Die twee vakbonde, naamlik die Nigeria Labour Congress, wat hoofsaaklik uit handearbeiders bestaan, en die Trade Union Congress wat witboordjiewerkers bedien, is ontevrede met die feit dat brandstof 15% duurder geword het. President Umaru Yar’adua weier om die verhoging wat sy voorganger afgekondig het, ongedaan te maak.
Die regering hou vol dat die staking deur "politieke" gronde teweeggebring is omdat dit onverantwoordelik is om vir ‘n toename van 5 naira ‘n land te verlam. Die wisselkoers is tans 128 naira vir $1. Olusegun Obasanjo het die verhoogde prys van 65 na 75 naira op 28 Mei bekend gemaak.
Die regering het by monde van die president ná twee dae aangekondig dat hulle wel sal oorweeg om die prys te verlaag na 70 naira per liter. Ander toegewings is ook voorgelê in die hoop dat die stakers sal besgee.
Verdubbelde verkoopsbelasting wat teen die einde van Mei ingestel sou word, sal laat vaar word en ‘n salarisverhoging van 15% terugwerkend vanaf 1 Januarie 2007 is aangebied. Die vorige regering het reeds die verhoging aangekondig, maar amptenare het nooit die beloofde beter vergoeding ontvang nie.
Die twee vakbonde hou egter voet by stuk dat die hoër brandstofprys onaanvaarbaar is en het onderneem om die arbeidsaksie vol te hou totdat die regering gehoor aan hul eis gee. Die gevolg van die besluit is oral in Nigerië sigbaar.
Met sonsopkoms staan honderde taxi’s dig saamgedrom om vulstasies met 25 of 50 liter kannetjies gereed om die paar druppels brandstof nog beskikbaar in die hande te probeer kry. Die meeste stasies ontvang geen brandstof meer van privaat- of regeringsdepots nie. Die groot hawe van Lagos, Apapa, word byna heeltemal lamgelê omdat die Nigerian Port Authority asook doeanebeamptes deelneem aan die staking.
By die Murtala Mohamed-lughawe word internasionale vlugte wat uit Lagos vertrek gedwing om van hul direkte trajekte af te sien omdat hulle elders moet aandoen om eers vol te maak aangesien vliegtuigbrandstof ook nie meer volop is nie.
Nigerië is die sesde grootste olieuitvoerder ter wêreld, maar die land se belangrikste bron van inkomste word skynbaar nie geraak deur die krisis nie. Die multinasionale instansies wat meesal in die suide opereer, maak gebruik van hul eie personeel.
Die NLC het Woensdag aangekondig dat hulle toesig sal hou oor stakende werkers om te verhoed dat hulle terugkeer na hul poste voordat ‘n gewenste uitkoms bereik is. Verskeie Nigeriese koerante het foto’s van padblokkades en versperrings deur munisipale busse geplaas om werkers te waarsku dat hulle dopgehou word.
Die regering het dieselfde dag bevestig dat "die reg om te staak gerespekteer word, maar dat dit nie misbruik moet word om wet en orde te ondermyn nie." Hulle het die vakbonde daaraan herinner dat niemand gedwing mag word om aan die staking deel te neem nie.
President Yar’adua is besonder kwesbaar vir die politieke druk wat tans oplaai omdat hy nog geen regering aangewys het sedert hy op 29 Mei die amp oorgeneem het nie. Volgens die onafhanklike koerant This Day verkeer hy tussen twee vure. As hy te kragdadig optree om sy posisie te legitimeer sal hy sy gewilde beeld van ‘n "gewillige dienaar" by die bevolking prysgee. Indien hy nie optree nie, sal die maatskaplike onrus verder uitbrei.
Watter manier van optrede hy ookal kies, is dit duidelik dat die mag van die president ‘n knou toegedien is en dat dit niks goeds voorspel vir die afsienbare toekoms in Nigerië nie.
