Dan Roodt: Apple, PayPal en die res van die Goolag moet geboikot word

Die situasie wat hom tans in die VSA afspeel, hou ook vir ons verreikende gevolge in. Soos enige nugter mens reeds besef het, lui die huidige alliansie tussen polities korrekte globale maatskappye en maatskaplikegeregtigheidskrygers (MGK’s) ‘n nuwe tydvak van sensuur en sentrale beheer in, die tyd van die “Goolag”. Laasgenoemde woordspel met Google se naam is gemunt of ten minste beroemd gemaak deur die programmeerder James Damore wat dit gewaag het om ‘n memorandum te skryf waarin hy portuurbeoordeelde feite oor die verskillende loopbaanbelangstellings en gedragspatrone van die geslagte aangehaal het. In vandag se hiper- polities korrekte omgewing was die suggestie dat die geslagte mag verskil, genoeg om Damore afgedank te kry.

James Damore, die IT-ingenieur wat afgedank is omdat hy wou aantoon dat mans en vrouens nie noodwendig dieselfde loopbaankeuses maak nie.

Dit het doodmaklik vir MGK’s of linkse aktiviste geword om gewoon klagtes by globale internetreuse soos Google, Facebook, Twitter, Instagram, PayPal, ens., aanhangig te maak teen organisasies of individue aan die dissidente regterkant van die spektrum wie se rekeninge dan eenvoudig opgeskort of gesluit word sonder enige bohaai in die vorm van appèlprosedures of feitelike ondersoeke. Ná alles is Amerikaners veronderstel om ‘n wye mate van spraakvryheid te geniet, ten minste in teorie, danksy die Eerste Wysiging aan die Amerikaanse Grondwet, sonder dat die wet deur sodanige spraak oortree word.

Oor die laaste paar dae het tegnologiemaatskappye egter op altregse webblaaie toegeslaan en hulle van die internet verwyder. ‘n Hele paar huishoudelike name in Amerika en in Suid-Afrika, waaronder Apple wat die wêreld se waardevolste maatskappy na sy markkapitalisering is, het hul eens met Links verklaar in die huidige “kultuuroorlog” wat tans in die VSA en die meeste Westerse lande woed. Geen van die topvyf globale tegnologiereuse (Apple, Alphabet/Google, Microsoft, Amazon en Facebook), kan van regse politieke voorkeure verdink word nie. Google en Facebook ondersteun sensuur en die onderdrukking van pro-blanke, pro-manlike en sogenaamde “sisgender”-standpunte, terwyl Amazon die Washington Post besit en Bill Gates verkies om sy enorme rykdom in Afrika uit te gee.

Dog die HUB van Apple, Tim Cook, het ‘n nuwe hoogtepunt, of eerder laagtepunt, bereik toe hy selfs die matige intellektuele debat oor die probleme van multikulturalisme as kriminele “haatspraak” gestigmatiseer het en besluit het om self as mega-maatskappy by politieke spraak in te meng.

Apple se produkte verkeer gewoonlik op die lys van GWWH (“goed waarvan witmense hou”) en, soos Mercedes of BMW, is die hoofmarkte vir sy produkte in die ontwikkelde, hoë-inkomstewêreld te vinde. Hoewel Cook “nie sy opgewondenheid oor Indië kan beteuel nie”, soos hy verlede jaar verklaar het, beskik Apple slegs oor drie persent markaandeel in daardie hoogs bevolkte Suid-Asiese land.

Ironies genoeg besit vele altregse ondersteuners iPhones. Persoonlik gebruik ek ook een maar slegs omdat ek ‘n gebruikte model verniet gekry het en omdat ek as deel van ‘n spesiale pakket onbeperkte oproepe in Suid-Afrika teen R149 per maand kan maak. Andersins sou ek tevrede gewees het met enige ou nie-Apple-foon, waaronder ‘n paar puik Sjinese fone soos Xiaomi wat veel beter waarde vir geld en hoër spesifikasies as die jongste iPhone bied. Om nie te vergeet van Apple se aartsmededinger, die Suid-Koreaanse Samsung nie, wat meer slimfone as enige ander maatskappy verkoop.

Die punt is: soos met die Spurboikot, kan ons almal sonder iPhones, MacBooks of enige van Apple se ander veel geadverteerde produkte klaarkom. Daar moet ten minste 100 miljoen Europeërs of Europese Amerikaners wees, indien nie 200 of 300 miljoen nie, wat dalk bekommerd mag raak oor die koms van ‘n hoe-tegnologies Goolag wat die hele planeet in ‘n weergawe van George Orwell se 1984 mag verander waarin niemand dit waag om denkmisdaad (thoughtcrime) of spraakmisdaad (speechcrime) te pleeg nie. Dis nog ‘n ironie: Apple het aanvanklik verwysings na 1984 in sy advertensies gebruik met die loodsing van sy MacIntosh-rekenaar in die middeltagtigerjare teen “Grootbroer” IBM. Hoe is die rolle nie omgekeer nie! In Orwelliaanse terme, het Apple so pas aangemeld om die grootste globale lid van die Denkpolisie (Thought Police) te word.

Waarom dan nie maar Apple, PayPal, Google en ander teg-maatskappye boikot nie? Oënskynlik het hulle ‘n nuwe vorm van ontwerpersowjetisme omhels, waar ‘n pragtige uiterlike en demokratiese clichés ‘n sinistere geneigdheid tot totalitêre beheer en die onderdrukking van afwykende menings verdoesel. Dit sou tragies wees indien die spraakvryheid en alternatiewe media wat deur die internet losgelaat is deur enkele “arbitrêre besluite” deur tegnologie-amptenare onderdruk mag word, om nou ‘n frase te gebruik wat vandeesweek deur die HUB van Cloudflare gebesig is toe hy gesê het: “Ek het vanoggend in ‘n slegte bui wakker geword en het besluit om hulle (die Daily Stormer-webblad) van die internet af te skop. Dit was ‘n besluit wat ek kon neem omdat ek die HUB van ‘n groot internetinfrastruktuurmaatskappy is.”

