Die oliereus Shell het Maandag gesê hy gaan van sy bates in Nigerië verkoop weens diefstal en sabotasie in dié land
“Sommige lisensies is te koop, insluitend sommige pypleidings. Ons het nog nie bevestig watter nie,” het Simon Henry, Shell se finansiële hoof, gesê.
Henry het aangedui dat Nigeriese maatskappye groot belangstelling toon.
Die diefstal van ruolie en die beskadiging van pypleidings kos die land na raming R60 miljard per jaar aan verlore inkomste. Die gesteelde olie word op die swartmark verkoop. Die skade lei gereeld tot ontploffings, brande en besoedeling.Shell, die grootste oliemaatskappy in die land, gee die sabotasie ook die skuld vir die besoedeling in die Niger-delta in die suidooste van die land.
In Oktober het Shell aangekondig sy wins vir sy derde kwartaal het met 35% gedaal, grootliks weens die ontwrigting van produksie in Nigerië.
Meer as 2 miljoen vate per dag word in Nigerië, die grootste produsent in Afrika, gelewer. – Sapa/AFP
Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het Dinsdag gesê uitleners moet strenger bekostigbaarheidstoetse doen as antwoord op besware teen die verwydering van negatiewe kredietinligting.
Die minister sê hy verstaan die vrees dat die kredietinligtingsamnestie die risiko en koste van krediet kan verhoog, maar sê die regering is vasbeslote om daarmee deur te druk.
Dit sal meebring dat 1,6 miljoen verbruikers op die “swartlys” weer ’n “skoon” kredietgeskiedenis kry.
“Ons kan nie op die draad sit nie. Daar is ’n sterk begeerte hierna,” het Davies in Kaapstad aan verslaggewers gesê.
Teenstanders in die bedryf meen die amnestie sal daartoe lei dat mense wat reeds nie hul skuld kan betaal nie, nóg skuld aangaan.
“Ek dink ons het ’n antwoord daarop en ons moet ons antwoord ’n bietjie verfyn,” sê Davies. “Ons moet spesifieke riglyne en raamwerke ontwikkel, maar ons ignoreer niemand nie.” Dis ’n verwysing na bekostigbaarheidskriteria wat na verwagting deur die Nasionale Kredietreguleerder opgestel gaan word.
Die kabinet het die wetgewing oor die kredietinligtingsamnestie in September goedgekeur.
Verbruikers op ’n swartlys wat wél hul skuld afbetaal het, sal ’n skoon kredietstatus kry aangesien hul status hulle verhinder om lenings, behuising en selfs werk te kry.
Davies sê meer as twee-derdes van die voorleggings wat in die maand lange konsultasietydperk ingedien is, was positief.
Die Bankvereniging van Suid-Afrika en die kredietgraderingsagentskap Moody’s sê egter die feit dat banke minder inligting oor verbruikers se betalingsgeskiedenis tot hul beskikking gaan hê, skep ’n hoër risiko.
Davies sê die departement vergader volgende week met die kredietburovereniging oor bekostigbaarheidskriteria.
Hy sê die aantal loonbeslagorders van mynwerkers by Marikana – waar sommige werkers tot 80% van hul salaris nie eens sien nie – wys op die mate van onverantwoordelike praktyke in die bedryf.
“Wat met ’n loonbeslagorder gebeur, is dat jy (die uitleners) geen risiko neem nie. Jy hoef nie ’n (kredietwaardigheids-)bepaling te doen nie, want hulle werk vir iemand en jou geld is veilig.”
Davies sê voortaan sal werkgewers ook nie werkaansoekers se kredietverslae mag aanvra nie, tensy hulle met geld gaan werk.
Ander stappe wat verbruikers kan help, is dat regsaksie gestaak moet word as hulle skuldbemiddeling aanvra.
In antwoord op ’n vraag het Davies gesê hy verwerp “met minagting” enige suggestie dat die kredietinligtingsamnestie ’n verkiesingsfoefie is. – Sapa
Die adjunk-president van die Reserwebank, Daniel Mminele, sê inflasieverwagtings in Suid-Afrika is ongemaklik naby aan die boonste vlak van die bank se teikenband.
