Armbrei die nuutste gier

armbreiVergeet van breinaalde en tolletjiebrei. ‘n Nuwe gier het breiers verslaaf aan die gebruik van net hul arms.

Armbrei het in die VSA kop uitgesteek, en is nou gewild onder breiers oral te danke aan dosyne touwysvideo’s op die internet.

Dit is eintlik baie dieselfde as die normale brei. Armbreiers begin met ‘n groot glyknoop wat hulle draai om hul regterpols en dan, net soos wat hulle sou met naalde, hul arms gebruik om die lusse te maak.

Die gier het begin toe Andrea Brena, 25, ‘n Italiaanse aspirantontwerper wat in Denemarke woon, ‘n video van homself wat armbrei op YouTube gepos het vir ‘n projek vir die universiteit.

Die resultate van die modenuutjie wat hy begin het, is ‘n indrukwekkende bonkige, gehekelde voorkoms.

Armbreiers bly daarom meestal by die maak van serpe en tjalies.

Armbrei het ook ‘n belangrike voordeel bo naaldbrei: Spoed. ‘n Serp vir ‘n volwassene kan binne net ‘n halfuur klaar wees.

Tolletjiebrei
Tolletjiebrei

Helfte van wêreld se platinummyne staak

platmineDie helfte van die wêreld se platinummyne kom vandag tot ‘n stilstand wanneer lede van die vakbond, Amcu vir beter salarisse begin betoog, het RSG berig.

Amcu-lede sal by Implats, Anglo American Platinum en Lonmin staak. Implats het bekendgemaak dat hy sy bedrywighede in Rustenburg sluit om sy werkers te beskerm. Werkers wat vir diens aanmeld sal egter steeds betaal word

Die Arbeidshof in Johannesburg het intussen beslis dat Amcu nie kan voortgaan met sy beplande staking by goudmyne nie, totdat die hof op 30 Januarie oor die saak uitspraak gelewer het.

Amcu sou ook by talle goudmyne begin staak het. Die Arbeidshof het besluit dat hy meer tyd nodig het om die voorlegging van alle rolspelers te oorweeg.

Die Kamer van Mynwese het die uitspraak verwelkom en gesê hul grootste prioriteit is om werkers in te lig dat hulle vir skofte moet aanmeld.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, het op sy beurt gesê hulle beskou die uitspraak as ‘n oorwinning.

Bob is terug

Bob op sy pos
Bob op sy pos

Alhoewel hy nie goed lyk nie, is ’n video vrygestel wat toon dat president Robert Mugabe van Zimbabwe nog in lewe is.

Vorige berigte wat in verskeie koerante in Zimbabwe verskyn het, is beweer dat hy reeds oorlede is.

Die bejaarde Robert Mugabe (89), verskyn op ’n video wat die afgelope naweek gemaak is tydens ’n roudiens wat vir sy suster, Bridget, gehou is in sy ampswoning.

Dit blyk dat die president sukkel om regop te sit, en sukkel om wakker te bly. Volgens die opname het sy een been aanhoudend geruk.

Dit is die eerste keer dat hy gesien is in die openbaar sedert sy terugkeer uit Singapoer.

Waarnemers sê sy vakansie in Singapoer was eerder om mediese behandeling te kry.

’n Woordvoerder van Zanu-PF het gesê die adjunk pres. Joyce Mujuru sal waarneem tot einde Januarie vanjaar.

Intussen word verneem dat kandidate hulle reeds posisioneer om president te word, en die grootste mededingers is blykbaar die huidige adjunk, Joyce Mujuru en haar grootste opponent is Emmerson Mnangagwa, ’n voormalige minister van Verdediging.

Bron: Die Vryburger

Steve vandag voor oor spoed

SAMSUNGDie mees gewilde Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr sal vandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en oorskryding van die algemene spoedgrens.

Tydens ‘n vorige verskyning, het hy gesê hy wil die saak buite die hof skik.

Hofmeyr is op die aand van 19 Desember in Bronkhorstspruit in hegtenis geneem, en is vrygelaat op borgtog van R500.