Dit spreek vanself dat ‘n blad soos Andrew Anglin se Daily Stormer met sy positiewe toespelings op nazisme hoogs omstrede is, maar gegewe die linkse kultus van revolusionêre geweld wat dekades lank al toegelaat word om te gedy, waarmee Ché Guevara en lede van die Italiaanse Rooi Brigade-terroristegroep as hoofstroomhelde voorgestel word, behoort daar tog effens “ruimte” aan die regterkant ook te wees, vir mense om ideologiese eksperimente of stilistiese oortredings te pleeg… nie waar nie? As student het ek ‘n nagraadse verhandeling oor die teorie van “oortreding” in die Franse erotiese letterkunde geskryf, en dis ‘n gegewe dat die internet ook pornografie in elke huis ingebring het. Dus, waarom nie ook politieke pornografie, tussen instemmende volwassenes, verdra nie? Ná alles word niemand gedwing om Andrew Anglin te lees, of Milo Yiannopoulos of Richard Spencer of enige van die meer gewaagde stemme wat die afgelope paar jaar met Altregs verbind word nie.

Maar daar is twee probleme wat ons nou in die gesig staar, danksy die totalitarisme van Groot Tegnologie: betalings en huisvesting. Albei kan myns insiens taamlik maklik opgelos word, en kan tot opwindende nuwe sake-ondernemings lei soos wat pro-Westerse groepe regoor die wêreld besef dat die PK maatskappye, banke en betaalstelsels nie langer ons ondersteuning verdien nie.

Hier in Suid-Afrika is ons dalk steeds vryer, want aangesien die rand nie altyd as ‘n geldeenheid deur PayPal en ander globale stelsels aanvaar word nie, bestaan daar plaaslike oplossings en alternatiewe betaalstelsels. Ook ondervind die privaat sektor in ons land ander probleme met ons regering en sou dus onwillig wees om nuwe politieke kwessies te ontketen deur dienste te weier aan blankes wat ietwat regs van die politieke sentrum verkeer. Dus as ‘n korttermynmaatreël, is dit selfs moontlik om Amerikaanse of Europese betalings op die web of met kredietkaarte via Suid-Afrika te kanaliseer terwyl nuwe betaalstelsels ontwikkel word.

Wat die huisvesting van webblaaie betref, lyk al die groot maatskappye verdag en sou dit daarom riskant te wees om steeds hul dienste te gebruik. Maar weereens, kan enige kragtige rekenaar wat vir so R15 000 of so uit onderdele gebou kan word, tesame met ‘n vinnige internetkoppeling, en met gratis programmatuur soos Linux en Apache, opgestel word as ‘n webbediener wat miljoene bladsyonttrekkings sou kon hanteer. Ideaal behoort daar ‘n nuwe huisvestingsmaatskappy met ‘n wolk rekenaars in verskeie Westerse lande met geheime liggings opgerig te word sodat vyandige regerings of Groot Teg ons nie meer kan stilmaak nie. Uiteindelik sou alle reg(s)denkende mense van so ‘n diens gebruik maak omdat spraakvryheid en betroubaarheid die grondbeginsels daarvan sou uitmaak.

Sogenaamde “torrent”-dienste soos die berugte The Pirate Bay waarmee gratis musiek en films afgelaai kan word, het reeds opspraakwekkende hofsake en regeringsklopjagte oorleef, sonder om gesluit te word. Hulle metodes behoort bestudeer te word; nie omdat ons enigiets onwettigs wil aanvang nie, maar as jy jou bediener vir regerings en Hollywood-ateljees kan wegsteek, kan dit sekerlik minder toeganklik vir linkse MGK’s ook gemaak word.

Dit klink na ‘n gemeenplaas deur een van daardie ellendige “sakeskole” waar mense soos Willie Esterhuyse vegeteer, maar kom ons “maak van teëspoed ‘n geleentheid”!

En sit maar daardie iPhones weg. As Apple die handelsmerk vir onwettige immigrante en die AntiFa wil wees, grawe die maatskappy sy eie ondergang.

Charlottesville, VSA: #UniteTheRight se byeenkoms eindig in chaos ná AntiFa-betoging

Een van die grootste regse byeenkomste in die meer onlangse Amerikaanse geskiedenis, die Unite the Right-byeenkoms in Charlottesville, Virginië, moes afgelas word nadat die goewerneur van dié Amerikaanse deelstaat ‘n noodtoestand afgekondig het. Die byeenkoms is gereël om beswaar te maak teen die verwydering van ‘n standbeeld ter ere van genl. Robert E. Lee, die legendariese Suidelike generaal wat as ‘n soort Christiaan de Wet of Koos de la Rey in die Suide van Amerika vereer word.

Michael Signer

Die linkse stadsraad van Charlottesville onder die burgemeester, Michael Signer, het ‘n besluit geneem om die standbeeld van die generaal te verwyder aangesien hulle dit as ‘n “simbool van rassisme” beskou.

In weerwil van ‘n hofbevel wat aan die organiseerders, mnre. Jason Kessler en Richard Spencer, deur ‘n Amerikaanse regter toegestaan is en waarin die byeenkoms kragtens die Eerste Wysiging aan die Amerikaanse grondwet toegelaat is om voort te gaan, het die deelstaat en die munispaliteit besluit om ‘n stokkie daarvoor te steek.

In ‘n twiet het dr. Dan Roodt van PRAAG hom só uitgelaat oor die nuus dat die byeenkoms afgestel word:

Die byeenkoms het gisteraand begin met ‘n nagmars op die kampus van die Universiteit van Virginië wat deur sowat 500 “altregse” (alternatief-regse) betogers bygewoon is. Fakkels oftewel “tiki-fakkels” is tydens die nagmars deur die betogers gedra. Die toneel is vanuit die lug met behulp van ‘n hommeltuig verfilm.

Tydens die nagmars het ‘n twintigtal linkse betogers opgedaag maar alles het nog redelik vreedsaam verloop. ‘n Transgeslagbetoger, “Emily” Gorcenski, het in ‘n selfoonvideo histeries die feit bekla dat daar so min anti-regse of AntiFa-betogers was.

Teen dié tyd het die #UniteTheRight- asook #Charlottesville-hutsmerke reeds op bo-aan die Amerikaanse Twitter se hutsmerkneigings begin registreer en is honderde linkses aangespoor om die volgende oggend die toesprake deur regse leiers te gaan ontwrig.

Teen tienuur Saterdagoggend wou die polisie nie die toesprake deur o.a. Richard Spencer van die National Policy Institute, Nathan Damigo van Identity Europa, die Sweed Daniel Friberg van Arktos, “Baked Alaska” en verskeie ander altregse figure toelaat nie, ondanks die hofbevel van die vorige dag. Die organiseerder, Jason Kessler, het sy misnoeë met dié stand van sake op ‘n direkte Periscope-uitsending te kenne gegee.

Kort hierna het die polisie egter aangekondig dat die byeenkoms summier as ‘n “onwettige byeenkoms” beskou word en is alle altregse betogers aangesê om die Robert E. Lee-park in die stadsentrum van Charlottesville te verlaat. Linkse AntiFa-betogers is egter deur die polisie toegelaat om verder te betoog, sodat die hele stadsentrum deur hulle oorgeneem is. Regse betogers is verhoed om hul voertuie uit parkeerruimtes te verwyder, sodat humeure opgevlam het en ‘n motoris probeer het om deur die linkse skare te ry.

Volgens die hospitaal is een persoon tydens dié voorval dood en negentien beseer. Ten minste een getuie beweer dat van die AntiFa-betogers die grys Ford Mustang (eintlik ‘n Dodge Challenger) met klippe bestook het alvorens die bestuurder in die skare vasgery het.

Mnr. Richard Spencer, wat op ‘n stadium hardhandig deur die polisie in hegtenis geneem is toe hy met die vergadering wou voortgaan, het hulle in ‘n twiet geblameer vir die geweld wat agterna uitgebreek het.

Die hoofstroommedia in die VSA het deurlopend oor die gebeure in Charlottesville berig en sowel mnr. as mev. Trump het in twiets daarop kommentaar gelewer.

Mnr. Nathan Damigo van Identity Europa het die volgende videokommentaar op Twitter gelewer, onder die opskrif: “Tyranny in Charlottesville.”

Kallie Kriel verloor debat teen Pieter du Toit en Johan Pienaar op RSG

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van Afriforum, het verlede week ‘n debat met die Naspers-propagandis Pieter du Toit en die linkse fanatikus Johan Pienaar op RSG gevoer. Alhoewel Kallie die debat verloor het, het hy soos gewoonlik ‘n paar houe ingekry wat na “regses”, “blanke rassiste”, “nasionaliste” en selfs die einste hier op Praag gemik is.

Die gesprek waaroor hierdie artikel handel kan dmv hierdie skakels geluister word: Skakel 1 of skakel 2.

Organisasies soos Afriforum is ideologies bankrot. Hulle leiers lewe nog in ‘n tydvak toe blanke Suid-Afrikaners deur veelrassige krieketwedstryde op DSTV gepaai kon word. Hulle het geen benul van “meme magic” of “Hail Pepe” of “Top Kek” nie. Dit is ‘n organisasie wie se manifes nie ‘n toekoms buite die eenheidstaat kan voorstel nie. Dit is ‘n organisasie wat dink die ineenstorting van die Nasionale Party en die daaropvolgende verafgoding van Nelson Mandela tel onder die mees positiewe gebeure van die twintigste eeu.

Kallie het onthul dat een van die barometers waarmee sy organisasie hulle eie moraliteit meet, is ‘n aanval deur regse webtuistes. Ek vermoed hy verwys na die einste, omdat daar nie ander Afrika-geleë regse webtuistes is waarvan ek bewus is nie. Dalk die mediamasjien van meestervideovervaardiger Jan Lamprecht (AKA History Reviewed Channel), maar hy het nog nooit iets oor Afriforum gesê nie.

Kriel het meer as een keer gesê dat Afriforum alle vorms van blanke “rassisme” en dus volksnasionalisme verwerp. Kriel voldoen aan die woordeboekdefinisie van ‘n kloekserwatief (cuckserwative in Engels). Donald Trump se beweging het al die kloekserwatiewe figure uit regse politiek in Amerika verjaag. Ons kan amper aankondig dat die hele “neokonserwatiewe” beweging van die Bush-era nog verder verlinks het en nou ‘n tuiste by Trotskiïstiese partye soos die Demokrate in die VSA of die Tories in Engeland gevind het.

Veroordeel jou organisasie die stryd van blankes in ander lande Kallie? As jy sê “ons weet ons doen iets reg as regse webtuistes ons aanval” dan beteken dit mos julle opponeer direk die oorlewingstryd van die Westerse beskawing? Of hoe?

My persoonlike gevoelens oor die Broederbond en die post-Februarie-1990-Afrikanerelite(waaronder Afriforum natuurlik tel) is baie meer radikaal as Dr Dan s’n. Dus sal ek hierdie denkrigting maar hier laat.

Toe Kallie se rug teen die muur is, verwys hy na ‘n irrelevante skrywe deur die kleurlingaktivis Rhoda Kadalie. Ernst Roets het ook ‘n obsessie met die gematigde swart skrywer Thomas Sowell. Dit lyk my Afriforumbestuurders voel hulle mag slegs die fundamentalistiese anti-blanke aspekte van liberalisme teenstaan as hulle self swart denkers aanhaal.

Pieter du Toit het al in die verlede geweier om hom van swartmagbewegings te distansieer. Hy het in Maart 2016 in ‘n Twittergesprek oor Frantz Fanon onthul dat Nasperskantore volgeplak is met plakkate van hierdie swart nasionalis. Swart nasionalisme word dus omhels terwyl wit nasionalisme as die poësie van Satan beskou word.

Johan Pienaar het halfpad deur die gesprek ingebel en die diskoers oorheers. As altregse kyk ek ook objektief na sake en dit is tog waar dat Afriforum onnodig vir Pienaar gedurende 2016 hof toe gesleep het. Dit wys vir my dat organisasies wat maak asof hulle namens blankes optree net so vasbeslote is om ons ras se geboortereg op spraakvryheid totaal en al te verwyder. Pienaar is baie verder links as du Toit, en besit dus oor die vermoëns om sy opponente te stoomroller. Hy verwys na uitsprake van regter Mogoeng Mogoeng — omdat die Zuma-aangestelde regter Mogoeng nou glo verhef is om namens Suid-Afrikaners oor moeilike politieke, filosofiese en selfs geestelike kwessies te besluit.

‘n Behoorlike antwoord aan die anti-Steve-fanatikus en professionele agitator Pienaar sou wees om uit te wys dat die oorweldigende meerderheid grondgebiede op planeet Aarde nie onder die jurisdiksie van die ANC se boendoehowe val nie. Kallie kon gesê het dat hy hom so min steur aan die doen en late van Mogoeng as wat Oos-Europeërs hulle steur aan die uitsprake van imams in Saoedi-Arabië.

Tydens 2014 het Dan in ‘n rubriek, Piet Croucamp, Pierre de Vos en die honde van Karl Marx, geskryf:

“Ek voel my hoegenaamd nie deur die grondwet gebind nie en weier byvoorbeeld om te aanvaar dat ek en my nageslag aan regstellende aksie onderworpe moet wees omdat een of ander NP-amptenaar iewers dertig of veertig jaar gelede iemand sou te nagekom het.”

Die Suid-Afrikaanse grondwet is volgens my ‘n ideologiese instrument wat die onderdrukking en semantiese teistering van die blanke en veral die Afrikaner goedpraat. Die Joodse kommunis Albie Sachs het vir meer as ‘n dekade op hierdie regbank gesit. Die regter Chris Jafta, wat na bewering ongekwalifiseerd is om in so ‘n hof te dien, het in die einste “Afriforum v Tshwane”-saak gesê dat belangrike aspekte van die Afrikaner se geskiedenis “op die ashoop van geskiedenis hoort”. Let wel, in Suid-Afrika van die 2010s is dit nie ‘n dronk bergie wat hierdie stelling gemaak het nie, maar ‘n regter in die hoogste hof van die land.

In die laaste 10 minute skel Pieter iets wat Vicky (waar sy hier in die koue sit) kliphard laat lag het. “Kallie probeer om Trump se styl op Twitter na te boots.” Anders as papbroekige aktiviste is Donald Trump ‘n aggressor op Twitter. Hy is ‘n meestertrol en ‘n woordsmous soos min. Anders as Afriforum is die milisie van sy beginsels nie in ‘n verdedigende formasie geposisioneer nie.

Dan Roodt het 38 keer meer volgelinge as Kallie Kriel op Twitter, maar hy kry 38 keer minder mediadekking in Suid-Afrika.

Dr Dan het in die herfs van 2015 sy toetrede na die altregs gemaak tydens ‘n verskyning op Red Ice Radio. Red Ice word in altregse kringe as die platform van mondigwording gesien. Hy het dit opgevolg met ‘n toespraak in die lente by Jared Taylor se American Rennaissance-konferensie. Dan was dus in ‘n kamer waar hy meet gesagsfigure soos Paul Ramsey en Richard Spencer bladgeskud het. Richard Spencer is vinnig besig om een van die belangrikste politiese figure ter wêreld te word. Hy het onlangs tydens ‘n gesprek met Mike Enoch en Andrew Anglin (wat albei twee van die grootste altregse webblaaie ter wêreld bedryf) bevestig dat hy die ivoortoring van die filosofie gaan verlaat en self as leiersfiguur binne identitêre politiek begin optree. Sy NPI-stigting het pas ‘n kantoor in Washington geopen en hulle sal elke tweede maand ‘n voorlegging aan die Trump-administrasie maak. Aan watter internasionale administrasie maak Afriforum voorleggings? (Sogenaamde pleidooie voor die VN tel nie, omdat die ANC sowel as meeste ander lande — insluitend Israel, Iran en Saoedi-Arabië — hulle nie aan die VN steur nie)

Ek moet krediet gee aan die kleurlingaanbieder Lynette Francis. Sy het kalm gebly en die debat met grasie gemodereer. Naspersaanbieders het ‘n lang geskiedenis van aggressie; net soos die hoofstroommedia in Westerse lande.

Pieter maak die stelling dat Suid-Afrikaners by “alle dele van die grondwet móét inkoop”. Wát?! Hierdie absurde stelling verdien ‘n artikel op sy eie… Miljoene Amerikaners “lobby” al sedert die 1990s teen die 2de Wysiging van die Amerikaanse Grondwet. Moet hierdie Amerikaners gearresteer word, Pieter? Moet die Engelse skryfster JK Rowling in die tronk gesmyt word omdat sy vir die laaste 9 maande onophoudelik pleit dat die Brexit-referendum omgekeer word? Baie apolitiese sektore van die aanlyngemaanskap glo dat die huidige liberalisme daagliks al hoe meer totalitêr begin raak. Selfs die Suid-Afrikaanse glansfiguur Gareth Cliff het laasweek vir man-kind en etnomasochis, Frans Cronje gesê dat hy hom nie meer as ‘n “linkse” beskou nie. Volgens meeste altregse leiers is die linkse spektrum in die Weste nou openlik Bolsjewisties.

