Ontbloter teister Brakpan

brakpan
Brakpan

‘n Engelse man wat homself aan jong vroue ontbloot is die afgelope tyd bedrywig in Brakpan-sentraal.

 Die Herald het die afgelope twee weke twee klagtes ontvang van jong vroue wat deur die man genader is.

In beide die gevalle was die persoon se modus operandi presies dieselfde.

‘n 21-jarige vrou van Queenlaan het Donderdagoggend na haar ouma se huis in Stoffberglaan gestap toe sy deur die man genader is.

“Hy het langs my stilgehou en gevra of ek weet wat die naam van die straat, waarin ek geloop het, was.”

“Ek het gesê nee en toe het hy my gevra of ek aan hom kan verduidelik hoe hy Springs toe kon ry,” het die vrou gesê.

“Ek het vir hom aanwysings gegee en verder geloop.  Soos ek gestap het, het ek sy groot wit bakkie ten minste twee keer gewaar en toe ek naby my ouma se huis was, het hy weer langs my stilgehou.

“Hy het gevra of hy links of regs moes draai om in Voortrekkerweg te kom. Ek was nog besig om te verduidelik toe hy sy geslagsdeel ontbloot en vir my vra of ek al ooit so iets gesien het, het die vrou gesê.

“Ek was absoluut verbaas en geskok en het onmiddellik begin wegloop. Ek het nie weer omgekyk nie en ek neem aan dat die man weggery het. Ek kon daarom ook nie die registrasienommer van sy relatiewe nuwe bakkie kry nie.”

‘n Jong vrou, wat nie haar naam verstrek nie het die Herald sowat ‘n week gelede geskakel en basies dieselfde storie te vertelle gehad.

Die man is skraal gebou en in sy laat 20’s. Sy kop is kaal geskeer en hy het Engels gepraat. Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD het gesê dat vroue sulke voorvalle kan aanmeld.

“Dit sal ook help as ons ‘n registrasienommer van die voertuig kan kry,” het Joubert gesê. – looklocal.co.za

Mandela-saak mag dalk van die rol verwyder word

Die Suid-Gautengse Hoëhof in Johannesburg
Die Suid-Gautengse Hoëhof in Johannesburg

Die regstryd tussen die sakeman Tokyo Sexwale, Bally Chuene en George Bizos, aan die een kant, en die Mandela-familie aan die ander, mag dalk verder vertraag word of van die rol geskrap word. Só berig die koerant New Age vandag.

Michael Hart, wat Sexwale, Bizos en Chuene verteenwoordig, sal die hof Vrydag vra om die regspan van die Mandela-familie te versoek om beantwoordende verklarings te liasseer of om die saak van die rol te skrap.

Zenani Mandela en Makaziwe Mandela, wat na bewering deur 17 familielede ondersteun word, het ‘n aansoek in die Hoëhof in Johannesburg gebring om Bizos, Sexwale en Chuene as direkteurs van Harmonieux Investment Holdings en Magnifique Investment Holdings te verwyder.

Oudpresident Nelson Mandela het die twee maatskappye in dié drie se sorg gelaat, maar die familielede voer aan dat hul aanstelling onregmatig was.

Die saak het Dinsdag nog ‘n struikelblok teëgekom toe Ismael Ayob as prokureur vir die Mandela-familie onttrek het, berig die koerant. – praag en Sapa

Heli’s, Gripens nuttelose, duur hardeware

Duur skroot?
Duur skroot?

Nie een van die lugmag se 18 Agusta A109-helikopters vlieg nie meer nie, want daar is nie geld om hulle operasioneel te gebruik nie, het Beeld Woensdag berig.

Daar is net genoeg geld sodat hulle af en toe aangeskakel kan word, maar hulle styg nooit op nie.

Die gevolg is dat vlieëniers en die helikopters hul bevoegdheid sowel as nut gaan prysgee.

Tesame met die lugmag se 26 Gripen-vegvliegtuie, wat byna ongebruik staan, beteken dit dat ’n tweede groep vliegtuie wat aangekoop is ingevolge die multimiljardrand-wapentransaksies ’n paar jaar gelede, nou in onbruik verval het.

Die situasie lyk beroerd, soos dit uit onlangse vertroulike inligting oor die stand van helikopteroperasies in die lugmag blyk.

Dit geld ook nie net die A109’s nie, maar ál die helikopteroperasies wat weens ’n begroting-snit van 60% veroorsaak dat daar landwyd gedeeltes van die lugmag “geamputeer” moet word, het een senior offisier aan Beeld gesê.

Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner, het in reaksie gesê die lugmag – soos die hele weermag – ly onder die regering se besluiteloosheid oor wat van die weermag verwag word.

“’n Lugmag sonder vegvliegtuie is ’n dead duck in Afrika se militêre konteks. ’n Weermag sonder helikopters en transportvliegtuie is ’n dinosourus in ’n moeras. ’n Leër sonder aanvalshelikopters en taktiese transporthelikopters is ’n lame duck. ’n Vloot sonder skeepshelikopters en maritieme patrollievliegtuie is blind,” het Heitman ontstoke gesê.

