‘n Hof in Switzerland het beveel dat die omstrede regisseur, Roman Polanski in aanhouding bly omdat hy ‘n vluggevaar is.
In sy uitspraak het die hof gesê Polanski het aangebied om sy reisdokumente in te handig en hom daagliks by die polisie aan te meld.
Hierdie maatreëls is egter as onvoldoende beskou omdat Polanski steeds nuwe paspoorte in die hande kan kry en selfs na sy huis in Frankryk sonder enige reisdokumente kan reis.
Polanski is kragtens ‘n 32-jaar oue lasbief vir die verkragting van ‘n 13-jarige in 1977 in hegtenis geneem.
Regskenners meen Polanski se kans op ‘n spoedige vrylating is skraal, omdat die wet bepaal dat ‘n persoon in aanhouding bly vir die volle duur van sy uitleweringsproses.
Die 76-jarige regisseur kan teen die uitspraak appelleer.
