Bekende van Karasburg oorlede na huisaanval

‘n Bekende en geliefde inwoner van Karasburg, in die suide van Namibië, is in hospitaal in Suid-Afrika oorlede aan beserings wat hy gedurende ‘n gewapende roof opgedoen het.

Die 63-jarige mnr. Tillian Walters is op Afrikadag, 25 Mei deser, deur sy broer in sy huis gevind waar hy vasgebind in sy kamer gelê het. Walters was ten tyde van die voorval alleen by die huis.

Hy is per ambulans en vliegtuig na ‘n hospitaal in Kimberley vervoer waar hy tot en met sy dood in ‘n koma was, het die Republikein berig.

Walters word op Saterdag 25 Junie op Karasburg begrawe.

Walters word oorleef deur sy vrou, twee seuns, ‘n dogter, vier broers en ‘n suster.

Desmond Vries en Daniel Nuyoma is in verband met die aanval op Walters in hegtenis geneem. Hul borgtogaansoek is tot 21 Junie uitgestel en hulle bly in aanhouding.

Stellenbosch-gesinsmoord: Verdagte voor

Een van die enigste twee oorlewendes in die Van Breda-gesinsmoord op Stellenbosch gaan na verwagting vandag in die hof daar verskyn op drie aanklagte van moord en een van poging tot moord.

Polisiewoordvoerder, André Traut, het bevestig dat ‘n 21-jarige verdagte homself Maandag aan die polisie oorgegee het.

Die verdagte is op sosiale media as Henri van Breda geïdentifiseer, maar Traut wou nie uitbrei oor die inhegtenisname nie.

Dit is nie seker wat daartoe gelei het dat die verdagte homself oorgegee het nie.

Sy pa, Martin, sy ma, Teresa, en ouer broer, Rudi, is sowat 18 maande gelede in bylaanval vermoor.

Henri en sy suster, Marli, het oorleef en sy is ná maande in die hospitaal ontslaan.

Sewe swartes vas wat glo gesteelde beeste wou verkoop

Sewe swartes, wat van veediefstal verdink word, sal na verwagting aansoek doen om borgtog in die landdroshof op Ventersburg in die Vrystaat nadat hulle verlede maand in hegtenis geneem is toe hulle beweerde gesteelde beeste probeer verkwansel het.

Die verdagtes is Mc Donald Tladi (42), Samuel Ralenki (35), Innocent Thabethe (21), Hendrik Thekiso (29), Mohaeka Kamohelo (26), Ntsokoane Motsoloane (23) en Motiki Tseisi (23).

‘n Veespekulant het onraad vermoed toe hy telefonies deur ‘n man genader is wat beeste ter waarde van sowat R400 000 aan hom te koop aangebied het.

Die veespekulant is toe deur ‘n onbekende man na die plaas buite Winburg vergesel, waar die beeste in ‘n weikamp aangehou is.

Hy het egter snuf in die neus gekry toe hulle ‘n alternatiewe hek na die plaas gebruik het, omdat die hek by die hoofingang gesluit was.

‘n Lid van die polisie se veediefstaleenheid sê die veespekulant het daarna die polisie genader.

Ná ‘n polisieondersoek het dit aan die lig gekom dat die beeste nie aan die mans behoort nie. Dit is ook nie die swartes se plaas nie.

Al die verdagtes, waaronder drie Lesotho-burgers, is op die plaas in hegtenis geneem toe hulle die diere aan die veespekulant en ‘n polisiebeampte, wat hom voorgedoen het as ‘n vennoot van die veespekulant, wou verkoop.

Die polisie het ‘n beroep op boere en vee-eienaars gedoen om op hul hoede te wees vir booswigte wat onwettige veetransaksies wil aangaan.

Mense moet bedag daarop wees wanneer hulle telefonies genader word om vee te koop. Sodra voornemende kopers by die transaksies betrokke raak, moet hulle versigtig wees en seker maak dit is nie gesteelde diere wat aan hulle verkoop word nie.

