‘n Saak van brandstigting word deur die polisie ondersoek nadat ‘n brand in die Johannesburgse middestad die lewens van drie volwassenes en ‘n baba geëis het.
Die brand het in die Cape York-gebou uitgebreek, toe ‘n petrolbom in ‘n woonstel geslinger is, nadat ‘n stryery tussen ‘n man en vrou ontstaan het.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die liggame van twee volwassenes en ‘n baba is in die puin van ‘n woonstelgebou gevind. Hulle is deur die rook oorval.
‘n Vierde persoon het by die gebou uitgespring om die vlammehel te ontsnap. Hy is op pad na die hospitaal toe dood.
‘n Vermeende reeksmoordenaar en -verkragter is in Pretoria op vrye voet.
Die verdagte word reeds positief met vier moorde verbind. Altesaam 14 moorde in Sunnyside, Villeria en Mamelodi word ondersoek aangesien dieselfde metodes gebruik is.
Die polisiekommissaris, Riah Phiyega, het gister ‘n spesiale span speurders aangestel om die moordenaar te soek.
Die span sluit lede van verskillende eenhede in soos gesinsgeweld, kinderbeskerming, seksuele oortredings, misdaadintelligensie, DNS-ontleders en ‘n profielsamesteller. – RSG
Die langverwagte Kommissie van Ondersoek na strategiese verdedigingsaankope begin vandag in Pretoria met sy openbare sittings.
President Jacob Zuma het in 2011 die kommissie aangestel ná oproepe deur opposisiepartye dat bewerings van bedrog en korrupsie ondersoek word.
Die kommissie het egter verskeie terugslae beleef met die bedanking van sleutelpersoneellede. Een van die kommissarisse, regter Francis Legodi, het verlede week sy bedanking ingedien, terwyl die getuienisleier, Tayob Aboobaker Vrydag bedank het, maar gister sy bedanking teruggetrek het.
Die kommissie het bekendgemaak dat Aboobaker Vrydag sy bedanking ingedien het, maar dat hy dit teruggetrek het nadat daar met hom gesprek gevoer is.
Die woordvoerder van die kommissie, William Baloyi, kon nie redes verskaf vir Aboobaker se bedanking nie. Aboobaker is die mees senior regspersoon in die kommissie.
Volgens bronne het Aboobaker die kommissie van nepotisme, binne-gevegte en ‘n gebrek aan professionaliteit beskuldig.
Oudpresident Thabo Mbeki, die beplanningsminister, Trevor Manuel en die oudministers Mosioua Lekota, Ronnie Kasrils en Alec Erwin sal verskyn.
Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, wat beskou word as die persoon wat die beweerde bedrog oopgevlek het, sê die kommissie moet ‘n kans gegun word om sy werk te doen.
De Lille het haar kommer uitgespreek omdat die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie binne ses maande aan president Jacob Zuma moet verslag doen.
Sy sê die president self word by van die bewerings betrek.
Die ondersoek na die omstrede wapentransaksie in die laat negentiger-jare, begin vandag met hul openbare sittings.
Die onafhanklike verdedigingskenner, Helmoed-Romer Heitman sê teen die tyd het diegene wat by korrupsie betrokke was waarskynlik reeds hul voetspore doodgevee. – RSG
Die minister van maatskaplike ontwikkeling het glo gesê ouers moet hul kinders met behoorlike waardes grootmaak om seker te maak dat hulle nie hul eie kinders eindelik doodmaak nie.
’n Nuwe wetsontwerp kan dit onwettig gaan maak vir ouers om hul kinders by die huis ’n pak slae te gee.
Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling het glo aan ‘n koerant gesê ouers moet hul kinders met behoorlike waardes grootmaak om seker te maak dat hulle nie hul eie kinders eindelik doodmaak nie.
“As ’n man sy vrou slaan, is dit ’n misdaad, maar as ’n ouer ’n hulpelose kind slaan, is dit nie onwettig nie,” het sy glo gesê.
Volgens berigte kan ouers ingevolge dié wetsontwerp van aanranding aangekla word as indien hulle kinders met ’n plat hand op hul boude slaan of enige ander metode van lyfstraf toedien.
Lyfstraf by skole is reeds in 2006 onwettig verklaar.
Dit is glo die tweede keer dat die nie-regeringsorganisasie, Children’s Right Project, poog om pak slae onwettig te maak.