Pieter praat van Afriforum se “ou Verwoerdiaanse denke”. Sê my bietjie Pieter, sal jy die regime van Wladimir Poetin as ‘n Verwoerdiaanse regime beskryf? As dit die geval is, dan sit jy en jou soort met ‘n groot probleem, want weergawes van Meneer Poetin se denke word meer en meer gewild in (voorheen) blanke lande.

— Vicky

Richard Spencer in die gesig geslaan by Trump se inhuldiging

Richard Spencer is Vrydagmiddag (Washington DC-tyd) uit die bloute deur ‘n betaalde antifa-betoger in die gesig geslaan, terwyl hy besig was om ‘n onderhoud met ‘n groep joernaliste te voer.

Donald Trump is Vrydag, 20 Januarie as die 45ste president van die Verenigde State van Amerika ingesweer. Spencer was in Washington om voetsoolvlakverslaggewing te doen. Hy was besig om ‘n vraag oor sy “Pepe”-lapelwapen te beantwoord toe die blanke skurk in ‘n swart masker hom met die vuis bydam.

Daar is Vrydag wêreldwyd in die alternatiewe media oor gewelddadige optogte en vandalisme verslag gedoen.

Die hutsmerk #RichardSpencer was tydens die skryf van hierdie berig die nommereenhutsmerk op Twitter.

Vele bekende figure soos Keith Olbermann en Patton Oswald het hulle teen gunste van die antifa-man se gedrag uitgespreek. ‘n Bakleiery het op Twitter losgebars toe altregse figure soos “Baked Alaska” en “Paul Joseph Watson” ingespring het om Spencer te verdedig.

‘n Bord met die woorde “white lives matter too much” kan in die agtergrond van hierdie video gesien word waarin die aanval op Spencer vasgelê is.

Ek het die volgende kommentaar op Spencer se splinternuwe www.altright.com gelaat:

The overwhelming support/laughter/joy coming from the left/celebrities after this incident should remind all white people: THEY HATE YOU! THEY WANT YOU DEAD!

Suid Afrikaners is gewoond aan geweld teen diegene wat deur linkses as “ketters en hekse” beskou word. Sekere opinies of politieke standpunte verdien om met ‘n ysterhand deur die uitverkorenes vermink en belaglik gemaak te word.

Blankes is wêreldwyd in groot, groot moeililkheid.

Burgers van alle lande; mense wat dalk voorheen middelmatig was, hunker na ideologieë wat oplossings bied.

#RichardSpencer was een van die min hutsmerke wat Vrydag nommer een op Twitter behaal het. #Inauguration was die ander belangrike een. Dink bietjie daaraan: Spencer en President Trump word nou in dieselfde asem genoem!

Byt vas. Blankes gaan nie langer die internasionale epidemie van geweld — wat deur verskeie polities en rasgedrewe faksies teen hulle gevoer word — duld nie.

—Vicky

Dan Roodt: Kan ‘n Trump-presidentskap die ANC tot ‘n val bring?

Kan Donald Trump die volgende Amerikaanse president word? En watter gevolge sou dit vir Suid-Afrika inhou? Ons weet dat Jan Smuts gesê het dat ons land se toekoms “altyd in die buiteland bepaal sal word” en gedagtig aan FW de Klerk se halsoorkopoorgawe onder buitelandse druk, was dit nog nooit so waar soos oor die afgelope twintig of dertig jaar nie. Onder Clinton en Obama was daar Amerikaanse ingryping in vele lande, met “regimeveranderings” in Noord-Afrika en in Oos-Europa. Donald Trump mag baie krities begin kyk na Suid-Afrika se ekstreemlinkse, antiwit bewind wat gereed maak om die land in dieselfde rigting as Zimbabwe te stuur.

Terwyl vele hoofstroommeningsvormers hulle nog enkele maande gelede doodgelag het vir Donald Trump, lyk die Amerikaanse miljardêrsakeman al hoe meer onstuitbaar. Met gisteraand se benoemingsverkiesings in Mississippi en Michigan onder sy gordel, is Trump besig om sy Republikeinse teenstanders soos Ted Cruz, Marco Rubio en John Kasich al hoe verder in die stof agter te laat. Terwyl ek hierdie rubriek skryf, wil dit lyk asof Trump in Mississippi selfs meer as 50% van die stemme kan inpalm, wat sou beteken dat hy al die afgevaardigdes in dié deelstaat by sy totaal sou kon voeg. Dit sou ‘n ramp-in-die-kleine vir sy mededingers beteken, veral vir Ted Cruz wat die enigste is wat nog naastenby by Trump kan kers vashou wat afgevaardigdes betref. Aanstaande week op 15 Maart vind sogenaamde “wenner-vat-als”-benoemings in Florida en Ohio plaas, met Trump wat in meningsopnames reeds met agt persentasiepunte of meer in die groot deelstaat Florida voorloop. Marco Rubio, die Republikeinse establishment se gunstelingkandidaat, wie se tuisstaat dit is, loop gevaar om heeltemal uit die wedren geknikker te word indien Trump Florida sou wen.

Trump is ‘n nuwe verskynsel: ‘n regse of konserwatiewe kandidaat wat ondanks die honende vyandigheid van die hoofstroommedia en selfs die grootbase en geldskieters binne sy eie party, toenemende kiesersteun monster. Invloedryke Amerikaanse koerante soos die New York Times, Washington Post en die Los Angeles Times, het reeds herhaaldelik venynige aanvalle op Trump geloods. Hulle het hom ‘n “rassis” en “fascis” genoem, asook met Hitler en Mussolini vergelyk. Onder blanke kiesers in Suid-Afrika sou so ‘n mediabelastering sekerlik die doodskoot vir enige kandidaat gewees het, maar sy meesal blanke Amerikaanse kiesers steur hulle nie meer aan die media nie. Hoe meer hy deur die ultraliberale New York Times, asook die TV-kanale soos CNN of selfs die konserwatiewe Fox News aangeval word, hoe meer stem hulle vir hom.