Diere moet gebrandmerk word kragtens die wet op diere-identifikasie.

Kimberley moet ligloop vir skelms wat ‘kragbespaarders’ smous

Die Sol Plaatje munisipaliteit in Kimberley het ‘n waarskuwing uitgereik oor mense wat hulle as munisipale amptenare voordoen en elektrisiteitsbesparings apparate verkoop.

Sol Plaatje woordvoerder Sello Matsie sê die verkopers van dié apparate, waarvan die toerusting nie een dieselfde is nie, oortuig inwoners dat hulle toestel die huiseienaar baie geld sal bespaar.

Matsie sê bejaarde inwoners word geteiken deur die vals amptenare.

Verder sê hy is daar reeds vasgestel dat inwoners met sowat R25 000 reeds ingeloop is.

Plaasaanvaller by Warden steeds soek

Die polisie in die Vrystaat soek steeds na ‘n vyfde swart verdagte wat Maandag betrokke by ‘n plaasaanval op Warden.

Die eienaars van die plaas se identiteit word om veiligheidsredes nie bekend gemaak nie.

Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, sê vier verdagtes is kort ná die voorval waarin drie televisiestelle, ‘n digitale kamera, selfone en ‘n beursie gesteel is, op die N3 by Villiers in hegtenis geneem.

Sy sê die polisie in samewerking met plaaslike boere en patrollies op die snelweg het nou saamgewerk om ‘n blou BMW met ‘n Limpopo-registrasienommer, waarin die booswigte op die vlug geslaan het, op te spoor.

Sy sê die verdagte motor is op die N3-snelweg gesien. Die booswigte het egter die snelweg verlaat toe hulle die polisie gewaar. Hulle het ‘n slaggat in die straat in Villiers getref.

Mbambo sê ‘n jaagtog tussen die polisie op Villiers en die rowers in die motor het plaasgevind, waarna die rowers die motor in die pad gelos het nadat dit ‘n slaggat getref het. Hulle het verder te voet gevlug, maar is in ‘n halfuur aangekeer.

Mbambo sê ‘n 9mm pistool met ammunisie is in een vandie verdagtes se besit gevind. Daar is ook beslag gelê op al die gesteelde goedere.

Mbambo sê al vier verdagtes sal na verwagting môre in die landdroshof op Warden verskyn op ‘n aanklag van huisroof.

Die vierde verdagte sal na verwagting ook Donderdag in die landdroshof op Villiers verskyn. Hy word ook van die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie aangekla.

Mbambo sê daar is ook beslag gelê op die BMW wat deur die booswigte gebruik is. Die polisie kon nog nie die eienaarskap van die motor vasstel nie.

Volgens die voorsitter van Warden-landbouvereniging, Hendri Jansen van Rensburg, het die aanvallers in die oggend op die werf opgedaag.

Die werknemers is glo erg getraumatiseerd na die voorval waar hulle met vuurwapens aangehou en toe vasgebind is.

Dit is die 21ste plaasaanval in die Vrystaat tot dusver vanjaar.

Vrystaat Landbou (VL) sê die voorval word as ‘n plaasaanval bestempel omdat geweld betrokke was.

Twee mense is vanjaar reeds op plase in die omgewing vermoor. Dit sluit onder meer die moord op dr. Bennie Cilliers op die plaas Gouda by Rouxville in.

Altesaam vyf aanvalle op plase het verlede maand in die Vrystaat plaasgevind.

Bekende akteur Schalk Jacobsz oorlede

Die bekende akteur, Schalk Jacobsz is vroeg vanoggend in sy slaap oorlede by sy huis in Westdene in Johannesburg.

Volgens sy vrou, die aktrise Elma Potgieter is hy aan ‘n hartkwaal oorlede nadat hy die afgelope tyd ongesteld was.

