Kubermisdadigers teiken SA

Internasionale kubermisdadigers het reeds honderde miljoene rande van Suid-Afrikaners gesteel deur gesofistikeerde aanvalle op finansiële instellings in die land.

Sulke misdadigers word boonop selde of ooit vasgevat.

Vroeër vanjaar het krakers meer as R180 miljoen van Standard Bank gesteel nadat hulle kredietkaartbesonderhede bekom het om geld te trek van OTM’s in Japan in ‘n gekoördineerde aanval.

Dié soort kubermisdaad word moontlik gemaak weens die kwesbaarheid van die sagteware wat maatskappye gebruik om belangrike korporatiewe funksies te verrig, sê ontleders.

Die grootste hindernis vir Suid-Afrika se kuber-sekuriteitvermoëns, is die gebrek aan geskoolde kubertalent in die land.

Basie von Solms, direkteur van die Universiteit van Johannesburg se kuber-sekuriteitsentrum, sê: “Suid-Afrika het die wêreld se derde grootste aantal slagoffers van kubermisdaad.

“Suid-Afrika staar ‘n nasionale krisis in terme van kuber-sekuriteit in die gesig as gevolg van die gebrek aan kuber-sekuriteitdeskundiges.”

‘n Ontleder van ‘n rekenaar forensiese laboratorium, sê internasionale aanslae teen kuber-sekuriteit het ‘n kommerwekkende tendens.

“Skendings gaan gemiddeld ongemerk vir 146 dae.”

“Hulle [Suid-Afrikaners] het ‘n valse gevoel van sekuriteit in hul sekuriteitstelsels.”

Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse bankrisiko-inligtingsentrum, Kalyani Pillay, het gesê verlede jaar het R778.6 miljoen verlore geraak deur-bank verwante misdade, insluitend kubermisdaad.

“As sekuriteit verbeter, pas misdadigers aan en verskuif hul fokus na die nuwe platforms wat banke ontwikkel om bankdienste te vergemaklik.”

“Die probleem in Suid-Afrika,” sê ‘n ontleder van ‘n kubersekuriteitsfirma “is dat hoewel maatskappye, veral finansiële instellings ‘n uitstekende netwerksekuriteit handhaaf, is hulle hoogs kwesbaar ten opsigte van toepassings.

“Kuber​​misdadigers soek kwesbaarhede in hierdie stelsels.”

Dit is in sommige gevalle ook kleiner ondernemings wat geteiken word, omdat groter maatskappye meer aan sekuriteit kan bestee.

Verlede jaar is meer as 6000 unieke kwesbaarhede rondom rekenaartoepassings wêreldwyd aangeteken, sê die ontleder.

Slegs 28 lande in die wêreld beskik oor ‘n kubersekuriteitbeleid.

Bob blameer ‘derde mag’ vir opstand in Zim

Verslae uit Zimbabwe sê ten minste 30 mense is in hegtenis geneem oor gewelddadige betogings Maandag in die land.

Die regering het gesê hulle sal ‘n moontlike derde mag agter die onlangse betogings wat opgevlam het, ondersoek.

Vrydag is ‘n regeringspakhuis by Beitbrug afgebrand, ‘n kitskoswinkel is geplunder en verkeersligte is ook gevandaliseer.

Die betogers het die stoor afgebrand oor Zimbabwe se besluit om ‘n verbod op ‘n groot aantal invoere te plaas.

Betogers in die hoofstad het op ‘n vernietingstog gegaan met klippe en brandende bande om paaie na die middestad van Harare af te sper.

Hulle het gesê hulle sal nie toelaat dat enige voertuie die stad bereik totdat die polisie hul daaglikse padblokkades staak nie.

Frustrasies oor die vinnig verswakkende ekonomiese omstandighede in Zimbabwe, tesame met ontevredenheid oor beweerde regeringkorrupsie en onbevoegdheid, het tot byna daaglikse betogings in onlangse weke gelei.

