‘n Ondersoek na ongeoorloofde- en onbillike praktyke in die vakansieklub-industrie wat ‘n spesiale ondersoekspan van die verbruikerskommissie die laaste paar maande op aandrang van die Vryheidsfront Plus gedoen het, is feitlik voltooi.
Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het mev. Prudence Moilwa, hoof van die ondersoekeenheid, hom vandag skriftelik in kennis gestel dat die ondersoek, waar onder meer op tyddeel gefokus is, ‘in alle waarskynlikheid’ teen aanstaande maand afgehandel sal wees.
Die ondersoek het ‘n lang aanloop van bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede. Adv. Alberts het dit geïnisieer en gedryf nadat die media daaroor berig het en honderde ontevrede klublede vanoor die land by die VF Plus aangeklop het om hulp.
Die ondersoek wat daarop gevolg het, het 41 van die land se voorste en bekendste vakansieklubs ingesluit.
Adv. Alberts sê hy is verheug oor die verloop van die saak en hy hoop dat dit oplossings en gemoedsrus sal bring vir honderde mense landwyd wat daardeur geraak is – baie van hulle sukkelende pensioenarisse.
“Die VF Plus is ook verheug om te sien dat die vakansieklub-industrie self bekommerd is oor die manier waarop die industrie tot nou toe beheer en bedryf is en uit eie geledere aanbevelings wil maak.
“Hopelik bring dit verdere oplossings vir klublede. Indien nie, sal die verbruikerskommissie sekere oplossings op die industrie moet afdwing aan die hand van die Wet op Verbruikersbeskerming.
“Dit gaan in alle waarskynlikheid lei tot drastiese wetswysigings om ongeoorloofde en onbillike gebruike in die industrie te staak.
“Hierdie sukses is ‘n bewys dat sake van gemeenskaplike belang, veral waar mense nie waarde vir geld kry nie, wel effektief deur die VF Plus behandel kan word,” het Alberts gesê.
Volgens Moilwa het die ondernemings wat ondersoek is, gevra om ‘n tydperk van twee maande – September en Oktober – om te ‘konsulteer’ in ‘n poging om self oplossings te vind vir probleemareas wat in die ondersoek na vore gekom het en om na maniere te soek om self hul sake-model te verbeter.
Die ondersoekspan sal hierdie voorstelle oorweeg voordat die ondersoek afgesluit word, lui Moilwa se antwoord.
Van die kwessies wat ondersoek is sluit in:
1. Die onvermoë van lede om toegang te kry tot geriewe weens ‘n beperkte poel daarvan;
2. Misleidende advertensies en wanvoorstellings tydens aanbiedings van die produkte;
3. Onbillike kontraktuele terme; en
4. ‘n Verbod op die kansellering van die kontrakte en die gevolglike ‘ewigheids’-aard daarvan.

Hoog tyd!! Baie dankie aan die ondersoekspan!
Dit maak mens de duiwel in. Ons kon 1 net 1 week kry in Natal vir Desember vakansie.
Dan nog 1 week by Dikhololo, wat beteken ons moet die oggend uitboek in Natal en dan jaag om by Dikhololo naby Brits te kom.
Kom ons stig ons eie vakansie oord soos Rondalia van ouds.
Ons doen dit doer in die Noord Kaap, êrens naby die Oranje rivier.
Baie goeie plan plan Arnie.
Net ‘n klomp manne en vroue wat ook so dink bymekaar kry, dan doen ons dit.
Ek is in die konstruksie bedryf,en kan sommer self dinge daar doen.
Ek’s in Arnie.
Ek het daardie gebied seker al ‘n honderd keer ge Google earth.
Ons moet ‘n span bymekaar kry en ondersoek gaan instel.
Dalk fotos van moontlikke plekke neem, hier plaas, en laat die mense daaroor stem.
Ek sal intussen vir Peter Murray kontak, want hy is nogal baie op hoogte van waar wat is in daardie gebied.
Ek en my seun bedryf ook ‘n Arcade Game besigheid, en het baie van daardie soort masjiene.
Nouja toe. Waar is die ander Afrikaner Entrepeneurs* ( spelling??)
Krismis is amper hier.
Kom in al die Entrepeneurs. Kom in, kom in. Spelling is korrek Arnie.
Ek’s n professionele swembad skoonmaker. Beloof om die Oranjerivier skoon te hou van regse damduiker (-)rolle.
entrepReneur (dis soos ek dit het)
Arnie, maak nie saak nie, ten minste het ons verstaan !
Was ‘n rukkie weg om die slawe op dreef te kry. Het ook met Peter Murray gesels. Julle mense moet en kan maar julle planne begin maak. Sal later meer inligting gee soos en wanneer dit inkom.
Entrepruineer – Regse besmetting van visspesies in die Oranje deur damduiker (-)rolle.
~~O~~
Ek verstaan hier is baie tyddeelhouers wat baie geld verloor het in hierdie skema.
Baie goed dat daar ‘n ondersoek gelas was.
Avokaat Albert gaan bewys dat SEB swart mense arm maak.
Avokaat Albert rig waarskuwing aan Goelio.
En nou, nou is Avokaat Albert direk in verbinding met die hoof van die fakansie ondersoek eenheid.
Avokaat is die “VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.”
Avokaat is ook “die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid”
Die avokaat, blyk dit, volg stip innie voetspore van Dottor Muller, homself `n baie bekwame algemene ordinans. Die leuse is ‘As niemand jou aangestel het nie, lyk net besig. Dan sal niemand vrae vra nie.’
En wie gaan nou kla as Albert so paar welgestelde mense se surplus fondse ten koste van die belasting betalers opspoor ?! Knap stukkie P-R avokaat ! Als met die blessing van die VF se official mondstuk PRAAG. Die leiers korps is besig om uit te kristaliseer.
Dis goeie werk wat Adv. Alberts doen.Hy blyk een van die min mense in die regsprofessie te wees wat iets doen uit ‘n morele standpunt, en nie net vie eie gewin nie.
Nee, dis nie goeie werk wat hy doen nie.
Nee, daar is baie mense in die regsprofessie wat ‘iets doen uit `n morele standpunt’ (wat dit ookal beteken)
Nee, hy doen dit vir eie gewin.
Daarsy… Die evidensiële rekord is nou weer in ekwilibrium.