Gauteng se verkeerspolisie-woordvoerder Busaphi Nxumalo het gesê Hofmeyr is gevang dat hy teen 169kmh in ‘n 80 kmh-sone gery het.

In ‘n verklaring op sy Facebook-blad ‘n dag ná sy inhegtenisneming, het Hofmeyr gesê dit is onverantwoordelik om te jaag.

“Ek gee toe dit was onverantwoordelik en gevaarlik.”

Hy het ook die polisiebeamptes gekomplimenteer wat hom afgetrek het, en hulle beskryf as “vriendelik, professioneel en deeglik” en diegene wat aan diens was bedank.

Vuil water ons voorland, waarsku TLU

dirtywaterDie President van TLU SA, mnr. Louis Meintjes waarsku dat die land afstuur op ‘n situasie dat die krane in die huise wel water sal lewer, maar dat daardie water totaal onbruikbaar sal wees.

“As die Staat homself as die beskermer van die water wil aanstel, moet hy ook toesien dat hy daardie rol vervul. Nou word ons gedwing om vir vuil en onbetroubare water te betaal en dit is onaanvaarbaar.”

Mnr. Meintjes het gesê dat daar gepraat word van Grondwetlike regte.

“Die landbou het ook ‘n Grondwetlike reg op skoon water om voedsel te produseer. Die regering sal moet besef dat die gebeure verlede week in Brits net die oortjies van die seekoei sal wees in vergelyking met wat kan kom as hy nie vinnig ingryp nie. Die gebeure by Brits belig die feit dat drie of vier mense gedood is deur die polisie. Wat egter verdere aandag benodig, is dat honderde, indien nie duisende, mense sterf as gevolg van besoedelde water in die land,” sê mnr. Meintjes.

“Nadat die water na Britse se woongebiede herstel is, het inwoners juis gekla dat dit water nie drinkbaar was nie. Dit is juis die probleem waarmee die land, en landbou, sit. Waterbronne, wat op sigself reeds skaars is, word toenemend besoedel, het hy gesê.

“TLU SA het etlike jare gelede hierdie saak reeds op die hoogste vlak aangespreek en selfs strafregtelike klagtes teen betrokke ministers gelê wat volgens TLU SA hulle plig versaak en nie toesien dat waterbronne beskerm word teen besoedeling nie. Ter wille van voedselsekerheid en voedselveiligheid is dit krities belangrik dat water skoon moet wees. Talle boere kan nie meer rivierwater of selfs boorgatwater gebruik vir besproeiing of vir veesuiping nie,” het die TLU SA president gesê.

Banda vlieg hoog in straler wat sy kwansuis verkoop het

Ivor Ichikowitz
Ivor Ichikowitz

Die Malawiese president Joyce Banda het verlede jaar haar luukse straler verkoop om sleutelskenkers soos Brittanje gelukkig gehou.

Die straler is glo gekoop deur ‘n prominente Suid-Afrikaanse wapengroep, maar Banda gebruik steeds die vliegtuig sonder enige koste.

Die Dassault Falcon 900EX is gekoop deur Bohnox Enterprises, ‘n firma wat in die Britse Maagde-eilande geregistreer is. Hulle het die vliegtuig na Suid-Afrika gestuur waar dit uitgegeleen word aan BBP’s deur die stralermaatskappy Fortune Air.

Beide maatskappye is gekoppel aan die Paramount Group, Afrika se grootste privaatverdedigings- en ruimtebedryf.

Paramount Group het reeds met die Malawiese regering vir landbou, brandstof en die weermag kontrakte aangegaan deur ‘n netwerk van hul beleggingsmaatskappye .

Die groep word deur die Suid-Afrikaanse broers Ivor en Eric Ichikowitz besit en spesialiseer in die vervaardiging van gepantserde voertuie en onbemande vliegtuie .

Verslae in Malawi dui daarop dat sedert die vliegtuig verkoop is, het Banda dit gereeld gebruik om te reis tussen lande op die vasteland. Sy het 20 privaatvlugte in net drie maande onderneem, word gesê.

Wie betaal vir die gebruik van die straler?

Banda se woordvoerder sê dit is “weldoeners wat aan ons gesê het om nie hul identiteit bekend te maak nie.”