PRAAG het met swart reisigers in Zimbabwe gesels wat beweer dat die polisie glo ‘n aanslag op Mugabe vrees. Hulle stel egter met dié verskoning padblokkades op om buitelanders se besittings en geld te eis.

Die betogers eis ook dat korrupte polisiebeamptes wat geld vra by die padblokkades in hegtenis geneem word.

Protes is aangemeld in Ruwa, Zimre Park, Hatfield, Epworth en Mabvuku waar paaie met klippe afgesper is en enige voertuie wat die stad wou bereik, met klippe bestook is.

Intussen het Zimbabwe se minister van arbeid Supa Mandiwanzira staatsamptenare gevra om geduld te gebruik as hul nie hul salarisse ontvang nie.

Hy het gesê die regering het geen kontantvloei nie, maar dinge sal binnekort terugkeer na normaal.

Intussen is verneem dat ten minste 71 mense reeds in hegtenis geneem is in verband met betogings die naweek aan die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika.

Beitbrug-grenspos is sedertdien gesluit.

In ‘n afsonderlike verwikkeling het staatsdokters en ander regeringswerkers gesê hulle sal staak omdat die regering nie daarin kon slaag om hul Junie-salarisse betyds te betaal nie.

Die minister van finansies, Patrick Chinamasa, het by Westerse lande gepleit om finansiering in die vorm van lenings wat meer as twee dekades gelede gestaak is, aan Zimbabwe toe te staan.

Internasionale finansiering het opgedroog toe Zimbabwe nie in staat was om sy buitelandse skuld terug te betaal nie asook weens internasionale sanksies wat vanweë kommer oor die skending van demokratiese regte ingestel is.

Verlede maand het ‘n anti-regeringbetoger krete in die ingangsportaal van ‘n luukse hotel in Harare geskree en die polisie uitgejou totdat hulle inbeweeg en hom weggesleep het.

Die aktivis het sy woede betoon teenoor die visepresident, Phelekezela Mphoko, wat glo vir 18 maande in ‘n hotelsuite in Harare teen ‘n koste van US$400 per nag tuisgegaan het.

Aanklagte teen swart UV-amokmakers onvoorwaardelik teruggetrek

Aanklagte teen twee swart studente wat aanvanklik op 24 Februarie in hegtenis geneem is tydens die oproer by die Universiteit van die Vrystaat (UV) is onvoorwaardelik teruggetrek.

Die oproer deur ‘n groep skoonmakers en studente het tot vandalisme en openbare geweld gelei waar Afrikanerbeelde afgebreek is.

Machini Motloung, ‘n verteenwoordiger van die Regshulpraad vir studente, sê hulle is bly die vervolging het ooreengekom om al die aanklagte terug te trek.

Lindiwe Abongile Bakaqa sowel as Kgotso Baba moes Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn waar ‘n verhoordatum vasgestel sou word.

“Ons het met die vervolgingspan vergader waar die vervolging ingestem het om onvoorwaardelik die aanklagte terug te trek teen die betrokke studente. Die ander student is nou in Turkye. Die aanklagte teen hom is ook onvoorwaardelik teruggetrek. Die saak is nou ter ruste gelê,” het hy gesê.

Die aanklagte het verband gehou met saakbeskadiging en die oortreding van ‘n hofbevel.

Tydens ‘n Varsitybeker-wedstryd tussen die UV Shimlas en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Madibas het die swart oproeriges op die veld gestorm maar is deur rugby-ondersteuners weggejaag.

‘n Wit damesstudent, Ju-Mari Pretorius (22), is net voordat die Shimlas en die Madibaz se wedstryd afgeskop het, na bewering buite Shimlapark se hekke aangerand deur swart oproeriges. Sy is met ‘n voorwerp oor die kop geslaan.

OFM-nuus probeer egter voorgee dat swart geweld by UV uitgebreek het omdat die swart studente by die rugbywedstryd “aangeval” is deur wittes en hulle daarom “betoog” het.

Dis is ‘n uiterste wanvoorstelling van gebeure. Die oproer is beplan deur simpatiseerders van soortgelyke anti-wit veldtogte by ander instellings oor swart studente se studielenings en swart skoonmakers se kontrakte.