Hy was 80.

Jacobsz was bekend vir sy rolle in televisiereekse soos Die Siel van die Mier; rolprente soos Die Bankrower en verhoogproduksies soos Boesman en Lena en Nag van Legio.

Tydens verlede jaar se RSG Kunstefees het Jacobz en Potgieter die produksie Reis sonder Einde – Uys Krige en Federico Lorca opgevoer.

Jacobz word oorleef deur sy vrou Elma en drie kinders.

Bultfontein-plaasaanval: Vyf aanvallers borgtog geweier

Vyf swart verdagtes wat in hegtenis geneem is na ‘n plaasaanval by ‘n Bultfontein is borgtog geweier in die plaaslike landdroshof.

Die Vrystaat se polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die mans is in hegtenis geneem in Phahameng kort ná ‘n aanval op Leon Venter se plaas op 12 Mei.

Drie vuurwapens wat uit die Venter-plaashuis gesteel is, is ná die in die inhegtenisneming van die vier swart verdagtes teruggevind. Gesteelde munte, ‘n kamera en ‘n horlosie is ook gekry.

‘n Vyfde verdagte, wat Venter se Toyota-bakkie gesteel het, is in hegtenis geneem kort na die eerste arrestasies.

Venter se bakkie is as vermis aangemeld na die aanval, maar is later verlate gevind op ‘n plaaslike grondpad.

Gaobepe sê die saak is uitgestel tot 15 Junie vir verhoor.

Die verdagtes, Mahlomola Chaka (22), Themba Mentjies (24), Tete Moshane (24), Pogisho Mokale (26), en Tshepiso Ntsane (26) staan ​​tereg op aanklagte van die besit van gesteelde vuurwapens.

Intussen het die polisie ‘n deurbraak gemaak deur die arrestasie van twee swart verdagtes in verband met ‘n die plaasaanval op Hertzogville wat ook op 12 Mei plaasgevind het.

Gaobepe sê na ‘n ondersoek van byna drie weke is ‘n swartman is in hegtenis geneem in Bultfontein tydens die besoek aan ‘n bank, en ‘n tweede swarte kort daarna.

Dit volg na die aanval op Gideon Botha en sy vrou Petronella nadat hulle het teruggegaan huis toe van die dorp en drie swartes hulle tuis ingewag het.

‘n Derde verdagte is steeds op vrye voet.

Skoolregistrasie sluit vandag

Tyd raak min vir Gauteng-ouers wat nog nie hul kinders geregistreer het vir die 2017 akademiese jaar nie.

Hulle het tot middernag vanaand (Woensdag) om dit te doen.

Meer as 670,000 aansoeke vir graad een en agt is reeds ontvang en verwerk, nadat die aanlynregistrasie in Maart van stapel gestuur is.

Ouers sonder internettoegang word aangemoedig om hul naaste skole of distrikte te besoek vir hulp.

Registrasies het wankelrig begin nadat die aanlynportaal omgeval het.

Plaasaanvalle in Vrystaat neem effens af, maar kommer bly

Plaasaanvalle in die Vrystaat het sedert die begin van die jaar tot middel Mei ‘n afname getoon teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

VKB en Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidslessenaar toon daar was vanjaar 19 aanvalle op plase waarin twee mense vermoor is. Dít teenoor verlede jaar dieselfde tydperk waarin daar 34 plaasaanvalle was en vyf mense vermoor is, wat plaaswerkers, boere en inwoners op kleinhoewes insluit.

Voorsitter van die VL se komitee vir wet en orde, Tommie Esterhuyse, sê dié afname in plaasaanvalle sover vanjaar is goeie nuus, maar hy glo meer kan gedoen word.Volgens hom is daar goeie bestaande samewerking tussen boere, die polisie en lede van die plaaswagstelsel op plaaslike- en gebiedsvlak in die provinsie, wat wel ‘n impak maak om ‘n veilige en volhoubare landboubedryf daar te stel. Meer betrokkenheid is egter nodig.

