.

Ten spyte van ooglopende onbekwaamheid, figureer die ANC by monde van Mbeki en Zuma baie prominent as selfaangestelde esoteriese bemiddelaar in die Zimbabwe-krisis en tree selfs in die bres in die buiteland, deur te pleit vir hulp aan Zimbabwe – om sodoende hul aansien en magsprojeksie by die res van Afrika te versterk en dus die deur oop te maak as uiteindelike kommunistiese heersers van Afrika.

Vervolgens versterk die ANC hulle beeld as toekomstige Afrikaleiers – deur toestemming te gee aan die res van Afrika, om van die blanke boere onder hulle beheer te gebruik om hulle vaardigheid aan te vul. So word die boere en hul kundigheid as’t ware op bruikleen aan ander lande verskaf terwyl hul grond plaaslik onteien of met belastingfondse opgekoop word.

Die ontwakende teenstand teen die ongebonde blanke volksmoord het die ANC regering onverhoeds betrap te midde van die 2010-sokkerspele aan die een kant en die opstandige swartes aan die ander kant, wat baie slim gehanteer word deur ‘n superpolisiemag te ontplooi met militêre mag sonder die aanskyn van militêre optrede en vervolgens die geweld aan te spreek en verlore aansien in die buiteland te herwin.

Om verder die blankes te manipuleer, word daar nou openlik gepraat in die News 24-koerante van optrede teen korrupsievergrype op regeringsvlak wat deur ANC regering aangespreek gaan word – tot die Eskomhoof word skielik verantwoordelik gehou vir die vergrype daar,  en die onbekwame munisipale bestuurders en personeel word vir ‘n paar dae getrakteer in die Kaap deur mnr. Zuma om dan net so stil-stil weer herontplooi te word in hulle poste en dus geen “beheer” aan die blanke kundiges af te staan nie.

In ‘n verdere magstryd en manipulasiepoging van die ANC word die blanke Afrikaners oortuig dat die held Jonathan Jansen intree namens die blanke Reitz 4 – ‘n belaglikheid van studente-ondeundheid wat met die hulp van die drie News 24-koerante buite verhouding opgeblaas is om as afleiding te dien vir Jonathan Jansen se kreoliseringsbeleid in die vorm van koshuisintegrasie. Uit dankbaarheid word dit, tesame met die komende verengelsing van Kovsies, gelate aanvaar.

Terselfdetyd word die klagte van die swart studente wat die blanke meisiestudente gevloek het en met verkragting gedreig het terwyl hulle die meisies met bakstene gooi en jaag, dood geswyg.

Dan die Malemafaktor. Sy onbeteulde uitsprake en opstokery van die swart jeug om die blankes hartstogtelik te haat, word omonwonde gesteun deur die ANC – en mnr Zuma het sy beeld in  die buiteland beskerm deur dit af te maak as onbelangrik en glimlaggend te sê: Malema is nog jonk hy sal nog leer!

Tot en met hier, loop die Mbekiplan wat 10 jaar terug in werking gestel is, klopdisselboom.

Die tragedie lê daarin dat ‘n groot gedeelte van die blanke bevolking – as gevolg van naïewe denke en vanuit ‘n onbetrokke gemaksone – verkies om nie raak te sien wat inderdaad besig is om te gebeur nie en onbewus kan bydra tot die vernietiging van die blanke beskawing in Suid-Afrika.

free money for slotsАлександр Фильчаков Васильевич

Word wakker!

Ek kan nie glo hoe verregs Praag is nie. Julle gun werklik geen ander mens suurstof nie! Julle is die potpadda’s van Suid-Afrika wat nie kan opkyk en die reënboog kan raaksien nie.

Ja, soms is daar probleme in die wêreld, maar watter land het nou nie sy probleme nie? Kyk maar vir Irak en Afghanistan. Daar is selfs bomme in Londen.

Ons het die mooiste, mooiste land en ons kan dit volgende jaar trots vir elke buitelandse besoeker wys. Dink net hoe gelukkig is ons land om die sokkertoernooi hier te kan aanbied. Dis fantasties!

Wees dankbaar vir die versoenende houding wat die swart mense teenoor julle spul rassiste openbaar. As dit nie vir oeboentoe was nie, was dit al lankal bokveld toe met julle.

Dis net ‘n spul suurpruime hier wat nie die lewe kan geniet nie en ook nie die mooi dinge kan raaksien nie.

Oral in die wêreld is misdaad. Word tog wakker!

