Bloeddorstigheid in Kenia

Image

Keniaanse polisie in Mathare

Gister is een persoon net buite die Ambassadeur-hotel in Nairobi dood tydens ’n handgranaataanval. Ses persone is ernstig beseer. Die granaat het skynbaar ontplof toe ’n onbekende man in ’n bus net buite die hotel wou klim.

Hierdie aanval volg op weke van geweld in Nairobi, veroorsaak deur ’n misterieuse sekte/bende genaamd die Mungiki. Die Keniaanse polisie het verlede week op hulle bastion in Mathare, ’n krotbuurt net buite die Keniaanse hoofstad, toegeslaan. 30 Mense is deur die polisie doodgeskiet en honderde het gevlug. Vir die eerste keer het die meeste Westerlinge van hierdie eienaardige bende gehoor.

In Kikuyu beteken mungiki “verenigde mense.” Hierdie vreemde sekte het in die tagtigerjare die lig gesien en is in 2002 verban. Nie veel is oor die groep bekend nie, maar hulle staan ’n terugkeer na Afrika-tradisies voor en is gekant teen die Westerse beskawing. Hulle beskou hulleself as opvolgers van die Mau Mau-rebelle van die vyftigerjare wat teen Britse kolonialisme in opstand gekom het. Mungiki-lede verwerp ook die Christendom en forseer jong meisies om besny te word. In Mathare word inwoners gedwing om maandelikse bydraes aan die bende te maak en selfs openbare toilette word deur lede van die bende beman en geld geëis voor mense mag binnegaan. Bendelede verskaf ook onwettige water- en kragkonneksies aan inwoners. Volgens onbevestigde berigte is daar parlementslede in die Keniaanse regering wat bande met die bende het. Die leiers van die Mungiki beweer dat hulle ook ondersteuners in skole en die weermag het en spog dat hulle oor nagenoeg twee miljoen lede beskik.

Mungiki-lede het reeds in Mei vanjaar begin amok maak toe hulle mense onthoof het wat blykbaar inligting oor die groep aan die polisie deurgegee het. In Junie het hulle begin om matatu-bestuurders (bestuurders van minibus-taxis) in Nairobi te martel, dan te onthoof en hulle liggame in stukke op te kap. Die bestuurders het naamlik geweier om beskermingsfooie aan Mungiki te betaal. Dit is hierdie vlaag moorde wat tot die onlangse polisie-optrede in Mathare gelei het. Die groep is skynbaar daarop uit om die verkiesing van Desember vanjaar te ontwrig.

promosлобановский александр отзывы