Hy sê dit is ook goeie nuus dat ses plaasaanvalle die afgelope twee maande in die provinsie voorkom is. Die aanvalle is in Bloemfontein by Bloemspruit en die polisiëringsgebied van Parkweg, en op Bultfontein, Heilbron, Koppies en Petrus Steyn gefnuik.

Hy skryf die sukses toe aan goeie samewerking tussen betrokkenes in die landelike beveiligingsplan. Dit sluit veiligheidskoördineerders, die polisie en spesialis-eenhede in. Die veiligheidslessenaar se betrokkenheid werp ook vrugte af. Daarmee saam was daar ‘n goeie vloei van inligting tussen belanghebbendes gewees. Daar was inligtingskakeling tussen boere, die plaaswagtelsel en die polisie. Esterhuyse sê egter meer mense moet betrokke raak sodat meer sukses behaal kan word. Daar moet proaktief te werk gegaan word.

‘n Handleiding is saamgestel vir die bestaande plaaswagstelsel in plattelandse gebiede en dit verskaf inligting en riglyne aan betrokkenes om veiligheid in landelike gebiede te verskerp.

Die plaaswagstelsel is ‘n primêre rolspeler in die Landelike Beveiligingstrategie (LBS). Dit speel ‘n ondersteunende rol om saam met die polisie ‘n veilige omgewing te skep. Esterhuyse sê die plaaswagstelsel is al in 30 dorpe in die Vrystaat in werking gestel. Dit word hoofsaaklik gedryf deur die gebiedskantore van georganiseerde landbou en behels die patrollering van gebiede en besoeke aan plase.

Plaaswagte word in die handleiding ingelig oor die vloei van inligting wat baie belangrik is ten opsigte van misdaad, tendense en patrone. Die identifisering van verdagte mense en voertuie, wat substantief betrokke is by misdaad op landbougrond, asook die mobilisasie van boere tydens aanvalle op plase word ook bespreek. Daar is ook riglyne oor die insameling van inligting met betrekking tot georganiseerde misdaad wat deur verskillende strukture na die polisie se gespesialiseerde eenhede gekanaliseer word. Die identiteitsprofiele van alle inwoners op plase is ook van belang om te verseker dat boere nie booswigte aanstel nie.

Esterhuyse sê die bestaande strukture, soos onder meer die plaaswagstelsel, vervul ‘n belangrike rol in die skep van ’n veilige landboubedryf in die Vrystaat.

Bron: OFM Nuus

Steve se byeenkoms in Den Haag gaan voort

Die byeenkoms van die sanger Steve Hofmeyr in Den Haag tesame met Martin Bosma en ander leiers van die Partij voor de Vrijheid op Woensdagaand 1 Junie gaan voort, maar in ‘n ander lokaal. Vanweë dreigemente wat ‘n uitgeweke ondersteuner van terrorisme teen Afrikaners, Johan “Sloet” de Villiers, teenoor die restaurant Studio Dudok gemaak het, is die byeenkoms waar Hofmeyr oor “die toekoms van Afrikaners” sou praat, aanvanklik afgestel.

Martin Bosma van die PVV het egter vroeg vanoggend teenoor PRAAG bevestig dat die geleentheid voortgaan, op ‘n plek wat tot nog toe onbekend is. Hofmeyr en Bosma was gister in Antwerpen, België, waar hulle met Vlaamse politici beraadslaag het.

Op die Facebookblad van Netwerk24 is daar gister met leedvermaak gereageer op die nuus dat Hofmeyr se byeenkoms by Studio Dudok in Den Haag afgestel is. Vele van die liberale bydraers voel dis reg dat Afrikaners uitgemoor word en dat dit “tydmors” vir Steve Hofmeyr is om met Nederlanders oor die geweld in Suid-Afrika te gesels.