Aanslag op eiendom duur voort

Soos verwag is, is daar aanduidings vanuit die ANC-regeringskringe, dat daar weer ‘n nuwe onteieningswetsontwerp op pad is na die parlement.

‘n Vorige poging is vir eers afgeweer nadat landbou- en ander organisasies ‘n ad hoc-komitee gevorm het om die diaboliese wet te bespreek. Daar is aangevoer dat die konsep-wet wat toe ter tafel gelê is, elemente van ongrondwetlikheid bevat, met die gevolg dat dit teruggetrek is. Die ANC-bewind het dit egter duidelik gestel dat hulle weer ‘n voorstel vir ‘n Onteieningswet gaan indien. Hierdie keer kan verwag word dat dié wet wel die toets van grondwetlikheid sal kan deurstaan. Nie dat dit baie moeilik is nie. Die Grondwet begin immers om die beweerde ongelykhede van die verlede te besing, en te verklaar dat enigiets gedoen mag word om daardie ongelykhede sogenaamd reg te stel.

Een van die gewaande ongelykhede, is die oneweredige verdeling van grond. Volgens die ANC se Freedom Charter, moet die grond deur al die mense van die land besit word. Lees hier: grond moet deur die swartes besit word. En dit was nog die hele kwessie sedert die ANC aan bewind gekom het. Die eerste stap wat ingestel is, was die sogenaamde restitusie-proses, waar mense wat beweer dat hulle hul grond verloor het, daardie grond kon terugeis. Gelyklopend kon sogenaamde huurarbeiders, dan ook eis dat hulle ‘n reg op grond het. Hierdie eise moes al einde 1998 ingedien gewees het, maar so onlangs soos verlede maand het grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit, wat Kleinfontein insluit, tot hulle skok in die Staatskoerant gesien dat daar huurarbeiderseise op hulle grond is.

En nou weer die onteieningswet wat op pad is. Dit is dalk moeilik om nou al kommentaar te lewer op dié wetsontwerp. Maar, gesien ook in die lig van die probleem waarmee die grondeienaars van Cullinan, Rayton en Bronkhorstspruit sit, is dit duidelik dat die aanslag op ons eiendom nog nie verby is nie. Nog lank nie. In dié proses word rede en redelikheid geïgnoreer. Alle bewyse dat grondhervorming, waar grond aan onbekwame swartes gegee is, nie werk nie en dat dit voedselsekerheid bedreig, sal geen indruk maak nie.

Ook die feit dat daar al van die begin af reeds wetgewing bestaan wat onteiening magtig. Die verskil is net dat die bestaande onteieningswet op ekonomiese beginsels staan, en daarop gemik is om die land te ontwikkel. Dié wet maak vir onteiening voorsiening vir die bou van paaie, spoorlyne of ander ekonomiese en infrastruktuur ontwikkelingsprojekte. Hoe die nuwe onteieningswet daar ook al uit gaan sien, sal hy nie op ekonomiese beginsels nie, maar op polities-ideologiese beginsels staan. Die doel is om politieke grondherverdeling te laat plaasvind, ongeag die ekonomiese gevolge.

En waarskynlik sal dié wet ook die gewillige verkoper, gewillige koper-beginsel, ignoreer, omdat Jacob Zuma dit onlangs as “onwerkbaar” beskryf het. En heel waarskynlik sal boere tevrede moet wees met die aalmoes wat die staat bereid sal wees om te betaal vir die grond, sonder dat die waarde in ‘n hof betwis kan word.

Die adjunk-minister van landelike ontwikkeling het juis verlede week die beskuldiging gemaak dat boere, waardeerders en eiendomsagente saamspan om grondpryse hoog te hou. Hierdie opmerkings word nie om dowe neute gemaak nie, en ons kan verwag dat dit neerslag sal vind in die nuwe wet wat eersdaags ter tafel gelê gaan word.

Die aanslag op ons eiendom is nog lank nie verby nie. Dit sal nou net meer afgerond gevoer word, wat beteken dat ons nog groter gesamentlike weerstand sal moet mobiliseer as wat selfs die vorige keer gebied is.

casino demo playдепутат лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae