Die digitale wêreld is ‘n verdeelde een. Terwyl daar baie hoë penetrasievlakke vir breëbandverbindings in Europa, Noord-Amerika en hoë-tegnologie ekonomieë soos dié van Suid-Korea is, bly Afrika, soos heelwat ontwikkelende lande, agter. Daar is dikwels in ontwikkelende lande nie eers ‘n telefoondiens nie, dus is internettoegang nie ‘n opsie nie.
Die VSA bly steeds die voorloper in breëbandgebruik met 60 miljoen intekenare vanjaar. In die tweede plek is China met 56 miljoen. ‘n Jaar gelede was dit egter 41 miljoen gebruikers en na wat verwag word sal hulle Amerika teen die einde van die jaar verbysteek om die grootste breëband mark ter wêreld te word.
China het skielik momentum gekry, sê marknavorsers. Meer mense het in die eerste drie maande van 2007 as breëbandinternetgebruikers aangeteken as in enige ander eerste kwartaal. Die toeloop word deur ekonomiese veranderinge en nuwe regeringsriglyne verklaar.
China se groeiende middelklas beskou ‘n breëbandverbinding as ‘n statussimbool. Die Chinese regering wil andersyds graag die platteland toerus met rekenaartoegang en is besig met grootskaalse projekte om dit te realiseer.
Natuurlik help die voorbereidings vir die Olimpiese Spele wat aanstaande jaar in Beijing gehou gaan word ook om die belangstelling gaande te hou . Die regering het intussen afgekondig dat elke huishouding in Beijing oor ‘n hoëspoedverbinding moet beskik wanneer die Spele afskop.
Japan is nommer drie op die ranglys met 26,5 miljoen gebruikers. Daarna volg Duitsland met 16 miljoen en dan Frankryk met 15,3 miljoen. Frankryk het ‘n paar lande soos Suid-Korea in die breëbandresies verbygesteek met ‘n fenomenale 9% toename. Suid-Korea het tans 14,1 miljoen gebruikers in die vyfde plek.
In die sesde plek is Brittanje wat danksy die hewige kompetisie tussen Sky en sogenaamde "gratis" breëband verskaffers soos TalkTalk ‘n groei van 6,4% in die mark gesien het. Wat die persentasie van huishoudings betref is daar egter net 55% wat van ‘n hoëspoedverbinding gebruik maak en in daardie opsig is die VK besig om terug te gly na die sewentiende plek.
In Suid-Korea is byna 90% van alle huishoudings met ‘n breëbandverbinding toegerus. Ook in Hong Kong, Monaco en Macau waar die bevolkingsdigtheid asook verdienste hoog is. In die VSA is dit net onder 53%, in die vier-en-twintigste plek. In China staan die persentasie op 14,35% en in Indië op 1,15%. Indië het ‘n geraamde 200 miljoen huishoudings.
Oos-Europa suig steeds aan die agterspeen in Europa, maar het nogtans groeipotensiaal getoon. Veral in lande wat onlangs by die EU aangesluit het was belangstelling effens groter. Kroasië het ‘n ongelooflike toename van 25% gewys! Ook Griekeland en Indonesië het gegroei, maar penetrasievlakke bly laag.
Heel agter in die ry staan Afrika. Net Suid-Afrika, Soedan, Senegal en Gaboen het die lys gehaal. Die meeste nie-Arabiese lande het nie eens geregistreer nie. Suid-Afrika het 215 000 huishoudelike breëbandgebruikers en Soedan het 3000. In Noord-Afrika lyk dit effens beter met Marokko wat 418 000 gebruikers geregistreer het en Egipte 240 000.
