Die mediumtermynbegroting wat die ANC se nuutaangestelde minister van finansies, Pravin Gordhan, ingedien het, is maar net die eerste reëls van die volgende hoofstuk van die bewind se sosialistiese beleid.
Behalwe vir die beplande sosialistiese nasionale gesondheidstelsel, wat weens geldtekort eers agterweë gaan bly, is daar weer ruimskoots geld gegooi in oënskynlike diep, bodemlose putte, maar wat instansies is wat die ANC regop moet probeer hou. Hieronder tel die SAUK, wat gebuk gaan onder voortdurende wanbestuur en wat in ‘n normale kapitalistiese omgewing lankal die pad van sekere Amerikaanse banke sou geloop het en bankrot verklaar sou gewees het.
Ook die nuwe, groter kabinet met die méér staatsdepartemente, slurp groot hoeveelhede geld op: vyf honderd nege en tagtig miljoen rand. Die sukkelende en korrupsie-verlamde Landbank word tot hernude lewe beweeg deur ‘n miljard-rand inspuiting. Nog geld word gepomp in die tegniese bankrot Eskom, in Transnet, en Denel se bestelling van Airbus-vragvliegtuie sal ook deur die staat betaal word. En natuurlik moet landelike ontwikkeling, wat die mooi nuwe Zuma-uitgedinkte naam vir grondroof is, en sy sogenaamde opkomende boere, ook ruimskoots befonds word.
Kortom, die belastingbetaler wat reeds noustrop trek, word weer getap om vrot bestuurde en in sommige gevalle bankrot ondernemings aan die gang te hou.
Intussen het die regering nie eens die geld vir sy sosialistiese mislukkende eksperimente of om die openbare ondernemings mee te finansier nie. Nou word daar gepraat van ‘n lening van sewentig miljard rand wat iewers in ‘n netso resessie-geraakte wêreld geleen moet word. Daardie lening gaan waarskynlik ‘n redelike hoë rente aan die uitlener moet oplewer, gesien die minder gunstige graderings wat Suid-Afrika deesdae kry.
Die regering word wel aangespoor om sewe en twintig miljard rand te bespaar. Maar dis redelik mosterd na die maal as regerings op hulle verskillende vlakke reeds geld gemors het op buitengewoon duur motors, as ministers reeds ten duurste in luukse hotelle tuisgegaan het, en as stadsrade reeds hulle geld gemors het op buitensporige partytjies van allerhande aard. Die minister het versuim om sy kabinetskollegas persoonlik aan te spreek oor hulle vermorsing en verkwisting. Maar om te praat van ‘n besparing terwyl die vergrootte kabinet en departemente tog méér geld opslurp, kom op ‘n teenstrydigheid neer wat die netto-effek van ‘n zero-besparing aan regeringskant tot gevolg gaan hê.
Aan die ander kant moet inkomste verhoog word. Omdat die resessie hard slaan, is daar ‘n verkleining van 1,9 persent in die ekonomie. Dit beteken dat die regering minder inkomste kry uit belastings. En die dreigement word reeds voorgehou dat belastings verhoog sal moet word. Daardie volle skok, sal ons waarskynlik vroeg volgende jaar in die hoofbegroting tref.
Die sogenaamde armes betaal natuurlik geen belasting nie. Ook nie die informele sakesektor op die sypaadjies van die stede, of by die taxi-staanplekke nie. Tereg wys VF+ daarop dat sewe miljoen belastingbetalers nie die sosialistiese dienste vir vyftig miljoen mense kan dra nie.
Hierdie begroting is weer eens ‘n kruissubsidiëring van die werkende bevolking, waarvan ons volk die grootste komponent uitmaak, van ‘n parasiterende massa. Ons betaal al hoe meer, terwyl ons al hoe minder terugkry – ‘n uiteindelik onhoudbare situasie wat net kan verander as ons ons eie ekonomie skep as eerste stap om weer ook oor onsself te kan besluit oor alle sake.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.