Inwoners van Kriel was Woensdag steeds in die dorp vasgekeer nadat oproermakers toegangsroetes versper het. Die plaaslike radiostasie het inwoners gemaan om in hul huise te bly weens die gespanne toestand.
Volgens ’n polisiebeampte het die polisie Maandag ingegryp toe honderde oproeriges na Kriel gestap het.
Motoriste moes Dinsdagmiddag buite Kriel op die R547-pad staan nadat lokasiebewoners van Thubelihle en Ganala die pad deur die dorp in die oggend met klippe en brandende motorbande onbegaanbaar gelaat het.
‘n Boer moes noodgedwonge sy grondpad oopstel om die verkeer deur te laat.
Skole is gewaarsku dat leerlinge skoolterreine nie moet verlaat nie tensy ouers hul kinders persoonlik kom haal.
Gewapende polisielede het die toneel gemonitor vir ‘n regeringsafvaardiging wat glo Woensdag sou opdaag om met die inwoners te onderhandel.
Woensdag is die derde dag dat inwoners betoog oor werkgeleenthede wat slegs aan buitelanders by Eskom gebied word.
‘n Ooreenkoms tussen plaaslike inwoners en Eskom asook die myne in die omgewing is vroeër bereik waarvolgens die plaaslike gemeenskap voorkeur sal kry vir poste.
Drie betogers het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn weens oortredings wat verband hou met die optog. Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, het gesê die verrigtinge is tot 29 September uitgestel.
Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, het gesê diegene wat meen dat die wysigings aan immigrasieregulasies ongrondwetlik is, moet dit na die hof neem.
Gigaba het belangrike wysigings rakende buitelanders se verblyfvoorwaardes in Suid-Afrika bekend gemaak.
Die maatreëls sluit in dat alle kinders wat reis hulle eie paspoorte moet hê en dat permitte vir studie se voorwaardes streng toegepas sal word vir die tydperk wat toegewys word.
Sakelui met visums sal ook ten minste van 60 persent plaaslike arbeid gebruik moet maak.
Hy sê besoekers wat hulle verblyfvoorwaardes aan die land oorskry sal nie langer beboet word nie, maar as ongewens verklaar word.
Permitte aan Zimbabwiërs, bekend as visums, verstryk vanjaar maar Gigaba sê “baie dinkwerk” is nodig voordat die regering sy beleid oor immigrante uit Zimbabwe sal aankondig.
Die permitte wat uitgereik word kragtens die spesiale bedeling sal verval, en die departement se syfers dui daarop dat byna 250.000 mense permitte onder die Zimbabwe Document Project ontvang het.
In Maart het die minister van binnelandse sake Naledi Pandor gesê permithouers sal weer aansoek moet doen vir hul permitte in hul land van herkoms .
Donderdag het Gigaba gesê die omstrede nuwe visumregulasies vir besoekers aan Suid -Afrika is ten volle grondwetlik.
Global Migration SA het gesê die wysigings is ongrondwetlik en kan lei tot litigasie teen die regering. Die maatskappy hanteer aansoeke vir die VSA en Brittanje.
“Hierdie nuwe regulasies kan litigasie met betrekking tot voor die hand liggend weglatings en grondwetlike kwessies veroorsaak,” het die besturende direkteur Leon Isaacson gesê in ‘n verklaring.
Inwoners van Kanyamazane en Pienaar in Mpumalanga beweer dat die water vergiftig is, nadat hulle die naweek op ‘n plundertog teen buitelanders gegaan het.
Oproeriges het die hoofpad in die gebied met brandende bande en klippe versper in die voortslepende xenofobiese geweld.
Die oproer het begin toe ‘n Somaliër verlede week ‘n 20-jarige man doodgeskiet het.
Die oorledene is Sondag begrawe, Ná die begrafnis het inwoners die buitelanders se winkels ingevaar, gevandaliseer, besteel en aan die brand gesteek.
Hulle het vyf winkels wat aan buitelanders behoort geplunder en vier afgebrand. Nege mense is tot op hede in hegtenis geneem ivm openbare geweld.
Die Mbombela munisipaliteit sê hulle ondersoek die bewerings dat die water ook vergiftig is.
