Pensioenfondse moet nou Eskom-‘bates’ koop, sê ANC

Die regerende African National Congress se Ekonomiese Transformasiekomitee het voorgestel dat pensioenfondse sommige bates van die bankrot kragopwekker in staatsbesit oorneem.

Die voorstel om dele van Eskom Holdings SOC Bpk in nie-staatshande oor te plaas, is gemaak in ‘n besprekingsdokument van 8 Julie waarin voorstelle in reaksie op die ekonomiese insinking vanweë die koronavirus gemaak word.

Die vakbonde in die ANC-dampkring is gekant teen die privatisering van Eskom-bates.

“Daar is ‘n behoefte aan voortgesette steun aan Eskom om sy onmiddellike finansiële en tegniese uitdagings die hoof te bied en om betroubare elektrisiteitsvoorsiening te verseker,” het die komitee in die dokument gesê.

“Daar moet ‘n oplossing gevind word vir die skuldprobleem van Eskom, waaronder die moontlikheid dat pensioenfondse gemobiliseer kan word om sekere geherstruktureerde bates van Eskom oor te neem.”

Eskom, wat ekonomiese groei belemmer het deur die land aan periodieke kragonderbrekings te onderwerp, gaan gebuk onder ‘n skuldlas van ten minste R450 miljard ($ 26,7 miljard) en kan nie die koste daarvan dek nie.

Breër strategie

Die voorstelle rondom Eskom maak deel uit van ‘n breër strategie wat deur die komitee voorgestel is om die ekonomie te help herstel van die impak van die koronavirus-epidemie, wat volgens die komitee die land se ongelykhede “na vore gebring het”.

“Die pandemie het die aanhoudende probleem van die bestaan ​​van twee afsonderlike ekonomiese werklikhede in Suid-Afrika skerp na vore gebring – een arm en hoofsaaklik swart, en een ryk en hoofsaaklik wit,” lui dit.

Daar word gesê dat monetêre beleid meer kan doen om groei te bevorder.

“Suid-Afrika moet ‘n groter verskeidenheid monetêre beleidsinstrumente gen gunste van groei en beleggings implementeer wat versoenbaar is met die heropbou van ‘n ekonomie,” lui die verklaring.

“Die Covid-19-krisis het ‘n duidelike aanduiding gegee van die rol wat die monetêre owerheid kan speel om hulpbronne in die ekonomie in te spuit en om effekte-aankope te gebruik om kapitaalmarkte te stabiliseer en laer rentekoerse te bewerkstellig.”

Die komitee het ook die regering versoek om:

  • Die wetsontwerp op die ontwikkeling van petroleumbronne te finaliseer om die ontwikkeling van olievelde te versnel en voort te gaan met ‘n plan om ‘n nuwe olie-raffinadery en petroleumkompleks te bou;
  • ‘n Farmaseutiese maatskappy in staatsbesit  te skep om teen-VIGS-medisyne te vervaardig;
  • Reguleringsgeskille in die mynbedryf op te los;
  • ‘n Spesiale ekonomiese sone vir hernubare energie in die oostelike provinsie Mpumalanga te skep om werk te behou namate steenkoolkragstasies in daardie streek geleidelik sluit;
  • Voort te gaan met die lang verwagte veiling van addisionele telekommunikasie-spektrum; en
  • die skepping van ‘n staatsbeheerde bank te versnel.

Daar is geen woord gerep oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens nie, die bankrot lugredery wat ‘n reddingspakket benodig om te oorleef. Terwyl die ministerie van openbare ondernemings die lugdiens wil red, het die nasionale tesourie gesê dat dit die beste is om dit te sluit.

SAL: ‘SEB is net ‘n verskoning vir steel’

SAL (die Suid-Afrikaanse Lugdiens) betaal drie keer te veel vir die huur van vliegtuie omdat die ekstra geld in die sakke van die bestuur se vriende en SEB-begunstigdes verdwyn. Die miljoen liter branstof wat die lugdiens daagliks verbruik, word ook nie teen ‘n markverwante prys aangekoop nie omdat ‘n verskaffer sy “kommissie” daarby voeg.

PRAAG het met bronne diep binne-in die sukkelende lugredery gepraat. Terwyl Ethiopian Airlines die SAL van sy troon gestoot het as “beste lugredery in Afrika”, lyk dit nie asof die plaaslike lugdiens ooit sy probleme en reusebedrae kontant wat dit gedurig opslurp te bowe gaan kom nie.

