Oproer nadat kragdiewe doodskok

Sowat 500 oproeriges versper tans die R102 by Tongaat, noord van Durban met brandende bande en klippe.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Zwane sê die gemeenskap eis wateraansluitings en elektrisiteit.

Die oproer het begin toe drie mense Dinsdag doodgeskok het terwyl hulle elektrisiteit gesteel het.

Die drie het na bewering gepoog om onwettige kragverbindings aan te lê.

Zwane sê die polisie is na die gebied ontplooi, en monitor die situasie.

Swart inwoners by Burgersfort maak amok

Inwoners van Gaselepe, buite Burgersfort in Limpopo het amok gemaak nadat skietwerk by ‘n nabygeleë myn na bewering ‘n man se lewe geëis het.

Die polisie sê die slagoffer is na bewering na skietwerk by die Bokoni platinum-myn deur ‘n klip getref, en is op die toneel dood.

Die gemeenskap het minstens een huis aan die brand gesteek.

Die polisie monitor steeds die gebied.

Polisie ontplooi in Johannesburgse gebiede na oproer

Verskeie paaie is Maandag in Ennerdale, Johannesburg gesluit vanweë protesoptrede.

Die polisie moes inderhaas in die gebied ontplooi word nadat rassisme opgevlam het het oor die toewysing van behuising.

Provincial- en James-weg is was vir die grootste deel van die dag gesluit. Motoriste is aangeraai om Lenasia-rylaan as alternatief te gebruik.

Na wat berig word hou die oproer met die behuisingskwessie verband.

Verskeie paaie is ook in Westbury in die stad gesluit nadat oproer in die gebied uitgebreek het en die polisie ontplooi moes word.

‘n Veiligheidswag het ‘n oproermaker doodgeskiet nadat die skare gewelddadig begin raak het.

Die oproerige is vroeër by die Newclare-stasie deur die wag doodgeskiet.

Die Passasierspooragentskap, Prasa het intussen die brandstigting, vandalisme en diefstal van sy eiendom by die Newclare-stasie veroordeel.

Die groep uitvoerende hoof van Prasa, Lucky Montana sê die plundery het plaasgevind onder die dekmantel van ‘n diensleweringbetoging en het niks te doen gehad met die maatskappy nie.

Montana sê hy is onthuts dat ‘n gebou wat deur ‘n Prasa-werknemers gebruik word, na bewering in die teenwoordigheid van die polisie, aan die brand gesteek is.

Metrospoor in Gauteng het treindienste tussen Randfontein en Johannesburg tydelik opgeskort.

N2 sluit na oproer by Grabouw

Oproeriges in Grabouw het Maandag motors met klippe gegooi wat in ‘n verkeersknoop op die N2 vanaf Kaapstad vasgesit het, het die polisie gesê.

“Ons het baie polisie hier, en ons herlei die verkeer,” het lt.kol Raldene Watson gesê.

Die polisie sê die betogers het die donker gebruik om motoriste op die alternatiewe roetes ook onder die klippe te steek. Informele behuising op Melrose Place in die dorp is deur die betogers afgebreek.

Watson het gesê die polisie monitor die situasie.

Vroeër, het die polisie rubberkoeëls en traangas gebruik om meer as ‘n 1000 oproeriges by Grabouw se munisipale kantore te verjaag.

Die rubberkoeëls is afgevuur toe oproeriges in Ou Kaapse Weg begin het om klippe na die polisie te gooi.

‘n Gedeelte van die N2 verby die dorp moes gesluit word vir ‘n paar uur na verbygaande motors met klippe bestook is.

Olie is op die snelweg uitgegooi en later is rotse en brandende bande om toegang tot die dorp af te sper.

Die N2 is gesluit by Sir Lowryspas, Gordonsbaai en naby Botrivier.

Die betogers het in Gaffleystraat saamgedrom en na die munisipale kantore in Pineview geloop om ‘n memorandumlys van hul griewe te oorhandig.

Die openbare orde polisie-eenheid is ingeroep met njalas en waterkanonne om die skare onder beheer te hou.

Na die oorhandiging van die memorandum en toesprake deur verskeie gemeenskapsleiers, het die skare die munisipale kantore verlaat en terug in die lokasie begin om klippe te gooi.

Die protes is die tweede in die afgelope weke. John Michels, leier van die Grabouw Civics Organisation, het gewaarsku dat die N2 elke naweek afgesper sal word totdat daar aan hul eise voldoen word.

Griewe in die memorandum sluit ‘n gebrek aan behuising, swak en duur elektrisiteit en die slegte toestand van die paaie in.

Die 229 opstande teen owerhede het die Gautengse regering sedert Junie vanjaar tien miljoen rand gekos.

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sizakhele Nkosi-Malobane, het die inligting in antwoord op ‘n vraag in die provinsiale wetgewer verstrek.

Kriel onder beleg weens oproer

Inwoners van Kriel was Woensdag steeds in die dorp vasgekeer nadat oproermakers toegangsroetes versper het. Die plaaslike radiostasie het inwoners gemaan om in hul huise te bly weens die gespanne toestand.