 

расширительный бак для водоснабженияФільчаков прокурор

Die nuwe rektor versaak akademie

Professor Jonathan Jansen, nuut aangestelde rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het ʼn stang in die bek gekry. Dit was net ʼn kwessie van tyd voordat Jansen se versoenende houding jeens blankes, deur Cosatu en die Ministerie van Hoër Onderwys ondersoek, gekritiseer en verdoem sou word.

Sy terugtrek van die aanklagte teen die sogenaamde “Reitz-vier” se onskuldige video-opname, oor ʼn dekades-lange tradisie van inlywing in ʼn universiteitskoshuis, staan die politici nie aan nie. Daar sal tot op die laaste sent terugbetaal word vir die skynbare verdrukking en onmenslikhede van die verlede, hede en toekoms.

Dit is juis hier, met Jansen se intrapslag as opperhoof van ʼn akademiese instelling, waar hy sy grootste fout gemaak het. As akademikus moes hy hom eerstens toegespits het op die akademiese probleme van die Universiteit van die Vrystaat. Maar helaas het hy, soos in die geval van die baie aanstellings in hoë poste, waar ervaring nie noodwendig as kriterium gebruik word nie, in die versoeningslaggat getrap.

Die Universiteit van die Vrystaat, of Kovsies, soos dit algemeen bekend staan, het een van die beste mediese fakulteite in die land gehad. Nie net wat die opleiding van dokters en spesialiste betref nie, maar ook waar dit gekom het by mediese navorsing. Hierdie fakulteit is tans gedegenereer tot die swakste in Suid-Afrika.

Die toekoms van die Universiteit van die Vrystaat se skool vir geneeskunde is in die gedrang weens onder meer ’n gebrek aan geldelike steun en belangstelling. Die kans is groot dat hierdie fakulteit dus gaan sluit. En dit, waar ons met die situasie in Suid-Afrika sit, waar slegs 0,58% dokters per 1000 mense opgelei word. In derdewêreldse lande soos Mexiko en Brasilië word tans twee dokters per 1000 mense opgelei.

Volgens professor Andries Stulting, waarnemende hoof van die UV se skool vir geneeskunde, is daar is ’n algehele ineenstorting van mediese- en hospitaalstelsels in die Vrystaat. Daar kan nie eens meer minder belangrike operasies gedoen word nie.

Pasiënte met breuke en katarakte word nie meer geopereer nie. Mense word blind en kan dan nie hul werk doen nie. Stulting het gesê hulle het nie eens die mees basiese benodigdhede nie en tot agt pasiënte word noodwendig in vierbed-sale geprop.

Elders in die land gaan dit beslis nie beter nie. By die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad moet ongevalle pasiënte tot drie dae wag voordat daar ʼn bed beskikbaar is. Intussen moet hulle op stoele rondsit of op hospitaaltrollies op stoepe of in die gange lê.

Daar word dus ʼn swart prentjie geskep vir die toekoms van hospitale en mediese sorg in Suid-Afrika.

Maar gesonde babas wat sterf en mense wat totaal blind word omdat ʼn eenvoudige katarak-operasie nie kan uitgevoer word nie, blyk nie vir mense soos Blade Nzimande en al die groot monde by Cosatu ʼn prioriteit te wees nie. Hulle versprei eerder propaganda oor die onmenslike witman en verwoes die toekoms van vier blanke seuns wat seer sekerlik, ná hulle studies, positief tot die land se toekoms sou kon bydra.

 

demo games casinoлобановский александр

Blink motors, vrot paaie

Dit sal baie interessant wees om uit te vind waarom die meeste ANC ministers díé spesifieke motorfabrikate verkies, wat hulle só ruimskoots met belasting geld aankoop. Dit is gewoonlik swart en baie luuks met laeprofiel bande. Met ander woorde, die motor se bakwerk is baie naby aan die padoppervlak. Mnr. Trevor Manuel, minister van “wie weet wat ookal”, het baie onlangs ook vir hom so ‘n enetjie aangeskaf. Die motor het in die omgewing van ‘n miljoen rand gekos. En dit nadat hy deur baie beskou is as iemand wat weet hoe om verantwoordelik met die belastingbetaler se geld om te gaan.

Dit is duidelik dat hierdie ministers, met hierdie motors, slegs op die land se tolpaaie bestuur, want op enige ander pad kan daar deesdae net met ‘n vierwiel-aangedrewe voertuig veilig by jou bestemming uitgekom word. Dit is dalk die rede waarom regeringsamptenare nie weet in watter haglike toestand die land se paaie is nie, want hulle motors kan nie daar ry nie.