Hy het by die Phalaborwase Kamer van koophandel in Limpopo gesê salarisse en die wisselkoers hou moontlike gevare vir inflasie in.
Die bank se inflasieteiken is tussen drie en ses persent. Syfers verlede maand het getoon dat hooflyn-verbruikersinflasie in September op ‘n jaargrondslag tot ses persent verlangsaam het.
Dit was 4,6% in Augustus. Die swakker Rand, wat vanjaar met sowat 20 persent teen die dollar gedaal het, het aansienlike druk op pryse geplaas, terwyl ‘n groot aantal salarisverhogings bo die inflasiekoers, veral in die mynbedryf, die druk laat toeneem het.
By die Zondereinde Platinummyn op Northam in Limpopo, is verskeie bedrywighede opgeskort nadat sowat seweduisend lede van die mynwerkersvakbond NUM gisteraand begin staak het. Sekuriteit is ook verskerp.
Die staking volg nadat onderhandelings oor salarisverhogings en werksomstandighede op ‘n dooiepunt uitgeloop het.
Die vakbond weier om te sê wat die persentasie verhoging is wat hy eis, maar dit word op tussen 22% en 43% beraam.
Die myn bied volgens die vakbond ‘n verhoging van 6,5% aan. ‘n Woordvoerder van die NUM sê werkers het by die perseel opgedaag, maar het nie vir die nagskof ondergronds gegaan nie.
Intussen is Anglo American Platinum en Lonmin ook besig met salarisonderhandelings met vakbonde.
Werknemers van Amplats, wat lede is van die AMCU-vakbond is, het vroeër ten gunste van ‘n staking gestem nadat samesprekings ‘n dooiepunt bereik het.
Die vakbond het egter ingestem tot mediasie op regeringsvlak. – RSG
Beeld berig dat Bobby Godsell, voorsitter van Besigheidsleierskap Suid-Afrika, ‘n dwarshou na Capitec gemik het oor skuldinvordering.
As hy ’n mynbestuurder was, sou hy geweier het om skuldbevele (loonbevele) teen mynwerkers se lone uit te voer, het Godsell gesê.
“Ek sou gesê het, jammer Capitec of wie ook al, ek is nie jou skuldinvorderaar nie – jy het daardie skuld toegestaan, gaan vorder dit self in. Vat my hof toe as jy wil, maar ek gaan dit nie doen nie,” het Godsell gister op die Joburg-Indaba vir die mynbedryf gesê.
Die skuldvlakke van mynwerkers is besonder hoog en daar word stemming gemaak dat dit ‘n rol gespeel het in die onrus wat tot die Marikana-slagting gelei het.
Hoé looneise is baie meer waarskynlik ‘n funksie van stygende verwagtinge onder die arm swart massas wat deur swart rykdom en die gepaardgaande uitspattigheid veroorsaak word. Reeds in die klassieke liberale teorie sedert de Toqueville is dit ‘n aanvaarde feit dat stygende verwagtinge tot rewolusie lei.
Die swart rolmodelle wat op elke TV-kanaal, sepie, tydskrif en koerant pryk dra mildelik by tot die algemene verwagting onder swartes dat hulle ingedoen word en baie meer verdien. Die heersende politieke diskoers wat die buitelandse mynmagnate ondersteun is uitsluitlik een van swartes wat “benadeel” word.
Volgens buitelandse mynmagnate egter is die buitensporige looneise en gewelddadigheid waarmee kollektiewe bedinging ál meer gepaard gaan, suiwer ‘n gevolg van die loonbevele.
Sommige ondersoekers het vasgestel dat 15% van die werkers in skagte op platinummyne feitlik geen geld ontvang op betaaldag nie omdat alles aan geldskieters uitbetaal word. Getuienis daaroor gaan glo aan die Farlam-kommissie oor die Marikana-slagting voorgelê word, maar dit gebeur nie weens die vertragings met die sittings van die kommissie.
“Ek dink daar moet ’n nasionale debat oor skuldbevele teen werker-lone gevoer word,” het Godsell Woensdag aan die indaba-gangers in Sandton gesê.