Dieselfde hoofstroommeningsvormers wat tot onlangs voorspel het dat Trump nie eens die eerste paar rondtes van die benoemingstryd sou oorleef nie, voorspel tans dat hy as Republikeinse presidentskandidaat nie ‘n kat se kans teen Hillary Clinton in die presidentsverkiesing staan nie. Hoewel Hillary in die Demokratiese benoemingstryd redelik ver voorloop teenoor haar onmiddellike teenstander, die linkse Bernie Sanders, lyk sy tog kwesbaar. Benewens die oorweldigende steun wat Clinton onder swart kiesers in die Suide van Amerika geniet, iets wat haar tot dusver bevoordeel het, lyk sy glad nie so sterk in die res van Amerika nie. So pas het die nuus bekendgeraak dat Clinton gisteraand teen Sanders in Michigan verloor het. Toe Sanders begin voorloop met die stemtellery, is daar gehoop dat die stemme uit die swart gebiede van Detroit dalk tot Clinton se redding kon kom. Toe nie. Hoewel haar neerlaag nie veel aan haar afgevaardigdevoorsprong bo Sanders gaan verander nie, besorg dit aan hom ‘n klinkende morele oorwinning wat sy ondersteuners nuwe moed gee. Die knaende welslae van ‘n buiteperd soos Sanders, wat nes Trump ‘n anti-establishmentkandidaat binne Demokratiese verband is, dui egter op groot gapings in Hillary Clinton se steunbasis wat haar in ‘n toekomstige stryd teen Donald Trump duur te staan mag kom. Trouens, sommige van Bernie Sanders se linkse kiesers mag selfs hul stemme vir Trump uitbring. Ander Sanders-kiesers dui in meningspeilings aan dat hulle eerder buite stemming sou bly indien Sanders nie as Demokratiese kandidaat aangewys word nie.

Gestel egter die hoofstroommedia se ergste nagmerrie word waar en Trump bestyg die Withuis ná 8 November vanjaar? Hy het belowe dat hy sal ophou met Amerika se onnodige oorloë in ander wêrelddele, soos Noord-Afrika en die Midde-Ooste, asook konstruktief saam met Rusland sal werk. Die burgeroorlog in Sirië mag dalk sodoende beëindig word.

Waarskynlik het die herhaalde aanvalle op Trump as “rassis” taamlike simpatie by hom gewek vir ander mense en groepe wat insgelyks deur die links-liberale media verguis word. Soos Afrikaners, byvoorbeeld? Trump het reeds hier en daar te kenne gegee dat hy nie van Robert Mugabe hou nie, weens sy konfiskering van blanke boere se bates in Zimbabwe. Met die Effers en ANC wat Mugabe in soveel opsigte na-aap, mag Trump se argwaan jeens dié groepe insgelyks toeneem.

Onder Trump se presidentskap sal daar onluste in die meeste Afro-Amerikaanse buurte uitbreek. Daarvoor sal Hillary en die linkse media sorg. Die huidige rassepolarisering in Suid-Afrika sal dus insgelyks in die VSA weerspieël word.

Die Suid-Afrikaanse media volg reeds die meer linkse Amerikaanse en Britse media slaafs na. Hulle is tans erg anti-Trump en sal met Trump as president oorgaan tot volslae anti-Amerikaanse histerie. Waarskynlik sal die Effers die “rassistiese” Amerikaanse ambassade in Pretoria probeer beset, soos hulle tans met Tukkies probeer doen.

In ‘n wit-swart gepolariseerde wêreld sou dit vir Donald Trump sin maak om die lot van Afrikaners en blankes as ‘n kaart in sy Amerikaanse en globale pokerspel te gebruik. Waarom nie ook minderheidsregte aan Afrikaners toeken soos wat Afro-Amerikaners in die VSA geniet nie? Of selfbeskikking in eie gebiede, selfs ‘n volkstaat nie?

Dit mag waar wees dat die Afrikaner hom in sy lot onder die ANC berus en nie in vryheid belangstel nie. Immers stem feitlik alle Afrikaners vir die ANC Lite, die DA met sy swart leier wat ook links en regs sy eie blanke kiesers van “rassisme” beskuldig. Agri SA pas vrywillig “grondhervorming” toe en die senate van die Afrikaanse universiteite stem keer op keer ten gunste van verengelsing en die etniese suiwering van hul eie kampusse van bleekvellige studente en dosente. Ek verkeer dus onder geen illusie dat Afrikaners ooit self teen die ANC en EFF sou wou opstaan nie. Maar net so willoos as wat die dom, konformistiese Broederbond-NP-groepering van destyds aan die SAKP en ANC oorgegee het, sal hulle enige ander Amerikaanse oplossing wat van buite af op die land afgedwing word, aanvaar. In elk geval is dié mense nie meer ‘n faktor nie, hoewel Naspers, Afriforum en Solidariteit seker kliphard teen Donald Trump en Amerika se “rassisme” sal skree.

“Los ons uit. Ons wíl deur die ANC regeer word!” sal die krete weerklink. Maar net soos wat ‘n klein minderheid blanke, meesal Joodse, kommuniste sonder enige kiesersteun – die SAKP het in die veertigerjare konstant sy deposito’s verloor waar hy in verkiesings gestaan het – uiteindelik die land met buitelandse steun oorgeneem het, mag ‘n handjie vol stoere Afrikaners in mnr. Trump hul “troefkaart” sien. Danksy al die artikels op PRAAG se Engelse webwerwe, ons besoeke aan die VSA en skakeling met pro-wit groepe wat almal bankvas agter Trump staan, is daar reeds voorbrand gemaak vir Afrikaans-Amerikaanse samewerking.

