G4S dalk swaar beboet oor geweld by tronk

g4sDie departement van korrektiewe dienste het 29 kennisgewings van boetes aan die privaat sekuriteitsmaatskappy G4S beteken nadat voorvalle van geweld by die Mangaung-maksimumsekuriteitsgevangenis sedert 14 September voorgekom het.

Die gevangenis word privaat deur G4S Africa bedryf. G4S is ‘n Britse multinasionale sekuriteitsmaatskappy met sy hoofkwartier in Crawley, in die Verenigde Koninkryk. Dit is die wêreld se grootste sekuriteitsmaatskappy gemeet aan inkomste en is werksaam in ongeveer 125 lande.

Dié maatskappy is verlede jaar in die VK in ‘n openbare veldtog gekritiseer weens sy betrokkenheid by Israel.

Sedert die middel van September is verskeie voorvalle van geweld aangemeld. ‘n Vroulike beampte is verlede week deur vier gevangenes as gyselaar aangehou, berig Eyewitness News.

Die aantal voorvalle van geweld by die tronk het sedert verlede maand skerp toegeneem nadat meer as 300 lede van die polisievakbond Popcru afgedank is omdat hulle onwettig gestaak het.

Die maatskappy het sedert 14 September die terme en voorwaardes van sy kontrak 29 keer oortree en die boete vir elke voorval is R36 000. Indien die kennisgewings goedgekeur is, sal die maatskappy altesaam R1,44 miljoen se boetegeld aan die departement moet betaal.

Andy Baker, hoof van G4S Africa, het egter gesê elke voorval was ‘n ongeluk wat nie voorsien kon word nie.

NYDA-hoof gearresteer vir bedrog en geldwassery

nyda2Die voormalige hoof van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), Andile Lungisa, en drie medebeskuldigdes het kort voor middagete Vrydag by die hof opgedaag.

Die vier het in die beskuldigdebank in die gespesialiseerde handelshof gewag dat hul saak aangehoor word.

Andile Lungisa en drie ander is Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en geldwassery, het die Valke Vrydag gesê.

Volgens die Valke se woordvoerder, Paul Ramaloko, hou dit verband met R2,5 miljoen wat die departement van kuns en kultuur vir ‘n konsert tydens die Nelson Mandela-sportdag betaal het.

Die konsert is in Augustus gehou. Die departement was in die nuus nadat hy aangekondig het dat die Amerikaanse sanger R Kelly sou optree. Maar kort voor die konsert het die departement in ‘n verklaring gesê dat hy onder ‘n wanindruk verkeer het.

Ramaloko sê Lungisa, wat saam met drie ander mense gearresteer is, het na bewering vir die departement gelieg en belowe dat R Kelly sou optree.

Skynbaar was die sanger se bestuur nie bewus dat daar onderhandelinge namens die sanger plaasgevind het nie. Die sanger het nie opgetree nie.

Die departement het daarna gesê dat hy regsadvies oor die saak inwin. – Sapa

Zuma wens alle grootouers geluk

oupaPres. Jacob Zuma het alle grootouers ‘n gelukkige grootouer-dag toegewens.

Oupa- en ouma-dag word Sondag gevier.

”Ons moedig alle Suid-Afrikaners, en veral jongmense, aan om hul grootouers te respekteer en beskermers van grootouers se regte en welstand te wees,” het die president in ‘n verklaring gesê.

”Ek wens alle grootouers namens die regering en die mense van Suid-Afrika ‘n gelukkige en geseënde grootouerdag toe.” – Sapa

Maak seker jou motor sluit om diewe te fnuik

motordiefstalAl hoe meer motoriste word deur misdadigers geteiken wat die afstandsbeheer van hul ryding se sluitstelsel blokkeer.

Motoriste moet hul motor se deure liefs nagaan nadat hulle dit met die afstandsbeheer gesluit het, sê kapt. André Beetge van die polisie in Port Elizabeth, waar dié misdaad toeneem.

As die afstandsbeheer geblokkeer is, sluit die deure nie en kan inhoud uit die motor of die motor self gesteel word.

“Maak veral seker as jy nie die klikgeluid hoor of die die ligte sien flikker soos gewoonlik wanneer ’n motor met ’n afstandsbeheer gesluit word nie.”

Hy het huiseienaars ook gemaan om seker te maak dat die hek of motorhuisdeur toe is voordat hulle wegry. – Sapa

Jeugliga agter Ramaphosa vir president

Ramaphosa
Ramaphosa

Die ANC-jeugliga het sy steun aan Cyril Ramaphosa, adjunkpresident van die ANC, toegesê om Suid-Afrika se volgende president te word.

“Dit is die regte ding om te doen. Dit is die enigste manier waarop die ANC sy interne demokratiese prosesse kan uitbou,” het Mzwandile Masina, sameroeper van die liga se nasionale taakspan (NTT), aan die Sowetan gesê.

Ramaphosa is in Desember by die regerende party se nasionale verkiesingskonferensie in Mangaung tot adjunkpresident verkies en het oorgeneem by Kgalema Motlanthe, wat steeds die adjunkpresident van die land is.