Hy het ook skerp woorde gehad vir mynbase wat loonbevele toestaan.
“Dis maklik om agterna te sê ja, dis Amcu, die Ekonomiese Vryheidsvegters en die policiti, maar hierdie dinge gebeur in ons eie agterplase.
“Mynwerkers is van die bes betaalde werkerskorps in Suid-Afrika. As hulle probleme ondervind met armoede, dan is dit uiters belangrik dat ons uitvind waarom dit so is.”
Transnet se kredietgradering is deur die kredietgraderingsagentskap Fitch verhoog van BB Plus na BBB.
Die uitvoerende hoof van Transnet, Brian Molefe sê die opgradering bevestig die sukses van pogings om die maatskappy se sake en finansiële posisie te versterk.
Hy sê dit bevestig ook Transnet se vermoë om fondse in te samel in die markte op grond van sy balansstaat, sonder om op regeringswaarborge staat te maak.
Transnet beplan om ‘n derde van ‘n R307 miljard se infrastruktuur-beleggingsprogram in te samel van ‘n verskeidenheid van bronne. – RSG
Die land se mynbedryf is gereed vir groei, het president Jacob Zuma Dinsdag gesê.
“Die R20 miljard belegging in die diamantbedryf, die grootste enkele belegging in die diamantbedryf in dekades, stuur seine wat inderdaad wys ons mynbousektor is gereed vir groei, en dat dit ‘n blink toekoms het,” het hy gesê in ‘n voorbereide toespraak.
“Die belegging sal sonder twyfel ‘n hupstoot aan diamantproduksie gee, waar die land sy voorrang in die afgelope jare verloor het.”
Hy het gepraat by die bekendstelling van die konstruksiefase van De Beers se ondergrondse Venetiadiamantmyn in Musina, Limpopo.
Hy het gesê die belegging sal diamantproduksie versterk en het die land as ‘n beleggingsbestemming gewild maak.
“Deur saam te werk, moet ons verseker dat ons mynbousektor selfs verder groei. Ons moet dus die regte omgewing vir groei skep. Dit sluit in die implementering van transformasiemaatreëls asook om arbeidsmarkstabiliteit te bevorder in die sektor,” het Zuma gesê .
Die president het by die geleentheid die geweld in Noord-Wes se mynbedryf veroordeel.
Hy het genoem dat die National Union of Mineworkers se takvoorsitter by Marikana vermoor is verlede week.
“Sulke voorvalle het geen plek in ‘n demokratiese samelewing soos ons s’n nie.”
Zuma het gesê die skietery by Marikana verlede jaar het getoon dat werk gedoen moet word om die lewens van die mynwerkers en die omliggende gemeenskappe te verbeter. Transformasie in die sektor moet versnel word.
“Gevolglik is die implementering van die Minerale- en Petroleumhulpbronne-ontwikkelingswet, die maatskaplike en arbeidsplanmeganismes en die Mynbouhandves uiters belangrik om groei en volhoubaarheid te verseker, ” het hy gesê .
“Gelukkig is beleggers in die mynbedryf bewus daarvan dat hulle, in terme van die wet, regstelling van wanbalanse in die bedryf moet natsreef.”
Suid-Afrika se wetgewing vereis dat beleggers hulself verbind tot die mynbou-handves en die maatskaplike en arbeidsplan en gesonde omgewingsbestuur . – Sapa
Ekonome verwag nie verrassings tydens die Minister van Finansies se medium termyn begrotingsrede vandag nie.
Die mediumtermyn-begroting word gesien as ‘n vooruitskouing van staatsbesteding oor die volgende drie jaar.
Ekonoom Dawie Roodt sê dit is algemeen bekend dat die ekonomie swakker gevaar het as wat aan die begin van die jaar in die vooruitsig gestel is, en dat die staatsinkomste sowat vyf miljard Rand minder sal wees as wat verwag is.
Hy sê dié begroting is nie die plek om beleidsveranderings aan te kondig nie en is gewoonlik slegs ‘n terugblik oor die jaar veral oor die land se ekonomie en die staat van finansies.