Volgens een van PRAAG se bronne, iemand wat al jare lank by SAL werk, is SEB (swartekonomiesebemagtiging) die wortel van die probleem. “SEB is eintlik net ‘n verskoning onm te steel,” sê die bron. “Ons mag nie soos enige normale lugredery waar ter wêreld ook al ons vliegtuie of brandstof van erkende verskaffers aankoop nie; alles moet deur SEB-entiteite en tussengangers geskied wat ons soos bloedsuiers uitmergel.

Voor 1994 is SAL as ‘n nasionale bate en “lugdiens” — ‘n diens aan die land — bedryf. Selfs direkteure van SAL het destyds soos gewone middelklasmense geleef, met hul kinders op staatskole en ‘n gewone bestuurder se salaris waarmee ‘n middelklashuis en -motor bekostig kon word.

“‘n Direkteur van SAL bly vandag in ‘n sestienmiljoenrandhuis in Sandhurst en ry ten minste ‘n Porsche,” sê die bron. “Hy verdien vier miljoen rand per jaar en leef soos ‘n koning. Daarom kan die arme redery nie die mas opkom nie.”

Gewoonlik kos dit ongeveer $300 000 per maand om ‘n groot passasiersvliegtuig vir internasionale vlugte te huur; dis wat die meeste internasionale rederye betaal. Tot onlangs het SAL egter $900 000 per maand per vliegtuig betaal, omdat al die middelmanne en SEB-plunderaars gevoer moes word. Dié huurooreenkomste is egter intussen effens afwaarts hersien, maar is nog veel duurder as wat die meeste ander rederye betaal.”

Eens op ‘n tyd het die SAL oor sy eie vliegtuie beskik, onder andere ‘n hele vloot Boeing 747’s. “Daardie vliegtuie was klaar betaal!” sê die bron. “Hulle moes net onderhou word. Maar toe is daar gesê: nee, ons kan nie met ou vliegtuie winsgewend wees nie. Ons moet nuwes kry, nuwes huur. Daardie Boeings is vir appel en ‘n ei verkwansel, weereens deur middelmanne wat geld gemaak het…”

Dat die Boeings nie meer geskik was nie, was ‘n leuen. “SAL kan nie meer met enige vliegtuig ‘n wins maak nie. Maar British Airways, Quantas, hulle vlieg nog elke dag Suid-Afrika toe met Boeing 747’s! Hulle kry dit reg om hul vliegtuie winsgewend aan te wend.”

Meer en meer roetes word ook gesluit, weereens omdat “hulle nie winsgewend is nie”. Maar ander rederye vind steeds dieselfde roetes winsgewend, dis net SAL met sy swaar ballas van SEB-plunderaars wat dit nie meer kan bekostig nie.

Volgens die bron gaan SAL binnekort “nóg vyf miljard rand benodig om staande te bly. Solank as wat dié praktyke geduld word en solank as wat SEB bestaan, gaan die staat SAL moet onderhou,” sê die bron.

Dit gaan egter oor meer as swak bestuur. Die hele stelsel van “bemagtiging” en gewettigde diefstal maak dit onmoontlik om ‘n lugredery met sakebeginsels te bedryf.

Ethiopian Airlines maak ‘n wins van $300 miljoen per jaar, waarskynlik met minder winsgewende roetes as die SAL. Dié redery verkeer ook in staatsbesit. “Die verskil is,” sê die bron, “die Ethiopiese regering het ‘n hoofbestuurder aangestel wat die redery in belang van die aandeelhouer, die staat, bedryf. Sy woord is wet. Daar vind geen regeringsinmenging in die redery plaas nie. Anders as by SAL waarmee die minister en die staat hul gedurig bemoei.”

ANC-jeugliga wil Kaapse wynplase beset

As ‘n daling in die rand die prys is wat die ANC moet betaal om beheer van die ekonomie oor te neem, dan moet dit maar so wees, sê Collen Maine, die president van die ANC-jeugliga.

Maine het gister ‘n toespraak gelewer by ‘n lesing oor ekonomiese vryheid wat deur die Jeugliga in Durban georganiseer is. Volgens Maine is die geldeenheid “problematies” en verteenwoord die Nasionale Tesourie “die ANC se grootste probleem”.