Dié kwessies is egter lukraak gebruik om eiendom te beskadig, klasse te ontwrig en Afrikaans afgeskaf te kry.

Swart betogers het egter met Amerikaanse slagspreuke opgedaag (foto hierbo), wat kennelik dui op ‘n georkestreerde NWO-poging met buitelandse befondsing om ‘n rasseoorlog te ontketen.

‘n Lasbrief vir die inhegtenisneming is uitgereik vir Baba nadat hy versuim het om op te daag vir die vorige hofverskyning. Hy was reeds in die buiteland nadat ‘n beurs skielik aan hom toegeken is deur ‘n Moslemland.

Bakaqa het teruggekeer na die hof omdat sy nie verlede maand wou instem tot die bemiddelingsterme nie.

Joernaliste proe hulle eie sensuur-medisyne

Die SABC se bestuurshoof, Hlaudi Motsoeneng, ook beskou as president Jacob Zuma se bondgenoot, stel nie belang om die skorsing van joernaliste met hul verteenwoordigers te bespreek nie.

Die groep joernaliste wat self graag sensuur toepas teen afvalliges, proe nou van hul eie medisyne.

‘n Afvaardiging wat die Media Workers Association of South Africa (Mwasa), verteenwoordigers van Primedia en Independent Media, en die Right2Know Campaign (‘n Soros-front) insluit, wou met Motsoeneng vergader oor die skorsing.

Hulle eis dat Motsoeneng die skorsing ophef en “intimidasie van joernaliste” by die SABC staak. Die partye is almal verbind tot die voortgesette “nasionale demokratiese rewolusie”.

Dit laat kommer ontstaan dat hulle ook betrokke mag wees by die oproer wat hulle graag wil verfilm en uitsaai.

Hulle het ‘n beroep op die nasionale uitsaaier gedoen om die redaksionele beleid te hersien, wat ‘n kombersverbod plaas om oor oproer te berig.

Motsoeneng het eers ingestem, maar later gesê hy sal voortgaan met dissiplinêre optrede teen die betrokke personeellede wat hulle nie aan beleid steur nie.

Special Assignment se uitvoerende vervaardiger Busisiwe Ntuli, SAfm aktuele sake se uitvoerende vervaardiger Krivani Pillay en senior ondersoekende joernalis Jacques Steenkamp staar aanklagte wat verband hou met die onwettige optrede in die gesig.

Hulle het hul kommer oor die uitsaaiverbod in ‘n brief aan Motsoeneng verklaar en ‘n veldtog op sosiale media begin teen die skorsing.

Hulle straf volg op die skorsing van ‘n verdere drie redaksielede, wat Radio Sonder Grense se uitvoerende redakteur Foeta Krige en senior joernalis Suna Venter insluit.

Ironies genoeg was Foeta Krige self ‘n sensor van formaat wat reeds ‘n dekade lank sorg dat geen “regse” mening ooit op RSG gelug word nie en self die ANC se gewillige ideologiese vuilspuit.

Die joernaliste, insluitend parlementêre verslaggewer Lukhanyo Calata, se dissiplinêre verhore sal na verwagting op Vrydag plaasvind.

Dodelike verkiesingsgeweld in KZN duur voort

Die Valke ondersoek die moontlikheid dat die moord op ‘n ANC-kandidaat in Newcastle polities gemotiveerd was, het RSG berig.

‘n Woordvoerder sê hulle het Sondag die dossier ontvang.

Thembi Mbongo is Vrydagaand voor haar man en kinders in haar huis doodgeskiet.

Die vrou is die sewende ANC-lid wat sedert Maart in die provinsie dood is. Mbongo is dood `n paar uur voor haar ANC-tak se beplanningsvergadering vir die munisipale verkiesings op 3 Augustus.

Verlede maand is twee van die party se vrywilligers by Pietermartizburg doodgeskiet.