Die huidige Amerikaanse ambassadeur in Pretoria heet Patrick Gaspard. Nou die dag sien ek hom in sy koeëlvaste, twaalfsilinder-BMW raak en ‘n paar dae later weer saam met sy vrou in die Sandton City-winkelsentrum. Daar is ‘n soort ongemaklike oomblik as ons mekaar herken. Sonder enige rede het hy my op Twitter versper, waarskynlik omdat hy daarvan bewus is dat ek tot die gehate Afrikanervolk behoort. Gaspard is in die Kongo gebore en het agterna in Chicago by Obama se linkse, antiblanke versetsgroepe betrokke geraak, daarom is hy met die ambassadeurskap in Suid-Afrika beloon. Vir seker sal hy onder mnr. Trump nie lank hou nie. Inteendeel, mnr. Trump mag dalk net iemand soos Jared Taylor van American Renaissance aanstel. Nie net is Taylor ‘n leiersfiguur in die pro-blanke beweging in die VSA nie, maar hy dra ook uitvoerig kennis van Suid-Afrika, plaasmoorde en antiwit diskriminasie. Soos Trump, word hy gereeld deur die liberale media in die VSA vir ‘n “rassis” uitgekryt, al het hy nog nooit in sy lewe die woord “nigger” gebruik nie. Die ANC en die Effers sal seker ‘n floute vang, maar met Trump in die Withuis, sal enigeen nog omgee wat die narre wat hul in ons land as politici voordoen, dink?

Die hele gespuis wat De Klerk – gesteun deur die verraderlike plaaslike en oorsese media – oor ons aangestel het, moet weg. Daar moet opnuut oor politieke oplossings vir Suid-Afrika gedink word. Sogenaamde “swart meerderheidsregering” lei regstreeks na korrupsie, geweld en armoede. Trump is ‘n sakeman en dus kan hy nie korrupsie, geweld en armoede as begeerlike uitkomste vir “regering” sien nie.

Soos Richard Spencer, nog een van die jong, pro-Westerse intellektuele in Amerika en ‘n persoonlike vriend van my, oor Trump gewiet het:

Min Afrikaners besef dit nog, want sotte soos Leopold Scholtz of Max du Preez het dit nog nie vanaf hul preekstoele in ‘n Media24-koerant aangekondig nie, maar Trump het reeds die wêreld verander. As hy in die Withuis kom, gaan die poppe dans.

Die feit dat die meeste Afrikaners dus vir hul eie “Obama”, Mmusi Maimane, stem, behoort ons min te skeel. Demokrasie het in Suid-Afrika nog altyd baie min getel. Dis bloot ‘n sirkus wat aandag van die werklike magsverhoudinge en buitelandse invloed aflei. Soos die skerpsinnige Smuts ingesien het, word ons lot buite ons grense bepaal.

Die aardbewing as Trump in die Withuis kom, sal tot hier gevoel word. Die handjie vol Afrikaners wat nog lojaal teenoor ons eie mense en die Westerse beskawing staan, moet regmaak daarvoor. Daar is ‘n groot golf op pad, selfs ‘n tsoenami. En dié keer is dit ‘n wit tsoenami!

Binnekort drink ons dalk groentee – dis wat ek deesdae drink, nie meer koffie nie – in die Amerikaanse ambassade by Pretoriusstraat 877 saam met mnr. Jared Taylor. Ons sal nie eens ons probleme aan hom hoef te verduidelik nie, want hy verstaan dit reeds. Daar moet meer as een manier wees om van die ANC en die Effers, sonder geweld en te veel bohaai, ontslae te raak. As hulle almal net van die misdade en korrupsie wat hulle reeds gepleeg het, aangekla word, sal daar nie genoeg plek op Robbeneiland of in Polssmoor wees om hulle almal aan te hou nie.

Op die Britse Guardian se webblad het daar nou die dag ‘n interessante artikel verskyn oor die versweë rassedinamiek wat die Amerikaanse politiek dryf: American crossroads: Reagan, Trump and the devil down south: How the Republican party’s dog-whistle appeal to racism, refined by Richard Nixon and perfected by Ronald Reagan, led inexorably to Donald Trump. Volgens die skrywer, Ben Fountain, wat uiteraard vanuit ‘n linkse oogpunt skryf, is die politiek selfs in Reagan se dae gekenmerk deur “gekodeerde” rasse-elemente. Die blanke Suide, wat erg onder swartes en die sogenaamde “desegregasie” gely het, het in 1948 die Demokratiese Party weens sy toenemende liberalisme verlaat en Republikeins begin stem. Hierna moes die Republikeinse Party voortdurend op ‘n subtiele manier ‘n pro-blanke sein uitstuur, sonder dat die media dit kon opvang. Die skrywer haal vir Lee Atwater – destyds ‘n strateeg in die Reagan-Withuis – aan waar hy die sogenaamde “suidelike strategie” só opsom:

You start out in 1954 by saying ‘nigger, nigger, nigger’. By 1968, you can’t say ‘nigger’ – that hurts you. Backfires. So you say stuff like, uh, forced bussing, states’ rights and all that stuff. You’re getting so abstract now you’re talking about cutting taxes, and all these things you’re talking about are totally economic things and a byproduct of them is blacks get hurt worse than whites. And subconsciously maybe that is part of it. I’m not saying that. But I’m saying that if it is getting that abstract, and that coded, that we are doing away with the racial problem one way or the other. You follow me – because obviously sitting around saying ‘We want to cut this’ is much more abstract than even the bussing thing, and a hell of a lot more abstract than ‘nigger, nigger’.

