Moody’s sê kredietamnestie gaan banke knou

moodysIndien die regering voortgaan met ’n “kredietamnestie” sal Suid-Afrikaanse banke se kredietwaardigheid ly, het Moody’s Investors Service gesê. 

Die kabinet het verlede week ’n aanbeveling goedgekeur om inligting oor skuld wat eens agterstallig was, maar nou afbetaal is, van die kredietopgawes van 1,6 miljoen verbruikers te verwyder.

Die stap sal dit vir banke moeiliker maak om risiko by potensiële leners te bepaal, en ook bestaande kliënte ontmoedig om hul skuld terug te betaal, het Moody’s in ’n verslag gesê.

Alberto Barbachano, ’n ontleder van Moody’s in Madrid, sê die groep meen dit sal die gehalte van data van kredietburo’s ondermyn. “Die verwydering van slegte kredietinligting van openbare opgawes is negatief” vir banke, sê hy.

Die kabinet het verlede maand gesê die amnestie sal dit vir verbruikers makliker maak om toegang tot krediet te bekom.  – Bloomberg