In Royal se pasverskene boek "Les coulisses d’une défaite" [Agter die skerms van ‘n nederlaag] kondig sy aan wat die Franse pers nou al ‘n geruime tyd oor gons: Sy en haar metgesel, die leier van die PS, François Hollande, se paaie gaan skei.
“Ek het Francois Hollande gevra om die huis te verlaat en sy nuwe verhouding, nou oral in boeke en koerante uitgestal, elders te gaan uitleef en ek wens hom alle geluk daarmee toe,” verklaar Royal in haar boek. Die twee was nooit getroud nie.
Royal stel belang om die leisels van Hollande, met wie sy die afgelope 30 jaar saamgewoon het en vier kinders by het, oor te neem. Hollande het voor die eerste rondte reeds aangedui dat hy nie die moeder van sy kinders na die Elysées Paleis sal vergesel indien sy verkies word nie.
Sy staan waarskynlik ‘n goeie kans om wel as leier van haar Party aangewys te word ten spyte van groot onmin wat in Sosialistiese geledere heers. Haar onlangse toenadering tot die sentristiese Francois Bayrou het vir skerp kritiek uit die linkervleuel van die Party gesorg.
Indien sy wen sal sy vinnig met ‘n nuwe visie vir die Sosialiste vorendag moet kom. Nie dat sy veel te vrees het van ander aanspraakmakers uit eie kring in daardie opsig nie. Die geslag wat bekend staan as “Mitterand se kinders” is tans arm aan idees en planne om die PS in ‘n wenkoers te stuur.
Le Monde het verlig in ‘n hoofartikel gereageer dat die aankondiging uiteindelik gemaak is en die versuurde verhouding as ‘n “Vaudeville” komedie beskryf. Royal het tydens die verkiesingsveldtog volgehou dat hulle nog saam woon en geskerts dat Hollande nie haar aanbod van ‘n “romantiese” huwelik in Tahiti wou aanvaar nie.
Die paartjie het in 1978 ontmoet en het saam by die roemryke instelling waar Franse leiers opgelei word, ENA (Skool vir Nasionale Administrasie), gestudeer. Die nuwe Franse president was ook voor die verkiesing in die nuus nadat sy vrou Cécilia hom kortstondig verlaat het vir ‘n Amerikaner.
