AfriForum Jeug het Donderdag, namens die matrikulante van die 2008-matriekgroep ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) teen die departement van Basiese Onderwys ingedien.
Die matrikulante voel dat hulle regte op gelykheid, inligting en billike administrasie geskend word deur die feit dat die departement tot op hede nog geen matrieksertifikate vir die matriekgroep van 2008 uitgereik het nie, ten spyte van die feit dat tersiêre instansies en werkgewers daarop aandring.
AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Ernst Roets, het gesê dat dit ’n baie sensitiewe saak vir die matrikulante is, veral in die lig van die geweldige probleme wat daar met die bekendmaking van die 2008-matriekuitslae was. “Die huidige matriekgroep is al besig met voorbereiding vir die eksamen, maar die 2008-groep se sertifikate is nog nie eens uitgereik nie,” het Roets gesê.
“Vanjaar moes sommige matrikulante byna ses maande wag vir hulle matriekuitslae om uitgereik te word, net om te hoor dat hulle sertifikate ook nie binne ʼn aanvaarbare tyd uitgereik sal word nie.”
In die klag wat by die MRK ingedien is, het die matrikulante benadruk dat hulle niks verkeerd gedoen het nie en dat hulle die slagoffers van die departement se wanadministrasie geword het. Die MRK word versoek om ondersoek in te stel en aan te dui watter remedies tot die matrikulante se beskikking is.
Roets het ook aangedui dat AfriForum Jeug beplan om met die departement hieroor in verbinding te tree. “Ons wil ook bevestig of enige stappe geïmplementeer is om te verseker dat vanjaar se matriekgroep hulle uitslae betyds sal ontvang en nie ook die slagoffers van wanadministrasie sal wees nie.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.