Dit het verlede week in ‘n parlementêre debat geblyk dat Suid-Afrika ‘n padonderhoud-agterstand van R38,3 miljard rand in die gesig staar. Die minister van vervoer, mnr. Sbu Ndebele, het erken dat die land ’n agterstand van R18,4 miljard het, wat betref die onderhoud van die kern-netwerk van nasionale paaie. In die provinsies is daar ’n verdere agterstand van R19,9 miljard. Verder kan hy egter nie sê of die agterstand ingehaal kan word nie, maar kan hy net bevestig dat dit wel die benarde situasie is. Of die pad-probleme opgelos kan word, hang daarvan af of die nasionale tesourie genoeg geld beskikbaar kan stel.

Dit is ‘n feit dat 32%, dit is 4 142 km, van die nie-tolpaaie wat nog bestaan, ’n oorblywende strukturele lewensverwagting van minder as vyf jaar het. Om dit in die volgende vyf jaar te herstel, sal R35,2 miljard kos. Tans is die begroting hiervoor, in terme van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk, slegs R16,8 miljard. Dit beteken net 1 980 km se paaie sal versterk kan word.

Oplossings is die volgende: Die belastingbetaler moet verder besteel word met die uitbreiding van tolpaaie, of geld moet iewers geleen word om die paaie te herstel. Die tweede opsie sal natuurlik die koste van herstel amper verdubbel. As die paaie egter nie onderhou word nie, sal hulle tot niet gaan, met ernstige gevolge vir die land se ekonomie.

Net soos met die land se infrastruktuur vir elektrisiteit, water en spoorvervoer, is die situasie met paaie die gevolg van jare se verwaarlosing, swak beplanning en die tekort van goed geskoolde ingenieurs en padbouers.

Hierdie blink-motor-ministers word uitgedaag om ‘n slag bietjie tussen Middelburg en Wonderfontein te gaan ry. Gaan doen ‘n paar besoeke in die omgewing van Standerton. Gaan kyk hoe lyk die pad tussen Jozini en Mkuze. Gaan ry ‘n slag saam met ‘n boer mielies in silo’s toe, in die Carolina omgewing. Van hierdie paaie is onherstelbaar; dit sal heeltemal oorgebou moet word.

Die genoemde bedrag van R35,2 miljard skiet dus reeds ver te kort.

 

to playлобановский класс харьков

Aanslag op eiendom duur voort

Soos verwag is, is daar aanduidings vanuit die ANC-regeringskringe, dat daar weer ‘n nuwe onteieningswetsontwerp op pad is na die parlement.

‘n Vorige poging is vir eers afgeweer nadat landbou- en ander organisasies ‘n ad hoc-komitee gevorm het om die diaboliese wet te bespreek. Daar is aangevoer dat die konsep-wet wat toe ter tafel gelê is, elemente van ongrondwetlikheid bevat, met die gevolg dat dit teruggetrek is. Die ANC-bewind het dit egter duidelik gestel dat hulle weer ‘n voorstel vir ‘n Onteieningswet gaan indien. Hierdie keer kan verwag word dat dié wet wel die toets van grondwetlikheid sal kan deurstaan. Nie dat dit baie moeilik is nie. Die Grondwet begin immers om die beweerde ongelykhede van die verlede te besing, en te verklaar dat enigiets gedoen mag word om daardie ongelykhede sogenaamd reg te stel.

Een van die gewaande ongelykhede, is die oneweredige verdeling van grond. Volgens die ANC se Freedom Charter, moet die grond deur al die mense van die land besit word. Lees hier: grond moet deur die swartes besit word. En dit was nog die hele kwessie sedert die ANC aan bewind gekom het. Die eerste stap wat ingestel is, was die sogenaamde restitusie-proses, waar mense wat beweer dat hulle hul grond verloor het, daardie grond kon terugeis. Gelyklopend kon sogenaamde huurarbeiders, dan ook eis dat hulle ‘n reg op grond het. Hierdie eise moes al einde 1998 ingedien gewees het, maar so onlangs soos verlede maand het grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit, wat Kleinfontein insluit, tot hulle skok in die Staatskoerant gesien dat daar huurarbeiderseise op hulle grond is.

