Brief: Transnet se hantering van pensioenfondse grens aan misdaad

Om onlangse koerantberigte te lees dat die trustees van die twee Transnet-pensioenfondse winste van hierdie fondse tot die bedrag van R309 miljoen aan Transnet geskenk het, grens aan misdaad.

Hierdie is deel van ‘n totale eis wat tussen R60 miljard en R100 miljard beloop en is die resultaat van talle – en klaarblyklik bedrieglike transaksies waarvan die enigste doel blyk te wees om die maatskappy tot hulp te wees en die pensioenarisse te beroof.

Soos ek verstaan, is daar 5 trustees van hierdie twee fondse, waarvan almal vorige werknemers van die maatskappy was. Almal van hulle is onder verpligting om na die welsyn van die pensioenarisse (en hulleself) om te sien. Dit is gewetenloos om te dink dat hulle ten gunste van so ‘n mosie sal stem, tensy hulle betaalde speelpoppe van die maatskappy is.

Om dit anders te stel: ‘n Vriend gee vir jou geld om te belê en wanneer hy dit na ‘n paar jaar wil terughê, sê jy vir hom: “Jammer, my vriend, ek het dit aan ‘n maatskappy gegee wat vrygewig teenoor my was.”

Die pensioenarisse se eis – as ‘n geheel – oorskry Transnet se jaarlikse omset, en dit sal interesant wees om te weet hoe Transnet ‘n eis van hierdie grootte sal kan betaal, en wat Transnet in dieselfde kategorie as SAL, E-Toll, Eskom en meeste ander ondernemings wat deur hierdie regering wanbestuur word, sal plaas.

Dit is vertroostend vir die pensioenarisse dat hulle oor ‘n regspan van onbetwisbare reputasie en ondervinding beskik, wat daartoe gelei het dat die regter meeste van die verweerders se besware in hierdie groepsgeding verwerp het en die pensioenarisse se regspan twee weke gegee het om antwoorde oor ‘n paar kleiner besonderhede waaroor hy meer duidelikheid verlang, te verskaf.

Mens kan maar hoop dat wanneer dit gedoen is, sal die regter empatie met die pensioenarisse betoon deur te beveel dat hierdie saak met die dringendheid wat dit verdien, sal voortgaan.

Dit sal ‘n mate van hoop laat ontstaan dat die oorblywende ontvangers (meer as tien van hulle sterf elke dag af) van hierdie fonds – wat regmatig aan hulle behoort – eendag aan hulle gegee sal word.

– Carl Hammersen

Waar is Transnetpensioenfonds se bates?

‘n Groep van sowat 250 Transnet-pensioentrekkers het ‘n memorandum met griewe aan die kantoor van President Jacob Zuma oorhandig, na ‘n optog na die Uniegebou.

Die pensioentrekkers beskuldig die raad van Transnet daarvan dat hulle die pensioenfonds se bates gestroop het.

Hulle beweer dat die fonds wanbestuur is tot so ‘n mate dat verpligtinge aan lede nie nagekom kan word nie.

Die VF Plus se Anton Alberts, wat op aandrang van die pensioentrekkers die optog help organiseer het, sê die eis van bykans R80 miljard, die grootste siviele eis in Suid-Afrika se regsgeskiedenis.

Die eis is nou die onderwerp van ‘n hofgeding.

Nuwe Eskom-hoof onder wolk van agterdog oor pensioenfonds

Matjila
Collin Matjila

Ná ‘n versoek van Cosatu om meer inligting oor die persoonlike verryking van die waarnemende hoof van Eskom, Collin Matjila, tydens ‘n beleggingstransaksie, het Matjila skielik sy pos verlaat dog sonder om amptelik te bedank.

Volgens die sakekoerant Business Day, het Matjila persoonlik gebaat by ‘n transaksie deur Kopano ke Matla, ‘n beleggingsmaatskappy van Cosatu. Daar word beweer dat ‘n pensioenfonds onder bestuur van Kopano “geplunder” is en dat die vakbondfederasie se hoofkantoor onder markwaarde verkoop is. Drie van Cosatu se leiers het bevestig dat die saak steeds ondersoek word.

Matjila staan tans aan die hoof van Eskom, nadat die elekrisiteitsmaatskappy se raad hom vanaf 1 April aangestel het totdat ‘n nuwe uitvoerende beampte gevind kan word. Intussen woed die omstredenheid rondom Matjila se tydperk by Kopano voort.

Blykbaar was Matjila nie die Eskom-raad se eerste keuse vir die tussentydse pos as uitvoerende hoof nie, maar toe die minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, die voorgestelde kandidaat verwerp, is hy wel aangestel. Die raad sou verkies het om Steve Lennon, wat tans hoof van die hernieubare-energie-afdeling is, aan te stel.

Matjila is ‘n lid van die Eskom-raad en ‘n vorige voorsitter van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika. Hy is ook hoof van die elektrisiteitsmaatskappy se tenderkomitee en sal blykbaar weer dié funksie vervul sodra ‘n nuwe uitvoerende hoof vir Eskom aangestel word.

‘n Ondersoek deur die Finansiële Diensteraad na die fonds Kopano-werknemersvoordele het in 2011 agterdog oor Matjila gewek. Die FDR-verslag het getoon hoe van Kopana se amptenare, waaronder Matjila, geld in hul persoonlike hoedanigheid van die Bosele-voorsorgfonds in die vorm van “administrasiefooie” ontvang het.

Die FDR-verslag noem “ernstige oortredings en moontlike misdaad” en spreek die hoop in ‘n mediaverklaring uit dat die “geregsinstellings klagtes teen die betrokke mense sou indien”. Die verslag is in Junie 2012 na die Valke verwys.

Ná die verslag het Cosatu, wat Kopano deur die KKM-beleggingstrust beheer, Matjila gevra om sy weergawe aan te bied oor wat gebeur het.

Verlede week het Matjila egter, volgens Cosatu, “weggerhardloop” sonder om die interne proses te voltooi. ‘n Ander Cosatu-amptenaar meen dat Matjila “aandadig” is volgens ‘n forensiese verslag oor die verkoop van die ou Cosatu-gebou.

Terwyl die sekretarisgeneraal van Cosatu, Zwelinzima Vavi, tot dusver daarvan beskuldig is dat hy die gebou onder markwaarde laat verkoop het, was dit Matjila en Kopano wat die transaksie gehanteer het. Drie amspdraers van die nasionale Cosatu – Vavi, sy adjunk Bheki Ntshalintshali en die nasionale tesouriere Frieda Oosthuizen – het die besluit onderteken waarin Kopano gevra word om met die transaksie voort te gaan.

In dieselfde forensiese verslag wat die eiendomstransaksie ondersoek, wat bekendstaan as die SizweNtsalubaGobodo-verslag, word vermeld dat daar ‘n “algehele ineenstorting van goeie bestuur by Kopano” heers. Ná die vertrek van Matjila aan die einde van verlede maand, beskik Kopano oor slegs ‘n enkele direkteur, die nie-uitvoerende voorsitter Prahir Badal.

Die omstredenheid oor Kopano hou verband met die groter magstryd binnne Cosatu en albei faksies poog om die ander daarvoor te blameer.

Daar heers onsekerheid oor die stand van die misdaadondersoek rondom Matjila. Die Valke se woordvoerder, Paul Ramaloko, sê dat hulle “geen rekord van so ‘n ondersoek het nie”.