Brief: Transnet se hantering van pensioenfondse grens aan misdaad

Om onlangse koerantberigte te lees dat die trustees van die twee Transnet-pensioenfondse winste van hierdie fondse tot die bedrag van R309 miljoen aan Transnet geskenk het, grens aan misdaad.

Hierdie is deel van ‘n totale eis wat tussen R60 miljard en R100 miljard beloop en is die resultaat van talle – en klaarblyklik bedrieglike transaksies waarvan die enigste doel blyk te wees om die maatskappy tot hulp te wees en die pensioenarisse te beroof.

Soos ek verstaan, is daar 5 trustees van hierdie twee fondse, waarvan almal vorige werknemers van die maatskappy was. Almal van hulle is onder verpligting om na die welsyn van die pensioenarisse (en hulleself) om te sien. Dit is gewetenloos om te dink dat hulle ten gunste van so ‘n mosie sal stem, tensy hulle betaalde speelpoppe van die maatskappy is.

Om dit anders te stel: ‘n Vriend gee vir jou geld om te belê en wanneer hy dit na ‘n paar jaar wil terughê, sê jy vir hom: “Jammer, my vriend, ek het dit aan ‘n maatskappy gegee wat vrygewig teenoor my was.”

Die pensioenarisse se eis – as ‘n geheel – oorskry Transnet se jaarlikse omset, en dit sal interesant wees om te weet hoe Transnet ‘n eis van hierdie grootte sal kan betaal, en wat Transnet in dieselfde kategorie as SAL, E-Toll, Eskom en meeste ander ondernemings wat deur hierdie regering wanbestuur word, sal plaas.

Dit is vertroostend vir die pensioenarisse dat hulle oor ‘n regspan van onbetwisbare reputasie en ondervinding beskik, wat daartoe gelei het dat die regter meeste van die verweerders se besware in hierdie groepsgeding verwerp het en die pensioenarisse se regspan twee weke gegee het om antwoorde oor ‘n paar kleiner besonderhede waaroor hy meer duidelikheid verlang, te verskaf.

Mens kan maar hoop dat wanneer dit gedoen is, sal die regter empatie met die pensioenarisse betoon deur te beveel dat hierdie saak met die dringendheid wat dit verdien, sal voortgaan.

Dit sal ‘n mate van hoop laat ontstaan dat die oorblywende ontvangers (meer as tien van hulle sterf elke dag af) van hierdie fonds – wat regmatig aan hulle behoort – eendag aan hulle gegee sal word.

– Carl Hammersen

Hof beslis in Transnet-pensioenarisse se guns

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het Donderdag in Transnet-pensioenarisse se guns beslis het dat hulle wel as ‘n groep teen Transnet en die regering kan eis.

Die kwessie is van 2006 in die parlement geopper deur die VF+, maar sonder sukses. Daarna is die hofproses uiteindelik gevolg.

Jaap Cilliers en Leon Kellerman, albei senior advokate, het die saak op ‘n gebeurlikheidsbasis aanvaar omdat daar soveel menseregteskendings teen die pensioenarisse plaasgevind het.

Van die pensioenarisse wat as leiers en koördineerders opgetree het, soos Piet van Rensburg is intussen oorlede, maar talle ander streeksorganiseerders het ingestaan.

Die bevel is met koste toegestaan teen die respondente, nadat die regter teen die ANC en Transnet beslis het.

Transnet en die regering het hulself waarskynlik ‘n krediet-degradering op die hals gehaal met hul onverskilligheid teenoor wit pensioenarisse.

Dit kan Transnet se uitbreidingsplanne striem met lenings wat moeiliker toegestaan sal word weens ‘n laer gradering.

“Die enigste manier hoe Transnet van hierdie swaard oor sy kop ontslae kan raak, is om so gou moontlik die saak met die pensioenarisse te skik.

“Die proses vorentoe is nou dat daar in talle hoofstroom-koerante advertensies geplaas gaan word om die publiek bewus te maak van die klasaksie en om die wat nie deel daarvan wil wees nie, die geleentheid te bied om uit te teken. Daarna word die volgende hofdatum vasgestel.

“Ons is hoopvol dat die volgende saak nog hierdie jaar kan plaasvind,” het ‘n regsverteenwoodiger namens Transnet gesê.

Ondersoek na vakansieklubongerymdhede byna voltooi

vakansieklubs‘n Ondersoek na ongeoorloofde- en onbillike praktyke in die vakansieklub-industrie  wat ‘n spesiale ondersoekspan van die verbruikerskommissie die laaste paar maande op aandrang van die Vryheidsfront Plus gedoen het, is feitlik voltooi.

Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het mev. Prudence Moilwa, hoof van die ondersoekeenheid, hom vandag skriftelik in kennis gestel dat die ondersoek, waar onder meer op tyddeel gefokus is, ‘in alle waarskynlikheid’ teen aanstaande maand afgehandel sal wees.

Die ondersoek het ‘n lang aanloop van bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede. Adv. Alberts het dit geïnisieer en gedryf nadat die media daaroor berig het en honderde ontevrede klublede vanoor die land by die VF Plus aangeklop het om hulp.

Die ondersoek wat daarop gevolg het, het 41 van die land se voorste en bekendste vakansieklubs ingesluit.

Adv. Alberts sê hy is verheug oor die verloop van die saak en hy hoop dat dit oplossings en gemoedsrus sal bring vir honderde mense landwyd wat daardeur geraak is – baie van hulle sukkelende pensioenarisse.

“Die VF Plus is ook verheug om te sien dat die vakansieklub-industrie self bekommerd is oor die manier waarop die industrie tot nou toe beheer en bedryf is en uit eie geledere aanbevelings wil maak.

“Hopelik bring dit verdere oplossings vir klublede. Indien nie, sal die verbruikerskommissie sekere oplossings op die industrie moet afdwing aan die hand van die Wet op Verbruikersbeskerming.

“Dit gaan in alle waarskynlikheid lei tot drastiese wetswysigings om ongeoorloofde en onbillike gebruike in die industrie te staak.

“Hierdie sukses is ‘n bewys dat sake van gemeenskaplike belang, veral waar mense nie waarde vir geld kry nie, wel effektief deur die VF Plus behandel kan word,” het Alberts gesê.

Volgens Moilwa het die ondernemings wat ondersoek is, gevra om ‘n tydperk van twee maande – September en Oktober – om te ‘konsulteer’  in ‘n poging om self oplossings te vind vir probleemareas wat in die ondersoek na vore gekom het en om na maniere te soek om self hul sake-model te verbeter.

Die ondersoekspan sal hierdie voorstelle oorweeg voordat die ondersoek afgesluit word, lui Moilwa se antwoord.

Van die kwessies wat ondersoek is sluit in:

1.      Die onvermoë van lede om toegang te kry tot geriewe weens ‘n beperkte poel daarvan;
2.      Misleidende advertensies en wanvoorstellings tydens aanbiedings van die produkte;
3.      Onbillike kontraktuele terme; en
4.      ‘n Verbod op die kansellering van die kontrakte en die gevolglike ‘ewigheids’-aard daarvan.