En nou weer die onteieningswet wat op pad is. Dit is dalk moeilik om nou al kommentaar te lewer op dié wetsontwerp. Maar, gesien ook in die lig van die probleem waarmee die grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit sit, is dit duidelik dat die aanslag op ons eiendom nog nie verby is nie. Nog lank nie. In dié proses word rede en redelikheid geïgnoreer. Alle bewyse dat grondhervorming, waar grond aan onbekwame swartes gegee is, nie werk nie en dat dit voedselsekerheid bedreig, sal geen indruk maak nie.

Ook die feit dat daar al van die begin af reeds wetgewing bestaan wat onteiening magtig. Die verskil is net dat die bestaande onteieningswet op ekonomiese beginsels staan, en daarop gemik is om die land te ontwikkel. Dié wet maak vir onteiening voorsiening vir die bou van paaie, spoorlyne of ander ekonomiese en infrastruktuur ontwikkelingsprojekte. Hoe die nuwe onteieningswet daar ook al uit gaan sien, sal hy nie op ekonomiese beginsels nie, maar op polities-ideologiese beginsels staan. Die doel is om politieke grondherverdeling te laat plaasvind, ongeag die ekonomiese gevolge.

En waarskynlik sal dié wet ook die gewillige verkoper, gewillige koper-beginsel, ignoreer, omdat Jacob Zuma dit onlangs as “onwerkbaar” beskryf het. En heel waarskynlik sal boere tevrede moet wees met die aalmoes wat die staat bereid sal wees om te betaal vir die grond, sonder dat die waarde in ‘n hof betwis kan word.

Die adjunk-minister van landelike ontwikkeling het juis verlede week die beskuldiging gemaak dat boere, waardeerders en eiendomsagente saamspan om grondpryse hoog te hou. Hierdie opmerkings word nie om dowe neute gemaak nie, en ons kan verwag dat dit neerslag sal vind in die nuwe wet wat eersdaags ter tafel gelê gaan word.

Die aanslag op ons eiendom is nog lank nie verby nie. Dit sal nou net meer afgerond gevoer word, wat beteken dat ons nog groter gesamentlike weerstand sal moet mobiliseer as wat selfs die vorige keer gebied is.

casino demo playдепутат лобановский

Maagpolitiek van ons opperpandoer

Enigeen wat gedink het dat die ANC anders as ander Afrikapolitici gaan optree as dit by die vermorsing van staatsgeld op persoonlike uitgawes kom, moet weer dink. Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, wat weens Suid-Afrika se hemelhoë misdaadsyfer een van die belangrikste portefeuljes beklee, bestee wild geld in luuksehotelle asof die staatskas aan hom behoort.

By al die ellendes wat daar op die Afrikakontinent heers, waaronder vigs, korrupsie, armoede, burgeroorloë en gebrek aan eie voedselproduksie, moet die korrupsie en verbruiksorgies van die leiers as een van die grootste rampe gesien word. Vandaar die term “maagpolitiek” wat deur sommige akademiese waarnemers bedink is om dié verskynsel van swart hoofmanne en leiers se enorme aptyt vir staatsfondse te beskryf.

Hoe groter sy aptyt en sy “maag”, hoe meer respek dwing ‘n belangrike man in Afrika af. Mthethwa het met sy verblyf in vyfsterhotelle waar ons opperpandoer waarskynlik heerlik fuif terwyl misdadigers van die land besit neem, gedemonstreer dat hy maagpolitiek verstaan en as ‘n vername leier gesien moet word.

Terwyl sulke insidente via die media in die openbare oog beland, bestaan daar natuurlik nog ander figure na aan die ANC wat die semistaatsinstellings en openbare ondernemings bedryf en waarvan die besteding op ‘n keiserlike lewenstyl minder bekend is. Die feit dat sulke instellings tans R200 miljard van die staatskas benodig om hul bedrywighede te kan voortsit, is een aanduiding dat maagpolitiek ook daar ‘n groot rol moet speel.

Dat Suid-Afrika nie reeds, soos menige Afrikaland, op sy knieë gebring is deur ‘n bende sogenaamde “leiers” wat die staat en openbare bates na hartelus plunder nie, is waarskynlik slegs te wyte aan die middelklasbelastingbetaler en groot maatskappye wat steeds getrou belasting betaal en sodoende die gefuif van Nthethwa en sy trawante aan die gang hou.

Die Afrikaner moet besef dat die huidige stelsel in Suid-Afrika so grondig korrup en immoreel is dat dit hoegenaamd nie gered kan word nie. Terwyl die Nthethwas en ander begunstigdes van die roofstaat Suid-Afrika hul makabere partytjie voortsit, kan slegs ‘n nuwe begin in ‘n eie volkstaat vir ons volk enige hoop inhou.

