Oproer na moetiemoord by Burgersfort

Sewe-en-veertig mense is op Mecklenburg buite Burgersfort in hegtenis geneem is op aanklagte van openbare geweld, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging.

Die oproermakers sal na verwagting Maandag in die landdroshof op die dorp verskyn.

Van die gemeenskapslede het Donderdag twee sjebeens geplunder voordat hulle die kuierplekke aan die brand gesteek het.

Hulle beskuldig die eienaar van die sjebeens van die moord op ‘n vrou wat dood voor haar huis aangetref is.

Die polisie sê die vrou se liggaam is geskend en van haar liggaamdele verwyder.

Oproer by platinummyn onder beheer

Gewelddadige oproer naby die Bokoni-platinummyn buite Burgersfort in Limpopo is volgens die polisie onder beheer gebring.

Inwoners het vroeër twee huise en ‘n motor van ‘n plaaslike hoofman aan die brand gesteek.

Ontstoke inwoners beskuldig die hoofman daarvan dat hy die myn toestemming gegee het om in die omgewing aktief bedrywighede te begin.

Oproermakers het ook myntoerusting aan die brand gesteek.

Oproeriges het die dood van ‘n inwoners wat vermoedelik na skietwerk by die myn deur ‘n klip getref is, maande gelede, as verskoning gebruik om op ‘n vernietigingstog te gaan.

Hulle sê die mynbestuur het sedert die ongeluk nog nie met hulle geskakel nie.

Swart inwoners by Burgersfort maak amok

Inwoners van Gaselepe, buite Burgersfort in Limpopo het amok gemaak nadat skietwerk by ‘n nabygeleë myn na bewering ‘n man se lewe geëis het.

Die polisie sê die slagoffer is na bewering na skietwerk by die Bokoni platinum-myn deur ‘n klip getref, en is op die toneel dood.

Die gemeenskap het minstens een huis aan die brand gesteek.

Die polisie monitor steeds die gebied.

Burgersfort-myners saamgetrek op koppie

Vorige optog by Twickenhammyn
Vorige optog by Twickenhammyn

Die polisie en veiligheidsbeamptes van ‘n private maatskappy hou die situasie dop by die Twickenham Platinummyn naby Burgersfort in Limpopo waar ‘n groep plaaslike inwoners op ‘n koppie saamgetrek het.

Inwoners in die gemeenskap het gister op ‘n plundertog gegaan en die pad na die myn versper en geëis om die bestuur te sien.

Hulle eis dat die herontplooiing van myners vanaf Rustenburg en ander gebiede na die Twickenham-myn gestaak word.

Hulle beskuldig die myn daarvan dat plaaslike mense se werk van hulle weggeneem word.

Vyf-en-veertig mense wat gister in verband met openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is, sal môre in die Mecklenburg rondgaande hof verskyn. – RSG

Goudstaking skop af

goldfieldsWerksaamhede word vanoggend ingekort by die Goldfields South Deepmyn op Westonaria suidwes van Johannesburg. Sowat 80 000 werkers wat tot die NUM behoort het die Kamer van Mynwese se verhoogde salarisaanbod van 6,5 persent verwerp en begin staak. Slegs kontrakwerkers het vandag vir diens aangemeld. Daar is onbevestigde berigte dat hulle met die opsegging van hul kontrakte gedreig is indien hulle sou wegbly. Om twaalf-uur vanmiddag gaan daar ‘n massabyeenkoms en betoging by die suidelike skag wees, waar die mynbestuur, die SAKP, Cosatu en die burgerlike organisasie, SANCO die werkers sal toespreek. Sekuriteit is by die myn verskerp.

Die Suid-Afrikaanse kamer van koophandel en nywerheid sê intussen goudprodusente se salarisaanbod moet in die regte perspektief gesien word. Goudprodusente sê die huidige ekonomiese toestande in Suid-Afrika het bygedra tot die finale salarisaanbod. ‘n Woordvoerder van die kamer, Peggy Drosky sê beide werkgewers en vakbonde moet bereid wees om opofferings te maak. Drosky sê werkers het dalk werklike behoeftes, maar maatskappye moet ook winsgewend wees om te kan voortgaan om mense in diens te neem. Volgens Drosky moet daar ‘n duideliker definisie wees van wat ‘n ordentlike lewenspeil in Suid-Afrika is.

In ‘n afsonderlike voorval, het betogers myngereedskap by ‘n skag van Anglo-Platinum se Twickenhammyn buite Burgersfort in Limpopo aan die brand gesteek en verskeie voertuie beskadig. ‘n Plaaslike munisipale raadslid, Vincent Mpofela sê ‘n elektriese transformator is ook afgebrand. Inwoners verkwalik die myn omdat plaaslike werkers afgelê word, terwyl werkers uit ander provinsies aangestel word. Die myn-bestuur was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die vakbond die NUM gaan nie afsien van sy eis vir ‘n 15 persent verhoging vir sy lede in die konstruksiebedryf nie. Dit volg nadat die vakbond BCAWU vroeër ‘n aanbod van ‘n 10 persent verhoging deur die Suid-Afrikaanse federasie van kontrakteurs in siviele ingenieurswese aanvaar het. BCAWU verteenwoordig 40 000 konstruksiewerkers. Die NUM, wat die meerderheidsvakbond is, eis ook ‘n minimumloon van R5 500, bonusse en ‘n mediese fonds pakket. Die vakbond se sekretaris in KwaZulu-Natal, Bongani Manyoni sê vakbondleiers gaan na verwagting môre byeenkom om te bespreek hoe die staking uitgebrei kan word. Manyoni sê hulle wil hê werkgewers moet besef dat hulle ernstig is oor hulle eise.

Werknemers by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg kla dat hulle toegang tot die SAL-kantore sowel as die tegniese perseel geweier word. Dit wil voorkom asof dit deur stakende tegniese personeel veroorsaak word. Werkers wat aan die vakbond, Satawu verbonde is, staak reeds twee weke lank omdat hulle op hoër salarisse aandring. Na bewering is gisteraand se nagskofwerkers ook nie toegelaat om die gebou te verlaat nie. – RSG