“Ons word aanmekaar met rommelstatus gedreig. Ons moet optree. Indien die rand moet daal, moet hy maar daal. As hy styg, moet dit ons wees wat in beheer is,” het hy gesê. “Die rand is problematies. Gedurende die verkiesings, toe daar gesê is dat die ANC nie goed doen in die metro’s nie, het die rand versterk. Waarom is ons banger vir die graderingsagentskappe en markte as vir die mense van Suid-Afrika?”

Betreffende Des van Rooyen wat deur Jacob Zuma as minister van finansies aangestel is, maar agterna weer afgedank is, het hy aan Zuma op die verhoog gevra: “Waarom het aan die druk toegegee?”

Nasionale Demokratiese Revolusie

Volgens Maine is dit moeilik om te sê of die nasionale demokratiese revolusie steeds op koers is. “Ek sê vir mense ‘ja en nee’. ‘Ja’ omdat ons baie bereik het, maar ‘nee’ omdat die ANC deur leiers geïnfiltreer is wat aan iemand anders verslag doen.”

“Suid-Afrikaners se geduld raak op,” het Maine aan die 1500 lede van die gehoor gesê.

Hy het voortgegaan deur te sê dat die ANC hom van “beskermers van kapitaal” moet suiwer.

“Daar is diegene binne die ANC-leierskap wat ná 1994 gemaklik geraak het. Hulle ry Duitse motors en het die revolusie uitgestel,” meen hy. “Ons wil ons grond terughê, ons wil ons mineral terughê. Ons wil nasionalisering van die Reserwebank hê.”

Geslaagde revolusies

Slegs die jeug kan geslaagde revolusie lei, het hy gesê. Daar was diegene in die uitvoerende strukture van die party wat ‘n beroep gedoen het om openbare maatskappye te privatiseer, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens. “Openbare maatskappye moet nie geprivatiseer word nie. Die probleem is weereens die Tesourie,” het hy gesê, terwyl hy dit gekwalifiseer het deur by te voeg dat hy nie noodwendig na die minister van finansies, Pravin Gordhan, verwys nie, maar die hele departement.

Weereens het hy hom tot Zuma gerig en gesê: “Meneer die president, ons praat van radikale ekonomiese transformasie, maar —met respek — daar word slegs lippediens (aan die revolusie) bewys.

Die ANC het nie die vryheidstryd gevoer om kospakkies aan die armes uit te deel nie, het hy gesê. “Ek haat kospakkies. Ons mense wil die eienaars van die produksiemiddele wees, hulle kan hul eie voedsel produseer.”

Die sleutelpilaar tot die verwesenliking van ekonomiese vryheid was opvoeding, het hy gesê. Teenoor Zuma het gesê: Meneer die president, u het aan ons BRICS gebring; as deel van u nalatenskap, gee vir ons gratis opvoeding vir die armes.”

Besetting van wynplase

“As ons nie die ekonomiese kwessies aanpak nie, sal die jeug in opstand moet kom,” het hy verder gesê. “Ons moet dinge vir die ANC-leierskap ongemaklik maak. Die lewe is nie maanskyn en rose nie.

“Ons, die werkloses, die dakloses, die grondlose jeug, sal op ‘n punt gedwing word om (grond) te beset, en ons sal met die wynplase in Kaapstad begin.”

Dudu Miyeni

Ook op die verhoog was die ANC se nasionale uitvoerende komitee, asook ‘n lid van die nasionale dagbestuur, Nathi Mthethwa, wat ook minister van kuns en kultuur is, die burgemeester van Durban (eThekwini), Zandile Gumede, die ANC se provinsiale sekretaris in Kwazulu-Natal, Super Zuma, en ander.

Die voorsitster van SAL, Dudu Miyeni en Mzwanele (Jimmy) Manyi, president van die Progressiewe Beroepsluiforum, het vir die duur van die lesing in die voorste ry gesit.

Ethiopian Airlines steek SAL as grootste Afrika-lugdiens verby

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat voor die revolusie een van die bes bestuurde lugdienste ter wêreld was, maar tans aanhoudende verliese ly, is verlede jaar deur Ethiopian Airlines as die grootste lugredery in Afrika verbygesteek. Die jongste uitgawe van die Britse Economist bevat ‘n lowende artikel oor Ethiopian, maar vermeld oor SAL: “Suid-Afrika se nasionale redery, wat verlede jaar deur Ethiopian in grootte verbygesteek is, is al sedert 2011 onwinsgewend, en sou sonder regeringswaarborge insolvent wees.”