Volgens die koerant het die weermag nie op versoeke vir kommentaar gereageer nie.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) weier om kommentaar te lewer oor bewerings dat sy 18 Agusta A109-helikopters weens ‘n geldtekort nie vlieg nie.

“My kommentaar is baie duidelik: ons bespreek nie operasionele aangeleenthede nie en [die verdedigingsmag se] toestand van gereedheid nie,” het die woordvoerder Siphiwe Dlamini gesê. – Sapa

Geweld breek weer by Medupi uit

medupibrand2‘n Groep van tussen 500 en 1 000 werkers het Woensdagoggend by die Medupi-kragaanleg sonder waarskuwing oproerig geraak, het Eskom bekend gemaak.

Die kragreus het in ‘n verklaring gesê betogers het klippe gegooi en twee voertuie is aan die brand gesteek, maar niemand is beseer nie. Oproermakers het met die polisie gebots.

“Die situasie is onder beheer en die kalmte is herstel,” lui die verklaring.

Die Medupi-kragstasie word naby Lephalale in Limpopo opgerig.

Eskom het gesê die meeste werkers is van die terrein af gestuur, maar die kragverskaffer is besig om werksaamhede sou gou as moontlik te hervat.

Jeremia Makhoto, wat al sedert 2011 by die kragstasie se konstruksieterrein werk, sê spontane stakings gebeur dikwels.

“Sedert Januarie vanjaar het ons die hele maand nie gewerk nie. Ons het vir 20 dae gewerk en het 10 dae lank gestaak.“

Die betoging hou glo verband met ontevredenheid met die toelae wat die werkers ontvang. Daar word tans onderhandel daaroor. – Sapa

Telkom-winkel by Cresta beroof

Die Telkom-boetiek in Cresta
Die Telkom-boetiek in Cresta

‘n Gewapende roof het vanoggend by die Telkom-winkel op die grondvloer van die Cresta-winkelsentrum in Randburg plaasgevind. Die rowers het voor openingstyd deur die voordeur toegang verkry, maar is met hul buit deur die agterdeur uit.

Teen vanmiddag was die winkel nog gesluit met kennisgewings op die ruite geplak wat klante inlig dat dit “tot verdere kennisgewing” gesluit sal bly.

Die kennisgewing op die winkel se voordeur
Die kennisgewing op die winkel se voordeur

Die Cresta-winkelsentrum word tans aanmekaar deur rooftogte geteister. Volgens kelnerinne by een van die kafees, is ‘n bank gister beroof en moes ‘n juwelierswinkel sy deure sluit omdat dit so gereeld beroof is.

Geen uitspraak nog oor Tlokwe nie

Zille agter haar donkerbril
Zille steeds in die duister

Die stryd om die burgemeesterspos van Tlokwe Munisipaliteit gaan onopgelos bly.

Die aansoek om die raadsvergadering – wat geëindig het in die skorsing van Tlokwe-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester Maphetle Maphetle – tot niet te maak, is uitgestel in die Noord-Gauteng Hooggeregshof Dinsdag.

Regter Neil Tuchten het gesê: “Ek sal my tyd neem om hierdie saak te oorweeg, maar ek sal aandring dat geen prokureurs van enige party betaal moet word met behulp van staatsgeld nie.”

Die ANC is steeds vol vertroue dit sal die vergadering nietig verklaar sal kry en Maphetla herstel sal word in sy amp. Volgens die ANC-woordvoerder vir Noordwes Kenny Morolong, is die ANC nog steeds die gesag in Tlokwe.

“Geen regering kan gesag uitoefen tensy dit deur die meerderheid van die burgers aangewys nie. Ons het nog steeds die volle steun van die mense van Tlokwe,” sê Morolong.

Maar Tuchten sal die aansoek om die vergadering en die besluite nietig verklaar te kry bestudeer, en oorweeg of die meerderheid tans DA is, tegniese aspekte ter syde gestel.

Op 2 Julie 2013 het 48 Tlokwe raadslede vir ‘n vergadering wat na bewering deur die Speaker van die munisipaliteit gekanselleer is, gesit. Die DA het aangevoer dat nie alle kiesafdelings in kennis gestel is van die kansellasie nie en omdat die kworum toe bereik is, is die vergadering beskou as geldig.

Intussen het dit aan die lig gekom dat Vodacom DA-propaganda op voorafbetaalde selfoontyd uitstuur waarin Zille spog dat sy terroriste in haar huis versteek het en die “waarheid” omtrent Steve Biko rugbaar gemaak het.

Kongolees duik op in SA vloot

sanavyDie Nasionale Weermag het bewerings verwerp dat hy doelbewus beplan het om ‘n buitelander te werf.

Die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte-unie (SASFU) het sy skok uitgespreek dat ‘n Kongolese burger in die geledere van die SANW dien in die elite duikbootvloot van die SA Vloot. Dit is teen die agtergrond van ‘n hoë werkloosheidsyfer onder die jeug en die xenofobiese aanvalle het die unie in ‘n verklaring gesê.