Volgens ’n polisiebeampte het die polisie Maandag ingegryp toe honderde oproeriges na Kriel gestap het.

Motoriste moes Dinsdagmiddag buite Kriel op die R547-pad staan nadat lokasiebewoners van Thubelihle en Ganala die pad deur die dorp in die oggend met klippe en brandende motorbande onbegaanbaar gelaat het.

‘n Boer moes noodgedwonge sy grondpad oopstel om die verkeer deur te laat.

Skole is gewaarsku dat leerlinge skoolterreine nie moet verlaat nie tensy ouers hul kinders persoonlik kom haal.

Gewapende polisielede het die toneel gemonitor vir ‘n regeringsafvaardiging wat glo Woensdag sou opdaag om met die inwoners te onderhandel.

Woensdag is die derde dag dat inwoners betoog oor werkgeleenthede wat slegs aan buitelanders by Eskom gebied word.

‘n Ooreenkoms tussen plaaslike inwoners en Eskom asook die myne in die omgewing is vroeër bereik waarvolgens die plaaslike gemeenskap voorkeur sal kry vir poste.

Drie betogers het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn weens oortredings wat verband hou met die optog. Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, het gesê die verrigtinge is tot 29 September uitgestel.

Studente saai verwoesting oor registrasiegelde

Die Pietermaritzburg-kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal is gevandaliseer nadat studente oproerig geraak het.

Sewe studente is in hegtenis geneem nadat geweld uitgebreek het. Volgens ‘n woordvoerder van die universiteit, het die oproermakers lesings probeer ontwrig.

Klasse by die universiteit is ook nog nie hervat by die Westville-kampus nie nadat studente verlede week daar ook oproerig geraak het.

Die studente kla ondermeer oor die verhoging van registrasiegeld. Die departement van Hoër Onderwys het die Universiteitsbestuur intussen versoek om met die Studenteraad te vergader om die dooiepunt in die geskil op te los.

Die ministerie het die beskadiging van Universiteitseiendom tydens die oproer skerp veroordeel.

Oproeriges op Oos-Rand met rubberkoeëls uiteengejaag

Oproer by Rabie Ridge in Tembisa aan die Oos-Rand, het die polisie genoop om met rubberkoeëls op oproeriges te skiet.

Die polisie monitor steeds die gespanne situasie nadat inwoners amok gemaak het oor ‘n behuisingstekort.

“Die polisie het vanoggend rubberkoeëls afgevuur om die betogende inwoners uitmekaar te jaag,” het lt. kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, Dinsdag gesê. “Twee van die betogers is vir openbare geweld in hegtenis geneem.”

“Geen beserings is aangemeld nie. Die inwoners het gesê hulle betoog oor behuising in die gebied.”

Modderfonteinweg was vroeër weens die oproer gesluit, maar is intussen weer oopgestel.

Oproeriges steek munisipale voertuig aan die brand

‘n Groep woedende inwoners van Letlhabile van Brits in Noordwes het ‘n munisipale voertuig aan die brand gesteek, het RSG berig.

‘n Polisielid op die toneel sê die groep het probeer om munisipale grond te beset om hutte op te rig toe hulle die voertuig aan die brand gesteek het.

Niemand is beseer nie.

Die groep se leier, Lefa Mohkele sê die inwoners eis grond om hutte op te bou omdat die munisipaliteit nie by sy belofte gehou het om laekostehuise vir hulle te bou nie.

Toestand uiters gespanne op Kaapse Vlakte

Oproer in Nyanga en Philippi op die Kaapse Vlakte het gesorg vir ‘n uiters gespanne toestand in die gebied.

Die onrus het uitgebreek toe taxibestuurders begin staak het nadat hulle na bewering deur verkeersbeamptes en taxi-eienaars geteister word.

Sewe busse van Golden Arrow is aan die brand gesteek en nog busse is gevandaliseer.

Die spanning het verder opgelaai nadat ‘n taxibestuurder Maandagoggend doodgeskiet is en minstens elf busbestuurders aangerand is.

Die taxibestuurder is by die Nyanga-taxistaanplek doodgeskiet en sy vuurwapen is geroof.

‘n Polisiewoordvoerder, Frederick van Wyk sê egter dit is onduidelik of die taxibestuurder se dood met die geweld verband hou.

Talle paaie in die gebied is steeds gesluit, asook gedeeltes van die R300, Baden Powell-rylaan en Borchards Quarry.

Busse van Golden Arrow en MyCiti is opgeskort en loop nie tans op dié roetes nie.

Vermy klipgooiers op Nasrec-, Hoofrifweg waarsku polisie

Inwoners van die voormalige bruin woonbuurt Riverlea in die suidweste van Johannesburg het Maandagoggend verbygaande voertuie op Nasrecweg, naby die N17, met klippe bestook.

“Betogers gooi klippe na motors en steek buitebande aan die brand,” het hoofsupt. Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie gesê.

Motoriste word aangeraai om die Nasrec- en Hoofrifweë in die gebied te vermy.