‘n Sewentienjarige skoolmeisie is in die nek geskiet en beseer in ‘n wraakaanval deur Pakistani-winkeliers.
Tientalle betogers het na bewering die mans se winkels geplunder en het paaie met klippe en brandende motorbande versper.
Die buitelanders het daarna op ‘n skare swart leerlinge en voetgangers in Botleng naby Delmas losgebrand.
Volgens kolonel Jannie van Tonder van die SAPD was dit vermoedelik ‘n aanval deur die winkeliers in weerwraak op inwoners wat hulle winkels Donderdag geplunder het.
Die beseerde meisie is na ‘n waakeenheid by ‘n Witbank-hospitaal geneem.
Die SAPD het die winkeliers in hegtenis geneem en op ‘n gesteelde 9mm-pistool beslag gelê.
Die situasie in Delmas is gespanne.
Die ANC se kantoor in Botleng is vroeër aan die brand gesteek en ander geboue is beskadig.
Betogers, waaronder jong kinders, het Vrydag weer die strate ingevaar. Die polisie monitor die situasie.
Dinsdag, voor die skietery, is briewe is onder leerlinge versprei wat maan dat hulle weg van die skool moet bly en aan optogte moet deelneem.
Die jeugdiges beweer dat ‘n gebrek aan werksgeleenthede te wyte is aan ‘ n korrupte verhouding tussen die mynbase en munisipale amptenare .
Hulle ook ‘n groot vragmotor wat aan ‘n wit boer behoort met bale veevoer Donderdagmiddag aan die brand gesteek.
Die twee Pakistani burgers sal binnekort in die hof verskyn op aanklagtes van poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde, gesteelde vuurwapen.
Vyf swartes wat in hegtenis geneem is in verband met Oujaarsdag se skietvoorval op Krugersdorp aan die Wesrand sal binnekort in die hof verskyn.
Sewe mense is by ‘n spazawinkel gewond vanwie twee se toestand kritiek is.
‘n Polisiewoordvoerder, Katlego Mogale, sê daar word beweer dat ‘n groep mense die winkel binnegekom en oproerig geraak het.
Dit is nie bekend of die voorval uit vreemdelinghaat plaasgevind het nie. Spazawinkels word dikwels deur buitelanders bedryf.
Mogale sê die eienaar het toe sy vriend nadergeroep waarna ‘n woordewisseling ontstaan het. ‘n Sesjarige kind is onder die gewondes, het RSG berig.
Die verdagtes sal op aanklagte van poging tot moord in die hof verskyn.
Intussen is nog ‘n swartman doodgeskiet en een gewond in ‘n verbyryskietvoorval in Soweto, het die SABC berig.
Die Tshwane Metropolisie het motoriste in Pretoria geloof omdat hulle tydens die Nuwejaarsvieringe die wet gehoorsaam het.
Die hoof van die Tshwane Metropolisie, Steven Ngobeni, sê die plaaslike polisie is in hulle skik omdat geen ernstige voorvalle in die tydperk aangemeld is nie.
‘n Derde van die mense in Suid-Afrika se ekonomiese hartland wil hê dat alle buitelanders huistoe gestuur word soos die wedloop om ekonomiese geleenthede en werkloosheid feller word.
“As hierdie soort van vooroordeel bestaan in so ‘n groot deel van die bevolking daar is ‘n groot probleem,” sê David Everatt, uitvoerende direkteur van die Gauteng Stadstreeksobservatorium, ‘n vennootskap tussen die Gautengse provinsiale regering en die universiteite van Johannesburg en van die Witwatersrand.
Everatt het gepraat by Vrydag se bekendstelling van die Gauteng City Region Review – ‘n opname wat kyk na die dinamika en tendense wat mense, die omgewing, die ekonomie en die regering van Gauteng en relatief nabygeleë stedelike gebiede soos Sasolburg, Witbank en Rustenburg raak.
Die Gautengstreek en sy byna 14 miljoen mense is 45% van Suid-Afrika se ekonomie, was dit absoluut noodsaaklik maak vir die land as ‘n geheel dat die streek “optimaal werk” sê Everatt.
Ten spyte van knaende probleme soos onklaar verkeersligte en die Stad van Johannesburg se eindelose faktuurkrisis, leef meer as die helfte van die streek se bevolking “goed”.
