Shoprite wil Game aanvat oor koswinkels

shopriteDie Shoprite-groep het aansoek gedoen in die Wes-Kaapse hooggeregshof om ’n dringende interdik om Game te probeer keer om ook kos te verkoop, berig Business Day.

Game, deel van Walmart se Massmart-groep, het verlede maand in die CapeGate-winkelsentrum in die noordelike voorstede van Kaapstad begin om sy kruideniersaanbod drasties uit te brei met sy Foodco-reeks.

Business Day berig dat Shoprite aanvoer aan dit is onwettig vir Game om in dié winkelsentrum met hom mee te ding. Shoprite sê, na wat berig word, dat hy ’n ekslusiewe ooreenkoms het om – buiten Pick n Pay en Woolworths – die enigste supermark, kos- en drankwinkel in die sentrum te bedryf. Hy bedryf ’n Checkers in die sentrum.

Die ooreenkoms is aangegaan met Hyprop Investments, wat CapeGate besit.

Die regsoptrede gaan ’n groot toets wees vir Walmart, wat van plan is om sy  Foodco-aanbod sterk uit te brei in meeste van sy Game-winkels. Game is egter nie mededingend wat voedselpryse betref nie.

’n Woordvoerder van Massmart sê nietemin dat die regsoptrede legitieme mededinging deur Game probeer ondermyn, tot die nadeel van Suid-Afrikaanse verbruikers, berig die koerant.

Massmart het die saak na die Mededingingskommissie verwys.

’n Regsverteenwoordiger van Massmart sê die mededingingsowerhede “is nie besonder gelukkig oor eksklusiewe verhuringsooreenkomste nie,” sê Business Day.