In die VSA, nes in Suid-Afrika, draai alle politiek rondom ras. Terwyl dit in die verre verlede gegaan het oor swart “burgerregte” in die Amerikaanse Suide, het dit tans te make met blanke oorlewing in ‘n “gekleurde wêreld”, dít wat Lothrop Stoddard en ander Amerikaners in die twintigjare voorspel het in boeke soos The Rising Tide of Color Against White World-Supremacy.

Die ANC-SAKP is wesentlik ‘n terroriste-organisasie wat nooit Suid-Afrika moes regeer het nie. Mev. Thatcher was reg toe sy gesê het dat hul ondersteuners in die Weste kranksinnig was. Sy en mnr. Reagan was die enigste Westerse leiers wat helder genoeg was om te kon insien op watter ramp radikale, linkse en antiblanke regering in Suid-Afrika sou afstuur.

Donald Trump volg so reg in Reagan se voetspore. Hier van die kantlyn af, behoort Afrikaners hom toe te juig, al is ons net ‘n klein groepie. Die res van Suid-Afrika, en veral natuurlik die Verraaierkaners, sal ons altyd met dieselfde teerkwas van “fascisme” en “rassisme” toetakel as waarmee hulle Trump probeer swartsmeer.

Maar soos wat iemand nou die dag twiet:

Inderdaad raak verguising as “rassis”, “fascis” en “Nazi” deesdae op ‘n manier deel van die blanke identiteit. Selfs liberale en linkse blankes word gereeld as “rassiste” uitgeskel.

Met sy geniale sin vir bemarking, het Trump dit ingesien en die “reserweweermag van armblankes” waarvan Ilana Mercer praat, tot sy mees lojale ondersteuners verhef. Hulle is gewoond daaraan om beledig te word, dus hoe meer die media Trump beledig het, hoe meer kon hulle met hom identifiseer. Hoewel Trump nog niks gesê het wat as openlik pro-blank geïnterpreteer kan word nie, het hy aan die ander kant ook nog niks kwytgeraak wat as antiblank getipeer kan word nie. Anders as mev. Clinton, byvoorbeeld, wat gereeld tirades teen “rassisme” en “blanke bevoorregting” lewer.

Trump sal moet vasbyt. Maar vir die eerste keer sien ek ‘n sprankie hoop op die horison raak. ‘n Trump-Withuis gaan die wêreld verander. En dalk Suid-Afrika daarmee saam. Selfs Europa sal nie ongeskonde gelaat word nie en die nuwe regse partye op die Vasteland mag dalk net vinniger groei. Donald Trump in die Withuis, Marine Le Pen in die Élysées, Geert Wilders aan bewind in Nederland… almal goeie vriende van Wladimir Poetin. Kan u u so iets voorstel?

Onthou net: U het dit hier vir die eerste keer gelees.

American Renaissance besin oor Amerika in 2034

Die konserwatiewe Amerikaanse webblad onder redaksie van mnr. Jared Taylor, American Renaissance, het onlangs ‘n reeks artikels deur bekende konserwatiewe denkers en aktiviste geplaas waarin hulle poog om te voorspel hoe die VSA oor 20 jaar daar gaan uitsien.

Die reeks van tien opstelle heet Race and America in 2034 en vertoon ‘n algemene pessimisme wat nie aan Afrikaners onbekend is nie. Die meeste skrywers voel dat die linkse establishment in die vorm van die akademici, die media en die Demokratiese Party volledig in beheer van die land verkeer, met min vooruitsig op verandering. Kulturele marxisme is vandag in die VSA net so ingeburger soos Marxisme-Leninisme in die voormalige Sowjetunie. ‘n Nimmereindigende, onverklaarde oorlog op blanke gesinne sal woed, met die belange van swartes, immigrante, Spaanssprekende kleurlinge, gays en feministe wat voorrang sal geniet. Demografies het die VSA reeds die kantelpunt bereik en word daar jaarliks ‘n meerderheid nie-blanke babas in die land gebore.

Sommige skrywers soos Paul Gottfried hoop dat, indien dinge nóg slegter gaan en daar meer geweld op en diskriminasie teen blankes kom, hulle “wakker sal skrik” en dalk in opstand sal kom. Ons ervaring in Suid-Afrika, met die mees antiblanke wetgewing en beleid ter wêreld, spreek egter van die teendeel. Dit wil voorkom asof blankes maklik gekondisioneer kan word om tweederangse burgerskap te aanvaar, met die meeste mense wat net aan hul eie belang dink en poog om die stelsel ter wille van hul eie oorlewing te pypkan.

Die jong aktivis Richard Spencer, met wie ek al namens praag ‘n uitgebreide potgooi-onderhoud gevoer het, meen dat blanke Amerikaners deur siklusse van “passiwiteit en ongemaklike tevredenheid”, asook woede, gaan soos die karakter Howard Beale in die 1976-film, Network. Ná elke siklus keer hulle egter tot passiwiteit terug.

Mnr. Jared Taylor plaas sy hoop op blanke enklawes wat in landelike en voorstedelike gebiede in die VSA tot stand sal kom, asook op die huidige oplewing in nasionalistiese politiek in Europa. Hy voorspel dat daar oor 20 jaar drie Europese lande mag wees wat deur nasionalistiese partye regeer mag word, met koalisies waarin sulke partye dien in vyf ander lande.

Ondanks die gebrek aan klinkklare oplossings in die reeks artikels, verteenwoordig Race and America in 2034 ‘n interessante oefening in toekomskunde waarin Afrikaners heelwat van ons eie situasie sal herken, met die verskil dat ons natuurlik veel later in die proses van vervreemding, geweld en marginalisering as die blanke Amerikaners verkeer.

Miskien is dit nodig dat ons ook ‘n slag besin oor waarheen Suid-Afrika en Afrikaners op pad is?