Steenkoolmyners staak

Die getal lede van die NUM wat in die steenkoolbedryf staak, sal na verwagting vandag tot sowat 30 000 styg.

Die staking het gister traag begin omdat die meeste myne op Sondae gesluit is.

Duisende lede van die NUM sal na verwagting in Witbank in Mpumalanga, nou genoem Emalahleni, aan ‘n optog deelneem.

Dit is die tuiste van talle steenkoolmyne in die land.

‘n Woordvoerder van die NUM se Hoëveldstreek in Mpumalanga, Nelson Ratshoshi, sê hulle aanvanklike eis vir die laags-besoldigde werkers was R3000, wat hulle later tot R1000 afgeskaal het.

Die werknemers bied R300 aan.

Byna 170 oortredings tydens Poskantoorstaking

Die minister van Telekommunikasie, Siyabonga Cwele, sê byna 170 sake is by die polisie aangemeld vir misdade wat tydens die staking gepleeg is.

Die onwettige tweemaandelange staking deur werkers wat vaste aanstellings en verhogings eis, het die Poskantoor feitlik op sy knieë gedwing.

Die misdade sluit ondermeer gevalle van kwaadwillige saakbeskadiging, intimidasie en aanranding in.

Cwele het in die Nasionale Vergadering van die parlement op ‘n vraag gereageer.

Die minister sê diegene wat die meeste deur die staking geraak word, is die armes, maar sakeondernemings het swaar gely onder die staking aangesien talle van duur koerierdienste moes gebruik maak.

Cwele pogings om die Poskantoor en die vakbondleiers te oorreed om tot ‘n vergelyk te kom sal voortgaan sodat werkers kan terugkeer werktoe.

Vakbondleiers het vroeër hulle looneis van 15 persent tot 7,5 persent afgeskaal.

Die Universiteit van Suid-Afrika het ondanks die staking ononderbroke dienste ontvang.

UNISA is een van die Poskantoor se grootste kliënte.

Cwele het gesê die Poskantoor het met die hulp van UNISA stelsels in plek gestel om te verseker dat die Unisastudente hulle pos en studiemateriaal ontvang.

Dit is veral belangrik vir studente wat eksamen gaan skryf dat hulle hulle werkstukke ter voorbereiding van die eksamen betyds ontvang.

Die minister het ook gesê die Departement en die Poskantoor sal voortgaan om met ander groot rolspelers en instellings wat swaar leun op die Posdienste, in gesprek te tree.

Goudstaking skop af

goldfieldsWerksaamhede word vanoggend ingekort by die Goldfields South Deepmyn op Westonaria suidwes van Johannesburg. Sowat 80 000 werkers wat tot die NUM behoort het die Kamer van Mynwese se verhoogde salarisaanbod van 6,5 persent verwerp en begin staak. Slegs kontrakwerkers het vandag vir diens aangemeld. Daar is onbevestigde berigte dat hulle met die opsegging van hul kontrakte gedreig is indien hulle sou wegbly. Om twaalf-uur vanmiddag gaan daar ‘n massabyeenkoms en betoging by die suidelike skag wees, waar die mynbestuur, die SAKP, Cosatu en die burgerlike organisasie, SANCO die werkers sal toespreek. Sekuriteit is by die myn verskerp.

Die Suid-Afrikaanse kamer van koophandel en nywerheid sê intussen goudprodusente se salarisaanbod moet in die regte perspektief gesien word. Goudprodusente sê die huidige ekonomiese toestande in Suid-Afrika het bygedra tot die finale salarisaanbod. ‘n Woordvoerder van die kamer, Peggy Drosky sê beide werkgewers en vakbonde moet bereid wees om opofferings te maak. Drosky sê werkers het dalk werklike behoeftes, maar maatskappye moet ook winsgewend wees om te kan voortgaan om mense in diens te neem. Volgens Drosky moet daar ‘n duideliker definisie wees van wat ‘n ordentlike lewenspeil in Suid-Afrika is.

In ‘n afsonderlike voorval, het betogers myngereedskap by ‘n skag van Anglo-Platinum se Twickenhammyn buite Burgersfort in Limpopo aan die brand gesteek en verskeie voertuie beskadig. ‘n Plaaslike munisipale raadslid, Vincent Mpofela sê ‘n elektriese transformator is ook afgebrand. Inwoners verkwalik die myn omdat plaaslike werkers afgelê word, terwyl werkers uit ander provinsies aangestel word. Die myn-bestuur was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die vakbond die NUM gaan nie afsien van sy eis vir ‘n 15 persent verhoging vir sy lede in die konstruksiebedryf nie. Dit volg nadat die vakbond BCAWU vroeër ‘n aanbod van ‘n 10 persent verhoging deur die Suid-Afrikaanse federasie van kontrakteurs in siviele ingenieurswese aanvaar het. BCAWU verteenwoordig 40 000 konstruksiewerkers. Die NUM, wat die meerderheidsvakbond is, eis ook ‘n minimumloon van R5 500, bonusse en ‘n mediese fonds pakket. Die vakbond se sekretaris in KwaZulu-Natal, Bongani Manyoni sê vakbondleiers gaan na verwagting môre byeenkom om te bespreek hoe die staking uitgebrei kan word. Manyoni sê hulle wil hê werkgewers moet besef dat hulle ernstig is oor hulle eise.

Werknemers by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg kla dat hulle toegang tot die SAL-kantore sowel as die tegniese perseel geweier word. Dit wil voorkom asof dit deur stakende tegniese personeel veroorsaak word. Werkers wat aan die vakbond, Satawu verbonde is, staak reeds twee weke lank omdat hulle op hoër salarisse aandring. Na bewering is gisteraand se nagskofwerkers ook nie toegelaat om die gebou te verlaat nie. – RSG