KwaZulu-Natal se polisie soek steeds na ‘n groep aanvallers wat vier mense by KwaMaphumulo in die noorde van die provinsie doodgeskiet het.

Die polisiewoordvoerder sê die slagoffers het ‘n tradisionele seremonie bygewoon toe onbekende aanvallers op hulle losgebrand het.

Hy sê die motief vir die moorde is nie bekend nie.

Dit is nie uitgesluit dat dit ook met die komende verkiesing verband kan hou nie.

Plakkershuise van buitelanders in Tshwane, Kaapstad brand

Die Tshwane Metro sê hulle weet nie wie verantwoordelik is vir die brand in die Plastic View-plakkerskamp nie.

Die meerderheid van Plastic View se inwoners is buitelanders en nie Suid-Afrikaanse burgers nie.

‘n Woordvoerder van die burgemeester, Blessing Manale sê hulle sal ondersoek instel na die oorsaak van die brand.

Hy sê die brand het vinnig versprei omdat daar sowat duisend plakkershuise in ‘n gebied so groot soos drie rugbyvelde is.

Vyf mense is in die brand dood, en honderde mense is dakloos gelaat.

Die Metro het die families van die inwoners wat die naweek dood is in die brand intussen gekontak.

Manale sê die Metro is al vir vier jaar in gesprek met menseregte-prokureurs oor die moontlike hervestiging van inwoners van Plastic View.

Hy sê egter die behuisingskode laat hulle nie toe om maatskaplike behuising aan buitelandse burgers toe te ken nie.

Nog ‘n plakker is vroeg vanoggend dood in ‘n brand in Gugulethu op die Kaapse Vlakte waar tien plakkershuise in puin gelê is. Byna 40 mense is dakloos gelaat.

Gugulethu is ook ‘n gebied wat hoofsaaklik deur buitelanders beset word.

‘n Woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, Theo Layne sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, en die saak is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

Hy sê rampbestuurspanne sal vanoggend die gebied besoek om te bepaal watter bystand hulle kan verskaf.

Prof Christof Heyns verkies tot Verenigde Nasies se Menseregtekomitee

Prof Christof Heyns, voormalige Direkteur van die Sentrum vir Menseregte en Professor in Menseregte aan die Universiteit van Pretoria (UP), is in Maart 2016 deur die Suid-Afrikaanse Regering genomineer as sy kandidaat vir die hoog aangeskrewe 18-lid Mensregtekomitee van die VN. Hy is op 23 Junie 2016 in New York as lid van dié komitee verkies.

Prof Heyns het die afgelope ses jaar as die VN se Spesiale Rapporteur oor buitegeregtelike, summiere en arbitrêre teregstellings gedien. In dié hoedanigheid was hy direk betrokke by van die grootste uitdagings in die internasionale gemeenskap, insluitende die gevolge van die oorloë in Sri Lanka en die Oekraïene. Hy is ook een van drie internasionale kenners verantwoordelik vir die VN se Onafhanklike Ondersoek na Burundi en dien as voorsitter van die groep. Baie min menseregtekenners het so ‘n wye verskeidenheid topposte op die gebied van die internasionale menseregtestelsel beklee.

Prof Heyns gee onderrig in Menseregte aan UP, Oxford Universiteit, die American University in Washington DC en die Universiteit van Genève. Hy het artikels vir talle internasionale publikasies die lig laat sien, onder meer oor gewapende hommeltuie, die bestuur van betogings, die gebruik van geweld deur wetstoepassingsbeamptes, asook menseregte in Afrika.

Prof Heyns sal vanaf 27 Junie tot 8 Julie 2016 in Suid-Afrika wees, waartydens hy onderhoude oor sy werk sal toestaan. Hy sal drie maande per jaar in Genève woon waar die sittings van die VN se Menseregtekomitee plaasvind.

Sy vader, die teoloog dr. Johan Heyns, is in die vroeë negentigerjare deur ‘n sluipmoordenaar om die lewe gebring.