Roodt sê anders as in baie ander ontwikkelde lande is die staat se uitgawes in Suid-Afrika goed onder beheer. Die begrotingsrede word om twee-uur gelewer. – RSG
‘n Ondersoek na ongeoorloofde- en onbillike praktyke in die vakansieklub-industrie wat ‘n spesiale ondersoekspan van die verbruikerskommissie die laaste paar maande op aandrang van die Vryheidsfront Plus gedoen het, is feitlik voltooi.
Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het mev. Prudence Moilwa, hoof van die ondersoekeenheid, hom vandag skriftelik in kennis gestel dat die ondersoek, waar onder meer op tyddeel gefokus is, ‘in alle waarskynlikheid’ teen aanstaande maand afgehandel sal wees.
Die ondersoek het ‘n lang aanloop van bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede. Adv. Alberts het dit geïnisieer en gedryf nadat die media daaroor berig het en honderde ontevrede klublede vanoor die land by die VF Plus aangeklop het om hulp.
Die ondersoek wat daarop gevolg het, het 41 van die land se voorste en bekendste vakansieklubs ingesluit.
Adv. Alberts sê hy is verheug oor die verloop van die saak en hy hoop dat dit oplossings en gemoedsrus sal bring vir honderde mense landwyd wat daardeur geraak is – baie van hulle sukkelende pensioenarisse.
“Die VF Plus is ook verheug om te sien dat die vakansieklub-industrie self bekommerd is oor die manier waarop die industrie tot nou toe beheer en bedryf is en uit eie geledere aanbevelings wil maak.
“Hopelik bring dit verdere oplossings vir klublede. Indien nie, sal die verbruikerskommissie sekere oplossings op die industrie moet afdwing aan die hand van die Wet op Verbruikersbeskerming.
“Dit gaan in alle waarskynlikheid lei tot drastiese wetswysigings om ongeoorloofde en onbillike gebruike in die industrie te staak.
“Hierdie sukses is ‘n bewys dat sake van gemeenskaplike belang, veral waar mense nie waarde vir geld kry nie, wel effektief deur die VF Plus behandel kan word,” het Alberts gesê.
Volgens Moilwa het die ondernemings wat ondersoek is, gevra om ‘n tydperk van twee maande – September en Oktober – om te ‘konsulteer’ in ‘n poging om self oplossings te vind vir probleemareas wat in die ondersoek na vore gekom het en om na maniere te soek om self hul sake-model te verbeter.
Die ondersoekspan sal hierdie voorstelle oorweeg voordat die ondersoek afgesluit word, lui Moilwa se antwoord.
Van die kwessies wat ondersoek is sluit in:
1. Die onvermoë van lede om toegang te kry tot geriewe weens ‘n beperkte poel daarvan;
2. Misleidende advertensies en wanvoorstellings tydens aanbiedings van die produkte;
3. Onbillike kontraktuele terme; en
4. ‘n Verbod op die kansellering van die kontrakte en die gevolglike ‘ewigheids’-aard daarvan.
Die Shoprite-groep het aansoek gedoen in die Wes-Kaapse hooggeregshof om ’n dringende interdik om Game te probeer keer om ook kos te verkoop, berig Business Day.
Game, deel van Walmart se Massmart-groep, het verlede maand in die CapeGate-winkelsentrum in die noordelike voorstede van Kaapstad begin om sy kruideniersaanbod drasties uit te brei met sy Foodco-reeks.
Business Day berig dat Shoprite aanvoer aan dit is onwettig vir Game om in dié winkelsentrum met hom mee te ding. Shoprite sê, na wat berig word, dat hy ’n ekslusiewe ooreenkoms het om – buiten Pick n Pay en Woolworths – die enigste supermark, kos- en drankwinkel in die sentrum te bedryf. Hy bedryf ’n Checkers in die sentrum.
Die ooreenkoms is aangegaan met Hyprop Investments, wat CapeGate besit.
Die regsoptrede gaan ’n groot toets wees vir Walmart, wat van plan is om sy Foodco-aanbod sterk uit te brei in meeste van sy Game-winkels. Game is egter nie mededingend wat voedselpryse betref nie.