Een van die inwoners, Anthony Willaims sê daar daar was sedert 1964 nog geen ontwikkeling in die gebied nie. Hy sê dat die inwoners `n reeks griewe het wat hulle aan die Demokratiese Alliansie se raadslid, Lynette Pretorius wil oordra.

Een van die klagtes is die gebrek aan die ontwikkeling vir die jeug.

Minnaar het gesê die protesaksie het omstreeks 06:00 begin en het motoriste aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.

Oproeriges in Mosselbaai uiteengejaag

Geweld het nog plek-plek in die nag by die Kwanonqaba-township in Mosselbaai voorgekom, het RSG berig.

Oproermakers het Sondag begin betoog deur die ingang na die gebied met brandende bande te versper.

Hulle is ontevrede oor swak dienslewering. Die polisie het gister die betogers met rubberkoeëls en skokgranate uiteen gejaag. ‘n Polisiewoordvoerder, Wollie Fourie sê die situasie is gespanne maar onder beheer.

Intussen sal die dertien mense wat gister in hegtenis geneem is in verband met gewelddadige betogings by Kwanonqaba vanoggend in die hof op Mosselbaai verskyn.

Hulle word aangekla van ‘n onwettige byeenkoms en opsetlike saakbeskadiging.

Swart studente raak oproerig nadat hulle druip

Swart mediese studente wat nie deurkom nie, het hulself gewend na geweld en brandstigting om hul universiteit te dwing om hulle te laat slaag.

Na twee weke van gewelddadige betogings by die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa), is verskeie dosente vroeër voorlopig geskors.

Studente het die geboue gevandaliseer en eiendom beskadig teen dosente in die vyfde jaar pediatrie wat hulle beweer, hulle “viktimiseer” en “doelbewus” laat druip.

Die hoofstroommedia het geen van die dosente genader om hul menings oor die gehalte van die werk van die amokmakers in te win nie.

Studente eis dat hulle deurgesit word na die sesde jaar met volle krediet wanneer die akademiese program hervat.

Die studente het vroeër deur die strate van Pretoria na die kantore van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding opgeruk.

Maar die departement het gesê daar is geen rede vir die optog nie en in plaas daarvan, moet studente die tyd gebruik om voor te berei om terug te gaan na klasse.

‘n Lid van die studenteraad, Tshepo Mokoena, het voorheen gesê: “Ons sal nie teruggaan universiteit toe nie, totdat hierdie kwessies uitgesorteer is. Die departement het gesê ons moet wag vir ‘n verslag oor ons griewe voor die einde van die week. Ons sal wag vir dit.”

Die aanbevelings van ‘n ministeriële taakspan wat pas vrygestel is, het glo nie aan hulle eise voldoen het nie, omdat die dosente nie permanent geskors is nie.

Hulle het weer begin amok maak en die hoofingang na die universiteit versper.

Die voorsitter van die Studenteraad, Malose Marakala, sê hulle sal voortgaan om die universiteit te ontwrig totdat die bestuur aan hulle eise voldoen.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het gesê daar moet ‘n oplossing vir die probleem gesoek word.

Tydens verlede week se optog by die universiteit se Ga-Rankuwa-kampus, het studente ‘n motor aan die brand gesteek, vensters stukkend gegooi en deure afgebreek.

Universiteitskoshuis aan die brand gesteek

’n Vrouekoshuis by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban is vroeg Donderdagoggend in ligte laaie gelaat en 15 studente moes vir rookinaseming behandel word.

Thami Mchunu, studentedekaan, het Donderdag gesê ’n saak van brandstigting word deur die polisie ondersoek.

Die brand is kort ná middernag gestig. Studente en veiligheidspersoneel van die universiteit kon daarin slaag om die brand te blus.

Prof. Mashupye Kgaphola, visekanselier, het gesê die skade beloop ongeveer R90 000.

Die universiteit is die afgelope week deurgeloop onder oproerige studente. ’n Groep studente wat hul die Progressiewe Jeugalliansie noem eis dat alle studente geregistreer moet word, ongeag hoeveel geld hulle die universiteit skuld in terme van uitstaande studiegelde.

Kaapse treinstasies gesluit weens oproerige pendelaars

Metrorail moes inderhaas elf treinstasies tussen Philippi en Nyanga op die Kaapse Vlakte sluit weens oproerige pendelaars.

Intimidasie en geweld deur gefrustreerde reisigers is aangemeld nadat duisende gestrand is omdat vandale sinjaalkabels by ‘n sleutelkruising gesteel het.

Sowat 80 treine in die gebied is erg ontwrig, en die skade word op byna twee miljoen rand geraam.

Busdienste sal Donderdag Kaapse pendelaars na hulle werk vervoer.

Duisende pendelaars sal na verwagting die hele Donderdag vertragings beleef.

Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Donald Grant, het die dade van vandalisme skerp veroordeel.

‘n Woordvoerder van Metrorail, Riana Scott, het bevestig dat die polisie die misdaad ondersoek. Scott sê die kabels wat gesny is, is multilynkabels en tot 37 dunner kabels is binne in een groot kabel saamgevoeg.

Sy sê hulle reken dat dit sowat twee-en-‘n halfmiljoen rand sal kos om dit te vervang.