ANC-verkiesingsgeweld versper N2 vir tweede dag

Die ANC het moes een van sy lede skors omdat die aanhitser by Woensdagaand se openbare geweld op die N2-snelweg buite Kaapstad betrokke was.

ANC-lede het Woensdagaand beswaar gemaak oor kandidaatslyste en twee busse is aan die brand gesteek.

Die Wes-Kaapse waarnemende verkeershoof, Jacques Mostert het motoriste versoek om alternatiewe roetes te gebruik.

Die ANC se provinsiale woordvoerder, Yonela Diko sê die party sal nie huiwer om tugstappe te doen teen lede wat die ANC se beleid oortree nie.

Wes-Kaapse motoriste het vanoggend weer ontwrigting op albei hul nasionale snelweë getrotseer.

Klipgooiers het bane van die N2 ná Kaapstad onbegaanbaar gemaak en met brandende bande afgesper.

Die Wes-Kaapse polisie moes weer op die snelweg by die Kaapstadse internasionale lughawe ontplooi word nadat protesoptrede op die besige pad hervat is.

Die N2 na die stad, digby die Kaapstadse internasionale lughawe moes sluit weens oproer.

Die Wes-Kaapse verkeersafdeling het ook ‘n padblokkade op die N1-snelweg opgerig om moeilikheidmakers vas te vat.

Motoriste met uitstaande lasbriewe is geteiken. Sowat 45 mense het waarskuwings ontvang om in die hof te verskyn.

Veertien mense is Donderdag by ‘n soortgelyke padversperring op die N2 in hegtenis geneem.

Die ANC in die Wes-Kaap het aantygings van die Kaapstadse Metro verwerp dat sy lede die verkeer vanoggend op die N2-snelweg naby die Kaapstadse lughawe ontwrig het.

Prys van basiese mandjie kos met 15% op

Die prys van ‘n basiese mandjie kos het in Mei met meer as 15% gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Dit blyk uit die jongste Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se maandelikse kosmandjieprys-verslag.

Die mandjie bestaan uit 22 items, insluitend dinge soos suiker, melk, eiers, gebakte bone, appels, brood, mieliemeel, stowevleis en hoender, onder andere.

Dit toon dat die koste van die mandjie, behalwe vir lemoene, met net meer as R80, vanaf bykans R520 in Mei 2015 tot meer as R600 Mei 2016 duurder geword het.

Hoenderporsies het die grootste toename getoon, van meer as 58% vir die jaar-tot-jaar prys, met aartappels volgende aan die beurt. Dit is 45% duurder as verlede jaar.

ANC in Kaap brand busse oor verkeerde nominasie

Die Golden Arrow-busdiens het die vernietiging van twee van sy busse op die N2 naby Kaapstad veroordeel. Hulle het hul busdienste opgeskort in die gebied.

‘n Woordvoerder van Golden Arrow, Bronwynne Dyke sê hulle hou die situasie fyn dop en is bekommerd omdat hul busse in die protesoptrede geteiken en aan die brand gesteek is.

Dyke sê hulle is egter verheug dat daar geen beserings is nie.

Twee mans sal binnekort in die hof verskyn nadat motoriste tydens die protesoptrede beroof is.

Die onrus het blykbaar uitgebreek uit ontevredenheid met die ANC se kandidatelys vir die komende verkiesing.

ANC-lede is ontevrede met die party se raadslidlys vir die 3 Augustus plaaslike regeringsverkiesings.

Oproeriges het gesê hulle wou dat die regerende party van hul frustrasies bewus raak.

Motoriste moes alternatiewe roetes gebruik wat gelei het tot verkeersknope.

Pendelaars is gestrand gelaat nadat die busse aan die brand gesteek is. Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die 200 betogers uiteen te jaag.

ANC-lid Nomalizo Ngcawana het gesê hulle het begin met oproer nadat hulle uitgevind het die kandidaat wat hulle genomineer het is nie geregistreer nie en in plaas daarvan verskyn Bongani Ngcombolo se naam op die kandidatelys.

Sy het gesê die ANC-taklede eis onmiddellike ingryping.