“In die streek het 46% ‘n goeie lewensgehalte,” sê Everatt .
Meer as 5,8% van die bevolking het ‘n baie hoë lewensgehalte, maar byna net soveel – 4,8% van die bevolking of byna 700,000 mense – is “heeltemal gemarginaliseer”.
Gemiddeld het die lewensgehalte van mense in die streek effens toegeneem tussen 2009 en 2011 ten spyte van die wêreldwye resessie en die byna 1 miljoen werksgeleenthede wat verlore gegaan het.
Die navorsing het aan die lig gebring dat die fokus van mense verskuif het. Terwyl byna die helfte van die respondente in 2009 misdaad as die grootste bedreiging bestempel het, het die syfer gedaal tot 35 % in 2011.
Werkloosheid het in dieselfde tydperk gestyg tot die tweede grootste bekommernis.
Data wat tans ingesamel word, sal openbaar hoe suksesvol die streek – met sy hoë invloei van immigrante uit die res van die land en die res van die vasteland – die duisende nuwelinge opgeneem het .
Gauteng Premier Nomvula Mokonyane het gesê betogings oor dienslewering is glad nie ‘n aanduiding dat die spanning tussen die “heeltemal gemarginaliseerdes” besig is om oor te kook nie.
“Sommige van die kwessies het niks te doen met dienslewering nie, maar het te doen met die plaaslike politiek – iemand wat ‘n tender soek, of ‘n leier in die ANC wil wees,” het Mokonyane gesê.
Volgens Everatt toon die jongste opname dat die gemarginaliseerdes “prut van rassehaat”.
“Ons ‘ont-ras’ aan die bokant, maar ons ‘ont-ras’ nie aan die onderkant nie,” het Everatt gesê.
Hy het gesê die respondente tussen die ouderdomme van 18 en 24 het dieselfde siening as ouer mense.
Hy noem dit “skrikwekkend “, want dit toon dat gevaarlike menings voortleef.
Vyandigheid teenoor buitelanders is die grootste probleem, het hy gesê .
“‘n Derde van die respondente in die streek wil hê dat alle buitelanders teruggestuur word na waar hulle vandaan kom,” het hy gesê .
Volgens Everatt , word 58% van die inkomste verdien deur die top 10% van die streek se bevolking. Slegs 1% word huis toe geneem deur die onderste 10%. – timeslive.co.za
Daar is steeds ‘n groot polisieteenwoordigheid by New Brighton in Port Elizabeth nadat die plunder van winkels wat aan Somaliërs behoort deur die woonbuurt versprei het.
Die Somaliërs het alles opgepak wat hulle uit hulle winkels kon red en is na veiligheid geneem.
‘n Polisiewoordvoerder, Thembi Gwe sê die geweld het na bewering begin nadat ‘n Somaliese man ‘n 30-jarige man tydens ‘n argument doodgeskiet het.
Lede van die gemeenskap het toe op ‘n stormloop gegaan en tien winkels geplunder. Drie winkels en ‘n voertuig wat buite een van die winkels geparkeer was, is aan die brand gesteek.
Die plundery het in Gunguluza- en Tintilistraat begin, maar het vinnig versprei. Die polisie monitor steeds die gebied.
Verder noord het inwoners van die Thekwane-Suid township naby Nelspruit in Mpumalanga een van die hoofpaaie na Nelspruit met brandende buitebande versper.
Die inwoners beweer dat hulle huise aan ander mense verkoop. Hulle wil hê die LUR vir huisvesting, Andries Gamede moet ingryp en ‘n oplossing vir die saak vind.
Die betoging gaan na verwagting die oggendverkeer in die Mbombela gebied ontwrig, aangesien die pad wat versper word ook die KaNyamazane township met Nelspruit verbind. – RSG
Duisende inwoners van Duduza aan die Oos-Rand het hul kinders uit die skool gehaal, en aangemoedig om te plunder en winkels wat aan buitelanders behoort, af te brand.
Vier tieners is ernstig beseer in skietgevegte met buitelandse winkeleienaars Donderdag en ‘n vyfde swart jeugdige is erg aangerand.
