Suid-Afrika en Angola het Donderdag 'n aantal handelsooreenkomste geteken wat 'n oliesamewerkingspakt tussen die Suid-Afrikaanse PetroSA en Angolese Sonangol insluit, het president Jose Eduardo dos Santos gesê.
"Energie is een van die belangrikste aspekte vir vrede en stabiliteit," het Dos Santos aan joernaliste gesê. Bestuurders van albei maatskappye gaan saamwerk op die gebied van eksplorasie, raffinering en verspreiding, volgens die president.
Bilaterale ooreenkomste betreffende energie, industrie, handel en vervoer is ook gesluit.
President Jacob Zuma, wat deur 11 ministers en meer as 100 sakeleiers vergesel is, het gesê die ooreenkoms sal die ekonomiese landskap in Suid-Afrika strategies verander.
Albei leiers het die belang van sakeverhoudinge tussen Angola en Suid-Afrika, die kontinent se grootste ekonomie, beklemtoon
"Dit is beslis 'n historiese besoek en ons glo beslis dat die mense van Angola en Suid-Afrika enorm kan baat by die besoek," het Zuma na afloop van die ondertekening gesê.
Met Angola wat Nigerië verbygesteek het as Afrika se grootste ru-olieprodusent en die land se enorme potensiaal vir hidro-elektriese kragopwekking, was energie 'n sleutelaangeleentheid ter bespreking.
Angola se infrastruktuur is gedurende die burgeroorlog wat 27 jaar geduur het en eers in 2002 beëindig is, vernietig en die land is in die proses van groot heropbou wat paaie, skole, hospitale en huise betref.
Portugese, Brasiliaanse en Chinese maatskappye is reeds sleutelspelers in Angola en Zuma hoop om Suid-Afrikaanse maatskappye ook 'n geleentheid te bied om sake te doen.
Dos Santos se MPLA (Popular Movement for the Liberation of Angola) is 'n ondersteuner van Zuma en die ANC en sterk anti-koloniaal gesind. Die twee presidente kom ooglopend goed oor die weg. Onder Thabo Mbeki het verhoudinge met Angola egter kil geraak.
Die vorige regering het UNITA(Total Union for the Independence of Angola), die huidige opposisie en voorheen rebelle, ondersteun.
Zuma, wat Woensdag in Angola aangekom het, het Donderdag kranse by die grafte van ontslape eerste president Agostinho Neto en vryheidsvegters teen die Portugese heersers, gelê.
Nadat die Suid-Afrikaanse president die Algemene Vergadering toegespreek het, het Zuma middagete by die pienk presidensiële paleis genuttig voor hy die Angolese eerste minister Paulo Kassoma ontmoet het.
Die twee leiers het daarna 'n saksimposium toegespreek waar Suid-Afrikaanse maatskappye die geleentheid gegee is om met hulle Angolese eweknieë kennis te maak.