Banda het oënskynlik die presidensiële straler verkoop as ‘n teken dat sy nie die korrupsie wat Malawi onder haar voorganger, Bingu wa Mutharika, gekortwiek het, sal duld nie .

In November het die Daily Telegraph onthul dat ‘n familie-onderneming wat deur die direkteure van Paramount besit word, betaal vir Bell Pottinger, ‘n Londense beeldpoetser, om Banda se beeld op te kikker.

Teen ongeveer dieselfde tyd, het Paramount ‘n ooreenkoms met Malawi onderteken om sewe Interceptor-bote te verskaf om die Malawimeer te patrolleer.

Brittanje, wat in 2012 £117 miljoen se hulp Malawi geskenk het, het gesê “groter duidelikheid” van Banda oor die “sorgwekkende” onthullings word benodig.

“Dit is veral met betrekking tot of daar ‘n verband tussen die verkoop van die straler, die koop van bote en die Paramount Group is,” het Michael Nevin, die Verenigde Koninkryk se hoëkommissaris in Malawi, gesê.

Banda se woordvoerder, Steve Nhlane, kon nie bevestig of ontken of Paramount Group of enige van sy verwante maatskappye gratis reisgeleenthede aan die president bied nie.

‘n Woordvoerder vir Fortune Air het bevestig dat die maatskappy vliegtuie aan Banda beskikbaar gestel het, en dat alle koste vir die verhuring aan die president van Malawi ten volle vereffen is deur ‘n aantal derde party skenkers.

Hy wou nie sê of dit die Paramount Group was nie.

Antraks-skok by Sanral

masetolDie Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) moes sy hoofkantoor in Midrand Dinsdag ontruim  na na ‘n vermeende antraks-aanval.

Die Tshwane-eenheid vir gevaarlike stowwe (Hazmat) is na die toneel geroep nadat ‘n “verdagte koevert met ‘n wit stof ” op die perseel gevind is, het die uitvoerende hoof Nazir Alli gesê.

“Ons weet nie wat dit is nie,” het Alli gesê. “Maar ek glo my kollegas by die sentrum het gereageer op die regte manier.” Geen beserings is aangemeld nie.

Sanral het nog nie voorheen bedreigings vir sy veiligheid ontvang nie, ten spyte van die openbare protes met die bekendstelling van die e-tolstelsel in Gauteng.

Alhoewel verslae beweer dat die wit stof antraks is, het Alli gesê Sanral het gereageer op die ontdekking sonder sekerheid van wat dit kan wees.” Ondersoekbeamptes sal bepaal wat dit is wanneer hulle toetse gedoen het.”

Sanral-woordvoerder Vusi Mona het gesê die ontdekking van die koevert het gelei tot die ontwrigting van die sentrum se elektrisiteitsvoorsiening, wat Gauteng se e-tolstelsel beïnvloed.

‘n Woordvoerder van Outa het die insident veroordeel as “sabotasie of terrorisme-tipe gedrag”.

Hy het gesê: “Outa pleit nie vir chaos of anargie nie.:

Sulke gedrag sal voorkom indien die volle steun van die publiek nie agter die projek is nie, het hy gesê .

“Dit is onvermydelik dat indien jy nie die mense agter jou het nie, is dit die weg vir sosiopatiese persoonlikhede.”

IMF: SA-ekonomiese groei afwaarts aangepas

imfDie Suid-Afrikaanse ekonomie sal volgens die Internasionale Monetêre Fonds se vooruitskatting vanjaar met 2,8% groei.

Die IMF het in sy verslag oor groeivooruitsigte vir die jaar Suid-Afrika se groei afwaarts aangepas van sy vorige projeksie van twee komma nege persent.

Groei in ander ontluikende markte en ontwikkelende ekonomieë sal na verwagting vanjaar tot vyf komma een persent styg, grootliks weens toenemende beleggings en groter uitvoere.

Die hoofekonoom van die IMF, Oliver Blanchard sê lande soos Suid-Afrika sal voordeel trek uit groter groei in ontwikkelde lande, maar sal moeiliker finansiële toestande ervaar weens die normalisering van die Amerikaanse ekonomie.