In 2007 het hul eerste poging glo misluk nadat hulle glo hewige teenkanting van kulturele en godsdienstige groepe ontvang het. – looklocal.co.za
Krugersdorp se Perreiras mag dalk dink ‘n letterverandering in hulle van is niks om oor te lag nie, maar vir ‘n inwoner van Noordheuwel is dit ‘n lagwekkende situasie.
Martin Higgins (48) wat al sewe jaar in Perreirastraat bly se straatnaam het oornag na Pierreirastraat verander toe munisipale werkers straatnaambordjies aangebring het met die verkeerde spelling.
“Ek was in die wolke toe ek sien dat straatnaambordjies deur die munispaliteit aangebring word, maar toe besef ek dat die naam verkeerd gespel is,” sê Higgins.
Hy sê hy het selfs aangebied om die koste te dra om dit reg te stel.
“Ek het die munisipaliteit gebel om dit te rapporteer waar ek genoem het dat ek die koste sal dra, maar dit is van die hand gewys. Die straatnaambordjies is van ‘n sekere materiaal gemaak, wat byvoorbeeld snags reflekteer as motorligte daarop skyn.”
Hy reken ook dat die verkeerde spelling daartoe kan lei dat mense wat na sy adres moet gaan, kan verdwaal omdat hulle nie die straatnaam kry nie.
Fritz (70) en Louise (66) Crause wat langs Higgins bly reken dat dit swak is om die straatnaam verkeerd aan te bring.
Vrae rakende die spelling van die straatnaam is aan Nkosana Zali, Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder gerig, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie. – looklocal.co.za
Amerika en die Europese Unie het hul twyfel uitgespreek oor die geldigheid van Zimbabwe se presidensiële en parlementêre verkiesing.
President Robert Mugabe en sy ZANU-PF party het as duidelike wenners uit die stryd getree.
Die Amerikaanse minister van Buitelandse sake, John Kerry sê hy glo nie dat die amptelike uitslag die wil van Zimbabwiese burgers weerspieel nie.
Kerry het ‘n beroep op die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie gedoen om in te gryp. Hy het ook die Zimbabwiese regering gevra om ‘n plan te maak sodat Zimbabwiërs hul mees fundamentele demokratiese reg in ‘n vry en regverdige omgewing kan uitoefen.
Die Europese Unie het op sy beurt gesê hy is bekommerd oor die beweerde onreëlmatighede en ‘n gebrek aan deursigtigheid in die verkiesings.
Die EU se uiteindelike besluit oor die verkiesing, sal deurslaggewend wees wanneer besluit word oor die verslapping of verstewiging van sanksies teen Zimbabwe.
Die EU se buitelandse beleidshoof – Catherine Ashton – sê die EU sal die verwikkelinge die volgende paar weke noukeurig dophou.
Volgens die amptelike uitslag het president Robert Mugabe die presidentsverkiesing met 61 persent gewen, terwyl Morgan Tsvangirai van die MDC 33 persent van die stemme op hom verenig het.
Die ZANU-PF-party het vroeër ‘n tweederde-meerderheid in die parlement gekry toe hy 150 van die 210 setels ingepalm het. – RSG
‘n Republikeinse verteenwoordiger Trey Gowdy (R-SC) het Donderdag in die geselskap van Greta Van Susteren op Foxnews die Obama-skandale bespreek.
Dié onthullings volg nadat Jake Tapper op CNN die nuus gebreek het dat daar “tientalle” CIA-agente teenwoordig was in Benghazi op die 9/11-herdenking toe die Amerikaanse konsulaat aangeval is en ambassadeur Chris Stevens tydens die aanval dood is.
Die geheime agentskap doen sedertdien besonder baie moeite om seker te maak dat dit waarmee hule besig was in Libië, ‘n geheim bly.
Gowdy het aan Greta gesê die Obama-administrasie steek van die oorlewendes weg, versprei hulle regoor die VSA, en verander hul name.
Terselftertyd noem Obama Benghazi ‘n “kamma-skandaal”.
Veiligheidsbronne het weereens bevestig dat ambasseur Stevens besig was om wapens – waaronder Stingermissiele – aan terreurgroepe wat al-Kaida insluit, te lewer en fundamentaliste te werf om Sirië se wettige regering omver te werp.
Die saak teen drie mans wat verdink word van die moord op die bokskampioen, Corrie Sanders, is in die landdroshof op Brits in Noordwes uitgestel.
