Dikgang Moseneke
Die konstitusionele hof het vir die eerste keer besluit dat individue se rassistiese praktyke, met betrekking tot die verwydering van gekleurde persone van grond, ’n geldige grondeis tot gevolg kan hê. Dit bring mee dat nie net rassistiese wette van die ou regering bewys moet word voordat gemeenskappe grond kan terugeis nie.
Verlede week is uitspraak gelewer ten gunste van ’n groep huurarbeiders (bekend as die Popela-gemeenskap). Hulle het op die plaas Boomplaas in die Moketsi-distrik in die Limpopo-provinsie gebly toe die eienaar in 1969 hulle dienste as huurarbeiders gestaak het. Die wet wat die stelsel van huurarbeiders op plase verbied, is eers in 1970 aanvaar. Dit is hoekom die Popela-groep se grondeis op Boomplaas, wat nou ’n suksesvolle vrugteplaas is genaamd Goedgelegen Tropical Fruit, in die grondeisehof en ook die appèlhof misluk het. Die howe het naamlik besluit dat die gemeenskap nie deur ’n rassistiese regeringswet verjaag is nie, maar deur ’n individu.
Die konstitusionele hof het egter nou in hulle guns beslis. Die gemeenskap het die keuse om die grond terug te eis of ten volle vergoed te word. Adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke het die uitspraak gelewer.
Die Popela-groep het die hof gevra om die grond waar hulle huise was, asook die onmiddellike omgewing en die area wat hulle gebruik het vir weiding en ploegdoeleindes, aan hulle terug te gee.
Moseneke het daarop gewys dat dit hier nie net gaan oor ekonomiese regte om ’n stuk land te kan beploeg en te laat bewei nie, maar dat hierdie mense ook reg op die land gehad het omdat hulle kinders daar gebore is en bejaardes daar begrawe is.
Indien geen ooreenkoms deur die eienaars van Goedgelegen en die Popela-groep bereik kan word nie, sal die saak na die grondeisehof terugverwys word.
Sondagaand het die inwoners hulle vreugde oor die konstitusionele hof se besluit te kenne gegee op SABC 2 se televisienuus. “Nou kan ons heeldag ploeg en die bokke hierheen bring,” het ’n tandelose bejaarde opgemerk.
автоматическое зарядное устройствоtopcargo развод