Die IMF beraam sy groeivooruitsig vir Afrika suid van die Sahara op 6,1 persent. – RSG

Swaarlywige swart nasionalis Mazibuko soek steun

Mazibuko op soek na die rooi tapyt van swart nasionalisme
Mazibuko op soek na die rooi tapyt van swart nasionalisme

Die swaarlywige parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko, hou gewis nie van Afrikaners nie en sy sê dit hardop.

Die DA gaan ongetwyfeld skrille Afrikanerhaat en anti-wit regstellende aksie as ‘n deurlopende tema in die komende verkiesing aanwend, met waarskynlik verdere funeste gevolge vir misdaad teen wittes en plaasmoorde.

Mazibuko het onomwonde tydens ‘n onderhoud aan Beeld verklaar: “Ons moet ontslae raak van enigeen […] (wat) wit nasionaliste (is). Daar is [swart] mense in die party wat dit wil hê.”

Mazibuko se opmerking dat die DA ontslae moet raak van wit nasionaliste, is benewens die domastrante belediging vir wit kiesers wat die DA as amptelike opposisie ingestem het, ook ‘n duidelike aanduiding van hoe die swart nasionalistiese winde in die party waai.

Haar anti-Afrikaner uitlatings is dié keer teenoor die joernalis Donwald Pressly, skrywer van die boek Owning the Future: Lindiwe Mazibuko and the Changing Face of the DA, gemaak.

Mazibuko betreur ook die feit dat wit kiesers Tony Leon ingestem het omdat dié kortsigtige stap vir die DA op die langtermyn nadelig was.

 

Snowden vrees vir sy lewe na openbare doodsdreigemente

Loer oor sy skouer
Loer oor sy skouer

Edward Snowden se Russiese regsverteenwoordiger het Dinsdag gesê die voortvlugtige Amerikaner vrees vir sy lewe.

Openbare doodsdreigemente is onlangs deur ongeïdentifiseerde Pentagon-beamptes gemaak.

Volgens die asielsoeker se regsverteenwoordiger Anatoly Kucherena word Snowden deurentyd deur veiligheidswagte vergesel en oorweeg hy maatreëls om sy veiligheid op te skerp.

“Daar is werklike dreigemente op sy lewe daar buite wat beslis bestaan,” het Kucherena aan Rusland se Vesti 24-nuuskanaal gesê.

“Hierdie dreigemente spel fisieke wraak op Edward Snowden uit,” het hy verklaar.

Die voormalige werknemer van die Nasionale Sekuriteitsagentskap word deur Amerikaanse owerhede gesoek op aanklag van verraad.

Die 30-jarige Snowden het inligting oor omvattende intelligensie-insameling van die Amerikaanse regering – wat miljoene telefoonoproepe en e-posse wêreldwyd sonder toestemming monitor – gelek.

Die Amerikaanse spioenasieveldtog behels onder meer ook die van verskeie staatshoofde wat die VSA goedgesind is.

Een van die Amerikaanse teikens, die Duitse kanselier Angela Merkel, het die meeluistering met dié van die gehate, eertydse kommunistiese Oos-Duitse Stasi vergelyk.

Kucherena het glo verwys na ’n artikel op die webwerf Buzzfeed, getiteld “American Spies Want Edward Snowden Dead”.

In die artikel het ‘n Pentagon-beampte sonder meer verklaar: “Ek sal baie daarvan hou om ’n koeël in sy [Snowden se] kop te jaag.”

“In ’n wêreld waar ek nie daarvan weerhou word om ’n Amerikaner dood te maak nie, sou ek self gaan en hom doodmaak,” het ’n NSA-analis ook gesê.

Volgens een se grafiese beskrywing sou dit goed wees indien Snowden onverhoeds in die openbaar ‘n stadigwerkende gifstof toegedien word en dan mettertyd by sy tuiskoms besef dat hy stadig en pynlik gaan sterf.

Tydelike asiel is in Augustus in Rusland aan Snowden toegestaan, nadat hy eers in Hong Kong aangeland het.

Kucherena het voorheen gesê Snowden werk van die huis af as ’n IT-adviseur vir ’n groot Russiese webwerf.