Dit sal na die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria verwys word. Die saak is tot 23 September uitgestel.
Sanders is verlede jaar September doodgeskiet tydens ‘n gewapende rooftog by ‘n restaurant op die dorp toe hy sy dogter teen die aanvallers wou beskerm.
‘n Vierde swart verdagte moet nog steeds vanaf Zimbabwe uitgelewer word.
Die man is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis in Zimbabwe vir die moord op ‘n polisiebeampte.
Hy was vermoedelik in besit van die wapen waarmee Sanders doodgeskiet is. – RSG
Die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden is ‘n werk deur Rusland se top sosiale netwerk-webwerf Donderdag aangebied, ure nadat die voormalige intelligensie-kontrakteur ‘n jaar lank asiel in Rusland ontvang het.
“Ons nooi Edward Snowden na St Petersburg en sal bly wees as hy besluit om by die sterspan van programmeerders aan te sluit by VKontakte,” het Pavel Durov, een van die stigters van VKontakte, Rusland se antwoord op Facebook, gesê op sy profiel.
Snowden se tydelike asiel sal hom toelaat om te werk in Rusland, volgens Anatoly Kucherena, ‘n prokureur vir Snowden.
Moskou het Washington se herhaalde versoeke om Snowden uit te lewer geweier. Hy staan tereg op aanklagte van spioenasie nadat hy besonderhede van geheime Amerikaanse toesigprogramme uitgelek het wat selfoon- en Internetdata betref.
Om vervolging te ontsnap, het Snowden na Moskou van Hong Kong gereis op 23 Junie en moes vir meer as ‘n maand in die transitodeel van die Sheremetyevolughawe wag voor hy Donderdag met ‘n nuwe stel vlugtelingdokumente die gebou kon verlaat.
Spanning tussen Rusland en die Verenigde State van Amerika, wat reeds haaks is oor die konflik in Sirië, sowel as ander verdedigings- en menseregtekwessies, is deur Snowden se besluit verhoog.
Durov van VKontakte, of “InVoeling”, sê hulle het meer as 210 miljoen geregistreerde profiele en tot 47 miljoen daaglikse gebruikers. Hy het gesê hy is trots oor Rusland se besluit om Snowden te help.
“Vandag het Edward Snowden – die man wat die Amerikaanse veiligheiddienste se misdade aan die kaak gestel teen die burgers van die hele wêreld – tydelike asiel in Rusland ontvang,” het Durov gesê.
“In sulke oomblikke kan ‘n mens trots voel op ons land en spyt oor die loop wat geneem word deur die Verenigde State – ‘n land wat die beginsels waarop dit eens gebou was, verraai het,” het hy bygevoeg.
Die Volksblad berig dat die Vrystaatse departement van onderwys teleurgesteld moes omdraai nadat amptenare met ’n TV-nuusspan by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein opgedaag het om ’n onderwyseres te skors na nóg ’n beweerde rassevoorval .
Amptenare van die departement ’n skorsingsbrief aan die leerkrag oorhandig, maar moes uitvind dat sy ’n beheerliggaampos beklee en nie deur die departement geskors kan word nie.
Die onderwyseres het die aantygings teen haar ten sterkste ontken en gesê sy beplan om dadelik stappe te neem teen dié ongegronde aantygings.
Howard Ndaba, woordvoerder van die departement, sê sy het glo die k-woord gebruik.
Omdat sy nog nie amptelik aangekla is nie, kan haar naam nie bekend gemaak word nie.
Magda Strydom, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die departement se bewerings dat die onderwyseres ’n rassistiese opmerking teenoor leerlinge vroeër vandeesweek in ’n voorval op die skoolterrein gemaak het, is ongegrond.
Sy gaan voort met haar pligte terwyl die beheerliggaam die saak ondersoek, sê Strydom.
Ndaba sê die Vrystaatse onderwysdepartement sal met Fedsas en die skool se beheerliggaam saamwerk om toe te sien dat die onderwyseres tydelik geskors word hangende ‘n ondersoek.
‘n Ondersoek kan nie geskied as sy nog by die skool betrokke is nie, sê Ndaba.
Dié aantygings kom te midde van die laerskool se geskorste skoolhoof, Fanie Roeloffze, en Lenard MacKay, ’n onderwyser, wat albei binnekort voor ’n dissiplinêre komitee van die Vrystaatse onderwysdepartement sal verskyn oor beweerde rassisme.