Die jeugliga wil sien dat Ramaphosa ná volgende jaar se algemene verkiesing die leisels by Motlanthe oorneem. – Sapa

Boer in Sabie doodgeskiet in plaasaanval

sabiePaul Mason (63) is Donderdag op sy plaas, Kruisfontein, by Sabie deur plaasaanvallers doodgeskiet.

Dié was die tweede aanslag op Mason, ‘n bosbouer, se lewe. Hy is in 2010 ook op sy plaas gewond.

Hy en sy vrou, Gwen (58), het vroegoggend van die huis vetrek om bosbou-spanne op die plaas te gaan besoek, berig Beeld.

Vier gewapende rowers het kort nadat die Mason-egpaar gery het toegang tot die perseel verkry deur ’n gat in die heiningdraad te knip.

Hulle het die bejaarde tuinwerker oorval, vasgebind en in ’n buitetoilet toegesluit.

Die tuinwerker het later aan die polisie gesê hy het sowat ’n uur later gehoor hoe die Masons terugkeer. Drie skote het geklap. Mason is twee keer in die bors en een keer in die onderlyf getref.

Inspekteurs gaan op sjebiens toeslaan

sjebeenDie Gautengse Drankraad sê korrupsie met die uitreiking van dranklisensies is een van die faktore wat die bedryf die ergste kniehalter.

Die Raad het by die bekendstelling van ‘n bewusmakingsveldtog in Boksburg aan die Oos-Rand gesê handelaars met vervalste lisensies en informele persele sal vasgevat word.

Wetstoepassers het hulle steun aan die Raad se veldtog toegesê en beplan om in die aanloop tot die kerstyd toe te slaan op onwettige permitte, drinkplekke en handelaars.

Daar sal ook gefokus word op handelsure, en die verkoop van drank aan kinders. Amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het drankhandelaars ook ingelig oor belastingvereistes. – RSG

Chippy Shaik ook voor Seriti-kommissie

armsdealDie Seriti-kommissie wat ondersoek instel na die omstrede wapentransaksie is tot 14 Oktober uitgestel. ‘n Woordvoerder, William Baloyi, sê die besluit is geneem sodat sekere dokumente gedeklassifiseer kan word.

Die kommissie sal ook intussen persone wat tydens getuienis genoem is, raadpleeg.

Volgens berigte sal Chippy Shaik wat die hoof van verkrygings was vir die weermag tydens die wapentransaksie ook voor die kommissie gedaag sal word.

Shaik sal glo van Australië terugkeer om ondervra te word.

Die weermag se department vir militêre veterane, Krygkor, en die Tesourie sal na verwagting voorleggings doen oor die rasionaal agter die aankope.

Krygkor het vroeër vandeesweek gesê hulle was nie by die transaksie betrokke nie. – Sapa

Sindikaat maai onder Weenen-renosters

Umfolozi_RhinoTwee renosters met afgesaagde horings is lewend gevind by die Weenen Wildreservaat in KwaZulu-Natal.

Daar word vermoed dat ‘n sindikaat in die gebied bedrywig is, nadat vyf renosters verlede week in dieselfde reservaat doodgemaak is.

Sewentig renosters is reeds vanjaar in die provinsie gestroop. Die woordvoerder van Ezemvelo KZN Natuurlewe, Musa Mntambo sê die renosters sal na die Hluhlwe Umfolozi park geneem word waar hulle behandel en versorg sal word.

Sewehonderd-en-vier renosters is reeds vanjaar vir hulle horings van kant gemaak. Dit is reeds 36 meer as verlede jaar se totaal. – RSG

DA verbaas oor vyandigheid by Fort Hare

forthareDie DA-leier Helen Zille het die ANC Jeugliga en die studenteorganisasie Sasco van intimidasie beskuldig ná haar toespraak by die Fort Hare Universiteit deur uitjouery en ‘n kragonderbreking onderbreek is.

Dit is nie duidelik wat die kragonderbreking veroorsaak het nie.

Zille is deur die DA Studenteorganisasie genooi om in die aanloop tot die studenteraadsverkiesing by die Universiteit te praat.

Sy het na afloop van die onderbreking aan die SAUK gekla dat die stryd om demokrasie in die land gedaal het tot “onverdraagsaamheid en ondemokratiese gedrag”. Die DA het egter self in Midvaal asook Kaapstad alle Afrikanersimbole laat verwyder om hul eie onverdraagsaamheid teenoor Afrikaners te laat botvier.

Die party het twee maande gelede ‘n Xhosa-koning oorreed om aan te sluit in die hoop om in die Oos-Kaap stemme te trek. Dié openlike vyandigheid van die studente moes vir Zille ‘n verrassing gewees het aangesien sy spog dat sy en ander Litouers vir die ANC se bewindsoorname verantwoordelik is.

Die president van Sasco by Fort Hare, Mawande Njeza het ontken dat hulle vir die kragonderbreking verantwoordelik was. Hy sê Sasco kry die skuld vir alles wat verkeerd gaan op die kampus.