“Die indiensneming van buitelanders in die SANW is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid want dit het ‘n potensiaal dat infiltrasie deur buitelanders bevorder word in die leierskap van die SANW en kan dalk selfs tot ‘n staatsgreep lei teen die demokraties verkose regering van Suid-Afrika.”

Die unie het ‘n beroep op pres. Zuma en die Kabinet gedoen om die Vloot te beskerm, “beide struktureel en filosofies om die identiteit van ‘n soewereine en demokratiese staat te bewaar en Suid-Afrika se vrede met sy bure te waarborg”.

Die buitelander is gekoppel aan magte wat vir en teen die Kabila-regering is, wat uiters problematies is, het die unie gewaarsku.

Die Weermag het ontken dat die Kongolese burger reeds aan boord van ‘n Vlootduikboot diens doen.

Die Weermag het gereageer op opmerkings deur die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte -Unie, SASFU, wat die werwing van die Kongolees skerp veroordeel het.

Die Weermag sê die Kongolese burger se ouers woon in Suid-Afrika en hulle beskik oor Suid-Afrikaanse ID-dokumente en ‘n verblyfpermit.

Volgens RSG se redaksie het die Weermag gesê die seun was tydens ‘n werwingsproses by ‘n hoërskool in KwaZulu-Natal deel van ‘n groep leerders wat gewerf is.

Die leerder het ook ander toetse geslaag waarna daar vasgestel is dat hy nie ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie.

Daar word tans stappe gedoen dat hy hom as kandidaat onttrek.

Bek-en-klouseer breek by Phalaborwa uit

bekenklouDie voorkoms van bek-en-klou-seer is in Makhuva naby Phalaborwa in die noorde van die Kruger Wildtuin aangemeld.

Die departement van landbou sê die siekte is in ‘n gemeenskaplike weiveld opgespoor. Die gebied is binne Suid-Afrika se bek-en-klou-seer beskermingsone geleë.

‘n Veearts, Piet Phakhula sê inentings teen die siekte word toegepas en tot dusver het net twee diere positiewe resultate opgelewer.

Die situasie word daagliks deur amptenare en veeartse gemonitor.

Nuus dat bek- en klouseer in uitgebreek het, laat veeboere erg bekommer, omdat belangrike geleenthede soos wolveilings uitgestel moet word en uitvoere van diere en diereprodukte word onmiddellik opgeskort. Diere met gesplete hoewe word geraak.

Die omvang en belangrikheid van bek- en klouseer moet nooit gering geskat word nie. Die siekte is nie noodwendig dodelik nie en vrektes van 2% by volwasse diere en 20% by jong diere is aangeteken. Die belangrikheid van die siekte is die feit dat dit so hoogs aansteeklik is, (tot 100% diere word aangesteek) en die siekte het enorme ekonomiese implikasies, anders as wat Phakhula beweer.

Veeartse het reeds aan Praag te kenne gegee dat hulle vrees vir sulke uitbrake weens swak staatsoorsig en bestuur.

Hond vreet kleuter

swazihut‘n Twee-jaar-oue Swazi-kind is verskeur en opgevreet deur drie honde wat deel van die huishouding was in sy arm landelike gemeenskap.

Die seuntjie en die honde was na bewering honger.

Mndeni Dlamini het aan die slaap geraak in ‘n hut. Hy is deur sy 14-jarige versorger, wat uitgegaan het om te bedel vir kos vir die seun, alleen gelaat.

Die meisie was bekommerd oor die kleuter se verswakte toestand weens ‘n gebrek aan voedsel.

Die seun se ma het hom in die sorg van sy pa gelaat toe sy werk soek het in Piet Retief, in die naburige Suid-Afrika.

Die seun se pa het op sy beurt die seun aan sy ouma oorhandig, wat in Suid-Afrika was om ‘n familie-saak wat voorgeval het op te los, ten tye van die voorval.

Die seun het glo wakker word, na buite gegaan, en is deur die honde aangeval en lewendig opgevreet.

Die ouma het gesê spore van haar kleinseun se klere en hare is gevind in een van die hond se ingewande nadat die dier dood is. – Independent News Service

OB gaan eers Gupta-klag ‘evalueer’

 guptawaterkloofDie Openbare Beskermer se kantoor sê Thuli Madonsela evalueer ‘n klag oor Vega Gupta se omstrede troue waar 270 bruilofgaste vroeër vanjaar by ‘n militêre lughawe, Waterkloof-lugmagbasis, kon land.

“Die evaluering van die klag is nog aan die gang…” het Oupa Segalwe, ‘n woordvoerder, gesê.

Hy sê onderhoude word ook met getuies gevoer.

“Die Openbare Beskermer sal eers ná die evaluering besluit of ‘n volskaalse ondersoek na die saak van stapel gestuur sal word.”

Segalwe sê onderhoude is reeds met twee van die drie getuies gevoer.

Die regering se ondersoek het bevind dat pres. Jacob Zuma en sy ministers nie ‘n aandeel aan die landing gehad het nie. – Sapa