Die bloedvergieting het uitgebreek in Duduza laat Woensdag toe ‘n Somaliese winkeleienaar ‘n 17-jarige seun tydens ‘n argument oor R5 se selfoonlugtyd geskiet het. Onbevestigde verslae sê die jeugdige is dood. Die polisie ondersoek die voorval, maar kon dit nie bevestig nie.
Die skietery gelei tot verontwaardiging en ‘n opwelling van zenofobie, en duisende mense die strate laat invaar.
Die onrus het versprei na die naburige dorp Tsakane, waar mense huise aan die brand gesteek het, voertuie beskadig het en Somaliërs, Pakistani’s en Bangladeshis genoop het om te vlug.
Mense gewapen met kieries en ysterstawe het besighede aan die brand gesteek en by skole opgedaag, wat onderwysers gedwing het om te vlug en kinders uit klaskamers te sleep. Die skole moes noodgedwonge sluit.
Onluspolisie het gepoog om orde te herstel terwyl inwoners, verdeel in kleiner groepe, deur die lokasie versprei het om te “jag” op buitelanders.
“Ons gaan hulle doodmaak. Ons gaan alles wat hulle het brand en vat waarmee hulle nie kan weghardloop met,” het een Tsakane-inwoner geskreeu, terwyl Hassan Ali, sy winkel se voorraad inderhaas moes oplaai op ‘n bakkie om te vlug.
“Hulle het hier kom steel, ons werk en nou maak hulle ons kinders dood,” het die inwoner gekla. “Ons sal nie dit toelaat nie. Die polisie doen niks nie en die regering is nêrens.”
Kapt Johannes Ramphara beskryf die situasie as chaoties.
“Dit is totale wetteloosheid. Ons het gedink dit sou kalmeer, maar inwoners het voortgegaan om te op te breek in groepe, die skole laat sluit en kinders op die strate gejaag.”
Hy het gesê vyf mense is in hegtenis geneem en die polisie ondersoek ‘n saak van openbare geweld, intimidasie en poging tot moord.
Ná verskeie menseregteorganisasies, is Emiritus aartsbiskop Desmond Tutu nou insgelyks bekommerd oor xenofobiese geweld ná die sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika.
Tutu het blykbaar Saterdag ‘n beroep op swart Suid-Afrikaners gedoen om nie hul “broers” vanuit ander Afrikalande aan te val nie, aangesien vele uitgeweke swartes uit Suid-Afrika voorheen skuiling in Afrikalande gevind het tydens die sogenaamde “stryd teen apartheid”.
Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu, het die gerugte van naderende aanvalle op buitelanders as “moedswillig en vals” bestempel.
In 2008 is 62 buitelanders uit Afrikalande deur plaaslike swartes doodgemaak en duisende is uit hul wonings verdryf.
Die Rooi Kruis het sowat R2 miljoen nodig om die xenofobie-slagoffers van De Doorns in die Wes-Kaap te help.
“Die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis pleit by Suid-Afrikaners om saam te staan en ‘n helpende hand te bied,” het die organisasie Woensdag gesê.
Hierdie noodkreet kom terwyl onderhandelaars in gesprekke is met verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskap in ‘n poging om die spanning te verlig.
Duisende buitelanders, meestal vanaf Zimbabwe afkomstig, is Dinsdag uit hulle huise in die nedersetting gedwing.
Plaaslike inwoners het beweer die buitelanders aanvaar laer lone, en beroof hulle so van werke.
Vrywilligers het die buitelanders sedertdien te hulp gesnel en hulle van komberse en kos voorsien. Volgens die Rooi Kruis is daar ‘n drastiese tekort aan baba-formule, klere en brandstof.
Supt. Desmond van der Westhuizen, stasiekommissaris, is sowat 1000 vlugtelinge op naby geleë plase gehuisves.
Hy het ook bygevoeg dat ‘n vergadering laat Woensdagmiddag gehou is tussen die vakverbond Cosatu, die Wes-Kaapse LUR en die verteenwoordigers van die Verenigde Nasies (VN) in die hoop om die krisis op te los.
Die De Doorns-area was Woensdag kalm gewees sonder enige voorvalle van geweld. Die SAUK het egter berig dat die buitelanders onder mekaar baklei het omdat hulle onseker was of hulle terug kan gaan werk toe.