’n Woordvoerder van Massmart sê nietemin dat die regsoptrede legitieme mededinging deur Game probeer ondermyn, tot die nadeel van Suid-Afrikaanse verbruikers, berig die koerant.
Massmart het die saak na die Mededingingskommissie verwys.
’n Regsverteenwoordiger van Massmart sê die mededingingsowerhede “is nie besonder gelukkig oor eksklusiewe verhuringsooreenkomste nie,” sê Business Day.
Indien die regering voortgaan met ’n “kredietamnestie” sal Suid-Afrikaanse banke se kredietwaardigheid ly, het Moody’s Investors Service gesê.
Die kabinet het verlede week ’n aanbeveling goedgekeur om inligting oor skuld wat eens agterstallig was, maar nou afbetaal is, van die kredietopgawes van 1,6 miljoen verbruikers te verwyder.
Die stap sal dit vir banke moeiliker maak om risiko by potensiële leners te bepaal, en ook bestaande kliënte ontmoedig om hul skuld terug te betaal, het Moody’s in ’n verslag gesê.
Alberto Barbachano, ’n ontleder van Moody’s in Madrid, sê die groep meen dit sal die gehalte van data van kredietburo’s ondermyn. “Die verwydering van slegte kredietinligting van openbare opgawes is negatief” vir banke, sê hy.
Die kabinet het verlede maand gesê die amnestie sal dit vir verbruikers makliker maak om toegang tot krediet te bekom. – Bloomberg
Voedselsekerheid in Suid-Afrika kan moontlik ‘n knou kry nadat Amerikaanse beleggers besluit het om Afgri vir R2,4 miljard uit te koop.
Die Amerikaners het glo ’n swart landbou-organisasie uit die transaksie gedruk en ’n nuwe SEB-konsortium uit Limpopo betrek.
AgriGroupe van die VSA gaan Afgri se aandeelhouers R7 per aandeel betaal, ten spyte daarvan dat die aandeelprys op R4,70 gestaan het voordat die transaksie aangekondig is.
’n Staatsagentskap kan egter steeds ’n teenaanbod doen. Indien die Amerikaners slaag, sal die mees strategiese infrastruktuur die land verlaat.
Die name van die partye kan nie bekend gemaak word totdat daar aan sekere vereistes voldoen is nie. Dit sal waarskynlik aanstaande week gebeur.
Afgri se bestuur het benadruk dat hulle daartoe verbind bly om voedselsekerheid in Suid-Afrika en Afrika te verseker en die regering se doelwitte met die bemagtiging van kleinboere steun.
Die minister van finansies, Pravin Gordhan sê die wêreldgemeenskap moet hulself vir die ergste voorberei weens Amerika se skuldkrisis.
Hy het gewaarsku dat ekonomiese teenmaatreëls getref moet word om dit die hoof te bied.
Gordhan het in ‘n onderhoud met Reuters gesê dat die finansiële markte gespanne raak oor die dooiepunt wat met die Amerikaanse begroting ontstaan het. Die dooiepunt moet teen 17 Oktober bygelê word.
GordhansêSuid-Afrikaanse owerhedehet nie diehulpbronne om dierand, watreeds 16% sedert diebegin verswakhet, te beïnvloed nie.
Dit is die meeste uit16groot geldeenhedewat deurBloomberg dopgehou word.
Dierandseglyteen diedollarvanjaar het uitvoerdersgehelp, het hy gesê. Die uitvoere het in Augustus met 7% gedaal.
Gordhan het vroeër gesê dat die ekonomiese groei in Suid-Afrika nie sy teiken van 2,7% vanjaar gaan haal nie, hoewel dit nie onder twee persent sal val nie.
Die Duitse motorvervaardiger BMW sê die arbeidsituasie in Suid-Afrika bly onbestendig en dat hy geen planne het om sy besluit om halt te roep aan uitbreidings in die land, te laat vaar nie.
Die motorbedryf dra 6% by tot die bruto binnelandse produk. Die reserwebank het reeds sy kommer uitgespreek oor die skade wat die staking aan die ekonomie berokken het.
Die praktyk van fronte vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is onvergeeflik, het president Jacob Zuma Donderdag gesê .