In die mees onlangse boekjaar het SAL onder die voorsitterskap van Dudu Miyeni ‘n verlies van anderhalf miljard rand gemaak. Dit was ‘n “verbetering” op die vorige jaar se verlies van R2,5 miljard. SAL het ook in die openbaar gesê dat hy waarborge van R16 miljard nodig het.

The Economist het al voorheen oor die onbekwame bestuur by Suid-Afrikaanse openbare maatskappye, waaronder SAL, berig en die volgende grafiek oor hul finansies gepubliseer.

sa_state_enterprisesEthiopië is ‘n arm Afrikaland wat nie eens oor ‘n stabiele regering beskik nie. Desnieteenstaande het Ethiopian Airlines daarin geslaag om ‘n winsgewende lugdiens op te bou wat vriendelike diens aan ‘n toenemende aantal kliënte lewer. Volgens The Economist het Ethiopian verlede jaar bykans $300 miljoen (R4,5 miljard) wins gemaak en is vanjaar bestem om $500 miljoen (R7,5 miljard) se winste te lewer.

ethiopian_airlinesBenewens Suid-Afrika, is ander Afrikalande waar die nasionale rederye in ‘n haglike toestand verkeer, onder andere Kenia en Zimbabwe. Trouens, Ethiopian Airlines verdien nou meer geld as al die ander rederye in Afrika saam. In 2015 het die Ethiopiese lugdiens 82 internasionale bestemmings bedien, waarby nog 13 vanjaar gevoeg is.

 

Suid-Afrika se semistaatsinstellings bereik maksimumskuldvlakke

Net soos in die Oekraïne en vele ander lande, was een van die oogmerke van die revolusionêre beweging in Suid-Afrika nog altyd om staatsbates te stroop of, altenatiewelik, om hulle gratis tydens “privatisering” te bekom. Die sakekoerant Business Day berig dat die lenings van semistaatsinstellings nou min of meer die maksimum getref het op ‘n totaal van R466 miljard.

Die staat kan nie verder sulke lenings waarborg sonder om sy eie kredietgradering in die gedrang te bring nie. Die staat self skuld reeds R1,4 triljoen rand, wat dus die totale skuldlas op naby aan R2 triljoen te staan bring.

Volgens ‘n tesourie-amptenaar sluit die R466 miljard nie verdere waarborge in wat die regering aan Eskom sal moet verskaf as deel van sy nuwe “befondsingspakket” wat vroeër vandeesweek deur die Tesourie aangekondig is nie. Daardie besonderhede sal eers aanstaande maand bekendgemaak word as die mediumtermynbegrotingsbeleid in die parlement ter tafel gelê word.

Met die groot salarisse en vermorsing wat semistaatsinstellings kenmerk, is die verhouding tussen hul inkomste en skuldvlakke besig om te versleg. Hulle “vreet” aanmekaar kontant en sal daarom nog fondse of waarborge van die staat benodig. Daar word beraam dat die inkomstemarge van staatsbeheerde maatskappye vanaf 3,3% in 2013-14 tot 1% in 2015-16 gaan daal. Die verhouding van hul skuldlas tot inkomste sal na verwagting oor dieselfde periode styg vanaf 69,4% tot 73%.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Lugdiens onder die Nasionale Party-bewind altyd ‘n wins gewys het en deur amptenare met middelklassalarisse bestuur is, het die salarisse van ANC-kaders wat sedertdien na dié maatskappy ontplooi is die hoogte ingeskiet en maak SAL of SAA soos dit deesdae eentalig op Engels bekendstaan, verliese van miljarde rande.

Min of meer die helfte van die semistaatsinstellings, waaronder die Suid-Afrikaanse Lugdiens, South African Express en die Suid-Afrikaanse Poskantoor is, soos ‘n Tesourie-amptenaar dit gestel het, “in die rooi”. Ook die Sentrale Energiefonds is blykbaar daarheen op pad.

Die meeste semistaatsinstellings het slegs 60% van hul prestasiedoelwitte oor die afgelope jaar behaal, terwyl die orgie van besteding deur hoë amptenare met vet salarisse en duur Duitse motors toeneem.

In Junie vanjaar het die verkope van Mercedes-Benz, die weeldemotorvervaardiger, in Suid-Afrika met 30% toegeneem, wat ‘n aanduiding is van waarheen sommige fondse gekanaliseer word.