купить оборудование для автомойкиФильчаков Харьков

Verbete Afrikaners

Ek sien Max du Preez vra die vraag “Waarom is Afrikaners so gatvas en verbete?” in Beeld en Die Burger se By van 17 Oktober 2009. Tipies van Max soek hy die fout by die Afrikaner. Alles net omdat die Afrikaner ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling gevolg het. Dan vra mens: was apartheid ‘n onding of geniale sosiale ingenieurswese wat verongeluk is deur sekere Afrikaners wat nie oor die nodige insig en deursettingsvermoe beskik het nie?

Rewolusionêre druk is deur ‘n swart beweging gemobiliseer en volbring deur mense uit Afrikanergeledere. Ons kan herhaaldelik argumenteer oor wat kon wees, maar die werklikheid is wat dit is. Dit beteken nie almal moet dit so aanvaar en inskakel by ‘n mislukte regering en Suid-Afrika nie. Die enigste fout wat die Afrikaner begaan het, was om toe te laat dat Suid-Afrika uitverkoop word. Hoekom moet ons hou van etniese vermenging, regstellende aksie aanvaar, orals transformeer of blatante swart bemagtiging aanvaar? Of soos Dan Roodt sê: ons leef in ‘n kakistokrasie. Hoekom moet ons?

Sodra die Afrikaner op regte aandring, is dit rassisme. Dit het ‘n cliché geword. Dit is ‘n basiese en universele beginsel van beskawing om jou medemens te respekteer. Elke volk het ‘n reg op selfbeskikking. Waarom word dié reg van die Afrikaners weerhou? Dieselfde reg is aan die verskillende etniese groepe vóór 1994 aangebied, maar dit is verwerp. Dan Roodt het onlangs nog ‘n uitstekende artikel op Praag geplaas waar hy die situasie omkeer en ‘n Xhosa-intellektueel bid:  “Liewe Nkosi, my taal, my kultuur, my volk, my tradisies gaan ten gronde. Mag ons eendag apartheid en ‘n eie tuisland ontvang. Mag die getransformeerde gebiede wat deesdae aan die Afrikaners behoort, eendag aan ons terugbesorg word. Seën ons tog met apartheid!”  Die Afrikaner wil apart wees en wil niemand onderdruk nie. Mag ons tog geseën word met ‘n eie staat!

Die enigste relevante vraag op dié stadium is: waarom mag die Afrikaner nie selfregerend in sy eie staat wees nie? Op die keper beskou, het Afrikaners die volle reg om Suid-Afrika op te eis soos dit voor 1994 daar uitgesien het. Voor 1994 was Suid-Afrika ‘n de jure-staat onder Afrikanerbeheer. Alles was beter in die tydperk tussen 1948 en 1994. Daar was behoorlike dienste, administrasie, orde en en en… Hoekom moet die Afrikaner deel en deelneem as hy nie wil nie? Die Afrikanervolk wil op sy eie wees. Afrikaans praat, met sy eie mense assosieer en op sy eie ontwikkel en presteer.

Iemand sal seker nou weer vra: wie is die Afrikaner en wie het die reg om namens die Afrikaner te praat? Dan is daar die uitverkopers wat steeds hul bes probeer om Suid-Afrika te laat werk en bly glo aan ‘n Afrika-utopie. Daar is ook ‘n groot aantal wat nie branders maak nie. Die realiteit is te vinde in die alledaagse handel en wandel. Baie min is tevrede met die huidige Suid-Afrika waar die Afrikaner en blanke in die algemeen gemarginaliseer word. Wanneer ‘n Afrikanerstaat weer vorm aanneem, sal die meerderheid daar wil woon.

Afrikaners sal die volkstaatdebat verbete voortsit en verbete veg om die volkstaat te laat realiseer. Organisasies kom en gaan, maar een ding is seker: Afrikanerongeduld en -solidariteit groei. ‘n Verenigde front is nodig om die Afrikanervolkstrewe by veral die Verenigde Nasies te promoveer en druk te mobiliseer op die huidige Suid-Afrikaanse kakistrokatiese regering. Of moet daar eers ‘n Kosowo-situasie ontwikkel voordat die Afrikaner sy volkstaat kan verkry? Na regte kan die hele Suid-Afrika opgeëis word maar iewers is daar ‘n Afrikanerintellektueel wat ook bid: “Seën ons tog met ‘n volkstaat.”

wedding jewelry earringsлобановский супермаркет класс