By die eerste nasionale beraad oor breëgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) in Midrand, het Zuma gesê “fronte is onvergeeflik want dit verwring ons bemagtigingsprentjie en gee ‘n indruk van vordering waar daar nie is nie”.
“Dit is om hierdie rede dat ons hard sal werk om dit te verhoed en om hierdie praktyk uit te roei.“
Zuma het die belangrikheid van BBSEB as ‘n integrale deel van die regering se ekonomiese beleid beklemtoon asook van ekonomiese transformasie .
“Dit is deel van ‘n breër doelwit van die bevordering van inklusiewe groei en ekonomiese ontwikkeling,” het hy gesê.
“Ek wil graag beklemtoon dat ekonomiese transformasie is nie net oor groot besigheid vir ‘n paar individue in die samelewing nie.”
BBSEB-beleid moet konsekwent toegepas word op al die dele van die ekonomie om maksimum impak op soveel Suid-Afrikaners as moontlik te verseker.
Baie vordering is gemaak sedert 1993 ten opsigte van ekonomiese transformasie, het hy gesê .
Nasionale per capita huishoudelike inkomste het toegeneem met 40 persent van R27 500 tot R38 500 in 2012.
Besteebare inkomste het toegeneem met 43 persent, en die totale indiensneming met 3,5 miljoen werkgeleenthede sedert 1994.
As gevolg van hierdie ontwikkelings is die groei van die swart middelklas indrukwekkend, van 1,7 miljoen mense in 2004 tot ‘n geskatte 4,2 miljoen in 2012.
Maar, terwyl vordering gemaak is, is “die vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid onaanvaarbaar”. Daar is ‘n tekort aan swart nyweraars, het hy gesê.
Regering sal die groei van meer Klein, Medium en Mikro-ondernemings in besit van swart mense aanmoedig aangesien dit die “ruggraat” van ‘n ontwikkelende ekonomie is.
Dit sal ‘n groot impak op werkskepping en die ontwikkeling van vaardighede in die ekonomie hê, het Zuma gesê.
Daar moet nie voortdurend oor swart ekonomiese bemagtiging gepraat word nie, alhoewel diit belangrik is, anders is daar ‘n risiko om gevangenes van die verlede te word.
“Ons moet na ‘n punt beweeg waar die melding van ras [ verdwyn ].”
Merkwaardige ooreenkoms tussen Leon Trotski en minister Davies
Vroeër, het die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies gesê SEB is nie net ‘n politieke noodsaaklikheid nie, maar ook ‘n “kwessie van gelykheid” en “ekonomiese noodsaaklikheid” .
Suid-Afrika se vooruitsigte van ekonomiese groei sal gekniehalter word indien die poel van deelnemers klein bly.
Davies het ook verwys na BBSEB-fronte as ‘n groot probleem .
“Daar is te veel passiewe aandeelhoudingsooreenkomste,” het die minister gesê. “Daar is beduidende fronte in die ekonomie.”
Fronte is in wese ‘n vorm van bedrog, met die fynskrif van komplekse transaksies wat dikwels keer dat bemagtiging plaasvind.
Om hierdie probleem aan te pak, gaan ‘n BBSEB-kommissaris ingestel word as deel van die wysigings aan SEB-wetgewing .
Davies het gesê ‘n sterk simbiose is nodig tussen groot en klein ondernemings in swart besit. – Sapa
Pravin Gordhan, minister van finansies, het Dinsdag die land se eerste belastingombudsman aangewys.
Die afgetrede regter Bernard Ngoepe sal die pos beklee.
“Die kantoor is bedoel om belastingbetalers van ’n bekostigbare meganisme te voorsien waardeur hulle administratiewe probleme kan hanteer wat nie deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) opgelos kan word nie.
“Regter Ngoepe het grondige ervaring in onpartydigheid; hy begryp hoe die magte en pligte van die SAID en die regte en pligte van belastingbetalers ten beste gebalanseer kan word. Bowenal is hy kundig in belasting- en administratiewe reg.”
Die aanstelling is ingevolge die Wet op Belastingadministrasie gedoen.
Besonderhede sal “mettertyd” bekend gemaak word. – Sapa