Volgens die tesourie beskik staatsondernemings oor inkomste van R260 miljard per jaar, vergeleke met die staat se belastinginkomste van R810 miljard. Daarteenoor beskik hulle oor rentedraende skuld van R467 miljard teenoor die staat se totale skuld van R1,4 triljoen. Besteding aan infrastruktuur deur semistaatsinstellings beloop R110 miljard teenoor die staat se R104 miljard. Hul totale batewaarde is ongeveer R1 triljoen maar die netto batewaarde is slegs R374 miljard, wat beteken dat die sektor in sy geheel tegnies bankrot is.

Die opbrengs op kapitaal in dié maatskappye is naby aan nul of negatief, wat die druk op die staat om hulle te privatiseer, laat toeneem.

Tydens privatisering kan verwag word dat die oligarge wat reeds die groot maatskappye in Suid-Afrika se privaatsektor beheer, asook buitelanders, die staatsmaatskappye teen ‘n appel en ‘n eie sal bekom. Van die mynmaatskappye wat byvoorbeeld steenkool aan Eskom voorsien, of “konsultante” vanuit Brittanje wat dienste aan die staatsondernemings verskaf, is reeds besig om hulle te melk en sodoende miljarde te verdien waarvoor die belastingbetaler uiteindelik sal moet vergoed.

Gedurende die twintigste eeu het die grootste deel van Afrikaners hul afgesloof om dié staatsondernemings op te bou, wat in 1994 tydens die revolusie aan die ANC en SAKP oorhandig is.

Menseregtekommissie ondersoek SAL-diskriminasie

sahrcDie Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gaan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) se kadetprogram ondersoek, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.

“Solidariteit het die ondersoek versoek omdat die lugdiens geen wit manlike kandidate by sy kadetprogram aanvaar het nie,” het Dirk Groenewald, hoof van die arbeidshof-afdeling van die vakbond, gesê.

Groenewald het gesê Solidariteit het namens tien wit mans, wat aansoek gedoen het vir die program, gevra dat ‘n ondersoek gedoen word. Dié mans se aansoeke was onsuksesvol omdat hulle wit is.

Hy het gesê die kadetprogram se toelatingsvereistes diskrimineer onregverdig teen wit mans en kom neer op ‘n kwotastelsel.

Groenewald het gesê Solidariteit het gevra dat die lugdiens beveel word om sy diskriminerende praktyke te stop en die program oop te stel vir mense van alle rasse en geslagte.

“Indien daar bevind word dat die tien kandidate as gevolg van hul ras nie aanvaar is nie, moet die SAA die nodige stappe doen om die saak reg te stel en die kandidate by die program insluit.”

Die SAA en die SAMRK was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie. – Sapa

Britte laat vaar dwelmklagte teen SAL-span

Op een uitsondering na, is alle dwelmklagtes teen die 30 spanlede van SAL wat in twee dwelmvoorvalle by die Heathrow-lughawe in Londen aangekeer is, laat vaar. So het die lugredery gister gesê.

Die Britse owerheid het formeel bevestig dat hulle geen verdere stappe teen die werknemers van SAL gaan neem nie, het 'n SAL-woordvoerder, Robyn Chalmers, gesê.

Die enigste uitsondering is die vorige vlugkelner van SAL, Mmatshuma Matlhara, wat in Suid-Afrika gearresteer is ná haar terugkeer uit die VK en wat van dwelmhandel aangekla is, ná 'n wenk van 'n veiligheidswag.

Die veiligheidswag, Pulane Hlahane, 43, en Matlhara, 35, het verlede maand in die Kemptonparkse landdroshof verskyn. Hulle het R5000 borgtog ontvang.

Hlahane het na bewering vir Matlhare van ekstra veiligheidsetikette voorsien sodat sy met ekstra bagasie vol onwettige middels kon reis.

Die eerste groep kajuitpersoneel van SAL is in Januarie in hegtenis geneem nadat 50 kg dagga en 4 kg kokaïen in hul bagasie gevind is. Die tweede groep is in Februarie aangekeer toe 5 kg kokaïen in hul tasse gevind is.

Chalmers het gesê die Britse owerheid het aangedui dat hulle die reg voorbehou om die saak teen enige individu te heropen indien nuwe getuienis na vore sou kom.

липецк опциитопкарго кидалы